Monday, 12 May 2025

Vandag se internetgebed vir jou: Ek is moeg ...

Here, U ken my hart en
U weet ek is dankbaar vir
al my genadegawes ...
Maar vandag is ek moeg.
Moeg gesukkel.
Moeg gewerk.
moeg gehoop en 
om eerlik te wees ...
Moeg gebid.
Vandag is als net te veel,
maar ek weet U erstaan
en met sonsopkoms ...
groet ek U weer
met vrede.
Amen

Sunday, 11 May 2025

Moedersdag: Martie beskryf die plek van 'n ma

"Nie almal is sekerlik so bevoorreg soos ek om 'n besonderse ma te hê nie. So aweregs, spitsvondig en positief soos sy, kry jy nie aldag nie.Sy't altyd 'n plan, sien nie probleme nie, maar oplossings. En sy het my so baie geleer van dinge doen en baasraak, en uitdagings aanvaar. Of dis dalk juis waaroor dit gaan: Elke ma is uitsonderlik.

Die ding van 'n ma is, sy pas so presies in daardie ruimte in jou lewe. Ma, mamma, moeder, moeks, mams - in elkeen se lewe is daar 'n pasgrootte ma-vormige plek wat net deur een mens gevul kan word. En as daardie ruimte eers leeg is, bly daar 'n leemte, beskryf dié wat nie meer ma's het nie, die gemis.

Die belangrikheid van daardie gevulde ruimte word eers waarlik duidelik wanneer jý die dag 'n ma is; daardie dag as jy jou mond oopmaak om vir jou kind iets te sê en daar hoor jy jou ma! Jy skrik eintlik, so onverwags is dit, die dag as jy jou ma word ...

Dis ma's met wie 'n mens spesiale reuke en smake verbind soos dié uit die kombuis van jou kinderdae. Resepte wat jou inspireer. En ek sien weer my dogter se gesig toe sy nou die dag haar ouma se kosbare resepteboek, weliswaar verweerd en opgebruik, in ontvangs neem: Die verlede word oorgedra in die hande van die toekoms, en dis 'n soort geskiedenisoordrag, 'n toekomsopdrag ... en dit is kosbaar ..."

[Martie Pansegrouw - redakteur van Rooi Rose, 6 Mei 2006]

Oomblik van stilte: Jes. 7:14

Daarom sal die Here self aan julle 'n teken gee: Kyk, die maagd sal swanger word en en 'n seun baar en hom Immánuel noem.

Vanoggend kan jy met gerustheid opstaan en weet God is met jou.
Enige een wat twyfel oor die posisie en mag van Jesus; Hy is God, want sy Naam is Immánuel, God met ons.
God self is by jou en met jou.
Vertrou op God jou Verlosser en Voorsiener wat by jou is.

Dankie Immanuel, U is my God vir wie ek bid. U is die God op wie ek vertrou en van U is my verwagting. U het 'n weg vir my berei en U sorg dat ek my bestemmings bereik. Ek is U gesalfde deur die genade van Jesus. Aan U kom toe al die eer en heerlikheid o Almagtige. Amen. 

To a dear mother ...

My dearest mother,
old is always gold.
You loved me
even much before I came to you as your son.
You were one among a million mothers
who had a heart of gold filled with care,
kindness, warmth, compassion and consideration.
No mother can replace you as mine.
I am searching you in my heart endlessly.
The pain of separation will always exist.
I only pray and wish that if I have to take another birth
I want you back as my dear mother.
An epitome of selfless love and sacrifice.

Saturday, 10 May 2025

Saterdaglagmedisyne - ouderdom en aggressie!


* Wat is die definisie van ouderdom?
Wanneer jou ledemate harder as jou stem kraak.

* Die spietkop trek die ou oom van 78 ongeveer 02h30 in die oggend af. Die oom is goed gesool! Spietkop: "My oom, jy is smoordronk, en jy bestuur dié tyd van die oggend. Waarheen is jy op pad?" Oom: "Nee, ek is op pad na 'n lesing toe."
Spietkop: "Lesing??? Strooi, man. Waarheen is jy op pad?"
Oom: "Ek is op pad na 'n lesing oor drankmisbruik, alkoholisme, dobbelary, verbode seks, en opkikkers."
Spietkop: "En wie sal nou die tyd van die oggend so 'n lesing aanbied?"
Oom: "My vrou, natuurlik!"

