Tuesday 21 February 2023

Dinsdag-denke: My liefste kind

Wanneer jy dink jy is ‘n fout
of moes nooit gebore gewees het nie,
kom Jesus en sê vir jou:

Jy is nie ‘n fout nie,
want Ek maak nie foute nie ...
Ek weet daar was en is dae wat jy seerkry,
dae wat mense jou nie verstaan nie,
dae wat jy moedeloos was en is.
Dae wat pyn jou wil vernietig.
Ek huil saam met jou.
My hande vang jou kosbare trane op.
Ek ken seer.
Ek ken pyn.
Daar was self ‘n tyd wat mense my nie verstaan het nie,
My verneder het.
My verwerp het en aan ‘n kruis vasgespyker het,
daarom weet Ek hoe jy voel ...
Ek weet jy voel deurmekaar
en wonder wat, waar en hoekom?
Ek wil net vandag vir jou sê:
nie een van die foute wat jy maak, vang My ontkant nie.
Ek is nie verbaas nie.
Ek weet alles.
Ek verstaan alles en Ek sien alles ...
Ek kyk nie na jou met oë wat oordeel nie.
Ek kyk na jou met oë van liefde
en Ek luister na jou met My hart,
omdat Ek ‘n God is wat uit liefde bestaan ...
Ek wil jou nie straf nie.
Ek is nie ver van jou af nie ...
ek ken jou beter as enige iemand anders,
Ek weet wie jy werklik is!
Ek weet waartoe jy in staat is!
Ek ken die wenner binne-in jou!
Ek ken jou mooi hart!
Ek ken jou sagte geaardheid!
Ek sien ‘n pragtige mens wanneer Ek na jou kyk ...
glo in jouself, want jy is kosbaar en baie spesiaal 

No comments:

Post a Comment