Monday, 31 March 2025

Vandag se internetgebed vir jou: My siel is verkwik

Heilige Gees, ek kom vanoggend weer en vertrou dat U my gedagtes sal rustig maak en in lyn met u plan rig. U verkwik my siel en lei my in die spore van u geregtigheid, om u Naam ontwil. My siel loop oor van blydskap omdat U my troos en bemoedig, en toerus vir u werk elke dag. U woord is 'n lamp vir my voet en is die lig vir my pad. Ek is vertroos en my siel is verkwik in Jesus Naam. Amen. 

Sunday, 30 March 2025

Oomblik van stilte: 2 Sam. 22:4

Ek roep die Here aan wat lofwaardig is, en van my vyande word ek verlos.

Roep die Here vanoggend aan want Hy is lofwaardig. Gee aan God die lof, gee aan jou Skepper die eer voordat jou dag nog begin. 
Al het jy nie nou enige aanvalle van die vyand nie; loof God nog steeds vir sy goedheid en sy genade, wat jou elke dag opwek en jou met wysheid en krag toebedeel, om jou doelwitte te bereik.
Doen dit en sien hoe God jou met sy rykdom van blydskap en vreugde vul.
Jy stap met 'n groot voordeel alreeds die dag in, in oorwinning in Jesus se Naam. 

Dankie Here my God, vir u groot genade van u heerlike blydskap en vreugde, waarmee ek my eerste tree vir die dag kan ingaan. U is lofwaardig en ek wil vroegdag u Naam saam met die engele verheerlik en vereer. Amen

Saturday, 29 March 2025

Huisgenotjies: Oues van dae


* Teen die tyd dat 'n mens wys genoeg is om in jou spoor te trap, is jy te oud om die energie bymekaar te skraap om dit nie te doen nie.

* Jy weet jy is oud wanneer jou dokter en nie die verkeerspolisie nie, jou maan om rem aan te draai.

* Jy weet jy word  oud as jy jouself gelukkig ag omdat jy onthou het waar jy jou motor op die parkeerterrein gelos het.

* Jy weet jy word oud wanneer jy sukkel om jou rystoel aan die gang te kry

* Dis nogal moeilik om nostalgies te word wanneer jy niks meer kan onthou nie. 

Thursday, 27 March 2025

Ouma se wenke: Algemeen

* Groente: Om groente gouer te laat sag kook, voeg ‘n teelepel suiker by terwyl dit kook.

* Voorkom miet: Sit 'n kers in die meel of poeiermelk om miet te voorkom.

* Eiers: Om te keer dat eiers bars wanneer jy dit kook, sit ‘n teelepel in die kastrol.

*  Room: Voeg ‘n halwe teelepel suurlemoensap by room wanneer jy dit klop; dit raak baie gouer mooi styf.

*  Spek: Maak spek nat voordat jy dit in die pan braai, dit verhoed dat dit so maklik omkrul.

Wednesday, 26 March 2025

Hartsake oor 'n koppie tee: 'n Goeie vriendin

Wat is die kwaliteite van 'n goeie vriendin en is ek een?

'n Vriendin is sensitief. Sy luister fyn na die binnekant van jou woorde. Sy lees tussen die lyne na dit wat jy nie sê nie. Jou warboel van emosies kry name. Name waarvan jy eintlik weggeskram het. En skielik verstaan jy jouself beter.

Met haar omgee en insig, kan jy dieper kyk na jou probleme.

In die dieptes van ellendes, hou sy jou staande.

Sy karring nie aan jou nie en sy oordeel jou nie. Sy gee jou die spasie om te besef, te besluit en dan op te tree.

Sy is eerlik en jy kan haar vertrou. By haar kan jy jou hart oopmaak en hoef jy nie jou taankrane toe te hou nie. 

Jy voel veilig by hierdie goue karat vriendin. 

Is ek so 'n vriendin vir ander? 

Verjaardagwense uit die rooi posbus nr. 8: Baie geluk, mev. M Botha


Foto: Ronell van Wyk 

Monday, 24 March 2025

Vandag se internetgebed vir jou: U is getrou

Dankie, Here, U het reeds 'n paar duisend jare terug met u woord vir my verlossing gebring. U kan nie lieg soos 'n mens nie. U is waarlik getrou aan u woord. Al het die mens U nooit gesoek nie, het U my tot God in u lig gebring. Ek is nou eenmaal die geseënde van die Here. Ek is dankbaar en bring al die eer aan U. Amen. 

Sunday, 23 March 2025

Oomblik van stilte: Sef. 3,5

Die Here is regverdig binne-in Hom, Hy doen geen onreg nie; elke môre laat Hy sy reg aan die lig kom, dit ontbreek nooit nie;  maar die kwaaddoer ken geen skaamte nie.

