Sunday, 30 April 2023

Geloof

Vir ons geloof om te groei het ons geduld nodig.
Geloof is soos 'n spier wat oor 'n lang tyd oefening nodig het om te groei.
Wanneer ons ten volle verstaan dat God ons liefhet en dit aanvaar, dan kan ons geduldig wag en die moeilike omstandighede verduur. 

Grief

I had my own notion of grief.

I thought it was a sad time that followed the death of someone you love. And you had to push through it to get to the other side.

But I'm learning there is no other side. There is no pushing through. 

But rather, there is absorption. Adjustment. Acceptance. And grief is not something you complete. But rather you endure. Grief is not a task to finish, and move on, But an element of yourself - an alteration of your being. A new way of seeing, a new definition of self.

[Thank you, Valerie.]

Bankbesonderhede



Thursday, 27 April 2023

Waarvoor gebruik ons ons stemme?

Ons het gisteraand na 'n uitvoering van The Voice gekyk.

En nog een. 

En nog een.

Toe die dame die klikliedjie in Khoza gesing het, het dit my 40+ jaar teruggeneem.
As gesin was ons altyd lief vir musiek. Ons het almal gesing, mamma het enige instrument op gehoor gespeel, Lorraine het kitaar gespeel, en ek dink my liewe broer het stille hallelujas gesing, want om die middelkind te wees, kan aanmatigend wees in enige familie!

Nie een van ons kon egter preek soos hy kon nie, en ek onthou nog die preekstoel wat my pa vir Eugene gebou het van swaar maagdelike hout!

So, op baie maniere het ons enige talent gebruik wat die Vader ons gegee het. Dit bring my terug na die klikliedjie.

Ek het daardie liedjie gesing en het natuurlik nooit so goed geklik soos ons Khoza-vriende nie. Maar tóé het ek, ek het ook die Franse lied gesing, die nasale geluide van my tong laat afrol, en nooit 'n woord verstaan van wat ek gesing het nie!

Waarvoor gebruik ons ons stemme, loof ons, bou ons op - of breek ons ons huweliksmaats, ons kinders, ons kollegas af - met dit wat uit ons monde kom?

As dit seer is wat jy slinger, kan jy net sowel David se slingervel gebruik, net ... dis nie 'n Goliat wat jou woorde doodmaak nie.
  • Dit is 'n kind.
  • 'n Man,
  • 'n Vrou.
  • ' n Vriend.
Dit is net soos ek is, vat dit of los dit!
  • Nee!
  • Dis hoe jy kies om te wees!!!
Dit is om uit te leef presies wat jy as kind ervaar het.
  • Van 'n ouer.
  • ' n Onderwyser.
  • 'n Persoon in gesag - en nou leef jy uit wat jy geleer het!

Sit asseblief stil en dink.
Luister na jouself.

Ek moes myself nog steeds betrap dat ek mishandel, want dit is presies wat dit is.

Is dit regtig hoe God bedoel het dat die instrument wat Hy vir ons gegee het, toegepas word?
Dínk nie net wat jy sê nie, maar hóé.

Ek dank U, ABBA, vir die sagte stem van die Heilige Gees.
Van hoe U deur donderweer met ons praat.
Ritsel wind deur die bome.
Soos 'n baba se huil. Die borrel gelag van 'n kind.
Die fluistering van 'n soen.
Vergewe my Abba. Ek is verstom oor U geduld met my.

[Anoniem]

Wednesday, 26 April 2023

Die oomblik wat jy doodgaan, gebeur die volgende op aarde:

Dag 1: Jou naaste huil en voel oorval met verlies en skok.

Ook dag 1: Vir 8,015 miljard ander mense is dit 'n gewone Woensdag.

Dag 2 tot 5: Jou begrafnis word beplan, mooi dinge word oor jou geskryf en gesê deur dié wat jou liefhet.

Ook dag 2 tot 5: Die wat jou nie kon hanteer nie, praat en skryf ook mooi van jou, maar uit respek vir die dood, gestrooi met 'n knippie skynheiligheid, nie uit respek vir jou nie.

Dag 6 tot 10: Jou begrafnis word gehou deur 'n klein groepie mense en daar is baie trane, die trane en die groepie word minder en kleiner teen die tyd wat die 4de koeksister geëet word.

Ook dag 6 tot 10: Dié wat weggebreek het van die naaste aan jou groep af, is in die kar op pad huis toe al reeds besig om te skinder oor jou naaste se doen en late by jou begrafnis.

Dag 30 tot 60: Jou man of vrou en jou kinders het vir die eerste keer weer hardop vir 'n grap gelag, hul onthou jou, maar die seer voel al minder as die maandeindeverantwoordlikhede.

Ook dag 30 tot 60: Jou baas het jou pos gevul, die kantoor praat nie regtig meer veel van jou nie, behalwe as dit kom by die oorname van jou werkspligte.

Dag 100 tot 200: Jou man of vrou en jou kinders mis jou, maar huil nie meer regtig nie. Jou foto's kry waarde, maar word nie meer so hartseer na gekyk nie.

Ook dag 100 tot 200: vir 8,015 miljard mense is dit 'n gewone Vrydag.

En tog leef 99% van ons om ander se respek en hoë agting te bekom ... Ons maak onsself sielsongelukkig om aansien te kry of te behou ... Ons stel ons drome uit, breek ons waardes af en gee ons geluk prys vir 'n glimlag op 'n gesig wat dit tien teen een nie eers tot by jou begrafnis se koeksistertafel sal maak nie. 

Dit gee mens 'n ander perspektief op die manier wat jy jou lewe leef (of nie leef nie), né?

[Dankie, Johan, vir hierdie bydrae.]

