Monday, 30 June 2025

Vandag se internetgebed vir jou: Luister

Here, maak alles in ons stil, sodat die stilhart kan praat wanneer U voel die tyd is reg. Gee ons die krag en genade om te luister wat U deur die stilhart vir ons wil sê, al skram ons weg uit vrees. Gee ons wysheid en insig om na U stem se fluister te luister. Amen

Sunday, 29 June 2025

Statistiek: Aktiewe e-lesers onder ons seniors


Totaal: 215 303
Vrydag: 1 895
Saterdag: 887
Die afgelope maand: 13 889
Verlede maand (Mei): 26 609

Die statistiek vir Mei-maand is amper dubbeld dié van Junie-maand. Laat weet asb. wat julle dink die moontlike redes hiervoor kan wees. 

Lekker lees
en
baie dankie vir gedagtes 
wat met verloop van tyd hulle weg hier gaan vind.

Gedig: Ek is nie daar nie ...

As ek sou sterf en jou hier 'n rukkie verlaat,
wees nie soos ander wie se seer nie ongedaan gemaak kan word nie,
wat lank in die stille stof ly.
Ter wille van my, draai weer na die lewe en glimlag,
die senuwee van jou hart en die bewing van die hand
om iets te doen om ander harte as myne te troos.
Voltooi hierdie liewe onvoltooide take van my
en ek sal my daarin kan troos.

[Mary Hall , Amerikaanse prokureur, 1843-1927]

Oomblik van stilte: 2 Kon. 18:24a

Roep julle dan die naam van julle God aan, en ék sal die Naam van die Here aanroep; en die God wat met vuur antwoord,  Hy sal God wees.  

In die regeringstyd van Koning Agab het Elia die Here geraadpleeg en dit het vir drie jaar nie gereën nie. 
Agab en Isebel het die profete van Israel vermoor en ander bose dinge gedoen en hulle het elke geleentheid gesoeknom Elia ook dood te maak.
Nou roep Elia, 54  profete van Baäl, voor die oë van Agab en daag hulle uit. 1Kon 18:24.
In vers 38 kom die Here en antwoord met vuur.
Die Baäl priesters word gedood.
Daarna kom die groot reën na drie jaar en die Here omgord Elia se heupe dat hy voor Agab met sy perde en strydwaens uit hardloop.
In Amerika is die altaar van die seksgod, Asjera (wat ook in die tyd van Agab vereer was), letterlik 'n jaar of twee terug, stukkend geslaan voor 'n groot skare.

Here, u alleen is die ware Alleenwyse God. U antwoord met vuur. U Heilige vuur verteer wat geen ander god kan doen nie, al dans en sny en roep die wêreld na hulle god. Net U alleen sal my antwoord. Net U alleen sal my versterk. U Heilige vuur sal oor my kom en U Heilige Gees sal my versterk en omgord, om staande te kan bly, in 'n verdraaide wêreld wat U bespot en verwerp. U vuur, reinig en heilig my, om in oorwinning u goeie boodskap uit te dra. En ék sal die Naam van die Here aanroep; die God wat met vuur antwoord, en U sal my God wees. Amen.

Saturday, 28 June 2025

Statistiek: Dankie vir 215 000 getroue e-besoeke


Dankie vir julle e-belangstelling! 3000 e-lesers het van
Donderdag tot Saterdag 'n draai hier gemaak! 

Saterdaglagmedisyne - Dieregeite


 ** Twee koeie sit en hekel in 'n boom.
Skielik vlieg 'n perd verby met 'n klomp strooi in sy bek. Die een koei kyk verbaas op en gaan voort met haar hekelwerk. 
Vir die tweede keer vlieg die perd verby, dié keer met 'n taamlike groot tak in sy bek. Die eerste koei kan dit nie meer hou nie.
"Het jy gesien? Daardie perd het nou twee keer hier verby gevlieg. Eers met 'n klomp strooi en nou met 'n tak in sy bek."
"Ag, moet jou nie daaraan steur nie. Hy het seker 'n nes hier êrens," sê haar hekelmaat.

** Oom Koos het 'n bokram by die kerkbasaar met die lotery gewen.
Die tante was maar nukkerig toe hy besluit om die dier te hou en huis toe te neem.
"Waar gaan jy die dier laat slaap?" vra sy.
"In die kombuis," antwoord hy.
"En die reuk?" wil sy weet.
"Hy sal maar daaraan gewoond moet raak."

