Thursday, 29 May 2025

Ouma se wenke: Hier is ‘n paar handige wenke wat werk!

* Gloeilamp: Smeer kasterolie aan gloeilamp en vryf dit blink met ´n sagte lap. Dit verhoed dat vlieë daarop kom sit en merke los.

* Gom: Om gom van vensters, borde, tafels en meeste ander plekke te verwyder, smeer botter oor die gommerige area en los vir ‘n dag. Môre kan jy dit afvee met ‘n sneesdoekie of lappie. Om die gom van plakkers van bottels, glas of ander oppervlaktes te verwyder kan jy grondboontjiebotter daarop smeer. Herhaal indien nodig.

* Goue juwele: Om jou juwele skoon en netjies en soos nuut te laat lyk, meng Savlon met water in verhouding 2:1. Laat juwele in oplossing lê vir 10 tot 20 minute. Borsel liggies met ‘n ou tandeborsel of spoel dit eenvoudig af met skoon water en droog af met ‘n sagte lap.

* Brasso: Op muurpapier kan dit verwyder word deur witbrood liggies oor die vlek te vryf. Op 'n mat moet dit eers droog word en kan daarna afgeborsel word.

Monday, 26 May 2025

Vandag se gebed vir jou: 'n Spesiale gebed vir almal wat dit vanaand nodig het ...

As ek kniel voor die Heer,
En vir die Here sê: "Ek het so seer!
O Heer, U weet, ek kan net nie meer."
Dan hoor ek hoe sê die liewe Heer:
"Kom sit hier by my, bring jou seer,
Kom sit jou las en pyn by my voete neer."
As ek vanaand by die Here kla,
Sal ek sê: "Ek is so jammer om te pla!
Maar die las word te swaar om te dra."
Dan sê die liewe Heer: "Jy mag maar kla.
Jy mag maar aanhou om vir my te vra!
Ek sal jou wel die krag gee om jou kruis te dra."
En as ek vanaand my hart leeg huil,
Vir die Here vra dat my boot op kalm water seil.
Vir die Here vra vir 'n hoekie om te kan skuil.
Sal die Here sê: "Jy sal weer op kalm water seil.
Jy mag maar jou leed op My skouer uithuil.
By my is daar rus, 'n plek om te kan skuil."
"Here, my hart is in 'n knoop gebind!
Ek is moeg baklei teen hierdie sterk wind!
Ek wil tog net weer rus en vrede vind."
Die Here sê: "Jy is mos My lieflingskind.
Jy is met my anker van liefde gebind!
Raak stil. Raak rustig! Jy sal weer vrede vind!"
Dankie my Heer!!!
Amen

[ Lorraine Paynter]

Verjaardagwense uit die rooi posbus nr. 8: Baie geluk, mev. H van Wyk

 
Foto: Ronell van Wyk 

Sunday, 25 May 2025

Gedig: Ek is nie daar nie ...

Moenie by my graf staan ​​en huil nie.
Ek is nie daar nie.
Ek slaap nie.
Ek is 'n duisend winde wat waai.
Ek is die diamantglinsters op die sneeu.
Ek is die sonlig op die ryp graan.
Ek is die sagte herfsreën.
As jy wakker word in die oggend se stormloop
Ek is die vinnige opwindende stormloop
Van stil voëls in sirkelvlug.
Ek is die sagte sterre wat snags skyn.
Moenie by my graf staan ​​en huil nie.
Ek is nie daar nie.
Ek het nie gesterf nie.

[Mary Elizabeth Frye , Amerikaanse bloemis, 1905-2004]

Oomblik van stilte: Ps. 100

Juig voor die Here. o ganse aarde! 

Erken dat die Here God is: Hy het ons gemaak, en ons is syne, die volk en die skape van sy weide. 
Gaan sy poorte in met lof, sy voorhowe met lofgesang; loof Hom, prys sy Naam.
Want die HERE is goed; sy goedertierenheid is tot in ewigheid, en sy trou van geslag tot geslag.

O Here, U alleen is die ware Allerhoogste God. Ek wil u Naam verheerlik en groot maak, ooral waar ek gaan. Almagtige God, U is die God, van al die Gode en HERE, van al die here. U alleen is Heilig en U is Koning, vir ewig. U bly altyd getrou en sal my nooit verlaat of alleen los nie. U genade wys U in u goedheid en barmhartigheid, elke dag aan my. U wysheid en geregtigheid lei my elke dag. U plaas my op 'n ewige Rots en u krag laat my voete nooit wankel nie. Amen.

