Tuesday, 27 June 2023

Dinsdag-denke: Besluit self

‘n Man wag op die lughawe van Portland, Ore­gon, vir ‘n vriend wat pas van ‘n vliegtuig af­ge­stap het, David A. Sar­gent. Sy aan­dag word getrek deur ‘n ander man wat met twee tasse in sy hande, tussen die an­der pas­­sasiers deur, aankom.

‘n Seuntjie, dalk ses jaar oud, hardloop hom tegemoet. Die man buig af, gee die seuntjie ‘n innige druk, hou hom ‘n rukkie vas, sê: “Ek het jou so gemis, my kind.” Die seun ant­woord skamerig: “Ek vir Pappa ook.” Die man kom reg­op en groet ‘n ander seun, mis­kien tien jaar oud. Hy hou die groter seun se gesig in sy hande, kyk in sy oë: “Ai, seun, ek het na jou verlang.”

‘n Dogtertjie van omtrent ‘n jaar oud sit in die ma se arms en wurm gretig om by haar pa te kom. “My Babatjie,” sê die man teer en neem die kleintjie in sy arms, soen haar en wieg haar heen-en-weer. Dadelik lê die kleintjie haar kop­pie vol bevrediging teen sy skouer.

Hy gee die dog­tertjie vir sy oudste seun. “Die beste het ek vir laaste gebêre,” en met dié woorde neem hy sy vrou in sy arms en gee haar ‘n innige, lang soen. Hulle kyk mekaar in die oë. Hy sê gevoel­vol, “Ek het jou so lief!”

Die man wat sy vriend kom haal het, besef skielik hoe hy die gesinnetjie aanstaar. Ver­leë sê hy “Wow! Hoe­lank is julle al getroud?” “Twaalf jaar,” antwoord die ander man sonder om sy oë van sy pragtige, blosende vrou af te neem.

“Hoe lank was jy weg van hulle af?” vra die starende man. “Twee volle dae.” TWEE DAE??? Die man is verstom. Hy sou sê hy was maande weg van sy geliefdes af. Verleë prewel die sta­rende man: “Ek hoop my huwelik sal na twaalf jaar ook nog so hartlik en warm wees.”

Sonder om sy vrou se hand te los, kyk daardie ander man hom di­rek in sy oë en met ‘n erns wat die toe­skou­er tot in sy hart tref, sê hy: “Moenie hoop nie, Vriend. Besluit!”

[Klik HIER vir nog stories]

Monday, 26 June 2023

Vandag se internetgebed vir jou

Nie al die dinge van die wêreld nie, maar God.
Nie rykdom nie, maar God.
Nie eerbetoning nie, maar God
Nie ereplekke nie, maar God.
Nie prestasie nie, maar God
Altyd en oral en in alles God!

(St. Vincent Pallotti )

Sunday, 25 June 2023

Dink daaroor: Wysheid oor die grysheid

Gedurende my kinderjare was daar baie min bejaardes. Vandag het die situasie verander. In winkels, op strate, in ons kerke is die witkoppe feitlik oral oorheersend. In ons dorpe en stede rondom ons skiet aftreeoorde en ouetehuise op soos paddastoele. As ons kyk na gemeentes se samestelling van lidmate (in SA en die UK), sou ons verwag dat die klem vandag in die kerklike bediening op bejaardesorg sou val. In baie gemeentes gebeur dit. In baie gevalle word feitlik niks in hierdie verband gedoen nie.

Die behoeftes van bejaardes is egter meer as net finansieel. Baie bejaardes voel die woorde van Prediker 12 aan die lyf: hande bewe, bene beweeg moeilik, kan nie meer behoorlik kou nie, oë moet twee maal kyk om te sien, hande is altyd by die ore om goed te kan hoor, stem is dof, slaap is min. Hierdie feitlik opgebruikte liggaamsdele veroorsaak dat die ou mensies bang en onseker is oor feitlik al die aspekte van die lewe. Daarby dra talle die smart oor die verlies van ’n lewensmaat, oor kinders en kleinkinders en vriende wat nie meer daar is nie of ver in ’n ander land woon. Dan is daar ook nog die onsekerheid oor en die vrees vir die daagliks veranderende samelewing met politieke ontstuimigheid, en by dit alles die dood wat nader is as ooit tevore.

Mag dít nooit van ons gesê word nie: Julle het my verwerp toe ek oud geword het, my alleen gelaat toe my kragte ingegee het (Ps 71: 9 en 10).