** Twee luislange seil oor die pad. Skielik vra die een vir die ander: "Is ons giftig?"
"Natuurlik nie," antwoord sy maat.
"Dankie tog. Ek het nou net my lip raakgebyt."

Friday, 27 June 2025

Plaasstaaltjie: Konsternasie buite Clanwilliam

Wil darem vertel van die konsternasie op Aggenbagskraal se werf nou annerdag.
Die manne was besig om skaap te werk. 'n Swerm bye takel die skape. Hulle maak hek oop en jaag uit.
Die bye draai om en takel die hoenders langsaan. Hulle kêk-kêk-kêk en skarrel die werf vol.
Die honde bekyk die malspul en vlieg onder hulle in.
Die bye sê: "Vat so!!" En takel die honne.
Gelukkig het die bye later genoeg gehad en kry koers.
Die skade was 'n paar dooie hoenders en twee hondjies wat vir 2 dae bietjie dronk was.
Daar was seker laas so 'n groot gedoente toe Aggenbagskraal se ou huis in 1920 afgebrand het.

[Dankie, Freda, vir die heerlike storie.]

Thursday, 26 June 2025

Statistiek: Dankie vir 212 000 getroue e-besoeke

Verjaardagwense uit die rooi posbus nr. 8: Baie geluk, mev. L Mosavel


Foto: Ronell van Wyk

Ouma se wenke: Vlekke

* Beet: As beetvlekke op 'n kledingstuk is, gooi 'n bietjie melk op die vlek en laat week in koue soutwater. Was dan in warm seepwater. Op 'n mat kan beetvlekke verwyder word deur gliserien met 'n spons in te vryf en dit dan met warm seepwater te was.

* Bier: Biervlekke kan uit 'n mat verwyder word deur dit met witasyn te vryf.

* Vrugtevlekke: Om vrugtevlekke uit materiaal te haal - sprei die stuk oor 'n bak, gooi kookwater tweemaal daarop, en droog dit in die son. Moenie seep gebruik nie.

* Tee: Om teevlek uit materiaal te kry, maak 'n mengsel van gliserien en die geel van 'n eier. Wend aan en laat droog word. Was in koue water. Vryf teevlekke met fyn tafelsout van teekoppies af.

Wednesday, 25 June 2025

Hartsake oor 'n koppie tee: LIEFDESBRIEF AAN 'N SUSSIE

’n Vrou het saam met haar ma tee gedrink. Terwyl hulle oor die lewe en volwassenheid gepraat het, het haar ma gesê: "Moet nooit jou susters vergeet nie! Hulle sal mettertyd baie belangrik word, maak nie saak hoe lief jy jou man, of jou kinders het nie, jy gaan jou sussies nodig hê!” 

"Onthou wanneer ek praat van jou Sussies bedoel ek ALLE vroue wat aan jou geheg is. Soms moet jy hulle kontak, dalk saam met hulle uitgaan, dinge saam met hulle doen, want eendag sal jy hulle nodig hê!” 

Die dogter het daardie woorde in haar toegesluit. Sy het kontak met haar sussies behou. Sy het deur die jare baie vriende gemaak. Sommige het gekom, sommige het gegaan, maar mettertyd het sy verstaan ​​wat haar ma bedoel het. Die wêreld, tyd, natuur en lewe bied hul veranderinge en raaisels in 'n vrou se lewe, maar jou ware sussies bly altyd. Na al die jare wat ek op hierdie aarde geleef het, het ek geleer dat:
* Tyd gaan verby.
* Die lewe gebeur.
* Kinders word groot.
* Afstand skei.
* Passie neem af.
* Die hart breek.
* Ons ouers sterf.
* Gunste word vergeet.
* Werksgeleenthede kom en gaan.
* Loopbane eindig.

MAAR ...

ou sussies is altyd daar, maak nie saak wat die afstand tussen julle nie. ’n Sussie is nooit te ver om bereik te word nie. Wanneer jy deur 'n eensame vallei moet stap en dit vir jouself moet doen, sal die sussies van jou lewe om jou wees, jou bemoedig, vir jou bid, jou druk, vir jou ingryp en met ope arms vir jou wag by die einde van die pad. Hulle sal langs jou loop ... of selfs jou vrag dra. Oumas, ma's, dogters, kleindogters, niggies, tannies, skoonma's, skoonsusters, skoondogters en jou KOSBARE NABY VRIENDE ... Hulle is almal jou sussies en hulle is God se seën in jou lewe!

