Tuesday 8 February 2022

Dinsdag-denke: Vrae

Almal van ons vra sekere vrae een of ander tyd gedurende ons bestaan op aarde. Dalk klink die volgende vrae vir jou baie bekend:
  • Waarom is ek siek?
  • Waarom tref die noodlot altyd net vir my?
  • Waarom moet ek die een wees wat deur swaarkry gelouter word?
  • Waarom moes ek en my eggenoot skei?
  • Waarom voel dit vir my asof ek nie in die lewe vorder nie, almal rondom my kry bevordering maar nie ek nie?
  • Waarom moes ek die voertuig koop wat my soveel probleme gee?
  • Waarom klop my finansies nie?
Dalk kan jy jouself ook hiermee vereenselwig en net miskien het jy ook al die vrae gevra. 
Ons kan aflei dat waarom beslis een van die mees gebruikte woorde is.

Ek het ongelukkig nie vir jou die antwoorde op al jou vrae nie. 
  • Wat ek wel vir jou het, is die versekering dat God daar is vir jou. 
  • Hy weet dat ons beproef word. 
  • Hy weet dat ons swak is en moed opgee, maar Hy is daar, ongeag ons ongeloof en swakheid. 
  • Hy is lief vir jou. 
  • Hy sal jou bystaan. 
  • Vertrou net op Hom in alle omstandighede. 
  • Satan sal jou aanval, maar ons God is almagtig. 
  • Hy is groter en sterker as satan. 
  • Bly vertrou en wees getrou aan Hom. 
1 Petrus 5: 7-9
"Werp al julle bekommernisse op Hom, want Hy sorg vir julle. Wees nugter, wees wakker! Julle vyand, die duiwel, loop rond soos 'n brullende leeu, op soek na iemand om te verslind. Bly standvastig in die geloof en staan hom teë. En moenie vergeet nie: dwarsdeur die wêreld moet julle medegelowiges dieselfde soort lyding verduur."
1 Kor 10: 13
"Geen versoeking wat meer is as wat 'n mens kan weerstaan, het julle oorval nie. God is getrou. Hy sal nie toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie; as die versoeking kom, sal Hy ook die uitkoms gee, sodat julle dit kan weerstaan."
[Dankie, Jacques Barnard 16/05/2021 - geleen.]

[Lees nog Dinsdag-denke HIER]

No comments:

Post a Comment