Saturday, 24 May 2025

Saterdaglagmedisyne - Koos van der Merwe se beurt


Dankie vir al die Koos-grappe wat ingestuur is - geniet dit - dalk is daar 'n Koos ook in hierdie aftreeoord. Koos en al sy werksoekery het tot kostelike grappe aanleiding gegee. Soms, net soms, het Koos nie aan die kortste ent getrek nie. 

* Koos loop 'n baie ou skoolvriend van hom raak.
Koos vra belangstellend: "Watter soort werk doen jy deesdae?"
"Ek werk op 'n bouperseel. Ek stoot 'n kruiwa."
"'n Kruiwa? En ek dag jy weet niks van masjinerie af nie."

* Koos doen weer aansoek om by die weermag te werk. Tot sy vreugde word hy aanvaar.
"Hoe is die kos, Manne?" vra Koos.
"Ons baklei elke dag daaroor."
"Is dit so lekker?"
"Nee, so sleg. Die een wat verloor, moet dit eet."

* Koos het werk as 'n verwer by die spoorweë gekry. Hy het 'n hele lys spoorweghuise wat hy moet verf. Koos werk met 'n ongelooflike spoed - ongekend aan sy geaardheid.
Stoffel het die saak van alle kante beskou, maar kon geen rede vir die spoed vind nie: "Genugtig, Koos, wat is jou haas?"
Koos: "Ek moet klaarkry voordat die verf opraak." 

Thursday, 22 May 2025

Ouma se wenke: Bêre jou somersklere

Hier is ’n paar wenke oor hoe om jou somersklere te bêre sonder dat dit verniel.

* Moenie klere in digte plastieksakke bêre nie, klere moet kan lug kry (asemhaal) om mufheid te voorkom.

* Alle kledingstukke moet gewas en deeglik drooggemaak word voordat jy dit vir drie tot vier maande  bêre.

* Klere moet in donker, maar skoon kaste gebêre word, want lig laat kleure verdof. Uitermatige warm of koue temperature kan klere ook beskadig.

* Plaas motbolle in ’n sokkie weg van jou klere in die kas. Motbolle moet nie op klere of tussen klere lê nie, dit kan die materiaal beskadig..

* Bêre leer- en suedeklere en -skoene in 'n koel en goed geventileerde kas.

* Rol linne op, en indien jy dit moet vou, vou dit gereeld oor.

* Gebreide en sykledingstukke moet altyd plat gebêre word.

* Stoor veral wolklere met motbolle in die kas.

Monday, 19 May 2025

Vandag se internetgebed vir jou: Dankie vir seëninge

Dankie, Here, vir u seëninge oor my, u barmhartigheid oor my, u genade wat ek elke dag kry. Strome van seën tref my elke dag. Strome van genesing, van rykdom, van blydskap en vreugde, van vriende en familie, van geloof in U. U sê duidelik dat strome van lewende water sal uit ons uitborrel, die wat in U glo. Ons het so baie om uit te deel en aan ander te gee. Ek is opgebou in die Allerheiligste en ek wil net in u Heilige Gees bly, sodat ander van my vrugte kan kry. Amen.

Sunday, 18 May 2025

WATERDRUPPEL vir die WEEK = Die hart se toegangshek

Groete en Vrede!!!

So teen die middel van Meimaand, sal vroegoggend temperature luidkeels vertel dat die winter aan die kom is. Wel, die spesifieke Woensdagoggend het ‘n geniepsige en ysige suidewindjie ‘n groepie vroue skuins na ontbyttyd ons kuierkombuis ingejaag. Daar het hulle al te snoesig so kuier-kuier, elkeen met 'n beker stomende koffie, stadig maar seker van die koue begin vergeet. My terloopse opmerking so in die verbyloop, veroorsaak dat ‘n iedere ene met groot wit oë, eers na die Mooiste Mooi en daarna na my kyk.