Sussies gee betekenis aan jou lewe te gee. 

[Dankie, Elmari]

Verjaardagwense uit die rooi posbus nr. 8: Baie geluk, mev. RM Botjes


Foto: Ronell van Wyk
 

Monday, 23 June 2025

Statistiek: 210 000 e-besoeke

Vandag se internetgebed vir jou: Genade

Here, gee ons wysheid en insig om mense se stukkende harte te kan raak sien en wees ons genadig as ons dalk sukkel daarmee en help ons om iemand se hart te red - vandag - want een hart wat gered word, spaar dalk ander harte naby aan hom van pyn en seer. Amen

Sunday, 22 June 2025

Oomblik van stilte: Matt. 12:21

En op sy Naam sal die heidene hoop.

Psalm 22:2+7+9+17b+19
Wie is Jesus?
Hy is die Lam van God, geslag en sy bloed het jou gereinig en geheilig.
Jesaja sê 'n Seun is vir ons gebore ...
Sy naam is Immánuel Jes. 7:15
Jes. 9:5 'n Kind is vir ons gebore, 'n Seun is aan ons gegee; en die heerskappy is op sy skouer, en Hy word genoem; Wonderbaar, Raadsman, Sterke God, Ewige Vader, Vredevors (ook vers 6).

O Here. die koninkryk behoort aan U en die nasies sal U dien want U heers oor hulle (Ps. 22:29). Hef op julle hoofde, o poorte , ja verhef julle, ewige deure,  dat die Erekoning kan ingaan!(Ps. 24:7). Wie is tog die Erekoning? Die Here sterk en geweldig,  die Here geweldig in stryd. Op u Naam sal ek hoop. Amen.

Saturday, 21 June 2025

Saterdaglagmedisyne - Dieregeite


** 'n Man laat sy kat regmaak. Twee dae later kom sy buurman by hom en vra of hy gesien het hoe vreemd die kat ná sy operasie optree. 
"Nee, wat doen hy?" wil die eienaar weet.
"Man, ek het op my stoep gesit en die hele ding dopgehou. Hy het eers van jou werf af oor die muur na die linkerkant van jou erf gespring. Hy was nie 'n minuut daar nie, toe spring hy terug, loop na die erf agter jou en spring ook daar oor die muur. Hy was weer nie 'n minuut weg nie, toe is hy terug, stap na die muur van die erf regs van jou en spring weer oor. Weer dieselfde storie. Toe doen hy boonop dieselfde met die drie erwe oorkant die straat. In nie een van die ses gevalle was jy meer as 'n minuut weg nie."
"O, dis maklik om te verklaar," sê die eienaar. "Hy het maar net sy afsprake vir die volgende paar nagte gaan kanselleer."

** Twee manne het saam ten duurste 'n resieshond aangeskaf. Hy het elke wedren verloor en hulle het toe besluit om hom een laaste kans te gee. Maar weer was hy laaste.
"Wat sal ons nou met die hond maak?" wou die een eienaar weet.
"Kom ons hardloop vir hom weg," antwoord die ander een.

** 'n Muis hardloop eendag vir die kat weg. Hy is onder 'n lysie in die muur in en sit daar in die donker en wag.
Ná 'n lang ruk hoor hy 'n hond buite blaf. Aha, dink die muis, die kat is seker nou weg.
Die muis stap toe uit sy skuilplek uit en daar vang die kat hom en vreet hom op.
Die les in die storie: Wees tweetalig.

Friday, 20 June 2025

Klakouse word nie gebore nie, maar gemaak

ʼn Ou regte knorpot het altyd fout gevind met alles. Niks was ooit reg nie. Sy vrou besluit toe om te kyk of sy darem iets reg kan doen. Sy besluit om vir hom twee eiers vir ontbyt te maak - die een gebak en die een geroer, net om seker te maak hy het nie iets om oor te kla nie. Maar so maklik uitoorlê jy nie ʼn klakous nie. Toe die bord voor hom land, sê hy: "Ja-nee, nes ek gedink het, jy’t al weer die verkeerde eier gebak en die verkeerde een geroer." 

