Saturday, 2 November 2024

Saterdaglagmedisyne: 'n Paar komiese antwoorde, deur A.G Visser.


Spesiaal vir pensioenarisse op die vraag: Hoe gaan dit?

1. Baie goed ... ek het vanoggend darem mos bo die grond wakker geskrik.
2. Wel, opgestaan en self aangetrek.
3. Nie te goed nie ... ek het soveel pyn dat ek nie eens plek het vir almal nie.
4. Ag my vriend, ek kla nie oor my pyne nie, want ek kry dit verniet.
5. Dit gaan baie goed, elke pyn is op sy regte plek.
6. Ek is darem nog padwaardig, maar moet net nie my enjinkap oopmaak nie.
7. Wel wel wel, ek kners op my agtertande en glimlag met my voortande.
8. Ek voel vandag soos 'n kriek wat Doom ingekry het, ek beur al na die een kant toe.
9. Dit gaan op-en-af en heen-en-weer soos met 'n bak jellie wat onrustig is.
10. Dit gaan tussen sleg en verskriklik.
11. Ek druk deur, al maak dit seer.

[Dankie, Elmari, vir die tong-in-die-kies-antwoorde.]

Resep: Mieliemeelvetkoek

Bestanddele
2 koppies krummelpap
1,5 koppie melk (kan suur- of karringmelk ook gebruik)
2 eiers
sout na smaak
2,75 tl bakpoeier
1.5 koppie koekmeel

Metode
  • Klits eiers, melk en sout saam.
  • Voeg pap by - meng goed.
  • Sif meel en bakpoeier by - meng goed.
  • Bak in warm olie soos gewone vetkoek.  
Een van die inwoners het 'n klompie mieliemeelresepte met Ons Huis gedeel wat die volgende paar Saterdae  geplaas gaan word.

Verjaardagwense


Mnr. Oosthuizen, hartlike wense vir 'n gelukkige dag. Mag vreugde en liefde jou deel wees vir die res van die dae wat op u wag. Geniet hierdie dag!

Friday, 1 November 2024

Weekly message from the angels


May your day be filled
with all kinds of 
bright sunny things!

November-verjaardae



2 - Mnr. H Oosthuizen

7 - Mev. S Hanekom

16 - Mev. J van Staden

25 - Mev. A van den Berg

26 - Mev. E Lambert

Thursday, 31 October 2024

Gebed van 'n ou spoorwegman ...


'n Ou spoorwegman het op 'n byeenkoms tot bekering gekom en is gevra om te bid. Hy het 'n oomblik geaarsel en toe eerbiedig met 'n bewende maar helder stem gesê:

O Here, noudat ek die vlag gestryk het, bid ek U, neem my voete van die ruwe spoorbaan af en plaas hulle veilig bo-op die trein van redding. Laat wysheid my handlamp wees en die Bybel my hooflig. Laat die trein gekoppel wees met die sterk skakel van liefde. En ... Hemelse Vader, hou alle wissels gesluit wat na sylyne uitdraai en veral dié wat lei na 'n doodloopstraat.

O Here, as dit U wil is, laat elke sinjaal langs die lyn die witlig van hoop vertoon, sodat ek die lewensreis kan aflê sonder om stil te hou. En Here, laat die tien gebooie my rooster wees. En wanneer ek die reis afgelê het en in die groot donker stasie van die dood ingetrek het, mag die Superintendent van die Heelal sê: "Mooi so, goeie en getroue dienaar, kom teken die betaalstaat en ontvang jou loon van ewige geluksaligheid."

(Uit: Senior Bulletin - "Oom" van Vryheid)

Sunday, 27 October 2024

Gebed: Terwyl ons siek is ...

Here, wanneer ons siek is en vrae vra, is dit U wat ons hand neem en ons dra.
Wanneer ons swak is en soms só moeg voel weet ons met alles het U 'n perfekte plan en doel. 
Net U ken die begin en einde van ons lewe en in geen situasie sal U ons ooit, ooit  begewe nie.
Daarom sal ons in gesondheid en siekte u naam prys. U is ons Geneesheer en u sal die pad vir ons aanwys!

