Monday 3 October 2022

WATERDRUPPEL vir die WEEK = Vasgeplakte woorde

Groete en Vrede!!!

"Ja ek weet ek is orig, maar my se oë moet eers vir julle twee sien. Dit voel kompleet al asof julle deesdae langer wegbly as gewoonlik. Kom ek help sommer koffers aandra,” beduie Vytjie skaars nadat Gabriël se stof lêplek gekry en sy ons groothek toegemaak het. Eers groet die Mooiste Mooi haar hartlik met 'n drukkie. Daarna sluit sy die huis oop en steek die gasstoof brand, want diep in haar hart weet sy dat Vytjie nie vandag die hek agter haar gaan toemaak alvorens sy nie ‘n beker koffie met baie suiker gedrink het nie.

"O ja, ek wil eintlik net kom nuus afgee. Daar het soveel dinge gebeur sedert pastoorgoed hier weg is" sê sy nadat sy haar eerste drasel in die kuierkombuis neergesit het. Kort voor lank sit ons om die kuiertafel en so begin die woorde onophoudelik oor Vytjie se lippe stroom. Stilweg hoop ek sy groet gou, want ek en die Mooiste Mooi is maar aan die moeë kant. Ons dag op die pad en in die dorp was maar lank en moeisaam. Daarmee saam lê daar ‘n voorwêreldtoer aan ons rugkant wat ook heelwat van ons gevra het.

Moord en doodslag was sommer heel eerste op haar lys gewees. Blykbaar het die vorige naweek ‘n lelike ding gebeur. ‘n Klompie jongmanne – wat onder die prop was - het iewers op die vlak langs ‘n klein vuurtjie stry gekry. Êrens in hierdie geroesemoes het 'n blink meslem met pofadder spoed lewensbloed uit 'n jongman se nek en long getrek. Noenieput se polisie het met blou ligte daar aangekom, maar almal op die vlak is en was doofstom en blind. Hulle woorde is vasgeplak agter hulle lippe en hulle oë het niks gesien nie.

Vytjie babbel verder maar my gedagtes dwaal rond by Petrus en Johannes se optrede daardie aand van die groot verraad. Ek dink die meeste van ons ken die verhaal van Petrus, die hoenderhaan se gekraai en die groot verraai. Sien, Johannes het vir Petrus daardie aand toegang verkry deurdat hy Petrus aan die diensmeisie voorgestel het. Sy daarenteen soek bloot net bevestiging en dit is net daar waar Petrus se verraad begin. Die eerste van drie ontkennings. Net soos Jesus gesê het.

En Johannes ... die lieflingsdissipel? Hy maak seker hy doen meer as net om sy woorde veilig agter sy lippe vas te plak. Johannes doen ook niks. Op hierdie manier verraai hy ook die Kêrelkind van God met stilte en laksheid. Verseker is hierdie man net so 'n verraaier, 'n lafaard en 'n bangbroek soos wat Petrus by drie geleenthede daardie selfde aand sou wees.
 
Maar hoe raak dit my en jou en ook vir Vytjie? Ons wat in ons skynbare heiligheid en vroomheid ‘n saak aanvoer dat ons nie so iets sou doen nie? Verraai, ontken, ignoreer, misken en veroordeel ons nie ook maar die Kêrelkind van God en dit waarvoor Hy staan met ‘n doelbewuste laksheid en woorde wat agter ons lippe vasgeplak is nie?

Ek wonder ... maak ons nie maar ook so nie? Maak ons nie maar net soos Johannes en Petrus asook diegene om die vroegaandvuurtjie in Vytjie se gebabbel nie? Stil-stil maak ek my oë toe en praat met Hom wat was en is en weer sal wees. Ek is skuldig ... diep skuldig want by te veel geleenthede swyg ek vanweë my vasgeplakte woorde.
 
Joh 18 verse 16 & 17 (Afr 2020) = "Petrus het egter by die deur bly staan. Toe het die ander dissipel, die een wat aan die hoëpriester bekend was, uitgestap en met die deurwag gaan praat, en Petrus na binne gebring. Die diensmeisie wat die deurwag was, sê toe vir Petrus: “Is jy nie ook een van hierdie man se dissipels nie?” Hy antwoord: “Ek is nie!”

Sandkorrel baie seëninge

Los jou 👣 as jy wil by:

Divine Life Bediening (HJ & Dalene Cronjé)
Selnr: 082 772 2192
WhatsApp: 081 568 7549

[Vanoggend het daar weer 'n WATERDRUPPEL op die tafel beland. Dankie dat ons hierin kan deel. Baie seën vir die bediening daar tussen die duine sandkorrels.] 

No comments:

Post a Comment