Woensdagwense: week 17

 

Tuesday, 25 April 2023

Dinsdag-denke: As jy JESUS het, het jy ALLES

‘n Welgestelde man en sy seun was baie lief daarvoor om skaars kunswerke te versamel. Hulle het van alles in hul versameling gehad, van Picasso tot Raphael. Hulle twee sou gereeld saam sit en die grootse kunswerke bewonder.

Toe die Viëtnamoorlog uitbreek, het die seun oorlog toe gegaan. Hy was baie dapper en het gesterf in die geveg terwyl hy besig was om ‘n medesoldaat te red. Die vader is in kennis gestel van die afsterwe van sy seun en hy het vreeslik oor sy enigste seun getreur.

Ongeveer ‘n maand later was daar ‘n klop aan die deur. ‘n Jong man het voor die deur gestaan met ‘n groot pakkie in sy hand.

Hy sê: ” Meneer, u ken my nie, maar ek is die soldaat vir wie u seun sy lewe gegee het. Hy het daardie dag sy lewe vir my gegee toe hy my na veiligheid gedra het en ‘n koeël van die vyand hom reg in die hart tref, hy is opslag dood. Hy het baie oor u gepraat en u liefde vir die kuns.”

Die jong man hou die pakkie uit na die seun se pa. “Ek weet dit is nie baie nie. Ek is nie juis ‘n groot kunstenaar nie, maar ek is oortuig dat u seun sou hê dat u dié neem.”

Die vader neem die pakkie en maak dit oop. Dit was ‘n skildery van sy seun wat deur die jongman geskilder is. Hy staar in verwondering hoe die jongman sy seun se persoonlikheid so kon vasvang in die skildery. Die vader was so aangetrokke tot die oë van die skildery dat sy eie oë opgewel het van die trane. Hy bedank die jong man en bied aan om hom te betaal vir die skildery. “Nee meneer, ek kan nooit vergoed vir wat u seun vir my gedoen het nie, hierdie is ‘n geskenk aan u.”

Die vader het die skildery bokant sy vuurherd geplaas waar hy elke dag daarna kon kyk. Elke keer wat hy besoekers ontvang het, neem hy hulle eers om die skildery van sy seun te sien voordat hy enige van die ander vername skilderye in sy versameling aan hulle vertoon.

Die man is ‘n paar maande later oorlede en daar sou ‘n groot veiling plaasvind van al sy kunswerke. Daar was baie vername mense teenwoordig by die veiling. Hulle was vreeslik opgewonde om sulke vername kunswerke te sien en die geleentheid te kry om op sulke werke te bie en moontlik een in die hande te kry vir hul eie versameling.

Op die afslaersplatform is die skildery van die seun. Die afslaer kap met sy houthamertjie op die podium. “Ons begin die veiling met die skildery van die seun. Wie maak ‘n bod vir die skildery?”

Daar was ‘n doodse stilte.

Toe roep ‘n stem van agter uit die vertrek. “Ons wil die vername skilderye sien ... Los die een eers.”

Maar die afslaer hou voet by stuk. “Sal iemand ‘n aanbod maak op die skildery. Wie sal die bod begin? $100, $200?”

‘n Ander geïrriteerde stem. “Ons het nie gekom vir dié skildery nie. Ons het gekom om die Van Goghs en die Rembrandts te sien. Gaan aan met die regte veiling!”

Maar steeds hou die afslaer vol. “Die seun! Die seun! Wie sal die seun neem?”

Uiteindelik, ‘n stem vanuit die heel agterkant van die lokaal. Dit was die eertydse tuinier van die man en sy seun wat jare vir hulle gewerk het. “Ek sal $10 vir die skildery gee.” Aangesien hy baie arm was, was dit al wat hy kon bekostig.

“Ons het $10, wie sit ‘n bod in vir $20?”

“Gee dit aan hom vir $10. Laat ons ander die meesterstukke sien.”

“Die bod staan op $10, wil niemand $20 aanbied nie?”

Die mense het begin kwaad word, want hulle soek nie die skildery van die seun nie. Hulle soek die meer waardige versamelstukke vir hul versamelings

Die afslaers slaan met sy hamertjie. “Vir die eerste maal, vir die tweede maal, VERKOOP vir $10!”

‘n Man in die tweede ry roep uit, “Laat ons nou met die regte versameling begin!”

Die afslaer plaas sy hamertjie eenkant neer. “Ek is jammer, maar die veiling is verby.”

“Wat van die ander skilderye?”

“Ek is jammer. Toe ek aangestel is om die veiling te behartig, is ek ingelig van ‘n geheime klousule in die testament. Ek was nie toegelaat om die klousule te openbaar tot nou toe nie. Slegs die skildery van die seun sou aangebied word vir die veiling. Wie ook al die skildery sou koop, erf die hele landgoed en daarby ingesluit is ook al die ander skilderye. Die man wat die seun neem, kry alles!”

God het Sy Seun 2000 jaar gelede gegee om aan die kruis te sterf. Baie soos die afslaer, is Sy boodskap vandag: “Die seun! Die seun! Wie sal die seun neem?”

Want, jy sien, wie ook al die Seun neem kry alles.

WANT SO LIEF HET GOD DIE WÊRELD GEHAD, DAT HY SY ENIGGEBORE SEUN GEGEE HET, SODAT ELKEEN WAT IN HOM GLO, NIE VERLORE MAG GAAN NIE, MAAR DIE EWIGE LEWE KAN HÊ ... DIT IS LIEFDE

[Nog kosbare stories HIER]

Monday, 24 April 2023

Vandag se internetgebed vir jou

Vader, U verstaan my diepste begeertes en behoeftes.
Help my om my verwagtinge aan U oor te gee.
Terwyl ek u planne nastreef,
help my om te onthou dat U my reeds gehelp het.
Wys my hoe om ‘n lewe te lei wat die roeping waardig is
wat U vir my gegee het.
In die Naam van Jesus.
Amen.