Die Here is regverdige en Hy bly so getrou aan Homself vir jou.
God bly weereens getrou deur vanoggend sy reg aan die lig te laat kom vir jou en dit onbreek nie; vanoggend breek sy lig weer vir jou deur soos die môreson. 

Here my God, U bly in alles getrou. U voorsien vanoggend, soos elke oggend, weer aan my u reg. Soos die son verseker  daagliks opkom, so is u reg vir my. Ek sal U woord in geregtigheid altyd by my hê, om in U geregtigheid te kan oorwin en aan U altyd die eer te gee. Ek is nie skaam nie, U geregtigheid leer en lei my. Amen.

Saturday, 22 March 2025

Saterdaglagmedisyne: Oupa en ouma

* Kosie se buurmaatjie is baie nuuskierig en het 'n uitermate groot bewondering vir Kosie se ouma.
Konrad: "Gly jou ouma nog so teen die trappe af?"
Kosie: "Ja, maar net 'n bietjie stadiger vandat my pa doringdraad om die trapreling gedraai het."

* Ouma en haar oudste kleindogter drink koffie in een van die gewilde koffiewinkels. Sandy is verbaas toe haar ouma 'n yslike stuk sjokolade koek saam met die koffie bestel.
"Ek dag Ouma is op so 'n streng dieet."
"Ek is, my liewe kind. Ek doen dit net om myself te toets," antwoord ouma terwyl sy 'n groot hap neem.
"En ek druip elke keer!" sug sy.

* Oupa se broer kom kuier. Hy is bekend by die familie dat hy lekker kan eet en ook heelwat meer gewig met hom saamdra as wat gesond is. Jan is dus duidelik sigbaar. Ouma was nie baie ingenome met dié kuier nie, want dit beteken dat sy heelwat meer tyd in die kombuis moet deurbring as wat nodig is.
Sondag, net so voor middagete kom Jan daar aangery. Toe hy uit die kar uitklim, het oupa hom nie herken nie. Soos hy later vir ouma verduidelik: "Jy onthou daardie groot draak wat op sy borskas getatoeëer was?"
"Ja."
"Wel, dit is nou 'n geitjie."

Thursday, 20 March 2025

Ouma se wenke: Skoonmaak

* Juwele: Maak jou juwele skoon deur liggies met ‘n tandeborsel en ‘n bietjie tandepasta onder lopende water te borsel. Bêre juwele in eierkartonne.

* Krane: Vryf 'n kraan met ‘n halwe aartappel om dit mooi blink te kry.

* Bril/horlosieglas: Krapmerke op ‘n bril of horlosie kan met‘n stukkie watte waarop Brasso is, gevryf word.

* Matte: Meng lou water met ‘n handvol sout en 60 ml of meer asyn. Borsel matte met mengsel. Dit bring die kleur weer mooi na vore.

* Messe: Vryf messe met suurlemoensap sodat dit weer mooi kan blink.

Wednesday, 19 March 2025

Hartsake oor 'n koppie tee: Slaap

As 'n mens sukkel om te slaap en jy rol van die een sy na die ander rond, kan jy hierdie sukkel-slaap-tyd omskep in 'n spesiale tyd. Die belangrikste is om nie te stres omdat jy nie kan slaap nie.

* Gaan klim teen middernag in 'n lekker skuimende warm bad.
* Maak vir jou 'n verfrissende koppie kruietee.
* Kyk na 'n heerlike video of luister na rustige musiek.
* Maak 'n lysie van genadedinge op jou pad.
* Bid vir almal wat swaarkry - begin by hulle wat die naaste aan jou is.
* Maak 'n lysie van bederfdinge wat jy vir jouself kan doen.
* Maak 'n lysie van dinge waarvoor jy dankbaar is - reën, 'n koel windjie wat in die warm somermaande waai, dat jy vandag meer krag het as gister, 'n boodskap van 'n goeie vriendin, 'n lekker koppie tee, 'n onverwagse oproep van 'n gemeentelid/kennis/verlangse familielid.

Kort voor lank, behoort die slaap aan jou deur te klop. 

Monday, 17 March 2025

Vandag se internetgebed vir jou: 'n Melodie van lewe

Here, U het weer 'n melodie in my lewe gegee toe
my hart nie meer die lied van die lewe wou sing nie.
U het soveel keer my uit die donker dieptes van
die lewe kom haal, jui­s wanneer ek dink als het
my gefaal, maa­r Heer, U het my totaal verstom,
t­oe ek heel by die wenpaal anderkant uitkom.
Daarom buig ek vanaand my knieë in gebed e­n
sê: "Dankie Heer vir dit wat ek het".
Amen

Sunday, 16 March 2025

Oomblik van stilte: Jes. 64:8

Maar nou, Here, U is ons Vader; ons is die klei, en U is ons Formeerder,  en ons almal is die werk van u hand.

