Thursday 1 October 2020

Internasionale dag vir ouer persone

Die Verenigde Nasies (VN) se Internasionale Dag vir ouer persone is vanjaar 30 jaar oud. Hierdie jaar, 2020 is ook die eerste jaar van die VN se dekade (2020-2030) met die tema: Gesonde veroudering.

In my nadenke oor hierdie dag, my gesels met ander én ouer persone, het ek ontdek dat daar so dikwels klem gelê word op die verhale van hoe ouer persone deur hulle naasbestaandes en versorgers aan hulle eie lot oorgelaat, verwaarloos, mishandel, vergeet en hul handelingsbevoegdheid vertrap word. Ons ouer persone was vir jare lank onafhanklik en vandag, in hul kwesbaarheid en afhanklikheid van ander, bring hulle nog steeds op ‘n onbaatsugtige wyse meer as hulle deel vir hulle kinders en medemens.

Wat kan ons binne die ACVV doen om dié week vir ouer persone (30 September tot 6 Oktober 2020) tot sy reg te laat kom?

Ons gee erkenning aan ons ouer persone vir hulle bydraes. Ons ouer persone verdien dit dat hulle naasbestaandes en versorgers moeite doen om hulle behoeftes binne konteks van hul lewensfase te verstaan. Daarby wil die ouer persoon nog, hoe gering ook al, waarde tot ander se lewens toevoeg.

Kom ons neem hande en streef daarna om elke dag ons ACVV-waardes teenoor ons ouer persone uit te leef en hulle aktief in te skakel in ons organisasie, gesinslewe en werksplek.

Lucia Smuts
Nasionale Bestuurder Ouer Persone

No comments:

Post a Comment