Thursday 14 May 2020

God se geheime ...


“... op die maat van musiek praat ek met julle oor God se geheime.” (Ps. 49:5, Die Boodskap)

Het dit ook al met jou gebeur dat die Here gedurende die lofprysing of terwyl jy geestelike musiek luister ’n nuwe gedagte in jou hart laat posvat? So asof die Here dán spesiaal met jou praat. Onder die geklank van die musiek het hierdie Psalmskrywer een van God se geheime kom ontbloot. Dié geheim is dat geld niks werd is nie, dat God se guns en genade nie daarmee gekoop kan word nie, dat dit jou nie uit die dood kan red nie, dat alles wat jy bymekaargemaak het agter bly wanneer jy die tydelike met die ewige verwissel. “Wat help dit dat hulle die hele wêreld aan hulle voete het met hulle baie geld? Op die ou end stap hulle met leë hande uit hierdie wêreld uit.” (Ps. 49:17) En soos Pred. 4:8 sê: “Vir wie sloof ek my af en ontsê ek my die aangename dinge?” Ook hier kom dit tot niks. Dit bly 'n harde saak.” Gejaag na meer en meer geld en goed is ’n gejaag na wind. Doen wat jou hand vind om te doen en wees tevrede met wat jy het. As jy kos en klere het, moet jy daarmee tevrede wees sê 1 Tim 6:8. Die geheim is uit! Maak jou skatte in die hemel bymekaar waar mot en roes en diewe dit nie kan bykom nie – dís die tipe belegging wat al ons aandag behoort te geniet. Die opbrengs daarvan is verseker en dis groot! ~ Wilna Botha, 28/11/2017

Webruimte (www.heuning.co.za)

No comments:

Post a Comment