Groete en Vrede!!!
So teen die middel van Meimaand, sal vroegoggend temperature luidkeels vertel dat die winter aan die kom is. Wel, die spesifieke Woensdagoggend het ‘n geniepsige en ysige suidewindjie ‘n groepie vroue skuins na ontbyttyd ons kuierkombuis ingejaag. Daar het hulle al te snoesig so kuier-kuier, elkeen met 'n beker stomende koffie, stadig maar seker van die koue begin vergeet. My terloopse opmerking so in die verbyloop, veroorsaak dat ‘n iedere ene met groot wit oë, eers na die Mooiste Mooi en daarna na my kyk.
Skok en verbasing is duidelik in hoofletters asook uitroeptekens op hierdie groepie Kalahari-bewoners se gesigte geskryf. Opeens begin almal in die kuierkombuis praat terwyl die meeste se arms woes rondswaai. Hoe meer hulle beduie, hoe harder weerklink hulle stemme. Sommer dwarsdeur ons hele huis. Heel vergete is die vrede en rustigheid wat hulle kom opsoek het, want my terloopse opmerking ‘n jakkals in hulle skaapkraal losgelaat. Niemand kan ‘n woord uitmaak van wat gesê word nie omrede elkeen van die kuiergaste het dit op haar geneem om my van plan te verander.
Met haar streng Graad 1-dissiplinêre stem dring die Mooiste Mooi aan op stilte. Skielik raak dit stil om die kuierkombuis se tafel. Dit ten spyte van elkeen se woer-woer emosies. Marja en Engeltjie probeer nog om ‘n laaste woord in te kry maar die kyk in die Mooiste Mooi se oog maak dat hulle opslag hulle woorde insluk. Soos net ‘n goeie onderwyseres kan, verduidelik die Mooiste Mooi baie rustig dat ek - soos gewoonlik - hulle alweer gekoggel het. My terloopse opmerking dat ons dit ernstig oorweeg om ‘n beroep na ‘n voorwêreld gemeente te aanvaar, was net ‘n grap.
Stadig maar seker raak dit weer rustig om die kuierkombuis se tafel maar die klompie woestynbewoners kyk my wantrouig aan. Weer verduidelik die Mooiste Mooi dat ons nêrens heen gaan nie. Ons gaan net hier bly. Hier op Noenieput. “Ai pastoor,” sê Ousa lateraan terwyl sy haar beker versigtig vir Koba aangee, “ek het nou my koffie koud geskrik.” Koba soek die Mooiste Mooi se oog vir toestemming op en staan dan stadig op om die fluitketeltjie weer vol reënwater te maak. Daarna steek sy die gasstoof brand.
Terwyl almal vir die keteltjie wag om te fluit, gesels en vertel die klompie vrouens spontaan hoe hulle lewens verander het vandat ek en die Mooiste Mooi in die Kalahari is. "Julle mag nie weggaan nie, mevrou,” beduie Vytjie wie se woordeskat gewoonlik ‘n groot droogte beleef, “onse lewens is dan so geseënd vandat julle hier by ons op Noenieput kom adres gemaak het.” Vytjie se woorde is skaars ons ore in toe Ousa saggies sê: “Ja, en dit is hoekom pastoor en mevrou nie mag weggaan nie. Niemand het ons nog ooit met die Skeppergod se liefde raak geleef soos julle nie.”
Opeens besef ek dat Vytjie en Ousa se woorde weerspieël iets wat Laban van ouds saam met Jakob (dis nou Isak se seun en Abraham se kleinseun) beleef het. As iemand wat nie 'n verhouding met die Here gehad het nie, het Laban in ‘n oomblik van rou eerlikheid erken en verklaar dat hy geseën word as gevolg van Jakob. Hierdeur getuig Laban onwillekeurig van die Skepper se goedheid en almag. Hy besef dat as Jakob en sy gesin gaan aanskuif soos wat Jakob te kenne gegee het, gaan hy wat Laban is, se seëninge opdroog.
Terselfdertyd besef ek dat ons as mensegoed diep in ons harte ‘n groot stuk hoop het dat daar in ons lewens ook êrens 'n Jakob is. Iemand wie se verhouding met die Skeppergod my en jou tot voordeel sal strek. Iemand wat God se toegangshek na ons harte is. En tog ... tog wil ek en jy mos nie maklik iemand anders se toegangshek wees nie. Dit is mos nie hoe ons dink se drade aan mekaar gekoppel is nie. Inteendeel, ons jaag eerder ons eie seëninge want daarin is satisfaksie en genoegdoening opgesluit.
As lojale en pligsgetroue dienskneg, het Jakob vir 14 jaar - sonder materiële vergoeding - gewerk, geswoeg en gevare trotseer. Hierdeur het hy het meer van 'n verhouding met die Here gedemonstreer as wat 'n swetterjoel woorde ooit kan doen. Hy het nie gepreek, gebid, gesalf of duiwels en demone rondgejaag nie. Inteendeel, Jakob het bloot net vir Laban raak geleef. Hy het gedoen wat van hom verwag was ... dag vir dag, maand vir maand, vir 14 jaar aaneen. Jakob was God se toegangshek na Laban se hart sodat hy wat Laban is, daaroor kon getuig.
‘n Rukkie later sak ‘n vredevolle stilte in die kuierkombuis neer toe Ousa die kombuisdeur agter die klompie vroue toetrek. Steeds eggo Vytjie en Ousa se woorde in my hart. En so besef ek hoe kosbaar en spesiaal dit is om die Skepper van hemelgoed en stofaarde se toegangshek na iemand se hart te wees. ‘n Toegangshek sodat Hy ander kan seën.
Gen 30 vers 27 (Afr20) = “Laban het hom geantwoord: “As jy my asseblief net goedgesind sal wees! Ek het uit die voortekens te wete gekom dat die Here my geseën het om jou ontwil.”
Sandkorrel baie seëninge.
Los jou voetspore as jy wil by:
Divine Life Bediening (HJ & Dalene Cronjé)
Selnr: 082 772 2192
WhatsApp: 081 568 7549
Klik
HIER om meer van
Divine Life Bediening se doen en late te lees. Kontak hulle gerus en sit hulle op jou gebedslysie, asb.
['n Spesiale dankie, Valerie, wat so gereeld hierdie wonderlike WATERDRUPPELS met ons lesers deel. Dit is só spesiaal en mag hierdie voetspore ook hulle pad vind na waar die behoefte die grootste is.]