Groete en Vrede!!!
Herfstyd se vroegoggende is normaalweg spesiaal. Gewoonlik is dit windstil en wolkloos. Anders as in die soms ongenaakbare someroggende, is die amperse bytende luggie vars en vol belofte. Herfstyd se vroegoggende is ook die lekkerste tyd van die dag om buite by die Kuierplek-op-die-vlak te sit en wag dat die son sy kop agter die verste sien optel. Veral as die stoom half rigtingloos uit jou beker pittekoffie trek. En as die Kalahari se stilte snoesig toegevou is in Vader se verborgenheid, raak mens vinnig-vinnig opgevang in ‘n dankbare gevoelte van “ek-is-gevind-en-behoort-nou-aan-Hom”.
Wel, voorlaaste Saterdagoggend was een van daardie baie spesiale “ek-is-gevind-en-behoort-nou-aan-Hom” oggende. Lank voordat die eerste leidrade van dagbreek in die naglig was, was ek buite by die bankie onder die peperbome langs die Boerekerk se pastorie met my oranje koffiebeker. Terwyl die Kalahari in stilte toegevou is, oorspoel ‘n vredevolle dankbaarheid my menswees. ‘n Dankbaarheid omrede Hy geen moeite ontsien het sodat ek ook aan Hom kan behoort nie.
Opeens onthou ek die gebeure rondom ‘n spesifieke gekuier op hierdie selfde houtbankie. Dit was ‘n jaar of wat gelede toe ek weer vroegoggend met my oranje koffiebeker vir die dagbreek gewag het. Net voordat die son sy kop opgetel het, het Janneman van vêr uit die veld aangestrompel gekom. Aan sy manier van Sy loop kon ek sien dat die man swaar trek. Kompleet asof die las op sy normaalweg trotse en reguit skouers te swaar is om te dra. En as Janneman uit die veld kom het ek by myselwers gedink, het hy sekerlik gisteraand tussen die duine geslaap.
Ek het maar geduldig gewag. Janneman se spore gaan netnou hier verbykom. ‘n Rukkie later en dit was dan ook so. Ek het vir hom by die skuinshekkie gewag en nader genooi. Sy handdruk was papperig en sy swartbruin oë is moeg. Amper moeër as sy lyf. En so het Janneman langs my op die bankie kom sit.
Saggies, stadig en stotterend begin hy vertel. So vertel hy in detail van die laaste drie dae se gesoek. ‘n Gesoek na wat syne is. ‘n Gesoek na sy kosbaarste besitting ... dit waarop hy trots is. Dit waarmee hy spog. Janneman se donkies is soek, al vier van hulle! En al asof dit nie genoeg is nie, is al sy skaap ook by dieselfde grenshek uit. “Want” sê hy “nalatige mensegoed het so bietjie meer as 'n week gelede die meent se grenshek oopgelos.”
Janneman vertel ook van die gesukkel met dwarsduin loop. Hy was selfs weerskante van Noenieput twee plase ver in die gorrel op en af gewees. Maar tevergeefs, alles tevergeefs want sy diere is steeds soek. Om alles boonop te kroon, het die noordewind seker gemaak dat alle spore behoorlik doodgevee is. Maar ek hoor nie net van sy gesoek nie, ‘n moedelose Janneman vertel ook van honger en dors wat saam met hom geloop het. En natuurlik ook van die vorige nag se skielike koue. ‘n Koue wat iewers daar tussen die duine, met ysvingers aan sy gebeendere gevat het.
Terwyl Jan van sy soektog vertel, besef ek dat die rou werklikheid is dat Janneman se verlies, veel meer en veel groter is. Saam met sy diere wat soek is, is sy drome flenters, sy hoop is verinneweer en sy ideale lê aan skerwe. Janneman voel verdwaal, verlore, verwerp en verwilderd ... nes elke ongeredde mensegoed.
Opeens onthou ek dat Jesus ‘n soeker sonder gelyke is. ‘n Voorslag soeker. Hy het dan selfs by geleentheid gesê dat Hy gekom het om wat verlore is te soek en te red. Kosbare woorde waaroor alle gelowiges kan en moet getuig. Waardevolle woorde wat oor die menigte jare heen onomwonde beduie wie en wat Hy is. Hy soek. Hy soek na dit wat aan hom behoort. Hy soek na kosbare mensegoed. Diegene wat soek is omrede ‘n listige slang êrens ‘n grenshek oopgemaak het. Sien, ons Skeppergod is en bly 'n soekende God. Hy is en bly soekend na geredde en ongeredde mensegoed. Mensegoed soos ek en jy en Janneman. Elke oomblik van elke dag en dit is wie en wat Hy is.
So het Hy vir Adam en Eva tussen die plante gevind. Gideon was aan die werk in ‘n parskuip terwyl Dawid iewers in die veld agter die skape was. Jona op sy beurt het wegkruipertjie in die binnekant van 'n skip gespeel terwyl Elia opgekrul en moedeloos onder 'n besembos gelê het. Simon en sy broer Andreas was besig om vis te vang terwyl Jakobus en Johannes visnette heel gemaak het. En die verlore seun ... iewers in ‘n varkhok. Levi was besig om tolgeld te hef en Saulus (wat lateraan Paulus geword het) was op 'n sending om uit te wis en dood te maak. Ondanks elkeen se omstandighede, se optrede of selfs hulle ingesteldheid, het die Voorslag Soeker na hulle gesoek. Hy het hulle gevind en daarna het Hy behoorlik bemoeienis met hulle gemaak. Dit is wie en wat Hy is.
Maak nie saak wie jy is, waar jy is of wat doen of gedoen het nie. Onse Here is en bly 'n Voorslag Soeker. Hy sal jou soek, Hy sal jou kry en Hy sal behoorlik bemoeienis met jou maak - veral as jy verdwaal, verlore, verwerp en verwilderd voel. Dit is wie en wat Hy is.
Luk 19 vers 10 (Afr20) = "Die Seun van die Mens het gekom om diegene wat verlore is, te soek en te verlos."
Naskrif: 'n Grondeienaar wat meer as ‘n handvol kilometers van Noenieput af boer, het Janneman se dwalende donkies gekry. Hulle is op kraal gesit en behoorlik versorg. ‘n Dag of wat later is die donkies terug op die meent, die grenshek behoorlik toegemaak en Janneman loop weer met reguit skouers.
Sandkorrel baie seëninge.
Divine Life Bediening (HJ & Dalene Cronjé)
Selnr: 082 772 2192
WhatsApp: 081 568 7549
Klik HIER vir verdere inligting.[Dankie, Anoniem, vir die deel van hierdie stukkie. Indien jy as leser wil en betrokke kan raak by hierdie uitreiking, maak asseblief gebruik van die kontakdetail hierbo.]