(Erkenning aan Prof. Bieks Beukes (Emeritus))

Gebed

Here, ek is een van die mense wat oud genoem word.
Laat my in my laaste treë nie alleen nie.
My lewe het eenmaal waarde en sin gehad.
Ek lewe in die aand. Nie lank nie, dan is dit nag.
Ek het gewerk, gelei, invloed uitgeoefen.
Wat ek gedoen het, skuif weg, al hoe verder weg.
Ek bid U, bewaar my van bitterheid,
Van die drang om my kennis en my kranigheid te bewys,
Van die gevaar om te sê dit was alles reg.
Ek wil leer om te laat los.
Ek wil my op niks anders as u goedheid verlaat nie.
Laat U my nie los nie!
Amen.

Jörg Zink (Uit: ’n Keur van wysheid, Nina Smit, 2004) 

[Klik HIER vir nog verrykende boodskappe.]

Friday, 23 June 2023

Daar is gedurig ‘engele’ om ons ...


Daar is gedurig ‘engele’ om ons. Doodgewone mense, soos ek en jy, wat altyd daar is op die regte tyd en regte plek om ons te help, te bemoedig, te ondersteun, te inspireer, te motiveer en ons op te help as ons geval het. Met liefde en omgee ‘n ent saam met ons te stap totdat ons bene weer sterk genoeg is om self verder te loop.

Ek het al beleef dat as ek die dag bietjie hartseer is of af voel (ons almal kry maar soms sulke treurige dae) dan kom daar onverwags ‘n bemoedigende SMS of 'n WA van ‘n vriendin, of ‘n mooi e-pos met 'n  boodskap van bemoediging. Dis die ‘engele’ in ons lewe. Mense wat hulle beskikbaar stel vir die werking van die Heilige Gees in hulle. Omgee-mense ...

Hoe dikwels gebeur dit nie dat jy skielik aan iemand dink nie? Wanneer dit met my gebeur, begin ek sommer dadelik intree en bid vir daardie persoon wat in my gedagtes gekom het, deur die influistering van die Heilige Gees, en dan hoor ek later dat die persoon op daardie oomblik ‘n krisis beleef het. So gebruik die Here elkeen van ons, doodgewone mense.

Hierdie goed is nie toevallig nie. Niks in ‘n kind van die Here se lewe is ooit toevallig nie. Ons is instrumente in ‘n magtige God se hand en wanneer ons dit toelaat, en gehoorsaam is vir Sy influistering in ons gees, gebruik Hy ons om ‘engele’ vir ander te wees.

Hy stuur mense oor ons pad wanneer dit nodig is. Soms is ons gewillig om te help, soms nie.

Ek glo ook wel dat daar werklik engele in die lug is, wesens wat die Here soms gebruik, wanneer daar nie ‘mens-engele’ beskikbaar is nie. 

Maar ek wil vanoggend net uit my hart baie dankie sê vir al my vriende en vriendinne ‘engele’ wat so getrou luister, soveel omgee, en altyd daar is vir my. Julle is kosbaar en ek is regtig baie dankbaar en lief vir julle. Sonder julle sou die pad maar eensaam en baie moeiliker gewees het. Dankie dat julle my naam in julle gebede noem, my arms oplig wanneer hulle moeg raak en afval, my met liefde bemoedig en my gesig na die sonkant gedraai hou.

As berader en bemoediger, bly ek ook maar net 'n mens, en het self soms 'n bietjie TLC, verstaan en vashou nodig.

Mag julle ‘n wonderlike naweek hê en die warmte en liefde van Jesus om julle voel.

Julle, die ‘engele’ in my lewe.

[Dankie, vir hierdie anonieme pos wat op die tafel beland het.]

Thursday, 22 June 2023

The art of dealing ...

A retired old couple returned to a Mercedes dealership where the salesman promised to hold a car for them.

But they found the car was just sold to a beautiful, leggy, busty blonde in a mini skirt & a halter top.

The old man was visibly upset. He spoke to the salesman sharply: "Young man, u said u hold that car till we raised the $95,000 asking price, yet u closed the deal for $75,000 to the young lady there. And if I remember correctly, u had insisted there was no discount for this model!"

The salesman took a deep breath, cleared his throat & reached for a large glass of water.

"Well, what can I tell u? She had the cash ready, didn't need any financing help, and, Sir, just look at her, how could I resist?" replied the grinning salesman sheepishly.

Just then the young woman walked over to the senior couple & gave the car keys to the old man.