Skok en verbasing is duidelik in hoofletters asook uitroeptekens op hierdie groepie Kalahari-bewoners se gesigte geskryf. Opeens begin almal in die kuierkombuis praat terwyl die meeste se arms woes rondswaai. Hoe meer hulle beduie, hoe harder weerklink hulle stemme. Sommer dwarsdeur ons hele huis. Heel vergete is die vrede en rustigheid wat hulle kom opsoek het, want my terloopse opmerking ‘n jakkals in hulle skaapkraal losgelaat. Niemand kan ‘n woord uitmaak van wat gesê word nie omrede elkeen van die kuiergaste het dit op haar geneem om my van plan te verander.

Met haar streng Graad 1-dissiplinêre stem dring die Mooiste Mooi aan op stilte. Skielik raak dit stil om die kuierkombuis se tafel. Dit ten spyte van elkeen se woer-woer emosies. Marja en Engeltjie probeer nog om ‘n laaste woord in te kry maar die kyk in die Mooiste Mooi se oog maak dat hulle opslag hulle woorde insluk. Soos net ‘n goeie onderwyseres kan, verduidelik die Mooiste Mooi baie rustig dat ek - soos gewoonlik - hulle alweer gekoggel het. My terloopse opmerking dat ons dit ernstig oorweeg om ‘n beroep na ‘n voorwêreld gemeente te aanvaar, was net ‘n grap.

Stadig maar seker raak dit weer rustig om die kuierkombuis se tafel maar die klompie woestynbewoners kyk my wantrouig aan. Weer verduidelik die Mooiste Mooi dat ons nêrens heen gaan nie. Ons gaan net hier bly. Hier op Noenieput. “Ai pastoor,” sê Ousa lateraan terwyl sy haar beker versigtig vir Koba aangee, “ek het nou my koffie koud geskrik.” Koba soek die Mooiste Mooi se oog vir toestemming op en staan dan stadig op om die fluitketeltjie weer vol reënwater te maak. Daarna steek sy die gasstoof brand.

Terwyl almal vir die keteltjie wag om te fluit, gesels en vertel die klompie vrouens spontaan hoe hulle lewens verander het vandat ek en die Mooiste Mooi in die Kalahari is. "Julle mag nie weggaan nie, mevrou,” beduie Vytjie wie se woordeskat gewoonlik ‘n groot droogte beleef, “onse lewens is dan so geseënd vandat julle hier by ons op Noenieput kom adres gemaak het.” Vytjie se woorde is skaars ons ore in toe Ousa saggies sê: “Ja, en dit is hoekom pastoor en mevrou nie mag weggaan nie. Niemand het ons nog ooit met die Skeppergod se liefde raak geleef soos julle nie.”

Opeens besef ek dat Vytjie en Ousa se woorde weerspieël iets wat Laban van ouds saam met Jakob (dis nou Isak se seun en Abraham se kleinseun) beleef het. As iemand wat nie 'n verhouding met die Here gehad het nie, het Laban in ‘n oomblik van rou eerlikheid erken en verklaar dat hy geseën word as gevolg van Jakob. Hierdeur getuig Laban onwillekeurig van die Skepper se goedheid en almag. Hy besef dat as Jakob en sy gesin gaan aanskuif soos wat Jakob te kenne gegee het, gaan hy wat Laban is, se seëninge opdroog.

Terselfdertyd besef ek dat ons as mensegoed diep in ons harte ‘n groot stuk hoop het dat daar in ons lewens ook êrens 'n Jakob is. Iemand wie se verhouding met die Skeppergod my en jou tot voordeel sal strek. Iemand wat God se toegangshek na ons harte is. En tog ... tog wil ek en jy mos nie maklik iemand anders se toegangshek wees nie. Dit is mos nie hoe ons dink se drade aan mekaar gekoppel is nie. Inteendeel, ons jaag eerder ons eie seëninge want daarin is satisfaksie en genoegdoening opgesluit.
 
As lojale en pligsgetroue dienskneg, het Jakob vir 14 jaar - sonder materiële vergoeding - gewerk, geswoeg en gevare trotseer. Hierdeur het hy het meer van 'n verhouding met die Here gedemonstreer as wat 'n swetterjoel woorde ooit kan doen. Hy het nie gepreek, gebid, gesalf of duiwels en demone rondgejaag nie. Inteendeel, Jakob het bloot net vir Laban raak geleef. Hy het gedoen wat van hom verwag was ... dag vir dag, maand vir maand, vir 14 jaar aaneen. Jakob was God se toegangshek na Laban se hart sodat hy wat Laban is, daaroor kon getuig.

