Saturday, 14 June 2025

Saterdaglagmedisyne - Dieregeite


**  'n Onnutsige aap en 'n hiëna het eendag geredeneer oor wie die dapperste is. Volgens die spoggery sou nie een hom selfs deur 'n leeu laat rondjaag nie.
Terwyl hulle nog so gesels, kom daar juis 'n befoeterde leeu aan. Toe hy hulle sien, storm hy. Die aap is in die boom op, maar die hiëna kon nie betyds wegkom nie en 'n hewige geveg ontstaan.
Die hiëna het die spulletjie net-net oorleef. Terwyl hy nog bebloed onder die boom lê, klim die aap af en stap nader.
"En toe," sê die hiëna, "ek dog jy is so dapper en jy kom help my nie eens toe die leeu my pak nie."
"Ek is jammer, man," sê die aap. "Ek het gewonder of ek jou moet kom help, maar ek het gehoor jy lag so lekker. Ek dog toe jy is aan die wen!"

** 'n Blinde haas en 'n blinde slang loop mekaar per toeval raak.
"Wat is jy?" vra die slang.
"Voel maar,  sê die haas.
Die slang doen dit. Ná 'n paar minute sê hy: "Jou vel is so wollerig. Jou agterbene is so sterk. Jou ore is so lank. Jy moet 'n haar wees."
"Jy is reg. Maar wat is jy?" vra die haas.
"Voel maar," sê die slan.
Die haas doen dit. Ná 'n paar minute sê hy:  "Jou vel is so glibberig. Jou tong is so skerp. Jy voel so koud. Jy moet 'n aksepbankier wees."

** Gehoor wat die een skaap aan die ander gesê het tydens die destydse vragmotorversperring by Mooirivier? 
"Hel, ou maat, as dit so aangaan, kom ons nooit lewendig by die slagpale uit nie!" 

Friday, 13 June 2025

Nostalgie en nog nostalgie

Hoeveel onthou jy?


1) Kopligdip - skakelaars op die vloer van die motor.
2) Ontsteking - skakelaars (choke) op die paneelbord.
3) Broekspypklemme vir fietse sonder kettingskerms.
4) Soldeerboute wat jy op 'n paraffienbrander verhit het.
7) Vrouens het rokke, hoede, sykouse en handskoene kerk toe aangetrek.
6) Gebruik handseine vir motors sonder rigtingwysers.
7) Brood wat 6c en later 10c elk gekos het.
8) Sjokolade (Flakes, Crunchies, ens.) wat 5c elk gekos het.
9) Soet (lekkergoed) sigarette.
10) Kafees met tafels en stoele en met 'n juke-boks. Hulle het die lekkerste Coke en Cream Soda floats verkoop.
11) Aflewering van melk en lemoensap in glasbottels.
12a) Die swart telefoon teen die gangmuur gemonteer.
12b)Elke telefoonoproep is deur die sentrale deurgeskakel. (Onthou jy nog die sentrale se vraag? "Nommer asseblief?" )
12c) Party of deellyntelefone vir plaasbewoners. (Die bure het die gesprekke lekker afgeluister.)
13) Nuusrolprent (SA spieël) voor die fliek. Onthou jy die brullende leeu wanneer die fliek begin wys het?
14) Ertjiepit-blaaspypies (pea shooters)
15a)Grammefoonplate 78+33 rpm met platespelers. (Onthou jy nog vir Virginia Lee, Jim Reeves, Leonore Veenemans)
15b) 45-rpm plate.
16) Hi-Fi's.
17) Metaal ysbakke met hefbome.
18) Blou flitsgloeilampe.
19) Kurkpropgewere (popgun)
20) Wasmasjiene met rollers.
21)TV-toets patrone wat snags na die laaste vertoning aangekom het en daar was, totdat TV-programme weer die volgende dag begin het. Daar was net 2 kanale, as jy gelukkig was.
22) Inkpotjies in jou skoolbank. In graad 1 en 2 is net met potlode in die klas geskryf. St. 2 en 3 het penne met die los penpunte gebruik. Vulpenne is vanaf standerd 3 gebruik. (Balpuntpenne is toe nog nie gebruik nie.)
23) Skoolboeke is oorgetrek met bruin papier en plastiek.
24) Die roomyskarretjies (fietse met die klokkies)
25) Fiets- en hondelisensies!!!

As jy 0-3 onthou het = Jy is nog jonk.
As jy 3-6 onthou het = Jy word ouer.
As jy 7-10 onthou het = Moenie jou ouderdom vertel nie.
As jy 11-14 onthou het = Jy is positief oud!.


Hierdie herinneringe is van die beste tye in my lewe.

Skrywer: Anoniem

[Dankie, Valerie, vir die deel van hierdie lekker onthou!!]

