Sunday, 14 July 2024

Oomblik van stilte: Gebed

Heer, in die stilte van hierdie oggenduur
aan die begin van hierdie dag,
kom ek na U toe vir vrede,
vir wysheid en vir krag.
Help my om die wêreld vandag te sien
met oë van liefde,
om altyd geduldig, begrypend en sag te wees.
Om deur die voorkoms van dinge te kyk,
en U kinders te ken soos U hulle ken - geestelike wesens op ‘n pad van lig.
Maak my ore doof vir skinderpraatjies,
weerhou my tong van die onvriendelike woord.
Laat my só vol blydskap wees, so vriendelik,
dat almal naby my U teenwoordigheid voel.
Maak U woning in my hart, o HEER,
en laat U lig, U liefde en krag
elke uur van hierdie dag deur my werk en straal
tot seën van alles en almal om my.
AMEN.

[Aangestuur deur Pieter Swanepoel]

Wednesday, 10 July 2024

WATERDRUPPEL vir die WEEK = Maak die linne los

Groete en Vrede!!!

Die dankbaarheid in my binneste binne kook byna oor toe ek Pieta se vriendelike breë glimlag in sy swartbruin oë sien met die oopmaak van ons kuierkombuis se deur. Sommer so met die groet, kon ek aanvoel dat Pieta iets op die hart het. Iets groots ... iets kosbaars. Maar tog is dit ook iets wat swaar op sy gemoed en sy skouers druk.

"Ai jinne, Pastoor,” sê Pieta nog voordat ons op die sementbankies onder die Apiesdoring langs die kantoor kon sit, “ek is tog so bly julle oorstaan in die voorwêreld is verby. Pastoorgoed moet tog vir my hand gee asseblief. Na laaste Saterdag voel dit kompleet asof my dinkdinge vasgebind is. Alles hierbo deurmekaar.” Stil stom bekyk ek hierdie geharde Kalahari-boorling ampertjies ongelowig op en af. Dit is nie die Pieta wat ek en die Mooiste Mooi sowat dertien jaar gelede ontmoet het nie. Daardie Pieta is hardkoppig, vasberade, eiewys en egosentries. Iemand oor wie se lippe “hand-vra-woorde” nie maklik kom nie.

"Pastoorgoed sien,” beduie hy lateraan “ek het mos laaste Saterdag my saak met die Here reggemaak. Daardie oomblik toe my eg se kis in die graf wegsak, het ek besef dat ek vir te lank 'n dooie lidmaat is wat met my rug na die Here toe staan. Ek wil soos my eg wees. Sy is mos met haar oog op die Here die ewigheid in. Omrede ek nou onseker is vra ek hand, maar die volk kan of wil nie hand gee nie."

Met die aanhoor van Pieta se hand-vra-woorde, herinner die Veilige Gees my aan 'n bekende leë graf storie - Lasarus se leë graf. ‘n Storie waar die wegrol van ‘n grafklip en die losmaak van doodslinne baie belangrik is. Terselfdertyd besef ek dat die ooreenkoms tussen Lasarus en Pieta se stories meer as net die dood is. Die realiteit is dat beide dood was - die een fisies en die ander geestelik.

Lasarus was dood ... fisies dood en daar is begrafnis gehou. Etlike dae na die verrigtinge word daar steeds lang trane oor hom gehuil. En op die vierde dag na sy dood het Marta (Lasarus se suster) selfs per geleentheid gesê het dat hy dae sal ruik. Jesus as God se Kêrelkind, het egter nie 'n menslike perspektief op Lasarus se afsterwe gehad nie. Volgens Hom het sy vriend egter net geslaap. Lasarus moes bloot net wakker gemaak word.

Net so was Pieta ook geestelik dood en vasgevang in ‘n geestelike rotsgraf. Hy wat Pieta is, het homself daarin begrawe omdat hy doelbewus gekies het om sy rug op die Skepper van hemelgoed en stofaarde te draai. En so het die Kalahari se uitverkoopte gelowiges hom geken ... ‘n dooie lidmaat wat net aan die slaap is.

By Lasarus se graf was ‘n bondel begrafnislopers wat kom treur en groet het. En in opdrag van Jesus, moes hulle die onverwagte en onnatuurlike doen. Hulle moes die grafklip voor Lasarus se rotsgraf wegrol. Jesus se uitroepwoorde kon nou sonder enige fisiese hindernis by Lasarus se ore uitkom. Uitroepwoorde lig toe en uitroepwoorde lewe toe.