‘n Rukkie later sak ‘n vredevolle stilte in die kuierkombuis neer toe Ousa die kombuisdeur agter die klompie vroue toetrek. Steeds eggo Vytjie en Ousa se woorde in my hart. En so besef ek hoe kosbaar en spesiaal dit is om die Skepper van hemelgoed en stofaarde se toegangshek na iemand se hart te wees. ‘n Toegangshek sodat Hy ander kan seën.

Gen 30 vers 27 (Afr20) = “Laban het hom geantwoord: “As jy my asseblief net goedgesind sal wees! Ek het uit die voortekens te wete gekom dat die Here my geseën het om jou ontwil.”

Sandkorrel baie seëninge.

Los jou voetspore as jy wil by:

Divine Life Bediening (HJ & Dalene Cronjé)
Selnr: 082 772 2192
WhatsApp: 081 568 7549

Klik HIER om meer van Divine Life Bediening se doen en late te lees. Kontak hulle gerus en sit hulle op jou gebedslysie, asb.

['n Spesiale dankie, Valerie, wat so gereeld hierdie wonderlike WATERDRUPPELS met ons lesers deel. Dit is só spesiaal en mag hierdie voetspore ook hulle pad vind na waar die behoefte die grootste is.]

Oomblik van stilte: Jer. 39:18

Want Ek sal jou sekerlik laat vryraak, en jy sal deur die swaard nie val nie; maar jou siel sal vir jou 'n buit wees, omdat jy op My vertrou het, spreek die HERE

Jeremia het vir die volk baie opdragte gegee volgens God se woord om uit te voer, sodat hulle, hulle kon bekeer, maar hulle wou nie luister nie.
Ebed-Meleg, (die Kusiet) het hom ontferm oor die lot van Jeremia, en bg. vers is na aanleiding van sy pleit by die koning en redding van Jeremia gespreek.
Meeste mense sal nie luister na die waarskuwings van die profete nie; die wat wel sal luister, is juis die van wie ons dit nie verwag nie, soos die Kusiet, 'n afstammeling van Gam.
Maak nie saak van watter stam jy nou is nie, luister en wees gehoorsaam aan God; Sy bloed het jou gereinig en geheilig en jy is gered vir sy koninkryk, sonder enige goeie werke van jou kant af, maar vanweë die liefde van die Vader. 

Here, dankie dat U ook oor my uitroep dat ek nie sal sterf deur die swaard nie. Ek glo in U die Seun van God die Vader en dat U vir my gesterf het aan die kruis. U bloed het my skoon gewas en gereinig tot u eer. Dis waar ek vandag staan, in triomf in die Naam van Jesus Christus. Die Satan is onder my voete en Christus gee my oorwinning oor elke saak. Sodat ek die dood sal vryspring. U ewigheid is my erfdeel tot in u koninkryk. In u voorhowe sal ek Psalm sing. Amen. 

Saturday, 17 May 2025

Saterdaglagmedisyne: Dokters


"Ek het dringend 'n bril nodig," sê die man vir die oogarts.
"Hoekom dink jy so?" vra die oogarts.
Die man sê: "Ek is 'n inbreker van beroep en toe ek nou die aand 'n brandkluis wil oopmaak, begin die radio speel."
  
ooOOoo

"Nou wat beplan jy om aan daardie ekstra gewig te doen wat jy met jou saamdra?" vra die dokter vir die pasiënt.
"Ek kan net nie gewig verloor nie," sê die pasiënt. "Ek moet 'n ooraktiewe skildklier hê."
"Die toetse wys dat jou skildklier heeltemal normaal is," sê die dokter. "As daar iets is wat ooraktief is, is dit jou vurk."

ooOOoo

Die ontvangsdame hardloop by die dokter se spreekkamer in. Sy sê: "Dokter, dokter, daar's 'n spook in die ontvangskamer. Wat moet ek doen?"
Die dokter sê: "Sê vir hom ek kan hom nie sien nie."

Friday, 16 May 2025

Statistiek 195 000: 9000 e-besoekers in 8 dae

Verjaardagwense uit die rooi posbus nr. 8: Baie geluk, mev. AS Maritz


Foto: Ronell van Wyk
  

My wens vir jou ...