Is jy besorgd of bekommerd omdat jy voel jy is nie op die regte plek, of jy het jou roeping gemis? Onthou, God is jou Formeerder en "bou" nog steeds aan jou. 
Vertrou die Here en gee Hom kans om sy werk te doen. 
Moenie God se werk vir Hom probeer doen nie. Jou beste werke is soos 'n wegwerplike kleed. 
As jy volmaak wil wees, wees onderdanig aan God en laat Jesus sy werk voltooi in jou. Net Hy is getrou en net Hy kan jou volmaak formeer.

Here, ek is die werk van u hande. Ek vertrou U alleenlik. Ekself is onbetroubaar en kan nie bereik wat ek moet, sonder u hulp en leiding nie. U het reeds vir my 'n weg berei en U hou my weg van die kwaad en skadelike pad, wat die vyand vir my voorberei. Dankie Here vir u volmaakte weg vir my berei. Met U is ek meer as 'n oorwinnaar. Amen.

Saturday, 15 March 2025

Saterdaglagmedisyne - terloops gehoor

* "Hulle sê sulke mooi dinge oor 'n mens wanneer hulle hulde bring by 'n begrafnis, ek word sommer hartseer wanneer ek daaraan dink dat ek my eie een sal misloop."

* Koos, Stoffel en Gert sit en gesels een middag op die stoep van die ouetehuis. Hulle het pas van 'n vriend se begrafnis teruggekeer.
"Daar was darem mense wat goeie woorde oor ou Jan te sê gehad het," sê Gert.
"Mmm, " sê Stoffel, "ek sit nou reeds en wonder. Wat sou jy nou die graagste van jouself wou hoor as jy nou te sterwe kom, Gert."
"Dat ek een van die beste voormanne van alle tye op die myn was en daar nooit op my skof iets verkeerd geloop het nie.  En jy, Stoffel?"
"Dat ek 'n uitstekende eggenoot en vader was. Wat sê jy, Koos?"
"Wat ek die graagste sal wil hoor wanneer ek daar in die kis lê?"
"Ja."
"'Kyk, hy beweeg!'"

Friday, 14 March 2025

Gemeentestaaltjies: Staaltjies uit die sestigers ...

Mev. Smittie
van der Westhuizen
Mev Smittie van der Westhuizen was 'n vrou met verskuilde talente. Haar hande het vir niks verkeerd gestaan nie. Sy het die binnewerke van 'n motor se enjin net so goed soos enige man geken en as sy in haar sweetpak ingeklim het, met geen haar van haar kapsel uit sy plek nie - was dit nie lank nie, of die motor is weer padvaardig. Sy was verantwoordelik dat mev. Frieda Siebert (ds. Siebert se vrou) se blou Morris op die pad gebly het.

As dit tyd was dat die Morris gediens moet word, sal jy vir Smittie onder die enjinkap van die motor by die pastorie kry, besig om in die laat sestiger jare te doen wat nie algemeen bekend was as werk vir vroue nie. Klaar met haar taak, het sy hande skoongemaak, hakskoene aangetrek en was sy reg vir wat ookal volgende op haar te doenlysie was. (As ek nou terugdink ... dan was sy haar tyd dekades vooruit!)

Smittie, 'n gemeentelid van Dutoitspan in die sestigers en sewentigers, is tans 'n inwoner van Ons Huis.

[Bron: Dutoitspan Kimberley Die lewe is 'n reis - Woensdag, 18 Oktober 2017]

Thursday, 13 March 2025

Ouma se wenke: Lastige plae

* Muskietbyte: doop ‘n stukkie watte in Engelse sout en warm water en plaas op bytplek.

* Kakkerlakke: Om ontslae te raak van kakkerlakke, plaas piesangskille in kaste en op rakke.

* Miere: Sit ‘n stukkie suurlemoen neer waar miere in die huis pla. Meng ewe veel koeksoda en Engelse sout en strooi oral by die probleemareas rond. Die miere sal die wyk neem en dis nie gevaarlik vir kinders en troeteldiere nie.

* Motte: Engelse sout in kaste waar linne gebêre word - dit hou motte weg. Droog lemoenskil in die oond en plaas dit in laaie en kaste om motte uit te hou. Jy kan ook ‘n paar koekies seep in jou linnekas sit. Dit sal die vismotte weghou en gee ook ‘n aangename reuk aan die linne.

* Muise: Gooi pepermentolie voor/in muisgate.

* Muskiete: Sit ‘n piering asyn langs jou bed om die muskiete weg te hou. 'n Paar druppels sitronella-olie op jou nagklere en kussingslope hou ook muskiete weg.

* Slakke: Maak die beddings goed nat en sodra slakke te voorskyn kom, gooi tafelsout op hulle.