Saturday, 24 May 2025

Saterdaglagmedisyne - Koos van der Merwe se beurt


Dankie vir al die Koos-grappe wat ingestuur is - geniet dit - dalk is daar 'n Koos ook in hierdie aftreeoord. Koos en al sy werksoekery het tot kostelike grappe aanleiding gegee. Soms, net soms, het Koos nie aan die kortste ent getrek nie. 

* Koos loop 'n baie ou skoolvriend van hom raak.
Koos vra belangstellend: "Watter soort werk doen jy deesdae?"
"Ek werk op 'n bouperseel. Ek stoot 'n kruiwa."
"'n Kruiwa? En ek dag jy weet niks van masjinerie af nie."

* Koos doen weer aansoek om by die weermag te werk. Tot sy vreugde word hy aanvaar.
"Hoe is die kos, Manne?" vra Koos.
"Ons baklei elke dag daaroor."
"Is dit so lekker?"
"Nee, so sleg. Die een wat verloor, moet dit eet."

* Koos het werk as 'n verwer by die spoorweë gekry. Hy het 'n hele lys spoorweghuise wat hy moet verf. Koos werk met 'n ongelooflike spoed - ongekend aan sy geaardheid.
Stoffel het die saak van alle kante beskou, maar kon geen rede vir die spoed vind nie: "Genugtig, Koos, wat is jou haas?"
Koos: "Ek moet klaarkry voordat die verf opraak." 

No comments:

Post a Comment