Net so was daar ook begrafnislopers by Pieta se onsigbare geestelike rotsgraf wat kom treur en groet het. Hulle wou of kon nie aanvaar dat Pieta geestelik dood is nie. Dit is daardie uitverkoopte gelowige mensegoed wat nie skaam was om liefdevol teenoor hom op te tree en gereeld vir hom te bid nie. Hiermee het hulle verseker dat die grafklip voor Pieta se onsigbare rotsgraf weggerol word. Nou kan hy Jesus se uitroepwoorde sonder enige hindernis hoor. Uitroepwoorde lig toe. Uitroepwoorde lewe toe.

Meteens besef ek dat Lasarus se storie nie hier eindig nie. Alhoewel die ontbinde lyk die lewe bo die dood gekies het, het hulle hulp nodig gehad. Lasarus wat soos 'n mummie lyk, kom sukkel-sukkel uit sy rotsgraf terwyl sy hande, voete en kop steeds in doodslinne toegedraai is. Hy kon by homself nie regkom nie. Daarom is daar vir die begrafnislopers ‘n konkrete en daadwerklike opdrag gegee om die versmorende doodslinne van Lasarus los te maak sodat hy kan gaan.
 
Stilweg snak ek na my asem. Meteens weet ek waarom Pieta kom hand vra het. Hy het hulp kom soek omdat hy sukkel-sukkel uit ‘n geestelike rotsgraf kom. Dit voel vir hom asof sy dinkdinge verstrengel is in geestelike doodslinne wat rondom hom gedraai is. Doodslinne waaruit hy by homself nie kan kom nie.

As uitverkoopte gelowige mensegoed, is dit ons plig en Godgegewe verantwoordelikheid om mekaar te help. Ons moet mekaar en al die Pieta's van die lewe help om ontslae te raak van versmorende doodslinne. Doodslinne wat versmoor. En dit doen ons deur mekaar altyd in nederigheid te dien en onvoorwaardelik lief te hê. Dit is nou sonder enige uitsondering en sonder enige voorwaarde.

Joh. 11 vers 39 (a) (Afr20) = "Jesus het gesê: “Vat die klip weg.”
Joh. 11 vers 44 (Afr20) = "Die oorledene het uitgekom. Sy voete en hande was met grafdoeke vasgebind, en sy gesig met 'n kopdoek toegedraai. Jesus sê vir hulle: “Maak hom los en laat hom gaan.”

Sandkorrel baie seëninge.

Divine Life Bediening (HJ & Dalene Cronjé)
Selnr: 082 772 2192
WhatsApp: 081 568 7549
Klik HIER vir verdere inligting.


[Dankie, Anoniem, vir die deel van hierdie stukkie. Indien jy as leser wil en betrokke kan raak by hierdie uitreiking, maak asseblief gebruik van die kontakdetail hierbo.]

Bybelleesprogram: Lees vir 'n 100 dae - week 2 dag 3

Woensdagwense: week 28

Monday, 8 July 2024

Bybelleesprogram: Lees vir 'n 100 dae - week 2 dag 1


Klik HIER vir meer inligting!!

121 000 keer dankie van ons kant af!

'n Warm DANKIE van die inwoners af!


Liewe Engele
'n GROOT DANKIE aan elkeen van julle wat julle Saterdag opgeoffer het om die dag saam met ons deur te bring!! Julle is só spesiaal vir ons! En ons waardeer julle opreg! Mag julle 'n geseënde week hê! Onthou, julle het Saterdag warm harte agtergelaat. Ons sien uit na julle volgende besoek!
Ons Huis-inwoners

Vandag se internetgebed vir jou: Spesiale gebed


Sunday, 7 July 2024

Dié koue wintersdae vra vir heerlike warm sop

Siekeboeg

Koue wintersdae is die regte tyd vir bonkige huissop waarin jou lepel sommer so regop kan staan. Hierdie heerlike sop-en-vetkoek-Saterdag het 'n warm omgeegevoel in die inwoners se harte gelos. En nadat die innerlike versterk is, was Bingo volgende op die spyskaart. Heerlike pryse is op die tafel uitgepak as aansporing vir 'n ernstige spel. Na baie lag, gesels, eet en kuier moes die engele groet. Daar is darem die vooruitsig dat hierdie groet net tot 'n volgende keer is.   

