Monday 3 January 2022

Vat 5 vandag en ook elke dag!

Vandag is die 3 de Januarie 2022, die eerste dag van die eerste week in die jaar 2022! En ek groet jou in die wonderlike Naam van Jesus Christus ons Here en Verlosser.

Vat 5 vandag en ook elke dag!

1. Vandag is die 1ste dag van die res van my lewe. En die res van my lewe is net vandag asof vandag my laaste dag is!

2. Vandag is Die Dag van die Here!
a. Ps. 118:24 Dit is die dag wat die HERE gemaak het; laat ons daaroor juig en bly wees.

3. Vandag is God se Koninkryk deur Jesus Christus naby aan ons. Mat 4:17
a. Van toe af het Jesus begin om te preek en te sê: Bekeer julle, want die koninkryk van die hemele het naby gekom.

4. Vandag is God se Barmhartigheid, soos elke môre, nuut en Sy trou steeds groot Kla 3:21-23
a. Dit sal ek ter harte neem, daarom sal ek hoop: dit is die goedertierenhede van die HERE dat ons nie omgekom het nie, want sy barmhartighede het geen einde nie; hulle is elke môre nuut; u trou is groot. Die HERE is my deel, sê my siel, daarom sal ek op Hom hoop.

5. Vandag is God se tyd om Sy stem te hoor Heb 3:7-9
a. Daarom, soos die Heilige Gees spreek: Vandag as julle sy stem hoor, verhard julle harte nie soos in die verbittering, in die dag van die versoeking in die woestyn nie, waar julle vaders My versoek, My beproef het en my werke veertig jaar lank gesien het.

Jes 43:19 Kyk, Ek gaan iets nuuts maak; nou sal dit uitspruit; sal julle dit nie merk nie? Ja, Ek maak ‘n pad in die woestyn, riviere in die wildernis.

Kom bid saam met my die woorde van 1 Kron 4:9-10, Num 6:24-26 & Heb 13:20-21.

Gebed: 
God van Israel, Hemel Vader, Seun en Heilige Gees, sal U in U groot genade en barmhartigheid vir ons in 2022 ryklik seën, o Here.

Sal U ons grondgebied vermeerder en U hand van Genesing, Beskerming en Versorging oor ons hou sodat alle onheil van ons afgeweer sal word en sodat geen smart of plaag ons sal tref nie!

Ja Here, ons bid in Jesus Naam, dat U o HERE ons sal seën en behoed; dat U o HERE U aangesig oor ons sal laat skyn en ons genadig wees. Ja Here, laat U aangesig oor ons verhef word en U aan ons U vrede gee.

Mag die God van die vrede, wat die groot Herder van die skape, naamlik onse Here Jesus Christus, deur die bloed van die ewige testament uit die dode teruggebring het, ons volmaak in elke goeie werk, om sy wil te doen, deur in ons te werk wat welbehaaglik is voor Hom deur Jesus Christus aan wie die heerlikheid toekom tot in alle ewigheid! 
Amen.

[Ds. Brahm Reyneke]

No comments:

Post a Comment