Saturday, 26 October 2024

Resep: Mieliemeelmuffins

Bestanddele
2 koppies mieliemeel
2 koppies koekmeel
5 ml sout
35 ml bakpoeier
3 groot eiers
500 ml melk
1 blikkie sweetcorn
1 blikkie heelpitmielies
250 g botter of magarien, gesmelt

Metode
  • Voorverhit die oond tot 180 grade C.
  • Klits eiers en melk saam.
  • Voeg die mielies en botter by en meng goed.
  • Voeg die mieliemengsel by die droë bestanddele en meng liggies.
  • Skep die beslag in groot muffinpannetjies.
  • Bak vir 30-35 minute of tot goudbruin en gaar.
  • Laat vir 10 minute in die pan afkoel.
  • Haal 12 heerlike groot muffins uit.
  • Geniet!!
Een van die inwoners het 'n klompie mieliemeelresepte met Ons Huis gedeel wat die volgende 4 Saterdae  geplaas gaan word.

Saterdaglagmedisyne

Friday, 25 October 2024

Verjaardagwense vir die ouderling van Ons Huis


Elsa, Hy wat jou gedra het tot hier, is dieselfde God wat met jou sal wees al die dae van jou lewe. Baie vrede, vreugde en gesondheid vir jou nuwe lewensjaar. Geniet dié dag! 
Uitnodiging: Kom drink gerus 'n koppie tee saam met ons dat ons weer 'n slag lekker kan kuier!

Bybelleesprogram: Lees vir 'n 100 dae - week 17 dag 5

Weekly message from the angels


Every day is a new day
for new thoughts and
new chance to be kind.

Verjaardagwense


Mnr. Maritz, baie geluk met u verjaardag. Mag die Here al u gebede verhoor en u gee wat u graag wil hê. Geniet 'n besondere verjaardag.





 

Thursday, 24 October 2024

Liz' thoughts


Click HERE for more.

Bybelleesprogram: Lees vir 'n 100 dae - week 17 dag 4

Interessante feite: Die storie agter koffie

Daar word vertel dat koffie in die jaar 850 ontdek is toe 'n bokwagter in Ethiopië gesien het hoe sy bokke vroliker as gewoonlik rondtrippel as hulle rooi bessies van 'n plaaslike struik vreet. Die bokwagter het met die bessies begin eksperimenteer en self gelukkiger gevoel.

Die eerste koffiebome vir produksie is in ongeveer 1100 deur die Arabiere geplant wat begin het om koffie te rooster en te brou. Die Arabiere het die qahwa genoem.

Die heel eerste koffiewinkel is in 1475 in Konstantinopel geopen.

Koffie het Europa in die jare 1600 bereik via die hawe van Venesië. Die eerste koffiewinkel in Italië het in  1654 geopen.

In 1652 het koffiewinkels in Engeland begin oopmaak.

Die Engelse woord tips (fooithe) het sy ontstaan gehad in hierdie Britse koffiehuise waar daar 'n bordjie langs die blikkie geplaas is wat gelees het: To Insure Prompt Service. Almal wat goeie diens en 'n goeie sitplek wou bekom, moes 'n munt in die blikkie gooi.

James Kilbourn van Stereo Café in Westdene, Bloemfontein, vertel dat koffie word op koffieplase oor die wêreld heen gekultiveer, geoes en geprosesseer. Sodra dit verpak, verhandel en na die finale bestemming versend is, word die groen bone verhit tot 'n verkose temperatuur oor 'n sekere tyd - hoe warm en hoe lank sal die smaak en sterkte van die koffie bepaal.

Elke tipe boon reageer anders teenoor hierdie veranderlikes, gebaseer op unieke karaktereienskappe.

Koffiebraaimeesters (roast masters) soos James het elk sy eie resep om 'n unieke braaitipe te skep en elkeen kan dieselfde bone braai, maar met verskillende resultate.

Koffie kan op verskillende maniere gebrou word soos filter, espresso, 'n moka-pot, Turks of dompelaar - en op selfs meer maniere bedien word. 

[Bron: Spesiale fokus//koffie]