Saturday 14 October 2023

‘n Flentertjie in die wind

'n Papiertjie lê in die pad. 
Hy is geskeur, gefrommel, jy sien dit, maar stap verby. 
Die windjie waai en hy word saamgevoer. 
Iewers sal hy sy eindbestemming kry. 
Dalk op 'n ashoop, dalk in water. 
Voel jy vandag so nutteloos, of die wind jou maar moet meesleur? 
Is jou kragte klaar? 
Hoeveel keer sê ons: "Laat die winde maar waai, hul sal weer gaan lê!" 
Dis die storm voor die stilte. 
Vandag praat ons oor jou. 
Dalk is jy vandag die 'papier'. 
Daardie stukkie opgefrommelde papier kan jy optel, maar nooit weer sal hy dieselfde wees. 
Jy kan hom stryk, jy kan las, jy kan plak. 
Jy weet dit wat hy was, sal nooit weer wees. 
Maar vandag wil ek vir jou sê: "Jy kan daardie 'papier' wees. 
Jesus kan en sal jou weer perfek maak soos wat Hy alleen kan. 
Die krisisse wat jy deurgaan, die pyn, die seer, vertrou op God. 
'n Papier sal waai en eendag sal hy tot keer kom. 
Waar ookal. 
So kan jy voel ... jy het geen plek. 
Nee, jy het! Weet dit! 
God sal jou bereik. 
Jy val, jy staan op en reeds is jy 'n entjie vorentoe. 
Waar ookal, jy is 'n Koningskind. 
Hy red weer! 
Sy liefde is joune, neem dit. 
Gryp dit vas! 
Dis daar vir my en jou. 
Moenie dat omstandighede jou neerdruk. 
Lig op jou kop en weet jy is SY KIND." 

GEBED: 
Heer, dankie vir U genade. 
Dankie dat U die winde om my stil.
Dankie dat U herstelwerk perfek is. 
Amen

Jesus het jou so vreeslik baie lief.
Hy is daar vir jou. 
Hy wil jou met Sy liefde omvou.
Skrywer onbekend.

[Dankie, Rosetta, dat jy hierdie met die lesers deel.]

No comments:

Post a Comment