"There u go," she said. "I told u I could get him to lower the price. See u later, Dad, happy Father's Day."

Once again ... Don't mess with seniors.

[Thank you, Johann.]

Tuesday, 20 June 2023

Dinsdag-denke: ‘n Stukkie brood - ‘n Ware verhaal

Jare gelede het die Readers Digest ‘n artikel geplaas oor die beroemde Dr. Chris Barnard en sy ewe beroemde broer Dr. Marius Barnard. Die atrikel het gegaan oor ‘n verhaal wat hom afgespeel het in die Grootte Schuur Hospitaal se harteenheid.

Sy naam was Saul, hy het grootgeword op die windverwaaide Kaapse Vlaktes. Hy was een van die seuns van ‘n arm paartjie wat gesukkel het om die kinders elke dag van kos te voorsien. Hulle het in ‘n klein huisie gewoon en daar was nie genoeg beddens dat elkeen sy eie bed kon hê nie, en hulle moes maar meer as een op ‘n enkelbed slaap.

Saul het geweet wat dit beteken om honger te wees, daar was ‘n skaarsste aan die noodsaaklike items in hulle huis, roomys was iets wat hulle net gesien het as ander mense dit eet. Hulle stapelvoedsel was brood.

Soms was hulle gelukkig en was daar iets om op die brood te smeer, maar dikwels was dit droë brood. Maar omdat Saul so grootgeword het, het hy nie daaroor gekla nie, hy was maar net te dankbaar as daar wel ‘n stukkie brood was.

Maar daar was nog ‘n probleem, Saul was siek, Saul was baie siek, en hy moes gaan vir ‘n opehartoperasie waar die beroemde hartspan op hom sou opereer.

Saul is opgeneem, en hy is in ‘n bed geplaas met spierwit beddegoed. Hy het vreemd gevoel, die wit beddegoed was oorweldigend, want hy het net ‘n bed met een laken op geken en hier was ‘n bolaken, onderlaken, ‘n bedoortreksel, en twee groot opgepofte kussings. Om hom was daar baie masjiene en monitors en dit het hom verskrik gemaak.

Hy het gevoel dat die bed te groot vir hom was, by die huis het hulle beddens gedeel, en hier lê hy in ‘n vreemde kamer, in ‘n vreemde bed, met vreemde goed wat hy nog nooit gesien het nie.

Die volgende oggend is Saul ingestoot teater toe en die foutiewe hartklep is vervang. Hy is uitgestoot en terug in sy kamer het hy bygekom van die narkose. Daar was masjiene aan hom gekoppel wat vreemde geluide gemaak het. Daar was ‘n spalk aan sy regterarm om die aarvoedingbuise en antibiotikabuise ferm in plek te hou. Daar was ‘n pyp in sy keel en hy was aan die hart-longmasjien gekoppel. Hy kon nie praat nie, maar omdat hy aarvoeding gekry het was hy gelukkig ook nie honger nie, net baie bang en baie vreemd.

Toe die dag aanbreek dat hulle die hartmasjien afskakel, sodat die hart weer op sy eie kan begin werk, het hulle besef daar is fout. Elke keer as hulle die masjien afskakel, het Saul se hart al hoe stadiger geklop. En na ‘n deeglike ondersoek het hulle tot die besef gekom dat hierdie kind se ander hartklep ook ingegee het. Hy sou vir ‘n tweede keer terug teater toe moes gaan en weereens sou daar ‘n opehartoperasie op hom uitgevoer moes word. Dr. Barnard het langs Saul se bed gaan staan en mooi vir hom verduidelik wat hulle nou gaan doen.

Groot verskrikte oë het na hom toe opgekyk. “Saul,” het dr. Barnard gevra, “Is daar iets wat ons vir jou kan gee, het jy miskien ‘n versoek?” Hy wou die kind gerusstel en het gedink miskien sal hy vra dat sy ouers moes kom, of iets wat hulle vir hom kon doen om hom minder verskrik te laat lyk.

Saul het sy kop stadig geknik, omdat daar pype by sy keel af was, kon hy nie praat nie. Dr. Barnard het toe vir die verpleegpersoneel gevra vir ‘n stukkie papier en pen, en hy het dit vir Saul gegee, en vir hom gevra om sy versoek op papier neer te skryf.

Met die pen tussen sy vingers vasgeknyp, versigtig om nie die pype te versteur nie, het Saul sy versoek met ‘n bewerige handskrif op die papier geskryf.

