Monday 26 March 2018

Hoekom ouer mense nog steeds oefening moet doen...

Ons het 'n bietjie gaan kuier by "Ava's Journey" en op hierdie interessante verhaal afgekom wat duidelik illustreer hoekom oefening belangrik is, selfs in ons pensioendae is ons nie veronderstel om op ons louere te rus nie!!!   

Gesondheid is ‘n normale toestand wat ons van God gekry het. 'n Mens word daarmee gebore, wel sowat 98% mense.  Dit is dus nie jou reg om dit te kry nie, maar wel om dit te behou. 

"Jy is so jonk soos jou ruggraat."  Joseph Pilates.

Joseph Pilatus  het tydens die Eerste Wêreldoorlog geleef en was teen die tyd dat die oorlog uitbreek, ‘n groot sportman met baie medaljes in sy kas. Hy is gevange geneem, maar het nie in sak en as gesit nie, hy het begin om sy medegevangenis en veral die beseerdes te help om te herstel en fiks te word. Tydens die tyd het die groot grieppandemie ook wêreldwyd uitgebreek. Die verstommendste bevindings wat die mediese wêreld toe gemaak het, is dat terwyl ongeveer 50 miljoen mense gesterf het, was daar nie ‘n enkele sterfgeval in Pilatus se kamp nie.  Die rede volgens medici – hul fiksheid.

Oefening help ook vir soepelheid en ‘n goeie postuur en ‘n goeie postuur het baie voordele. Dit is die perfekte wyse om rugpyn te verhoed. Jou ruggraat, die 33 benerige segmente wat werwels genoem word, is die liggaam se fondament. Dis die werwelkolom wat jou instaat stel om  regop te staan. Dit beskerm ook die rugmurg en spiere en ligamente word daar aan jou rug verbind en dien as lasdraer, maar dit laat soepelheid van beweging toe, sodat jy nie stokstyf’ soos ‘n zombie loop nie.

Die geheim van ‘n goeie postuur, lê  in soepel spiere.  Maagspiere is baie belangrik, want dit neem baie druk weg van die rugspiere.  So hoe minder jou spiere gebruik word, hoe korter en stywer raak hulle. Hoe meer jy sit hoe moeiliker staan jy later op en hoe moeiliker beweeg jy.

Onthou die mens is nie geskape om die grootste deel van die dag te sit of te lê nie, maar om die grootste deel van die dag te beweeg. Die oermense het gejag en van plek tot plek getrek en beweeg. Die moderne mens is op presies dieselfde manier geskape so ons moet ook meer beweeg. Kyk maar na die Japanese wat van die gesondste mense op aarde is, hulle beweeg baie, selfs die ou-ou mense, So ook die Russe wat veral in die berge woonagtig is.

No comments:

Post a Comment