Saturday, 22 April 2023

Saterdaglagmedisyne: Antwoorde gegee deur graad 2-leerders

Hoekom het God Mammas gemaak?
1. Sy is die enigste een wat weet waar is die sellotape en prestick!
2. Sy moet eintlik net die huis skoonhou.
3. Sy moet ons uithelp as ons gebore word.

Hoe het God Mammas gemaak?
1. Hy het grond gebruik net soos met almal van ons.
2. Hy het bonatuurlike kragte en baie tou gebruik.
3. God het my ma gemaak net soos vir my. Hy het net groter goed soos kop, arms en bene en goeters gebruik.

Van watter bestanddele is Mammas gemaak?
1. God het Mammas gemaak uit wolke, engeltjievlerkies en hare en baie ander lekker goed in die wêreld. Maar ook 'n klein bietjie lelik en gemeen, want sy is partykeers kwaai.
2. Hulle het begin om mammas te maak van mans se bene, maar ek dink hulle het meestal 'n klomp tou en lyn gebruik.

Hoekom het jy JOU Mamma gekry en nie sommer enige ander mamma nie?
1. Ons is familie.
2. God het geweet sy hou meer van my as ander kinders se ma's.

Toe jou Mamma klein was, watter soort dogtertjie was sy?
1. My Mamma was altyd net my mamma en niks van daardie ander soort goed nie
2. Ek weet nie, want ek was nie daar nie. Maar ek dink sy was nogal baie baasspelerig.
3. Hulle sê sy was baie gaaf en lief.

Voordat sy met jou pa kon trou, wat moes sy van hom weet?
1. Sy van.
2. Sy moes weet van sy agtergrond. Lyk hy soos 'n skelm? Word hy dronk as hy bier drink?
3. Maak hy ten minste R56 000.00 per jaar?
4. Sy moet weet of hy JA of NEE gesê het vir drugs. Ook of hy JA of NEE sê vir los werkies soos huiswerk?

Hoekom het jou Mamma met JOU Pappa getrou? Die beste ene ooit!!!!!
1 . My Ouma sê sy kan dit ook nie verstaan nie, my Ma het seker nie mooi reguit gedink nie.

Wie is die baas in julle huis?
1. Mamma wil nie die baas wees nie, maar sy moet, want sy sê my pa is dom-onnosel.
2. Ma is. Jy kan dit sien as sy na my kamer kom kyk. Sy sien al die goed onder die bed raak.
3. Ek dink my ma is die baas. Maar net omdat sy soveel meer goed het om te doen as my pa.

Wat is die verskil tussen ma's en pa's?
1. Mammas werk by die werk en hulle werk by die huis. Pa gaan werk net by die werk.
2. Mammas weet hoe om met my juffrou te praat sonder om haar bang te maak.
3. Pappa's is groter en sterker, maar Mammas het invloed en gesag, want jy moet haar vra as jy by 'n maatjie wil gaan oorslaap.
4. Mammas het 'n towerstokkie. Hulle kan jou beter laat voel sonder medisyne.

Wat doen jou Mamma in haar vrye tyd?
1. Niks. Want Mammas het nie vrye tyd nie.
2. Jy moet haar hoor! Sy betaal rekeninge die hele dag lank.

Hoe kan mens jou Mamma perfek maak?
1. Aan die binnekant is sy reeds perfek ... Buitekant ... ek dink een of ander soort plastiese operasie.
2. Die kleur van haar hare. Ek dink miskien blou.

As jy iets kon verander aan jou Ma, wat sal dit wees?
1. Sy het hierdie nare ding in haar kop dat ek my kamer moet aan die kant hou. Ek sou daarvan ontslae raak!
2. Ek sou haar slimmer maak, dan sal sy weet dit was my sussie wat dit gedoen het en nie ek nie.
3. Ek sou graag wou hê daardie onsigbare oë agter in haar kop moet uitval.

[Dankie, Anoniem]

Tuesday, 18 April 2023

Dinsdag-denke: Tyd is kosbaar

Hierdie is ‘n pragtige storie wat ons weer daaraan herinner word, hoe belangrik en kosbaar tyd is. Nie net vir werk en die aardse dinge nie, maar ook vir die belangrike mense in jou lewe. Maak nie saak hoe besig jou dag is, of hoe moeg jy is nie, jou gesin verdien ook ‘n deel van jou tyd wat jy die heeldag so aan ander uitdeel. Prediker 3:1-8 sê nie verniet dat daar ‘n tyd vir alles onder die son is nie.Tyd is kosbaar.

Met ‘n sagte stemmetjie en oë wat vol bewondering is, groet die klein seuntjie sy pa wat net van die werk af terug gekom het, “Pappa, hoeveel geld verdien pappa per uur?”

Baie verwonderd gluur die pa sy seun aan, en sê, “Kyk seun, nie eens jou ma weet dit nie. Moet my nie nou verder pla nie. Ek is moeg.”

“Maar Pappa, vertel my tog net asseblief! Hoeveel verdien Pappa per uur,” het die seuntjie aangehou.

Later het die pa maar moed opgegee en antwoord: “Twintig rand per uur.”

“Dankie, Pappa. Kan Pappa asseblief vir my tien rand leen?” vra die seuntjie in ‘n bangerige stemmetjie.

Hoogs verontwaardig en erg geïrriteerd snou sy pa hom toe, “So dis die rede hoekom jy wil weet hoeveel geld ek per uur verdien? Gaan slaap nou en moet my nie verder pla nie!”

Heelwat later die aand, terwyl die pa in die donkerte sit en alles oordink wat hy aan sy seun gesê het, het hy baie skuldig gevoel. Hy het by homself gedink, miskien wil sy seun vir homself iets koop wat hy baie graag wil hê.