Saul was baie siek, en omdat die eerste operasie nie ‘n sukses was nie, het hulle gewonder of hy die tweede een sou oorleef, en dr. Barnard wou baie graag hierdie een versoek aan Saul toestaan. Hy het die papier geneem, en daar in ‘n kinderlike handskrif was ‘n jong seun se hartsbegeerte geskryf: NET ‘N STUKKIE BROOD.

Dis al wat hy wou gehad het, net ‘n stukkie brood. Brood wat vir hom die gevoel van sy ouerhuis sou terugbring. ‘n Stukkie brood wat vir hom sekuriteit sou gee. Maar helaas, hy moes gaan vir ‘n tweede operasie, en aan daardie eenvoudige versoek kon daar nie voldoen word nie. Saul het ongelukkig nie die tweede operasie oorleef nie. Dr. Barnard vertel dat hierdie een van die verhale was wat nie ‘n gelukkige einde gehad het nie.

Jesus is die Brood van die Lewe, en as omstandighede en situasies vir ons vreemd is, en as ons nodig het om sekuriteit in ons lewens te ervaar, of as vrees jou gryp soos wat dit vir Saul vasgegryp het, skryf jou versoek op die tafels van jou hart: Here, ek benodig vandag net ‘n stukkie Brood. Here ek benodig U teenwoordigheid, Here ek reik vandag uit na U toe ... Gee my asseblief ‘n stukkie van Uself, gee asseblief vir my ‘n stukkie van die Brood van die Lewe.

Vir Saul was dit te laat, maar ek en jy kan nog van die Brood van die Lewe ontvang, vra net, en Hy sal jou gee dit wat jy nodig het.

Vader U is vir elkeen van die honger siele daarbuite ‘n Stukkie Brood.

[Klik HIER vir nog stories]

Monday, 19 June 2023

Vandag se internetgebed vir jou

Wanneer jy baie vrae het ...
vra vir My.
Onthou daar is geen woord in jou gedagte wat Ek nie reeds weet nie ...

Onthou, Ek is by jou
en dat Ek jou hoor
selfs van diep binne
`n woord, gedagte of sug.

Bly by My en hou My vas
EK IS MET JOU
Veilig deur die storm sal jy kom
omdat jy vashou aan My.

(Bydrae deur Helena)

Sunday, 18 June 2023

Angels: Father's Day Quotes


Angels: Vadersdag

Die omgee-engele het 'n meer as welkome draai by Ons Huis gemaak en Vadersdag sommer kleurvol ingekleur. Elkeen is bederf met 'n heerlike handgemaakte kniekombersie wat sommer ook oor die skouers gegooi kan word vir 'n bietjie ekstra hitte tussen die blaaie. 

Versnaperings in die vorm van lekkers, sjokolade, kolwyntjies, springmielies en so 'n ekstra bederfie vir die vaders van Ons Huis (dit is mos darem Vadersdag) is aan die inwoners uitgedeel.  

Klik HIER vir die ander foto's saam met die inwoners.

Die groepie mensengele wat vir Vadersdag gewerk het, is ...
  • Cherine Senekal (aan roer van sake)
  • Annette Cameron
  • Betsie du Plessis
  • Christa Jaquire
  • Forbie Klindt
  • Jacoba du Plessis
  • Jolande de Wet
  • Millie Mouton
  • Percy Bell
  • Talana van Wyk 
 (Inligting: Millie Mouton)

Dink hieroor: Waarom bid ons?

Teks: Jakobus 5:16; Hebreërs 10:19

Gebed is deel van ons geloof. Om in gebed te verkeer is ‘n kenmerk van ‘n Christen se lewe. Tog moet ons nie net bid nie, omdat dit verwag word nie. Ons moet in opregtheid en afhanklikheid bid. Ons moet bid met vertrou en intelligensie. Ons moet bid met begrip en kennis, veral oor die krag van gebed in die uitwerking van sake.

David Bryant sluit hierby aan in sy boek Converts of Prayer waarin hy verduidelik dat ‘n groot en gesonde gebedsbeweging geestelike groei in die kerk en wêreld tot gevolg kan hê. Die vroeë kerk het geglo in gesamentlike gebed vir verskeie redes. Dit word bevestig deur die woord van Jakobus, waarin hy tereg sê: Die vurige gebed van ‘n regverdige het groot krag.