Foutvinders en klakouse sal ʼn mens nooit regtig tevrede kan stel nie.

Klakouse word nie gebore nie, maar gemaak! 

Dit gaan oor die manier waarop jy na die lewe kyk en wat jy graag wil raaksien. Iemand wat op ʼn pad ry, kan die hele tyd na die gate, hobbels of knikke in die pad staar. As jy hom vra wat hy gesien het, sal jy jou gou vertel: gate, hobbels en knikke! Dit is waaruit sy hele reis bestaan het. Die ander persoon wat dieselfde pad gery het, maar na die klowe en berge en blou lug en wolke en bome gekyk het, sal vir jou iets anders vertel ... van klowe, blou berge, pragtige bome. Dit hang dus af hoe jy kyk ... en dit is dan hoe die lewe vir jou is.

Die manier van kyk na die lewe leer ʼn mens vir jouself aan. Dit word ʼn soort gewoonte. 

As jy die hele tyd net fout wil soek, sal jy eintlik net foute kry. Dit sal al word waarna jy in die lewe kyk en al waaruit die lewe vir jou bestaan. Jy sal later niks meer kan doen sonder om te kerm en te kla nie. Jy sal selfs fout vind waar daar niks is om mee fout te vind nie, soos met ʼn gebakte en 'n roereier. As jy so word, het jy as knorpot en kritikaster gegradeer. Jy moes immers hard oefen om so te word.

Dit is so anders as wat die Here wil hê Christene moet wees. Daar is soveel meer in die lewe om raak te sien en te geniet. Daarom moet ons ons bes doen om sulke negatiewe lewenspatrone met alles wat ons het, te vermy. Kyk by ander se foute verby. Ons almal maak mos maar foute. Moenie te skerp kyk of te kwaai oordeel nie.

Maar ewe belangrik: Moenie te kwaai met jouself wees oor jóú eie foute nie. As jy nie in vrede met jouself leef nie, sal jy ook nie in vrede met ander kan leef nie. Aanvaar wie en wat jy is en vergewe ook jouself. Probeer net volgende keer om nie dieselfde foute te maak nie.

Kweek ʼn positiewe lewenshouding aan: een wat die eier met dankbaarheid eet soos dit kom.

[Geleen]

Thursday, 19 June 2025

Ouma se wenke: Vlekke

* Plafonne: Plafonne wat klein merkies of vlekke op het, kan weer nuut lyk as dit met wit skoenpolitoer behandel word.
Vir kwaai waterlekke wat die plafonne bruin vlek: Verf wit padverf daarop. Die bruin vlekke sal nie weer deurslaan nie.

* Roes: Vryf 'n bietjie wynsteensuur saam met water op die roesvlek.

* Sigarette: Gooi bakpoeier onder in asbakkies om stompie brandvlekke te voorkom en reuke te verminder. Verwyder nikotienvlekke van jou hande met suurlemoensap.

* Vlekvryestaal
Om messegoed van vlekvryestaal skoon te kry, maak die opwasbak in jou kombuis halfvol water, voeg 'n halwe koppie huishoudelike bleikmiddel daarin en week die messegoed 'n halfuur lank. Spoel deeglik af en vryf droog.

Wednesday, 18 June 2025

We can change that ...

“Do you know what the hardest part of growing old is?”
“What?”
“You stop being seen. When you're young, you're someone - fun, bold, full of spark. But as the years pass, you become just ... background. 'That old man in the jacket.' 'That woman with the beret.' Like you're not really there anymore.”
“Well, I noticed you the moment you walked in.”
This moment comes from a British series - but the truth hits everywhere.
Aging, for many, isn’t just about aching joints or gray hair. It’s about being forgotten. The world keeps rushing by, and suddenly no one asks your name, your story, your dreams. You're no longer “someone” - you’re just “old.”
Friends pass. Family gets busy. Strangers stop seeing you.
But we can change that.
Don’t let the people who built this world feel like they’ve disappeared from it.
Ask them about their life. Their memories. What made them laugh.
Sometimes all it takes is a genuine “How are you?” to remind someone they still matter.
Let’s make them feel seen.