Na ‘n wyle, om sy gewete te sus, staan die pa op en gaan na sy seun se kamer. “Slaap jy al my seun?” vra sy pa.

“Nee Pappa. Hoekom?” antwoord die seuntjie ietwat deur die slaap.

“Hier is die geld wat jy vroeër gesoek het, my seun,” antwoord sy pa.

“Baie dankie, Pappa,” juig die seuntjie terwyl hy sy klein handjie onder sy kussing indruk en nog geld onder sy kussing uithaal. “Nou het ek genoeg!! Nou het ek twintig rand!” deel die seuntjie sy pa opgewonde mee.

Sy pa het hom aangestaar, heeltemal verward oor wat sy seun nou gesê het.

“Pappa, kan jy asseblief aan my een uur van jou tyd verkoop?”

Tyd is hopeloos te kosbaar om dit alles aan werk te spandeer! Waardeer jou geliefdes en moet hulle nie sommer net as vanselfsprekend aanvaar nie.

Moet nooit toelaat dat jou kinders of jou vrou of jou man jou moet kom vra om van jou tyd te koop vir hulself nie.

[Nog kosbare stories HIER]

Monday, 17 April 2023

Vandag se internetgebed vir jou

Vroeg in die more soek ek U,
heerlike, heilige God,
lig, ewige glans, skeppende krag,
en dank U vir U dag.

U maak lig in die duisternis,
maak dit ook in my lig
in die vroeë môre van U dag.

U Woord is die Lig.
Praat met my.
U Waarheid is die Lewe,
maak dit lewend in my,
dat ek die dood nie meer vrees nie."

Jorg Zink

Sunday, 16 April 2023

WATERDRUPPEL vir die WEEK = My “in-plaas-daarvan-leefstyl”

Groete en Vrede!!!

So seker soos wat die warmste hemellig in die ooste opstaan en in die weste gaan slaapplek opsoek, so verseker is dit dat die Kalahari mensegoed se dinkdinge en lewens geraak word deur voorwêreld-tendense, gebeurtenisse en gedrag. En as daardie gebeurtenisse en optredes hulle beursies direk beïnvloed, maak die Kalahari mense net soos voorwêreld-mensegoed ... hulle praat daaroor. Gedagtes hieroor sal uitgeruil word. Hulle sal hard en duidelik en natuurlik met emosie hieroor praat. Dit maak nie saak waar hulle op daardie stadium spore los nie, hulle sal nie sommer moordkuile van hulle harte maak nie.
 
Kort voor laaste week moes ek ‘n draai by ons plaaslike koöperasiewinkel maak. Lank voor ek die draai by die huisie op die hoek gevat het, het ek hulle al op die winkel se stoep gehoor. ‘n Behoorlike geroesemoes van klanke wat wyd oor die vlak trek. Hierdie bondel Kalahari mensegoed is diep ontsteld want die emosie in hulle stemme is duidelik op die oor. Asof dit nie genoeg is nie, word daar in duidelike Kalahari taal beskryf wat hulle met hierdie kerkloper, wil doen. Hulle wil hierdie self aangestelde ouderling wat geen ontsag vir God en Sy gebod het nie, stenig.

Vroeg die volgende oggend het ek kort voor sonop tot bo-op ons ses meter hoë watertenk se platform geklim. Ek het teen die groen watertenk gaan sit omrede ek so bietjie in totale stilte alleen wou wees. Gister se stoepgesprek vol dreigemente draai oor en oor in my gemoed. Aanhoudend tot vervelens toe en daarom wou ek net wegkom.

Uit radeloosheid wou ek my lot daardie oggend tot bo-op ons ses meter hoë watertenk se platform by Hom bekla. Terwyl my oë ‘n goddelike skildery bestaande uit ‘n goudkleurige verste sien met ‘n handjievol rooi en pienk wolkies indrink, herinner die Veilige Gees my daaraan dat hierdie barbaarse gedragspatroon nie uniek is nie. Om ander met klippe te gooi is mos blou jare deel van die menslike gedrag. Selfs Jesus as God se Kêrelkind was dan per geleentheid al die teiken daarvan. Johannes beduie dan onomwonde dat Joodse kerkleiers dramaties van Hom verskil het. Gevolglik wou hulle Hom net daar en dan stenig omrede hierdie barbaarse handeling die enigste manier is waarop rampokkers ontslae kan raak van innerlike frustrasies.

Ver in die verte verklaar 'n Kalahari hoenderhaan dat die warmste hemellig sy kop uitgesteek het. Net soos Petrus van ouds, laat sak ek my kop in skaamte want ek – en moontlik jy ook - is skuldig. Ons handjies is lekker los om vinnig en gereeld om klippe na Hom, Sy saak en Sy mense te gooi. Dis nou veral as ons nie met Hom of dit waarvoor Hy staan saamstem nie. Miskien gebruik ons nie regte klippe wanneer ons stenig nie, maar ons gebruik woorde. Ons kritiseer en kraak af en verkleineer en skinder en praat aan want ander aanbid verkeerd, praat verkeerd, doop verkeerd en hulle doen verkeerd. Net soos die skynheilige Joodse kerkleiers stenig ek en jy ander en dan is ons heel verontwaardig, verbaas en diep ontsteld as Hy, Sy saak en Sy kinders uit ons teenwoordigheid padgee.

