Friday 6 October 2023

Gebed van ’n Reisiger

[Coenie de Villiers]                            

Sny vir my, o Heer, 'n wandelstok of twee
uit die woud by Tsitsikamma en loop dan met my mee
oor die vlaktes van die Groot Karoo,
oor die berge van Natal
langs die kus af tot by Vleesbaai
tot by die groen van Riversdal

Brand die hemel van die Vrystaat
in my hart se dagboek in, 
laat my nooit die lug vergeet nie
wat aan die horison begin.

En Heer is dit dieselfde son 
wat by my reis se einde skyn?
Behou mens steeds die reuk van reën
as jou geheue dalk sou kwyn?

Want ek vrees mos nie die vreemde nie
selfs die afstand laat my koud
by U is daar geen leemte nie
U bly steeds my behoud.
Al reis ek oor die sewe seë
skuif kontinente stil verby,
sal ek my voetval op U rig 
my in die reis verbly.

Maar ek vrees tog wel die eensaamheid,
ek skrik die groot alleen …
dis dan wanneer U my moet dra
want U weet ek gaan daarheen.

Laat die sterre dus my kompas wees
en U steeds my Ware Noord
lei elke voetstap van my reis, o Heer,
want dit is soos dit hoort.

(Album: Coenie 2.2.2020 - klik HIER vir die video. Besoek sy webwerf HIER)

[Dankie, Rosetta, dat jy hierdie gebed met ons deel.]

No comments:

Post a Comment