Friday 2 July 2021

'n Boodskappie uit die Kalahari

Groete en Vrede!!!

Skielik het die koue sy tande diep ingeslaan. Skaars gister het almal (veral hier in die Kalahari) steen en been gekerm en gekla oor die hittigheid, die sweet en natuurlik oor die son wat dooierus brand. En nou, nou is meer as net 2021 se koudste maande deel van ons bestaan. Die Covid-19-pandemie het ook onverwags opgeduik en besluit om langer oor te staan as wat enige mens kon dink. Gevolglik het  dit ‘n dramatiese impak op almal se doendinge gehad. 

Die terugkyk in my en die Mooiste Mooi se gistergoed (veral so oor die inperkingstydperk) beteken absoluut niks as kosbare sendingvriende soos jy nie deel daarvan is nie. Sandkorrel baie dankie vir die liefde, gebede en vriendskap wat sonder enige verwagtinge of voorbehoud op ons uitgestort word. Dit bly soetreën-lekker om te weet dat daar voorwêreld-mensegoed is wat liefde, deernis en kompassie vir ons het. Veral vir dit wat ons hier aan die vergeetkant van die land vir die Jesus-evangelie doen. 

Daarmee saam is daar ook in my en die Mooiste Mooi se harte ‘n groot klomp dankbaarheid vir die finansiële bydrae wat gereeld gemaak word. Hierdie bydrae help onder meer om die nood te verlig by kosbare mense wat regtig baie sukkel. Daarmee saam stel dit my en die Mooiste Mooi ook in staat om die liefdesevangelie van die Kêrelkind van God hier uit te leef. 

Ons is en bly oortuig daarvan dat elke rand of gedeelte daarvan wat in hierdie bediening belê word, as goeie saad beskou kan word. Daarom bly dit dan ook ons gebed dat die opbrengs hiervan oorvloedig in julle hand sal wees. 

Laastens maar ook die belangrikste, dankie ook vir die gehoorsaamheid aan die Geeswind van God se sagte influistering. 

Dis nou eers hier waar ons halt gaan roep en besig raak met van die dinge waarvoor Vader ons geroep het. Wel, vanuit die Kalahari tot ‘n volgende keer, mooi bly, lekker slaap, sandkorrel baie seëninge en moenie vergeet dat daar ... êrens tussen die duine mense woon wat vir jou omgee omrede jy kosbaar en spesiaal is. 

Die Kalahari-Cronjé’s 

[Dankie, Valerie Kilian vir die stukkie wat jy met ons almal deel.]

No comments:

Post a Comment