“Leef eerder volgens My “in-plaas-daarvan-leefstyl. ‘n Leefstyl wat sal voorkom dat jy nie ander met jou woorde stenig nie” fluister die Veilige Gees en verduidelik verder. “Dit is ‘n leefstyl wat behels dat gelowiges eerder hul onvoorwaardelike vergifnis en redding uitleef in plaas daarvan dat hulle hul leliewit lewens oor die vlak uit basuin. ‘n Leefstyl waarin gelowiges erken dat hulle My nodig het om hulle gemors skoon te maak in plaas daarvan om breë bors en bak arm rond te loop oor al hul suksesse.
Daarmee saam, moet gelowiges eerder getuig van My oorvloedige onverdiende genade wat hulle ontvang het in plaas daarvan dat om met ‘n heilige leefstyl te spog. Gelowiges moet ook weet dat Ek as Skepper van hemelgoed en stofaarde mensegoed as waardevol en kosbaar beskou in plaas daarvan dat hulle glo dat hulle perfek is. En laastens moet gelowiges onomwonde verklaar dat hulle swak is en My krag nodig het om te doen wat Ek van hulle vra in plaas daarvan om voor te gee dat hulle so stewig soos ankerpale staan.”

Ef. 4 vers 23 & 24 (Afr 2020) = “Julle moet eerder in die aard van julle denke vernuwe word. Ja, trek die nuwe mens as kleed aan, wat in ware geregtigheid en heiligheid in ooreenstemming met God geskape is.”

Sandkorrel baie seëninge.

Divine Life Bediening (HJ & Dalene Cronjé)
Selnr: 082 772 2192
WhatsApp: 081 568 7549
Klik HIER vir verdere inligting.

[Dankie, Valerie, vir jou gereelde bydraes tot hierdie blog. Indien jy wil en betrokke kan raak by hierdie uitreiking, maak gebruik van die kontakdetail hierbo.]

Saturday, 15 April 2023

Saterdaglagmedisyne: Die groen ding

Met die betaalslag in die supermark, het die arrogante klein japsnoet, wat soos 'n kaketoe in 'n disco lyk, my te vertelle dat ek my eie sakkies moet bring, want om heeltyd sakkies te koop, is heel omgewingsonvriendelik. "Oom moet die Groen Ding doen."

Ek vra toe maar onverskoning en my verweer was dat ons nie eintlik die Groen Ding gedoen het in my jare nie.

Sy sê toe, so onder haar pers kuif uit; "Dis juis ons probleem - julle ouer geslag het nie genoeg omgegee vir die omgewing om dit vir ons nageslag te bewaar nie."

"Ja," sê ek; "In die ou dae het ons melkbottels, koeldrankbottels en bierbottels ingegee by die winkel. Hierdie bottels is na die aanleg teruggestuur, gewas, gesteriliseer en weer gebruik ... hierdie bottels is oor en oor gebruik. So, eintlik is hulle herwin. Ons het geen plastiekbottels gehad nie. Maar jy is reg, ons het nie die groen ding gehad nie.

Ons fish & chips is in koerantpapier toegedraai, so is die koerante tog ook herwin. Ons inkopies is in bruin papiersakke gesit. Behalwe dat ons dit vir huishoudelike afvalsakke gebruik het, het ons ook ons skoolboeke daarmee oorgetrek. Skryfblokke met koerantpapier en handboeke met die bruin sakke. So het ons seker gemaak dat die volgende standerd steeds netjiese handboeke het ... Maar jy is reg, ons het nie die groen ding gehad nie.

Ons het trappe geklim, want ons het nie roltrappe of hysbakke in elke winkelsentrum gehad nie.

Ons het winkel toe geloop en nie elke keer in 'n 300-perdekrag-vuurwa gespring om twee blokke winkel toe te ry nie. Maar jy is reg - ons het nie die groen ding gedoen in my dae nie.

Ons het ons babas se doeke met die hand gewas, want ons het nie weggooibare doeke gehad nie. Ons het ons wasgoed op die draad in die son drooggemaak en nie in 'n energievretende tuimeldroër wat met 240V werk nie. Die son en wind het ons klere drooggemaak.

Kinders het hand-me-down-klere van hul broers en susters gedra. Maar jy is reg, ons het nie die groen ding gedoen nie.

In my dae het ons nie TV gehad nie en miskien het ons een radio per huis gehad. Later het ons net een TV en een radio in die huis gehad. Nie een in elke kamer nie. En die TV se skerm was so groot soos n sakdoek, nie so groot soos Gauteng nie! Ons het viniel langspeelplate geluister en 8-/16mm films gekyk. Die het ons vir 70 jaar gehou en dan is dit van geslag na geslag oorgedra. Dit het nie die hele huis vol gelê soos die CD's en DVD's van vandag wat julle vir next to nothing koop en dan beland dit op die ashope nie.

In die kombuis het ons geroer en gemeng met die hand, want ons het nie die elektriese masjiene gehad wat julle selfs vandag gebruik om n blik oop te maak nie. As ons iets in die pos wou wegstuur wat kon breek, het ons dit met koerantpapier verpak, nie met polistireen en plastiek bubble wrap nie!

Ons het nie die gras gesny deur 'n 140cc-masjien aan die gang te sit met petrol of 'n 1800W elektriese motor nie, ons het 'n meganiese grassnyer gestoot met mensekrag. Ons het geoefen deur hard te werk, fiets te ry en in die aande te stap, so het ons nie nodig gehad om te gym en op treadmills en derglike dinge rond te draf wat elektrisiteit verbruik nie. Maar jy is reg, ons het nie die groen ding gedoen nie.

Ons het met ons hand vanuit 'n fontein gedrink wanneer ons dors is en nie 'n plastiese of  polistireen-bekertjie gebruik of plastiese koeldrankbottels die hele wêreld vol rondgegooi nie.

Ons het ons penne met ink hervul instede daarvan om elke keer 'n nuwe plastiese pen te koop. Ons het lemmetjies in ons skeermesse gebruik wat vervang kon word instede daarvan om die hele plastiese ding elke keer weg te gooi. Maar ons het nie die groen ding gedoen nie.

