Saturday 23 April 2022

WATERDRUPPEL vir die WEEK = Liglopers en nagpraters

Liewe Leser

Hierdie is 'n klein gedeeltetjie om te lees, aan te herkou, weer te lees, te oordink en die waarheid agter elke woord te ontdek! Besoek gerus die FB van hierdie gelowige woordkunstenaar.

Besoek Divine Life Bediening HIER

oooOOOooo
Groete en Vrede!!!

‘n Normale dag in die Kalahari is lank, warm en vol sweet. Veral as dit somertyd is. Daarmee saam hou die werksaamhede en doendinge op ons werf mos maar nie op nie. Wel, die spesifieke dag was dit ietwat anders, want ons – dit is nou ek en die Mooiste Mooi - kon al vroegmiddag uitval, klaarmaak en ontspan met 'n rustige aand as enigste vooruitsig.

Kort na 8 dié aand, hoor die Mooiste Mooi die voorhekkie oopgaan. Soos minute tik ‘n klompie sekondes stadigaan verby alvorens daar saggies en onseker aan die agterdeur geklop word. Verwese en skaam staan Daantjie op die agterstoep. Hy groet skugter terwyl hy sy verbleikte laphoedjie in die hand ronddraai. Daantjie het oë kom wys, want sê hy, "vanaand wil ek hart uitskud."

‘n Rukkie later sit ons op die voorstoep met drinkgoed wat die Mooiste Mooi gebring het. Daantjie praat sonder stoptekens. Hy vertel die storie van sy lewe, sy doendinge, sy keuses en die gevolge daarvan. Hy vertel alles ... selfs van die donker en duister dele van sy lewe waar meer as 'n liefde vir groen twak en baklei wanneer die soetwyn deur sy are bruis, floreer. Soos soveel kere van tevore, moes ek geduldig luister en vertel van Jesus, die Kêrelkind van God, as hy Daantjie lewensraad vra.

Kort neffens middernag het ons by die klein hekkie hand geskud. “Miskien moet ek plan maak” het hy gesê voordat Hy my hand los en gaan sommer met dieselfde asem aan “My moeilikhede is so groot soos die hele Kalahari.” Hy draai stadig om en loop stadig die ounag in. Terwyl die donkerte hom omsingel, begin ek oor Daantjie en sy dwarsduin dinge wonder.

Skielik dink ek aan Egipte se hardkoppige Farao en sy lewensuitkyk terwyl die 10 plae hom en sy landsburgers geteister het. Doeksag begin die Veilige Gees ook deelneem aan my stille gewonder. “Farao en Daantjie is vasgevang in duisternis want hulle hou nie van raad of advies nie. Daarom is beide nagpraters wat verkieslik donkertyd kerm en kla. Onthou tog dat nagpraters kan nie verander nie, want nagpraters wil nie verander nie."

Dan beduie die Veilige Gees rustig verder. “My wysheid en raad en advies is sonder voorbehoud vir almal - ongeag donkerte en duisternis - beskikbaar. Nagpraters maak daardie wysheid waardeloos en nutteloos omrede hulle aanhou twyfel en niks daaraan wil doen nie.

Maar wees jy anders. Wees ‘n Ligloper wat My raad en advies noukeurig sonder kerm en kla uitvoer. 'n Ligloper wat doen en dien sodat ander mense kan sien dat jy die ware God van die liefdesevangelie met woord en daad dien."

Mat 5 vers 16 (DB) = "Julle moet soos ’n lig in hierdie pikdonker wêreld skyn. Ander mense moet uit julle woorde en dade sien dat julle God van harte dien. Dan sal hulle sê dat God regtig ’n groot en goeie God is. So word julle hemelse Vader se Naam regtig grootgemaak.”

Sandkorrel baie seëninge.

[Dankie, Anoniem vir die stuur van hierdie stukkie. Ervaar en oordink die waarheid op die mooiste geskrewe manier. Dit wil voorkom asof daar 'n aantal lesers is wat gaan kuier by die WATERDRUPPEL vir die WEEK]

No comments:

Post a Comment