Jou gebede is belangrik. Daar is niemand wat met groter vrymoedigheid in gebed tot God se troon kan nader as jy nie. In Jesus Christus het ons toegang verkry tot die Allerheiligste (Hebreërs 10:19) en kan ons tot God nader as Sy kinders.

Gebed:
Here, U ken my, U sien dwarsdeur my, of ek sit en of ek opstaan, U weet dit,
U ken my gedagtes nog voordat hulle by my opkom.
Of ek reis en of ek oorbly, U bepaal dit, U is met al my paaie goed bekend.
Daar is nog nie 'n woord op my tong nie of U, Here, weet wat dit gaan wees.
U omsluit my van alle kante, U neem my in besit.
Dié wete oorweldig my, dit is te hoog vir my begrip. (Ps 139:1-6)
Amen.

André

[Gaan lees HIER na nog verrykende boodskappe.]

Thursday, 15 June 2023

Heerlike leesgenot vir die koue winterdae en -aande

Ons Huis se blog is net 'n selfoon ver. Merk hierdie leesfees gerus as 'n gunsteling op jou foon. Daar is 2 629 artikels en 47 pages om van te kies. Die pages is aan die linkerkant. Aan die regterkant is daar trefwoorde wat jou direk na die artikel/artikels vat.   

Bogenoemde getalle is slegs die statistiek vir die afgelope maand. Die page wat 'n groot gunsteling onder die lesers is, is die inspirasiestories.

Klik HIER om 'n vinnige draai by inspirasiestories te maak. 'n Ander interessante besoekpunt is die agtergrond van Ons Huis. Klik HIER om meer van die geskiedenis van dié tehuis uit te vind.
Die Nuwe inwoners het onmiddellik byval by die lesers gevind en is op hierdie stadium bo-aan die artikels se gewildheidsleer. Klik HIER om die storie van die Nuwe inwoners te lees. 'n Mens kan sien dat Vadersdag om die draai is, want die koerantberig uit NND/Kitsnuus van 30 April 1999 is 'n hele paar keer besoek. Klik HIER om die ongelooflike stukkie waarheid te lees. Dinsdag-denke stem 'n mens onwillekeurig tot nadenke, maar dien ook as inspirasie.

'n Uit-die-hart-uit-dankie vir elke getroue leser, elkeen wat só gereeld stukkies instuur en die gereelde terugvoering wat nodig is om 'n behoeftebepaling te doen. Vandag het daar weer 'n 1000+ mense kom inloer en sê ons 69 000 keer dankie! Indien enige een 'n staaltjie, storie of besondere foto het, kan hulle dit gerus stuur aan aldawelman@gmail.com 

Nuwe inwoners


'n Nuwe paartjie het gister hulle intrek in Ons Huis geneem. Die keuse van 'n tehuis was nogal 'n gewigtige besluit en na vele oorweging het hulle besluit op Ons Huis Kimberley. Almal is hier welkom en die gevestigde inwoners reik graag uit, want hulle was ook op 'n stadium nuut en onseker.

Chris en Ems het dadelik tuis gevoel. Dis belangrik om op hierdie gevorderde ouderdom tog nog in 'n huislike omgewing te bly. Hierdie twee gebore Vrystaters het al baie in hulle lewe belewe: die konsentrasiekamp, WO1 en WO2, die groot griep en meer onlangs Covid-19, depressie en resessie, maar die landing op die maan was vir hulle 'n onwerklike hoogtepunt. Op hierdie twee mense se gesigte lê die spore van storms en swaarkry, maar die blink in hul oë vertel dat daar nog baie energie vir die laaste skof oor is. Hulle het vir baie jare in Oos-Londen gebly, waar Chris in die bank gewerk het. Ems se passie was laslappiewerk, sy het selfs haar peetkinders die kuns van laslappiewerk en beskuit bak geleer.

Baie welkom en die redaksie verneem dat Ems dadelik uitgenooi is om by die breigroep aan te sluit, terwyl Chris meer in bingo belangstel.

Basaar: Donasies gevra


Oktober is om die draai en so ook ACVV Ons Huis se jaarlikse basaar. Ons benodig dringend oorskiet wol, lappies, houthangers wit olifante of klere vir die klerewinkel. Indien enige van genoemde items die kaste in jou huis vol lê, ons hier by Ons Huis kan dit nuttig gebruik.  

Die donasies kan gedurende kantoorure afgegee word by Ons Huis-ontvangs (Ariadnesingel) of by die ACVV se  kantoor te Halkettstraat 14, Kimberley.

Wednesday, 14 June 2023