Ons het trams, treine en busse gehaal en die kinders het fietse skool toe gery instede daarvan om hul ma in 'n  24/7 taxidiens met hul R500 000 sedan te verander. Jy kon 'n hele groot herehuis koop teen daardie prys.

Ons het een elektriese kragprop per vertrek gehad - nie 'n hele rits proppe om 'n dosyn apparate te akkommodeer nie.

Ons het nie 'n gerekenariseerde apparaat nodig gehad om 'n sein te ontvang wat 23000 kilometer vanuit die ruimte gestuur word om ons te vertel waar die naaste Burger King of Pizza Hut is nie.

Maar is dit nie hartseer hoe die huidige generasie ons "ou mense" blameer en as morsjorse uitkryt omdat ons nie die groen ding gehad het nie?

Hierdie is my opinie as 'n "ou mens" en ek hoop die jong groen generasie wat 'n les nodig het in omgewingsbewaring, lees hierdie en deel dit met die ander jongeres wat die groen ding doen. 

Monday, 10 April 2023

Daaglikse noodsaaklike inspirasie


Klik gerus op die verskillende adresse om te deel in die daaglikse inspirasie:

Boodskap vir vandag - Bybelmedia - klik HIER
JOU DAAGLIKSE GRATIS OORDENKING - klik HIER
Algoa-Gemeenskapskerk - waar ons harte vir Jesus klop - klik HIER en HIER
Gedagte vir die dag - Klik HIER
Woord vir vandag - Radio Kansel - klik HIER 

Dankie aan 55000 e-besoekers


Vandag se internetgebed vir jou

God van ons lewe, daar kom dae
wanneer die laste wat ons dra ons skouers skaaf en ons neerdruk;
wanneer die pad vorentoe droewig en eindeloos lyk,
die lug vaal, troosteloos en dreigend;
dae wanneer die lied uit ons lewe verdwyn
en ons hart eensaam is en ons siel moedeloos word.
Laat dan u lig skyn op ons pad,
rig ons oë op na die hemele van belofte;
snaar U ons hart vir die lied;
skenk ons die gemeenskap van die heiliges en helde van die eeue;
en sterk so ons gees om ook ander,
wat die pad saam met ons bewandel,
te onderskraag tot u eer en verheerliking.
Amen

(Outeur Augustinus)

Sunday, 9 April 2023

Inligting: Verstaan demensie beter

Tuisversorging van mense met demensie en selfs Alzheimer-demensie is aan ’t toeneem, volgens die skrywer van ’n nuwe boek oor oudword. 

“Die versorger neem gedurig saam met die geliefde afskeid van vaardighede, omstandighede en drome wat nie meer verwesenlik kan word nie,” skryf dr Petrus Moolman in sy boek Lééf!.

Om demensie beter te verstaan, luister gerig na 'n baie interessante en verykende gesprek met Dr. Petrus Moolman, wat self hierdie pad saam met sy vrou gestap het.

Klik HIER om na die interessante YouTube-gesprek te luister.

Saturday, 8 April 2023

WATERDRUPPEL vir die WEEK = Vader se erdman

Groete en Vrede!!!

Die wintermaande se nagte is gewoonlik langer as die res van die jaar s’n. Maar eergisteraand (alhoewel Desembermaand mos hoogsomer is) het kompleet soos winternag gevoel. Eergisteraand se nag was lank - baie lank en ek het sleg geslaap. Ek is moeg ... diep moeg en my gemoed is erg onstuimig. Alles aan my en alles in my is moeg en dit maak my menswees op. Die werkslas en verantwoordelikhede van ons sendingbediening hier in die vergeetkant van die land, was die afgelope klompie maande net te veel vir my.
 
Lank voor die son agter die kim uit sy bloedbad kruip, sit ek buite op die kuierbankie onder die peperbome langs die Boerekerk se pastorie. Met my oranje koffiebeker in die hand, wag ek vir die dag om te breek - hopelik ‘n dag vol belofte, ‘n dag vol verwagting en ‘n dag vol lewenskrag.
“Ek wag jou by die baken bo-op Ikkie se duin” kom dit sag van die Veilige Gees.
 
Die verlate grondpad krul soos ‘n krullende vaalbruin slang oor die verlate Kalahari-vlak uit. Ek adem warm oggendlug diep in wat by die Genadewa se venster inwaai. Rustig wieg die ou strydros oor die tweespoorpaadjie net om staning te maak aan die voet van die breë-rug sandduin waarop die baken baie jare gelede staan gemaak is. Stadig klim ek uit en stap maar rus-rus tot bo-op Ikkie se duin waar die baken is.
 
Die Kalahari se stilte is amper heilig en ek gaan sit aan die skadukant van die baken se voetstuk. Terselfdertyd versluier groot gryserige wolke die son. “Ek is hier, Here, ek is uiteindelik hier,” sê ek saggies nadat ek my in die losserige louwarm sand ingewurm het: “Hier waar U vir my wag.” Dit was die laaste beeld wat ek gesien het alvorens ek my oë styf toegemaak het.
 
Met hierdie amperse heilige en goddelike stilte rondom my, forseer ek myself om stadig en diep asem te haal. Dit skep geleentheid om die aroma van die Kalahari tot diep in jou longe te kan proe. Tot daar waar dit saak maak. Die spesifieke laatoggend se stofreuk was iets besonders. Iets wat ek nog nie van tevore geruik het nie - 'n eiesoortige aroma deurdrenk met ‘n sagte ondertoon van belofte en lewe. “Ek is ook hier,” kom dit sag van die Veilige Gees net voordat ek ‘n ritseling hoor in die kol boesmangras wat al te welig so effens skuins voor my groei.
 
