Wednesday 13 January 2021

Pierre Cronjé het die pragtige stukkie geskryf: Amen en koebaai ...

Ek weet nie van jou nie, maar ek het twee soorte bid in my lewe:

♡ die een is sommer die gewone praat met God, geliefdes
voor Sy voete lê, Hom aanbid vir Sy liefde en sorg,
en dan opstaan en die dag voluit aanpak ...

♡ En dan is daar die amen-en-koebaai-dae bid.

♡ Daardie oggende wat jou bid nie woorde wil kry nie,
en sommer net rou emosie is:
☆ verlange wat te veel word,
☆ vrees vir dinge wat wag,
☆ hartseer oor dinge wat gebeur het.

♡ En as mens so voor die Here 'voel', wil mens nie amen sê nie ... 
want amen voel partydae soos koebaai, so al asof jy en God
julle eie koers gaan inslaan, tot die volgende gebed natuurlik.

♡ Op sulke dae klou jy wanhopig aan die Here vas,
weet jy met kinderlike geloof dat die Here jou nie mag los nie.
Nie op daardie oomblik nie. Nooit nie.

♡ Iemand het eendag gesê dat mens soms moet bid, 
en ander kere net moet toelaat dat die Here jou liefhê ...

♡ Op amen-en-koebaai-dae, mag jy maar net stil by Hom sit
en Hom vra om vir jou lief te wees.

♡ Op amen-en-koebaai-dae, mag jy jou oë toemaak
en in jou gedagtes voel hoe die Here jou styf vashou.

♡ Op amen-en-koebaai-dae mag jy maar jou kop
teen Sy bors laat sak, en jou huile huil.

♡ Op amen-en-koebaai-dae maak dit nie saak of jy amen sê nie ... 
want die Een wat jou naam in Sy handpalm geskryf het, 
het gesê: "Moenie bang wees nie (nie vir die hartseer
van verlang na 'n geliefde nie, nie vir die spoke van die
verlede of die uitdagings wat voorlê nie)."

❤ "Want Ek is by jou ... Altyd"

No comments:

Post a Comment