Verjaardagwense uit die rooi posbus nr. 8: Baie geluk, mev. E Calmeyer


Foto: Ronell van Wyk
   

Thursday, 12 June 2025

Ouma se wenke: Raad vir daardie vuil oond

Dis weer daardie tyd van die jaar wanneer jou stoof en oond oortyd gaan werk, omdat ’n warm bord kos die ding is waarna almal smag. Wanneer almal klaar geëet het en jy die vuil oond moet skoonmaak, is dit egter nie ’n lekker saak nie.

Dalk kan die volgende wenk jou help om die ekstra moeite uit oondskoonmaak te neem.
Jy benodig:
> Koeksoda
> Water
> Rubber handskoene
> Klam vadoek
> Plastiese spatula
> Spuitbottel
> Wit asyn

Instruksies:
1. Haal die oondrakke uit en sit eenkant.
2. Maak ’n pasta met die koeksoda deur ’n halwe koppie koeksoda met drie eetlepels water te meng. Die pasta moet smeerbaar wees.
3. Smeer nou hierdie koeksodapasta aan die binnekant van die oond, maar bly weg van die hitte-elemente. Gebruik handskoene wanneer jy die smeerwerk doen, want dit kan nogal vuil raak. Die koeksoda sal bruinerig raak wanneer jy dit aansmeer - dis reg so.
4. Laat die koeksodapasta nou oornag aanbly of vir ten minste 12 ure.
5. Wanneer hierdie tyd verby is, vee die oond uit met ’n klam vadoek. Gebruik die spatula om van die pasta of vullis af te skrop indien nodig, veral op plekke waar jy nie so maklik met jou hande kan bykom nie.
6. Volg dit nou op deur ’n bietjie asyn met die spuitbottel te spuit, veral op daardie areas waar die koeksodapasta-oorblyfsels nog sit.
7. Vee die binnekant van jou oond nóg ’n keer af en hierna kan jy jou oondrakke terugsit. Jou oond behoort nou weer mooi skoon te wees. 

Wednesday, 11 June 2025

Die gebed van ’n bejaarde (digter onbekend)

As ek oud word, O Heer, maak my minsaam en lief
As alles te swaar word en so vol ongerief
As dit skyn of mense nie meer omgee vir my
As ek treurig en alleen voel, wil U tog by my bly.

As my liggaamskragte verswak elke dag
As alles te swaar word en so vol ongerief
As dit skyn dat mense nie omgee vir my
As ek treurig en alleen voel, wil U tog by my wees.

As ek my kwel en bekommer oor elke klein saak
As alles my steur en alles my raak
As ek dan vir ander tot las voel, o Heer
As ek dan tot U kom, troos my tog teer.

As die jare verbygaan so een vir een
As ek stil in my kamer soms sit en ween
As ek my hart voor U blootlê, o Heer
As ek so tot U kom, help my tog weer.

As ek miskien binnekort die doodsdal deurgaan
As ek eersdaags miskien voor U troon sal moet staan
As ek dan voor U kniel met bewing en vrees
Laat die bloed van Jesus my beskerming wees.

Monday, 9 June 2025

Vandag se gebed vir jou: Verstaanharte

Liewe Heer,
U is ons Vader ...
die een wat weet van elke hart
wat vanaand trane stort oor
'n geliefde of enige ander smart
wat teen harte se ruite afloop
klein stroompies verlang koop
maar die verskil is Here ons
vra vir 'n antwoord saam
Here ons roep U by die naam
Vader, Seun en Heilige Gees
sal U asseblief vanaand by ons wees
ons hande in U s'n neem
ons op die regte pad lei
ons die regte koers laat kry
Vader U is die Alfa en Omega
U luister na al ons gekla
hoor dan ook nou ons
loflied wat ons tot U bring
as ons U Naam besing
God, Almagtig Opperheer
die Vader wat ons daagliks leer
om dienaars hier op aarde te wees
behoeftes in mekaar se oë te kan raaklees
U wat ons liefdevolle verstaanharte gee
om vir mekaar daardie ekstra tree te loop
wees in hierdie nag by as ons dalk sou vrees
God en Vader ons vertrou U Heilige Gees
kom dan nou en maak ons vry
om teen die self in ons te stry
gee ons net vrede Heer
sodat ons U kan dien weer
Amen

[Dankie, Anoniem]

Sunday, 8 June 2025

DANKIE! In hoofletters!!

 Ons sien uit na 'n volgende kuier!!

Oomblik van stilte: Sag. 12:10a

Maar oor die huis van Dawid en oor die inwoners van Jerusalem sal Ek uitgiet die Gees van genade en smekinge; en hulle sal opsien na My vir wie hulle deurboor het, 

Wie is die persoon wat hier praat? Die een wie se hande en voete deurboor is, wie se sy gesteek is met 'n spies, die een wat deur mense gewond is en wie se bloed ons gereinig het. 
En as iemand vir hom sê: Watter wonde is daardie tussen jou hande? dan sal hy antwoord: so is ek geslaan in die huis van my vriende (Sag. 13:6).
Dis vir jou wat God sy genade en smekinge gegee het; om jou te red en vir ewig as gereinigde in die koninkryk van die Vader in te bring.