Ek het die erdman nie raak gesien nie. Hy smelt so goed saam met die takkies van die droë boesmangras dat hy amper onsigbaar is. Hierdie waaierstert meerkat sit penorent en hou my met sy donkerswart kraalogies fyn dop. Met sy snorbaardjie wat op en af vibreer en voorpootjies styf teen mekaar, lyk dit kompleet asof hy bid. Vol bravade skuif hy voetjie vir voetjie nader. Al nader en nader sonder om die beskutting van die welige kol boesmangras te verlaat.
 
'n Begeerte wel in my op om met hierdie erdman te praat. Ek móét hom vertel van die onstuimigheid in my gemoed. Daar is net heel te veel opgekropte woorde en diep gestoorde gedagtes wat moet uit. En ek wil hom vertel dat ek moeg is – tot in my murg moeg is. Met ‘n gestotter en gehakkel begin ek saggies praat. Soos net Vader se erdman kan, draai hy eers sy koppie skeef na links en toe na regs. Al asof hy my persoonlike sielefluisteraar is, luister hy aandagtig en belangstellend.
 
Woorde en emosies vloei lateraan soos ‘n rivier in vloed oor my lippe en wange. Ek lag en huil en praat deurmekaar. Dit voel asof ek nooit gaan ophou nie want ek hou net aan en aan en aan. Nodeloos om te sê, drink Vader se erdman elke woord en elke emosie dorstig in. ‘n Rukkie later en die storm in my gemoed is uitgewoed en ek is leeg – dolleeg. Uitgeput maak ek my oë toe en verdwaal in die heilige stilte rondom die baken bo-op Ikkie se duin.
 
‘n Diepe slaap omvou my terwyl die Skepper van hemelgoed en stofaarde my leë en dorre hart drupsgewys vul en verkwik. Eers vul hy my met druppels van belofte, daarna hoop en heel laaste met druppels van moed. Heelwat later maak ek my oë oop en alles lyk skielik anders. Opeens is die lug blouer, die sand rooier en die welige bos boesmangras wat effens skuins voor my groei, is groener.
En amper onsigbaar vir my oog, verklap klein erdmanspoortjies in ‘n welige bos boesmangras dat Hy steeds troos en help en versterk en ondersteun en dat Hy steeds in beheer is.
 
Jes. 41 vers 10 (Afr 20) = “Moenie bang wees nie, want Ek is by jou; moenie vrees nie, want Ek is jou God. Ek versterk jou; ook help Ek en ondersteun jou met my seëvierende regterhand.”

Sandkorrel baie seëninge. 

Divine Life Bediening (HJ & Dalene Cronjé)
Selnr: 082 772 2192
WhatsApp: 081 568 7549
Klik HIER vir verdere inligting.  

[Dankie, Valerie, vir jou gereelde bydraes tot hierdie blog. Ons waardeer dit. Indien jy kan en betrokke wil raak by hierdie uitreiking, maak gebruik van die kontakdetail hierbo.]

Friday, 7 April 2023

Geseënde Paaswense vir die inwoners



Vir die jongeres: Lees HIER

Die Paasfeespreek 2017: Lees HIER (Die boodskap bly mos dieselfde.)

Thursday, 6 April 2023

Daar is 'n verskil tussen ouer word en oud wees

Mense erken maklik dat hulle ouer wórd, maar min sê: "Ek is nou oud." 

Wel, ek wórd ook nou ouer. Gesondheidgewys kan ek nie kla nie - al my parte en onderdele is nog die oorspronklikes waarmee ek gebore is. Tot nou toe het niks van my masjinerie ge-"seize" nie, selfs my mangels is nog in plek! Maar, ek kan hoor van my parte kort ghries ... ek hoor 'n paar klapgeluide as ek soggens aan die beweeg kom. My vonkproppe vonk ook nie meer lekker nie - daarvoor sukkel ek te veel om in die oggend uit die bed te kom.

Ek sweer my bene groei nog, want dit word vir my al moeiliker om my voete by te kom, om my toonnaels te knip ... Ek trek deesdae my bene so om die beurt op tot teen my bors om die naels te kan knip, maar dis vrek ongemaklik. Ek raak sommer kortasem! Ek strek deesdae vroegoggend om my beweeglikheid te behou, en ek dink regtig dit werk, maar die geluide wat ek maak, kan as klankbaan vir "Jurassic Park" gebruik word. 

As iemand my skelm moes dophou, sal hulle seker dink ek drink vreeslik! Ek sukkel mos so met die duiseligheid as ek vinnig opstaan. Ek mik vir die kombuisdeur, maar loop 'n hengse draai deur die sitkamer om daar uit te kom. Ek maak nou maar 'n speletjie daarvan, deur te kyk watter vuil skottelgoed ek op dié manier bymekaar kan maak, voor ek met my hande op my knieë moet gaan staan. 

Ouer mense het snaakse gewoontes - let wel, ek sê: "Ouer mense", want niemand is klaar oud nie. Ek het hulle seker ook! My seun sal sekerlik daarvan kan getuig, maar ek is nie van veel bewus nie. Ek praat met myself, dit weet ek. Ek praat ook met my plantjies, en met die lemoenduifie wat ek elke dag voer. Verder het ek nogal sekere roetines wat ek slaafs volg, veral my vroegoggendroetine is ingeprent in my skedule. En ja, ek sê elke aand vir Elvis nag, daar waar 'n baie mooi skildery van hom, halfpad op met ons trappe, hang ...

So, daar het julle dit. Daar is lankal nie meer 'n huppel in my stap nie, maar daar is 'n irriterende 'getjierie' in my kierie ... 

[Dankie,  Valerie, vir hierdie tong-in-die-kies-bydrae!]

Tuesday, 4 April 2023

Dinsdag-denke: Ek is nie kwaad nie

Na die laaste wêreldoorlog het ‘n prediker in die stilte van sy kerk gesit en met God gepraat.

