Vroegmiddag het ek met my Bybel en my oranje koffiebeker onder die peperbome langs die Boerekerk gaan sit. Die Kalaharivlak was warm en die sand so fyn soos meel. Die sinkdak van die kerksaal het geknetter onder die son. Oorkant in die kroek het Ousie Let haar wasgoed oor die erfgrens se draad gehang. Elke laken het soos ‘n wit vlag teen die blou lug gehang.
Ek het skadu gesoek. En stilte.
Ek lees weer van Jakob en sien hom by die put. ‘n Klip wat weggerol word. Ragel wat nader kom met skape wat stof opskop. ‘n Jong man wat weet, hier staan my toekoms. Sewe jaar se werk word sy bruidsprys. Sewe jaar. Vir ons klink dit lank. Vir ‘n Kalahari-boer voel dit amper soos ‘n ewigheid . . . sewe droogtes, sewe seisoene van wag en bid vir reën.
Maar vir Jakob voel dit soos ‘n paar dae. Sy hart het reeds gekies.
Bedrog. Lea word gegee in Ragel se plek. Nog sewe jaar se gewag. En tog bly hy. Hy werk. Hy wag, want liefde maak die gewag draaglik.
Ek maak my Bybel toe. Oom Frik - ‘n plaasboer wat later soos ‘n pa vir ons was - ry stadig verby. Sy elmboog rus op die oop venster, sy gesig gegroef deur son en jare. Hy het al menige seisoen gewag vir reën wat nie gekom het nie. Die vaal stof wat sy plaasbakkie opgeskop het, hang roerloos oor die sinkplaatpad.
“Mens moet maar vasbyt, pastoortjie,” het hy eenkeer gesê toe sy skape maerder as gewoonlik was. “Reën kom altyd weer. Net nie altyd wanneer óns wil hê nie.”
Hy wag al langer as sewe jaar vir ‘n goeie jaar.
Later stap Vytjie met haar plastieksak vol kossigheid verby. Sy sorg vir haar twee kleinkinders. Haar dogter het jare gelede iewers in die voorwêreld gaan bly en nooit teruggekom nie. Vytjie wag ook — nie meer vir ‘n telefoonoproep nie, maar sy wag vir môre se genade.
En dan is daar Apie-goed wat elke week die klokkie by die agterdeur kom lui. “Pastoor, kan ek maar hierdie week kom hand gee?” sal hy vra. Soms kan hy. Soms nie. Maar hy bly vra.
Noenieput is ‘n plek van wag.
Ek dink terug aan daardie oggenddiens jare gelede. Ek en die Mooiste Mooi het hande gevat. Die prediker se stem het deur die gebou gerol, “Wie sal Ek stuur? Wie sal gaan?”
Ons het nie geweet van Oom Frik se droogtes nie. Ons het nie Vytjie se trane geken nie. Ons het nie geweet van Apie-goed se weeklikse vrae nie.
Ons het net geweet ons moet ja sê. Toe Groot Koos se vragmotor met ons meubels en boeke oor die sinkplaatpad Noenieput binnery, het die stof soos ‘n wolk agter hom gehang. Ons het langs die pad gestaan en gekyk hoe ons ou lewe stadig hier kom rus.
Amper twee dekades het verbygegaan. Ons het by sterfbeddens gestaan waar asem stadig minder word. Ons het saam feesgevier wanneer ‘n skaapkraal uiteindelik vol lammetjies is. Ons het kinders sien grootword en weer sien trek. Ons het droogtes oorleef. Ons het reën gevier.
En tog - wanneer ek terugkyk - voel dit nie soos bykans twintig jaar nie. Dit voel nader. Korter.
Miskien omdat liefde die dae saamtrek. Die Skepper van hemelgoed en stofaarde leef nie binne ons kalenders nie. Hy is die Begin en die Einde, die Alfa en die Omega. Vir Hom is Oom Frik se wag vir reën en Jakob se wag vir Ragel nie verlore wagtyd nie.
Wanneer ons liefhet - regtig liefhet - verander wagtyd van straf na vorming. Dan word seisoene geslyp en ons as mensegoed saam met hulle.
Ek kyk oor die verlate Kalahari vlak, na Ousie Let se wasgoed wat teen die tyd al droog is. Oom Frik en sy bakkie is weg. Die middag sak stadig.
Waar liefde die middelpunt word - by ’n Bybel onder ’n peperboom of by ’n beker soet tee aan ’n kombuistafel - verloor wagtyd sy swaarte. Selfs wanneer ’n skaaplorrie met ’n vol vrag voorwêreld toe ry. En dan gebeur iets vreemd, dekades vou op soos dae. Dae soos ure.
En hier, in ‘n klein plek met ‘n groot hemel, proe ‘n mens soms aan ewigheid — tussen stof en skaapgeblêr — en mense wat eenvoudig aanhou bly liefhê.
Genesis 29:20 (NLV)
"Jakob het toe sewe jaar gewerk om Ragel as vrou te kry. Maar hy het haar so liefgehad dat dit vir hom soos ‘n paar dae was."
Sandkorrel baie seëninge.
Selnr: 082 772 2192
WhatsApp: 081 568 7549
Klik HIER vir verdere inligting.
[Dankie, Anoniem, vir die deel van hierdie stukkie. Indien jy as leser wil en betrokke kan raak by hierdie uitreiking, maak asseblief gebruik van die kontakdetail hierbo.]
No comments:
Post a Comment