In die eensame veld staan ’n tentjie klein,
en daarnaas in die skeem'ring skuif die ligtende trein;
ek sien in die tentjie, deur die oop gordyn,
’n tafel met bordjies en glasies fyn,
wat sag in die lig van die kersie skyn,
en ek dag: “Was ek net in die tentjie klein,
ek sou tog so gelukkig syn.”
Naas die eensame tent staan ’n meisie klein,
in stomme bewond’ring van die ligtende trein;
sy sien my geniet my glansende wyn
en kost’like maal by elektriese skyn;
en ek raai die gedagte van die meisie klein:
“Ag, was ek maar net in die vrolike trein,
ek sou tog o so gelukkig syn”.
* Totius
[Bron: Totius's post - klik HIER.]
Wie onthou nie hierdie gediggie wat ons almal in die laerskool moes leer nie? Die boodskap is vandag nog net so relevant. Dit is só tekenend van ons mensdom se verlange om maar altyd te begeer en te wil hê wat ander het. Wees tevrede met die skatte wat vir jou uitgedeel is.

No comments:
Post a Comment