Dankie my Vader,  U het my kom red met u seun. U is die drie-enige God, Hy wie se Gees van genade en smekinge in my is. Ek erken U as die Seun van God, op wie die Gees soos 'n duif gekom het, en die Vader gespreek het, dit is my Seun ...  Al drie persone van God saam. U het vir my kom sterf en is geslaan om vir my genesing te bring. Amen.

Saturday, 7 June 2025

Statistiek 203 000 e-besoeke

'n Warm Saterdag in 'n koue Junie


Heerlike eetgoed en snoepgoed was deel van vandag se engelpakkie. Koue dae aktiveer juis die knibbelwurm in elkeen van ons. Elke Ons Huis-knibbelaar het vanaand 'n soet vooruitsig voor die TV. En nie net is daar na die innerlike, maar ook aan die uiterlike gedink. 'n Warm kombers was die kersie op die koek! 

Koue wintersdae is net die regte tyd vir heerlike dik huissop. Vandag se kuier het ook heerlike sop en vetkoek op die spyskaart gehad. Die engele het so kuier-kuier van kamer tot kamer beweeg en al geselsend oor 'n koppie sop na elkeen se welstand verneem.


Na baie lag, gesels, eet en kuier moes die engele groet. Daar is darem die vooruitsig dat hierdie groet net tot 'n volgende keer is.


Foto's: Millie Mouton

Saterdaglagmedisyne - Blondinegrappe


Aan die eertydse blondines in Ons Huis wat nou almal getooi is met grysheid en gepaardgaande wysheid: geniet hierdie grappies ...

* 'n Blondine stap by die boekwinkel in om leesstof vir die naweek te koop.
"Ek wil graag 'n paar boeke koop," sê sy.
"Ligte of swaar leesstof?" vra die winkelassistent.
"Dit maak nie saak nie. Ek het my motor hier."

* "Hoe oud is jy vandag?" vra die blondine se beste vriendin vir haar.
Blondine: "Vier en twintig."
"En hoe oud is jou jonger suster nou weer?"
"Dertig."

* Hoekom begrawe die blondine haar kar?
Omdat die kar gevrek het.

* Hoe maak 'n blodine 'n mol dood?
Sy begrawe die ou molletjie lewendig.  

[Dankie aan almal wat so ywerig aan die blondine-grappe deelgeneem het.] 

Friday, 6 June 2025

Nostalgie

EK IS DUIDELIK OUD

Iemand het nou die dag gevra: "Wat was jou gunsteling 'kitskos' toe jy grootgeword het?"

"Ons het nie kitskos gehad toe ek grootgeword het nie," het ek hom meegedeel. "Al die kos was stadig."

"Kom, ernstig. Waar het jy geëet?"

"Dit was 'n plek wat 'huis' genoem word," het ek verduidelik!

"Ma het elke dag gekook en as pa van die werk af kom, het ons saam by die eetkamertafel gaan sit, en as ek nie gehou het van wat sy op my bord gesit het nie, is ek toegelaat om daar te sit totdat ek daarvan gehou het."

Teen hierdie tyd het die seun so hard gelag dat ek bang was dat hy ernstige interne skade sou opdoen, so ek het hom nie die deel vertel oor hoe ek toestemming moes hê om die tafel te verlaat nie.

Maar hier is 'n paar ander dinge wat ek hom oor my kinderjare sou vertel het as ek gedink het sy stelsel kon dit hanteer:

Sommige ouers het NOOIT hul eie huis besit nie, nie jeans gedra, voete op 'n gholfbaan gesit, die land uitgereis of 'n kredietkaart gehad nie.

My ouers het my nooit skool toe geneem nie. Ons het geloop. Sonder vrese.

My pa het 'n fiets gehad wat waarskynlik 50 pond geweeg het, en net een spoed gehad het - geen ratte (stadig) gehad nie. Werk toe gery daarmee.

Ons het nie 'n televisie in ons huis gehad totdat ek 20 was nie. Dit was natuurlik 'n swart en wit TV-stel, en die stasie het om 10 uur van die lug af gegaan, nadat die volkslied en epiloog gespeel is. Dit het omstreeks 6 uur weer op die lug gekom. En daar was gewoonlik 'n plaaslik vervaardigde nuus- en plaasprogram met plaaslike mense. Pizzas is nie by ons huis afgelewer nie.

Maar ... melk is afgelewer. Alle koerante is deur seuns afgelewer en die meeste seuns het koerante afgelewer. My broer het sewe dae per week 'n koerant afgelewer. Hy moes elke oggend om 6 opstaan.