* Koffie maak ‘n mens definitief aggresief!!! Ek het gisteraand 12 dubbele brannewyne gedrink en my vrou net twee koffies. Jy moes sien hoe befoeterd was sy!!!

[Dankie, Valerie!] 

Friday, 9 May 2025

My vingerafdrukke

"Here, oral waar ek gaan laat ek vingerafdrukke na.
Op die hande wat ek aanraak, op borde, mure en boeke.
Daar is nie wegkomkans nie,
Waar ek vat plaas ek 'n teken van my identiteit.
"Help my Here, om vandag waar ek ookal gaan
Hartafdrukke na te laat ...
Hartafdrukke van regverdigheid en deernis,
Van begrip en liefde,
Van barmhartigheid en belangstelling.
Hartafdrukke van hartlike vriendelikheid en
Van opregte betrokkenheid.
Mag my hart 'n ander hart aanraak
En 'n afdruk van u liefde laat."
En as iemand sou sê:
"Jou aanraking het my vandag versterk"
Laat hulle agterbly met die wete dat dit
U liefde was wat hul in my ervaar het."
Dit is my gebed vir almal wat ek ken!

Thursday, 8 May 2025

Ouma se wenke: Speel klaar met grimeervlekke ...

Grimeervlekke, veral dié wat deur 'n onderlaag (foundation) veroorsaak is, kan nogal ’n kopseer wees omdat dit geneig is om hardnekkig te wees.

* Poeieronderlaag: Eerstens, moet dit nie invryf indien dit op jou klere beland het nie. Dis maklik om oortollige poeier af te skud, maar ’n vlek wat in die klere getrek het, is moeilik om uit te kry. Vat ’n mengsel van wit asyn en water om die vlek te verwyder.

* Vloei-onderlaag (liquid foundation): Wanneer jy hiermee ’n ongeluk gehad het, is skeerroom jou beste vriend. Dit verwyder vlekke wat deur ’n (olievry) onderlaag veroorsaak is op onder meer hemde se krae, matte en badmatjies. Jy kan ook ’n bietjie alkohol op die vlek smeer as die skeerroom alleen dit nie verwyder nie.

* Lipstiffie: Lipstiffie kan verwyder word deur die kledingstuk tien minute in seepwater te week, uit te spoel en weer in seepwater te was. Verwyder lipstiffiemerke van jou klere met bloekomolie.

Wednesday, 7 May 2025

Statistiek 186 000: Dankie vir ons getroue e-besoekers

Hartsake oor 'n koppie tee: God se liefde

Het jy al ooit daaraan gedink hoe lief GOD vir jou is?
HY stuur vir jou blomme elke lente ...
HY stuur vir jou sonskyn elke oggend ...
Wanneer jy ookal wil gesels, luister HY na jou ...
HY kan in enige plek op die aarde bly, 
maar HY het JOU hart verkies ...
HY is so lief vir jou ...
GOD belowe nie dae sonder pyn nie ...
HY belowe nie lag sonder hartseer nie ...
HY belowe nie son sonder reën nie ...
Maar HY belowe krag en bystand vir elke dag ...
HY belowe troos wanneer daar trane is ... 
En HY belowe lig op die pad.

Monday, 5 May 2025

Statistiek: Dankie vir al die e-besoeke 185 000

Vandag se internetgebed vir jou: Tel my op

Dankie, my grote God! In majesteit tel u my op en beskerm en verlos U my elke dag. Help my om nie wederstrewig te wees en u Heilige Gees te bedroef nie. O Heilige Gees, leer my en lei my en bevestig my in die weg van die Vader. Ek loof en prys u heerlikheid en heerskappy, o Almagtige Vader. Amen.

Sunday, 4 May 2025

Tydelike telefoonnommers

Oomblik van stilte: Joh. 16:26

Maar as die Trooster gekom het, wat Ek julle van die Vader sal stuur, die Gees van die waarheid wat van die Vader uitgaan, sal Hy van My getuig.

Jesus het vir jou die Heilige Gees gegee; die Gees van waarheid wat van Hom getuig.
Sy Gees sal jou leer dat jy alles kan weet en onderhou wat Jesus op aarde geleer het, en waarvan ons die optekeninge van die Apostels kan lees.
Moenie die Heilige Gees bedroef nie, en moenie teen Hom sondig nie.
Laat die Heilige Gees toe om jou te lei in die skrif en in gebed; Hy ken tog God die heel beste en sal jou in Gees en in waarheid lei.