Bingo  



Foto's: Millie Mouton

Oomblik van stilte: Rom. 8:2-5

Want die wet van die Gees van die lewe in Christus Jesus het my vrygemaak van die wet van die sonde en die dood. Want God het - wat vir die vlees onmoontlik was, omdat dit kragteloos was deur die vlees - deur sy eie Seun in gelykheid van die sondige vlees te stuur, en dit ter wille van die sonde, die sonde veroordeel in die vlees, sodat die reg vervul kan word in ons wat nie na die vlees wandel nie, maar na die Gees.

Die vlees en die Gees is vyande van mekaar, die een bedink dood en die ander bedink lewe en vrede. (vers 6). God gee jou dieselfde Gees van lewe wat Jesus Christus uit die dood opgewek het (vers 11). Almal wat deur die Gees gelei word, die is kinders van God. (vers 14). Die Gees getuig ook saam met ons Gees, dat ons kinders van God is, en erfgename en mede-erfgename saam van Christus, as ons saam met Hom gelei het. (vers 16&17)

Here, ons sug saam met die hele skepping in afwagting van die aanneming tot die kinders, naamlik die verlossing van die liggaam (vers 23). Maar net so kom die Gees ons swakhede te hulp, want ons weet nie reg wat om te bid nie, maar die Gees tree vir ons in met onuitspreeklike sugtinge (vers 26). Wie sal my skei van die liefde van Christus - verdrukking of benoudheid of vervolging of honger of naaktheid of gevaar of swaard (vers 35). Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat ons liefgehad het (vers 37). Amen.

[Aangestuur deur Pieter Swanepoel]

Herinneringe: 'n Briefie aan 'n oupa

Liewe Oupa

Respek is die eerste ding wat in my kop kom as ek aan Oupa dink.

Ek het Oupa gesien as die generaal van 'n familie wat sukses bereik het met die ondersteuning, wysheid en leiding van 'n liefdevolle vader en oupa. Oupa het my altyd opgebou om 'n beter mens te wees en om liefde en meegevoel vir ander te hê. Daar is dinge wat 'n kleinseun net by sy oupa kan leer, en ek het die beste voorbeeld gehad.

Oupa, dankie vir al die mooi stories en herinneringe wat ek saam met Oupa deur die jare kon opbou. Ek gaan baie na Oupa verlang en Oupa altyd in my hart saamdra. Oupa se lewenslesse gaan ook eendag my kinders se lewenslesse word. Ek was geseënd om iemand soos Oupa in my lewe te kon hê.

Ek is lief vir Oupa.

Oupa se oudste kleinseun

Friday, 5 July 2024

Bybelleesprogram: Lees vir 'n 100 dae - dag 5


Klik HIER vir meer inligting!!

Vrydag-terugflits: Elkeen is uniek ...

Min of meer alle begrippe in ons taal wat tyd of hoeveelheid aandui of beskrywend is, is relatief van aard.

Wat die modebewustes as elegant bestempel, mag jy as skreeulelik ervaar.

Terwyl een persoon mag dink die werk is onmoontlik baie, mag dit dalk vir iemand anders haalbaar wees.

As jy min geslaap het, mag iemand anders dit as heeltemal voldoende beskou. Wat vir die een persoon baie is, is vir die volgende persoon min. Wat vir die een persoon lank is, mag vir 'n ander persoon kort wees.

Alles hang van jou verwysingsraamwerk af. As jy met die minimum moet klaarkom, kan jy nie verstaan waarom sekere artikels as winskope bemark word nie. Die hoeveelheid kos of slaap of werk of ontspanning waaraan jy gewoond is, is nie noodwendig waaraan ander mense gewoond is nie.

Wonder jy waarom mense wat jy dink 'n groot inkomste verdien steeds skuld het, sal daar iemand anders wees wat dieselfde oor jou wonder aangesien hulle minder as jy verdien.

Inwoners van Hartswater of Hopetown mag Kimberley as 'n stad beskou. As jy in Kimberley woon, voel jy waarskynlik dat Bloemfontein 'n stad is. As Bloemfonteiner sal jy heel moontlik Pretoria, Kaapstad of Durban as 'n stad bestempel. Daar sal altyd iemand wees wat meer of minder het en daar sal altyd iemand wees wat meer of minder doen.

Ons verwysingsraamwerk is so uniek soos ons menswees. Soos 'n vingerafdruk of DNS waarvan geen mens s'n dieselfde is nie. Al veroorsaak dit soms konflik is dit ook wat interessantheid en verskeidenheid aan die lewe verleen.

[Bron: Noordkaap - Potpurri - Karin Muller]