Vir jou mede-inwoner wil ek graag iets gee, iets groter as wat geld kan koop:

* Die helder roep van 'n visarend (maar in Kimberley sal dit dalk eerder 'n Hadida wees).
* Die reuk van 'n vars oggend na 'n bui reën die vorige dag.
* Die eerste strale van die son wat opkom.
* Die sensasie van die winterson op 'n koue Sondagmiddag.
* 'n Voëltjie op jou vensterbank wat uit volle bors sing.
* 'n Verskietende ster waar jy soos in jou kleintyd, 'n wens kan wens.

Thursday, 15 May 2025

Verjaardagwense uit die rooi posbus nr. 8: Baie geluk, mev. C Koen


Foto: Ronell van Wyk

Ouma se wenke: Hier is 11 wenke om in jou etenstyd ’n blaaskans te vat en te ontspan ...

* Strek jou bene - gaan stap ’n bietjie en kry vars lug. Dit help met bloedsirkulasie en sal jou blootstel aan die nodige sonlig wat jou ’n hupstoot kan gee.

* Verrig take - gaan betaal ’n rekening, gaan koop iets te ete vir vanaand of tel gou jou baadjie by die droogskoonmakers op.

* Gaan gym of doen ander oefeninge tydens jou etenstyd.

* Vat ’n middagslapie of selfs net ’n powernap om weer kragte op te bou.

* Spandeer tyd saam met kollegas en vriende of selfs jou wederhelf en kry iets te ete.

* Gee terug - volunteer by ’n sopkombuis of om skoolkinders te tutor.

* Kry jou fokus terug deur te mediteer. Dis ’n goeie manier om te ontspan.

* Gaan doen inkopies vir jouself, ’n geliefde of die huishouding.

* Lees ’n boek of selfs die koerant om jou brein aan die gang te hou.

* Bel ’n familielid of vriend om net hallo te sê of om bietjie stoom af te blaas.

* Luister na musiek met jou oorfone aan. Jy kan na hartelus die volume opdraai en jou gunstelingliedjie geniet. Moet net nie kliphard saamsing nie.

Monday, 12 May 2025

Vandag se internetgebed vir jou: Ek is moeg ...

Here, U ken my hart en
U weet ek is dankbaar vir
al my genadegawes ...
Maar vandag is ek moeg.
Moeg gesukkel.
Moeg gewerk.
moeg gehoop en 
om eerlik te wees ...
Moeg gebid.
Vandag is als net te veel,
maar ek weet U erstaan
en met sonsopkoms ...
groet ek U weer
met vrede.
Amen

Sunday, 11 May 2025

Moedersdag: Martie beskryf die plek van 'n ma

"Nie almal is sekerlik so bevoorreg soos ek om 'n besonderse ma te hê nie. So aweregs, spitsvondig en positief soos sy, kry jy nie aldag nie.Sy't altyd 'n plan, sien nie probleme nie, maar oplossings. En sy het my so baie geleer van dinge doen en baasraak, en uitdagings aanvaar. Of dis dalk juis waaroor dit gaan: Elke ma is uitsonderlik.

Die ding van 'n ma is, sy pas so presies in daardie ruimte in jou lewe. Ma, mamma, moeder, moeks, mams - in elkeen se lewe is daar 'n pasgrootte ma-vormige plek wat net deur een mens gevul kan word. En as daardie ruimte eers leeg is, bly daar 'n leemte, beskryf dié wat nie meer ma's het nie, die gemis.

Die belangrikheid van daardie gevulde ruimte word eers waarlik duidelik wanneer jý die dag 'n ma is; daardie dag as jy jou mond oopmaak om vir jou kind iets te sê en daar hoor jy jou ma! Jy skrik eintlik, so onverwags is dit, die dag as jy jou ma word ...

Dis ma's met wie 'n mens spesiale reuke en smake verbind soos dié uit die kombuis van jou kinderdae. Resepte wat jou inspireer. En ek sien weer my dogter se gesig toe sy nou die dag haar ouma se kosbare resepteboek, weliswaar verweerd en opgebruik, in ontvangs neem: Die verlede word oorgedra in die hande van die toekoms, en dis 'n soort geskiedenisoordrag, 'n toekomsopdrag ... en dit is kosbaar ..."

[Martie Pansegrouw - redakteur van Rooi Rose, 6 Mei 2006]