Friday, 30 July 2021

Die storie van die rooi lorrie

Dit was Kersdag 1963.

Sy naam kan ek nie meer onthou nie. Maar sy gesiggie en daardie Kersdag sal ek nooit vergeet nie.

Die dag was mistroostig vir dié wat op die warm Kaapse somersmiddag nie saam met familie aan 'n groot tafel van boud en hoender aangesit het nie." In die omgewing van Goodwood en Epping, waar ek op soek was na 'n adres, het die dag nog valer gelyk. En my mond was dik.

Dik, omdat 'n redakteur my van alle dae op Kersdag 'n storie gegee het om te gaan doen.

Soekend straat op en straat af het ek Bainskloof se koel water voor my gesien. En skaapboud, geelrys, sousboontjies en poeding alles wat lekker is. Dit is die dinge waarna 'n man op so 'n dag verlang. En daar sit ek in 'n motor met 'n pakkie langs my. In die pakkie was 'n speelding. 'n Lorrie, bloedrooi.

Ek loer weer na die briefie in my sak.

"Liewe Oom, ek is baie siek. Dit is dalk my laaste Kersfees op dié aarde. Stuur asseblief vir my 'n lorrie. 'n Rooie, asseblief ..."

Daar was destyds by die koerant sovele versoeke van sovele mense. Almal kon nie gehelp word nie, maar hierdie een het die redakteur gesien, gelees en na my aangedra.

"Dit is 'n siek kind wat dit vra. Dit kan sy hart bly maak en dit kan vir ons 'n goeie storie oplewer. Dit sal soveel beter wees as jy op Kersdag met die geskenk daar aankom," het die redakteur op sy gebruiklike haastige manier beduie. Jy vat maar die briefie, gaan koop die rooi lorrie en bêre dit tot Kersdag, want jy is die junior verslaggewer.

Dan kry jy uiteindelik die huis. Nederig, maar netjies. Die vrou wat die deur oopmaak, se oë is rooi gehuil. Jy kom dadelik agter dat hier wel ernstige probleme is en jy gesels saggies met haar. Jy hoor van 'n kind wat siek is. Bloedkanker. Daar is nie meer hoop nie. Die dokters het hom huis toe laat kom omdat dit sy laaste Kersfees tuis sou wees.

Dan roep 'n stemmetjie uit die kamer: "Kom maar binne, dit is nie nodig om saggies te praat nie. Ek weet ek moet na liewe Jesus toe gaan."

Onder die spierwit laken lê 'n nog bleker gesiggie. Jy ruik en voel die einde aan in die kamer. Dit is 'n seuntjie. Dalk tien, twaalf, vyftien ... Na soveel pyn en só 'n lang stryd teen die dood, kan 'n mens nie meer die ouderdom skat nie. Dit is net 'n klein bondeltjie.

Bokant sy kop is die muur uitgekalwe. Dit is waar sy vingertjies gegrawe het wanneer die pyn snags te ondraaglik word. Skielik staan jy beskaamd met die simpele ou geskenkie agter jou rug weggesteek.

"Het oom die lorrie gebring?" Die gesiggie is vol afwagting, vol hoop. Jy knik, haal die papier af en sit die rooi speelding langs hom neer.

'n Gesiggie het nog nie só gestraal nie. Blink trane loop tussen die dankie-sê deur. Dan roep hy sy boetie, agt jaar oud en pragtig gesond.

"Hier is die lorrie wat jy so graag wou hê. Ouboet het mos belowe jy sal hom kry.

Dan besef jy. Dit was toe nooit vir homself nie. Dit is die laaste geskenk wat hy vir sy kleinboet gevra het.

Buite is dit nog warmer as netnou. Jy staan verslae en beskaamd voor die motor voordat jy inklim.

Dan ry jy. Sommer net nêrens heen nie. Maar tot vandag onthou jy. Onthou jy wat 'n rooi lorrie vir 'n siek seuntjie beteken het.

En nog nooit weer was daar 'n Kersdag soos daardie nie ...

[Agtergrond: Marius se mammie was ‘n weduwee. Sy pa was op daardie tydstip reeds agt jaar oorlede. Hulle was maar arm, maar hulle was ryk in die Here. Hulle het almal aan Jesus Christus behoort en Hom baie liefgehad, soos Marius deur sy liefdesdaad op sy sterfbed, gewys het. Marius is drie dae na Kersfees oorlede, maar leef steeds in sy geliefdes se harte. Dankie, ouma Gerty, vir hierdie besondere verhaal.]

Nog verdere verhale HIER

No comments:

Post a Comment