Filmsterre het gesoen met toe monde. Ten minste het hulle dit in die rolprente gedoen. Daar was geen fliekgraderings nie, want alle flieks is verantwoordelik vervaardig vir almal om te geniet, sonder vloektaal of geweld of byna enigiets aanstootliks.

As jy grootgeword het in 'n generasie voordat daar kitskos was, wil jy dalk sommige van hierdie herinneringe met jou kinders of kleinkinders deel.

Moet my net nie kwalik neem as hulle 'n ingewandsbreuk van die lag oorhou nie. Om nou groot te word, is nie wat dit was nie, of hoe?

HERINNERINGE van 'n vriend: My pa is besig om my ouma se huis skoon te maak (sy is in Desember oorlede) en hy het vir my 'n ou lemonadebottel gebring. In die bottelnek was 'n prop met 'n klomp gaatjies in. Ek het dadelik geweet wat dit was, maar my dogter het geen idee gehad nie. Sy het gedink hulle het probeer om dit in 'n soutpot te verander. Ek het dit onmiddellik herken as die bottel wat aan die einde van die strykplank gestaan het om klere mee klam te maak, want ons het nie stoomysters gehad nie.

(Word vervolg)

Dankie, Valerie, vir hierdie herinneringstrippie!!

Thursday, 5 June 2025

Ouma se wenke: Wasmasjien moet ook skoongemaak word

Voorlaaiwasjiene (frontloaders) is meer energieslim en gebruik minder waspoeier as toploaders, maar hulle is geneig om muf en onaangename reuke te huisves. Deur jou wasmasjien net ’n vinnige skoonmaak een keer per maand te gee, kan jy dit vars hou en jou klere sal ook skoner gewas word.

Wat jy gaan nodig kry is:
> twee koppies asyn
> kwart koppie koeksoda
> kwart koppie water
> sponsie

* Begin deur die koeksoda en water in ’n klein bakkie te meng, wat as die “waspoeier” gaan dien om die wasmasjien skoon te maak.

* Voeg die koeksodamengsel in die waspoeierhouer in die masjien en gooi die asyn binne die drom. Stel jou wasser op “normal load” op die hoogste watertemperatuur. Maak die deur toe en laat die masjien draai.

* Gebruik ’n skoon skuursponsie om rondom die opening van die masjien te vee en so hardnekkige muf of oorblyfsels te verwyder. Gebruik skoon water wanneer jy dit afvee.

* Jou wasmasjien behoort nou silwerskoon en gereed te wees vir die volgende bondel wasgoed.

Onthou om jou wasmasjien ten minste een keer per maand skoon te maak sodat jou klere kan vars ruik en die klere ’n behoorlike was gee.

Monday, 2 June 2025

Verjaardagwense uit die rooi posbus nr. 8: Baie geluk, mev. E Paul


Foto: Ronell van Wyk
  

Vandag se internetgebed vir jou: Vrygemaaktes

Dankie Here, u liefde maak my vry van die dood. U laat my toe om u heerlikheid te erf tot in ewigheid. Ek wag nou op die openbaarmaking van die Here Jesus uit die hemel met sy magtige engele. Laat u Naam verheerlik word, u wat ons in bewaring hou. Amen. 

Sunday, 1 June 2025

Junie-verjaardae


1 - Mev. M Coetzee

2 - Mev. E Paul

13 - Mev. L Calmeyer

25 - Mev. RM Botjes

26 - Mev. L Mosavel

Verjaardagwense uit die rooi posbus nr. 8: Baie geluk, mev. M Coetzee



Foto: Ronell van Wyk

Oomblik van stilte: Ps. 13:6

Maar ek, op u goedertierenheid vertrou ek; my hart sal juig oor u heil. Ek wil sing tot eer van Here, omdat Hy aan my goed gedoen het.

Die vraag was al baie keer gevra: Het jy al ooit aan al die goeie dinge gedink wat God vir jou gedoen het? Onthou jy al die goeie dinge wat God vir jou, jou kinders en familie en vriende gedoen het? Onthou jy hoe goed God vir jou was by jou werk en besigheid en hoe Hy jou geseën het met sy voorsiening?
Miskien is dit nou die tyd om Hom te dank, eerstens vir sy bloed wat jou genees, gereinig en geheilig het.
Sê vir God dankie vir jou daaglikse brood en ander aardse rykdomme waarmee Hy jou seën. 
Sê ook dankie vir jou genesing in jou siel en liggaam. 

Here, ek prys U vir u goedheid en barmhartigheid oor my. Op mense kan ek nie vertrou nie selfs nie op prinse nie. Oor U juig my hart en sal ek van U goedertierenheid vertel. U het aan my goed gedoen en ek sal u Naam besing en lof bring. Amen.