Sunday 11 July 2021

Groete en Vrede!!!

💧WATERDRUPPEL vir die WEEK = Leer en leef

Leer om die goeie na te streef
Leef om ander te laat leef,

Leer vrede maak, jy het net een kans
Leef om met hartsritme die lewe in te dans,

Leer om in jou binneste binne rond te delf
Leef met jou uniekheid en wees net jouself,

Leer vergenoegd wees iewers in die veld
Leef sonder 'n strewe na goed of geld

Leer erns maak met dit diep weggesteek
Leef met jou keuses - dit bou of dit breek,

Leer jy's aan ‘n genadelose wêreld geleen
Leef met meer as brood en water alleen,

Leer giggel vir jouself en skaterlag 'n slag
Leef met oë wat blink en lagtrane vir vandag,

Leer kyk die lewe vol in die oog en lig jou hoed
Leef met herinnering aan jou mooiste gistergoed,

Leer die getokkel van die Veilige Gees aan jou hart se snare
Leef voluit met die wete, Hý is in jou are.

💟💟 Ps 25:4 (NLV) = "Here, wys my die weg wat ek moet gaan, leer my u paaie."

As 'n amen-gedagte: Die afgelope maand of wat het my net weer geleer wat dit beteken om styf en naby aan die Skepper van hemelgoed en stofaarde te loop. Amper so styf soos 'n pasgebore lammetjie wat langs sy ma loop met die uitsluitlike doel om te leer en te leef!

Sandkorrel baie seëninge 

[Klik HIER vir die weeklikse Waterdruppel. Dankie, Valerie Kilian, wat hierdie met ons deel.]

No comments:

Post a Comment