Dankie Heilige Gees, dat u inwonende teenwoordigheid my versterk en verfris,  sodat ek U beter kan leer ken en tot U kan kom in bid. U praat met my, lei my en gee selfs drome en visioene wat God verheerlik en my leer. Vader, U het vir my hierdie geskenk gestuur as 'n pand, sodat ek gereed kan maak vir u wederkoms om my te kom haal, om by U te mag wees, waar U is. Ek loof U vir u trou en barmhartigheid. Amen.

Saturday, 3 May 2025

Saterdaglagmedisyne - Blondinegrappe


Aan die eertydse blondines in Ons Huis wat nou almal getooi is met grysheid en gepaardgaande wysheid: geniet hierdie grappies ...

* Wat dink julle kan 'n blondine tref, sonder dat sy dit agterkom?
'n Gedagte.

* Hoeveel blondines is nodig om wegkruipertjie te speel?
Een.

* Hoekom het die blondine PE toe getrek?
Dis makliker om te spel as Pretoria.

* Hoekom kan die blondine nie die syfer 11 skryf nie?
Sy het nie geweet watter een om eerste nie.

[Word vervolg.]

Friday, 2 May 2025

Gee vir jouself 'n groot geskenk en indirek ook vir ander

Maak vriende in die aftreeoord of ouetehuis. 

24/7 onder dieselfde dak bied 'n unieke geleentheid aan elkeen om nuwe vriende te maak. Hoekom is dit so belangrik om vriende in die pylvak te hê?

* 'n Vriend luister na wat jy sê, maar hoor ook jou hart.
* Iemand, 'n klipgooi in die gang af, verstaan die hartseer, die verlange en die bangwees van ouer word beter as jou kinders, werkende vriende en gemeentelede - almal in die aftreeoord is mos in dieselfde bootjie.
* Help dra mekaar se laste.
* Hierdie nuutgevonde vriend sal soos 'n warm skuiling wees teen die lewe se stormdae.
* 'n Vriend so naby is meer werd as 'n duisend familielede.
* Die geheim van nuwe vriendskap is om die meeste van die beste te maak en die minste van die slegste.
* Wees vriendelik met elkeen wat jou pad kruis, want elkeen voer 'n innerlike stryd. 

Om so 'n vriend in die aftreeoord te maak, 
moet jy ook bereid wees om so 'n vriend vir iemand te wees. 

Thursday, 1 May 2025

Mei-verjaardae


14 - Mev. CS Collen

15 – Mev. C Koen

16 - Mev. AS Maritz

26 – Mev. H van Wyk

Tong-in-die-kies kan die senior burgers dieselfde sê ...


Gelukkige Internasionale Werkersdag aan al die hardwerkende mense wat bydra om ons samelewing 'n beter plek te maak en 'n GROOT DANKIE vir elke senior burger wat in hul jongdae 'n reuse bydrae tot die land gemaak het!!

[Klik HIER vir die spotprent.]

Ouma se wenke: Vlekke

* Teer: Haal teer op motors af met paraffien. Om teermerke van jou motor af te kry, vryf die merk of met gewone botter of margarien aan 'n lap. Teerkolle op klere kan verwyder word deur bloekomolie op die kolle te smeer en dit daarna met warm water te was.

* Toilet: Gooi 'n blikkie Coke in die toilet en laat staan vir 'n uur. Spoel die toilet en jy sit met 'n sprankel skoon toilet.
Om 'n gevlekte toilet skoon te maak, moet swembadsuur of chloor in toilet gegooi word en vir 'n ruk gelaat word. Skrop en spoel. Om hardnekkige watervlekke in bak uit te kry, kan 3 koppies asyn ingegooi word en gelaat word vir 'n paar uur. Borsel en spoel.

* Baddens: Gooi skoon swembadchloorpasta bo-op en laat staan vir 'n paar minute. Om baddens skoon te maak, meng 2 eetlepels kalk, 2 eetlepes sout en 'n halwe bottel paraffien. Skuur met ou tandeborsel gedoop in wynsteensuur en peroksiedmengsel. Vryf skoon met suurlemoensap en soutpasta.

* Braaipan: 'n Elektriese braaipan kan met foelie uitgevoer word om dit vlekloos te hou.