Saturday, 22 August 2026

Saterdaglagmedisyne - Ouma

* Sarie vertel dat toe sy en haar kleindogter deur 'n tydskrif blaai en op 'n foto afkom van 'n skouerlose bloesie, sê die kleinding: "Ouma, jy moet vir my ook so 'n bloesie maak sonder handvatsels."

* Op 'n keer vra die vyfjarige Lanie vir ouma hoe oud sy is. 
Ouma antwoord dat sy nou al so oud is, dat sy nie eers meer kan onthou hoe oud nie. 
Lanie gee toe goeie raad: "Ouma moet net agter in Ouma se panties kyk. Myne sê vyf tot ses!"

* Ouma kuier vir 'n maand by haar kinders in die stad en die kleinkinders kan nie genoeg van hulle ouma kry nie. Hulle ma mag nie die lig afsit, voordat ouma nie eers vir hulle 'n storie vertel het nie. Die stories wat hulle die graagste wil hoor, is hoe ouma as 'n kind geleef het en wat sy alles gedoen het, toe sy so oud soos hulle was. Daardie aand gee Stefan vir haar 'n drukkie toe hy gaan slaap en sê: "Ek is so lief vir Ouma - as ouma doodgaan, gaan ek ouma onder my kamervenster begrawe!"

No comments:

Post a Comment