Monday 10 October 2022

WATERDRUPPEL vir die WEEK = Lewenspoeding

Groete en Vrede!!! 

Dit is nou maar wors - die mense van Noenieput hou van ‘n afsluiting, want alles moet afgesluit word. Ons hou maklik afsluiting vir ons Woordgoed byeenkomste, vir die vroue projek, vir die Bybelskool en so ook vir die leesklub, die “Kids” klub en natuurlik moet daar ‘n afsluiting wees om die afsluitings mee af te sluit. 

Ek en die Mooiste Mooi het gistermiddag net voor sonsak by die Kuierplek-op-die-vlak gesit. Die plan was om idees kry rond te gooi vir hierdie jaar se afsluitings wat aan die kom is. Oor ‘n paar weke en ‘n handvol dae moet hierdie jaar toegemaak en gebêre word. My gedagtes bly dwaal en van planne maak kom daar net mooi niks en ek onthou weer ‘n handvol jare gelede se afsluiting. 

Proppie en Vytjie was die spesifieke dag heel eerste by die Sentrum se deur. Sommer met die inloop het beide soos steeks donkies vasgesteek en na hulle asems gesnak. Die Sentrum het voor daardie dag nog nooit so vrolik gelyk nie. Oopmond staar hulle na 'n see van sagte flikkerende liggies wat vrolik dans op maat van die agtergrond musiek.  

Nie een van die twintigtal mensegoed het met die inloop veel gesê nie. Hoofsaaklik omrede die afgelope jaar moeilik was. ‘n Jaar wat vir die meeste van hierdie mensegoed omskryf word deur leë beursies, hongerige mae, dorstige monde en lywe vol skete en pyne. Die meeste van hulle se woorde is agter hulle lippe vasgevang, want vandag loop hulle op onbekende paaie. Vandag word hierdie moeilike jaar behoorlik toegemaak. 

“Voor julle is ‘n voorgereg. As ons daarmee klaar is, sal pastoorgoed vir ons die hoofgereg bring” sê die Mooiste Mooi sodat almal kan hoor. Vreugde en vrolikheid straal opeens uit elkeen uit en al die sweet en sukkel van die afgelope jaar is heel vergete. “Maar dis nie al nie” brei die Mooiste Mooi verder uit, “daar is ook poeding. Roomys. Meer as een soort roomys en jy kan inskep soveel soos jy wil.” Spontaan begin Betta haar hande klap terwyl Koba en Annie mekaar om die lyf gryp vir ‘n danspassie of twee. Almal praat en lag gelyk want vir hierdie Kalahari mensegoed, is sulke bederf voorwaar ‘n luukse. 

Met die voorgereg se bordjies veilig in die Sentrum se kombuis, het ek die hoofgereg aangedra. “Onthou ... as jou bord nie blink nie, kan jy nie van daai roomys kry nie” sê Daantjie met 'n sterk stem nadat ek die eerste afsluiters se hoofgereg neergesit het.  

Daantjie se "as jy .... kan jy" woorde eggo in my binneste binne en oombliklik sit ek weer as jong seun in Oskuil se kombuis langs die groot houttafel. Ek sit presies weer op dieselfde plek waar die "as jy .... kan jy" woorde in my menswees gegraveer is. Sien, alvorens ek kon smul aan die poeding, moes ek eers al my kos – en met kos bedoel ek groente – opeet. Maar ek is seker dit is nie net ek wat so groot gemaak is nie. Dit geld vir die Mooiste Mooi ook en ons het ons kinders so groot gemaak. Hulle sal ook op hulle beurt sekerlik hulle kinders so grootmaak. En wie weet, dalk geld hierdie realiteit vir jou en jou hartsmense ook. 

Omrede die beginsel van vergoeding of beloning vir gehoorsaamheid baie vroeg in ons menswees vasgelê is, los dit ‘n baie duidelike spoor in alle areas van ons bestaan. Ongelukkig ook in ons daaglikse geloofslewe. Dit is deesdae tog so maklik om ons Skepper en Sy Woord slegs vanuit 'n "as jy ... kan jy" perspektief te sien, te verstaan en te beleef. Diegene wat dit doen, is oortuig hulle is geregtig op poeding as beloning vir hul gehoorsame doendinge. En om alles te kroon moet hierdie poeding vervat wees in finansies, bevordering, guns en gesondheid. 

Die realiteit is egter dat God Drie-enig van voor die grondlegging van die aarde, ‘n Verhoudingsgod is. Hy het alle mensegoed in Sy beeld en Sy gelykenis geskape. Vir Hom is ons verhouding met Hom en met ander mensegoed, al wat belangrik is. Derhalwe word die keuse aan my en jou en Daantjie oorgelaat om Hom en mekaar onvoorwaardelik lief te hê. Dit ... sonder om net heeltyd aan jouself en jou eie voordeel te dink. 

Iewers in die volheid van tyd sal alles vir ons glashelder wees. Dan sal ek en jy ten volle verstaan dat die poeding van die lewe slegs in onvoorwaardelike Goddelike liefde opgesluit is. Lewenspoeding wat bestaan uit ‘n verskeidenheid kleure en geure wat veel meer behels as wat Daantjie of ek of jy nou sal kan verstaan. Ons sal Hom en Sy liefde verstaan want God .... is liefde. 

1 Joh 4 vers 16 (Afr 2020) = "Ons ken en vertrou die liefde wat God vir ons het. God is liefde. En wie in die liefde bly, bly in God, en God bly in hom." 

Sandkorrel baie seëninge 

Los jou 👣 as jy wil by: 

Divine Life Bediening (HJ & Dalene Cronjé)
Selnr: 082 772 2192
WhatsApp: 081 568 7549 

[Dankie, Valerie, dat jy so gereeld hierdie waterdruppels met ons deel.]

No comments:

Post a Comment