Tuesday 3 October 2023

Dinsdag-denke: Die beskadigde skildery

Eendag was ’n baie bekende skilder besig om die laaste afrondings te doen aan sy skildery. Die skildery was voorwaar ’n pragstuk en sou uitgestal word by die koning se jaarlikse banket in die paleis.

Die skilder was so vasgevang in sy skilderwerk dat hy onbewustelik ’n paar treë agteruit getree het om die 2 x 4 meter grootte skildery te betrag. Hy het nie teruggekyk terwyl hy terugtree nie en elke nou en dan gee hy nog ’n paar ekstra tree terug om ’n geheelprentjie van die skildery te kry. Hy het so bly terugloop totdat sleg een treetjie weg was van die rand van die kant van die hoë gebou waarop hy geskilder het.

’n Man het gesien wat die skilder besig was om te doen en was op die punt om vir hom te skreeu dat hy moet pasop, maar besef baie gou dat die skilder dalk kan skrik en na benede stort. Die man hardloop na die skildery en gryp die skilder se verfpalet en kwas en begin wild strepe oor die skildery te verf. Die skildery was geruïneer.

Toe die skilder sien wat die man besig was om te doen, raak hy baie kwaad en storm op die man af om hom aan te rand en weg te kry van sy pragtige skildery. Die ander omstanders gryp die skilder vas en draai hom om sodat hy kan sien waar hy gestaan het en hoe naby hy daaraan was om van die gebou af te val.

Somtyds is ons beplanning so pragtig uitgewerk en ons het die toekomsdoek beskilder met die mooiste verwagtinge en uitgewerkte planne dat ons selfs kan glo dat daar niks mee verkeerd kan gaan nie. Dan skielik kom God en vernietig die pragtige skildery wat ons vir onsself uitgewerk het en met veel moeite geskilder het.

Die rede ... Hy is die een wat kan sien watter gevaar lê daar vir ons voor.

Soms is ons woedend en verwyt die Almagtige vir dit wat Hy aan ons skildery gedoen het. Maar een ding moet ons in gedagte hou: Die Here voorsien slegs die beste vir ons, Sy kinders, en sal enigiets doen, selfs ons skildery bederf, om te keer dat ons oor die afgrond van verderf sal stort.

No comments:

Post a Comment