Dit was doodstil en skielik het die agterdeure oopgegaan en ‘n ouerige man het ingestap met ‘n dogtertjie van so twee jaar op sy arm. Toe hy by die voorste banke van die kerk kom, het hy haar op die grond neergesit. Die predikant het toe agtergekom dat die dogtertjie verlam was.

Die prediker het doodstil bly sit en gesien hoe die man voor die kansel neerkniel en saggies bid. Na ‘n paar minute het die man opgestaan, die dun gewaste kombersie weer om die dogtertjie gedraai en gereed gemaak om weer uit te stap.

Die prediker het nader gestap en die man met die hand gegroet en homself voorgestel. Dit was baie opvallend hoe skoon die ou man en die klein dogtertjie se klere was, al was dit verwaarloos en vol gate gewees.

Hy vra toe die ouer man of dit sy kleindogter is. “Ja,” sê die ou man. “Sy is gewond in dieselfde bomaanval wat haar moeder en vader se lewens geeïs het. Sy is verlam en bly nou by my. My vrou het ‘n hartaanval gekry na die nuus van ons seun en skoondogter se dood en sy het ook gesterf.”

Met trane wat by sy wange afloop het hy die tingerige lyfie teen hom vasgedruk en vir die prediker gesê dat sy al is wat hy nog oor het van sy hele gesin.

Die prediker het aan die knop in sy keel gesluk en toe vir die ou man gevra wat hy vanoggend hier in die kerk kom doen het. Die ou man antwoord met ‘n sagte bewerige stem ... "Ek het net vir die Here kom sê ek is nie kwaad vir Hom nie, en dat ek Hom nog steeds baie liefhet."

Buite het hy die dogtertjie in ‘n stukkende waentjie gelaai en mank-mank die straat af gestap.

Ten spyte van sy haglike omstandighede ...

Ten spyte van sy ooglopende armoede ...

Ten spyte van sy hartseer en pyn oor al die geliefdes wat gesterf het ...

Ten spyte van die gesukkel om ‘n dogtertjie wat verlam is, te versorg ...

Wou hy net vir die Here sê hy is nie kwaad oor sy omstandighede nie ...

En wou hy hê die Here moet weet hy het Hom nog baie lief ...

[Nog stories HIER]

Monday, 3 April 2023

As die Kruis kon praat ...

Dis amper Paasfees, Here.  Oral in die winkels kuier die Paashase rond, en om die draai waai die Paasnaweek vrolik, met soveel beloftes van rus en saamkuier met mekaar. Iewers mis ons dit, né Here?  Iewers het ons die kruis in blink goue papiertjies begin toedraai, met ogies en ‘n glimlag, en dit gaan wegsteek tussen al die sjokoladehase op die winkel se rak. 

Ek wil nie deel wees van so ‘n Paasfees nie, Here.  Ek kan nie.  Ek kan nie vir Jesus in blink papier toedraai en omdraai asof dit my nie raak nie.

Ek wil vanaand stil-versigtig voor U kruis kom staan ... As die kruis kon praat, Here, sou dit sag vir my gesê het dat U my teruggetel het in die Veiligheid van U liefde. Daardie liefde waarin ek geborge is.  Daardie liefde waar ek onvoorwaardelik aanvaar word. Daardie liefde wat my vashou en liefhet, soos net ‘n Pa vir Sy kind kan lief wees.  

As die kruis kon praat, Here, sou dit my vertel het van daardie verskriklike oomblik toe Jesus uitgeroep het: “My God, My God ... waarom het U my verlaat?”  My God ... nie ‘My Vader’ nie.  My God.  Want vir daardie oomblik het U weggekyk van Jesus, afgebuk en my weer in U liefde teruggetel. Vir daardie oomblik het U vir Jesus uit die veiligheid van U liefde gestoot.
  
As die kruis kon praat, sou dit my vertel van Jesus se verlate-wees, se uitgestoot-wees, se alleen-wees.  Dit sou my vertel van Jesus se vrees om uit die kring van God se liefde te beweeg.  Dit sou my vertel van Sy angs, daardie oomblik toe Hy nie meer deel was van God se liefde nie.  

As die kruis kon praat, Here, sou dit my vertel van Jesus se liefde vir my. ‘n Liefde wat eenkant gaan staan het, alleen en sonder die Vader. ‘n Liefde wat my raakgesien het, en my alleen en bang en skuld op Sy skouers getel het, en dit buite die kring van die Vader se liefde gaan neersit het.  

As die kruis kon praat, Here, sou dit my vertel van ‘n liefdevolle Vader wat my versigtig optel en my stil binne die geborgenheid van Sy volmaakte liefde gaan neersit. 

As dit nie vir die kruis was nie, Here, het ek nou nog alleen en bang buite die Kring van U liefde rondgedwaal. Doelloos. En sonder Hoop.

As die kruis kon praat, Here, sou dit stil vir my vertel het dat ek nie moedeloos hoef te wees nie.  Dit sou my herinner het dat ek op pad Huis toe is, na my Vader wat vir my so onbegryplik lief is. Dit sou my herinner daaraan dat ek geborge is binne God se liefde. Dat niks my daar kan seermaak of bangmaak of hartseer maak nie. Dit sou my herinner aan die Vader wat my elke oomblik van die dag styf teen Hom vashou. As die kruis kon praat, sou dit my opgewonde vertel van eendag se Eendag wanneer ek by die Huis gaan kom. 

As die kruis kon praat, Here, sou dit ‘n Sirkel om my trek en my herinner dat Jesus buite God se liefde moes bly, sodat God my weer binne Sy Sirkel kon tel. Sodat ek kan deel wees van ‘n Goddelike gesin, waar ek altyd welkom is, waar ek mag hoort by ‘n Vader wat vir my so baie  lief is.

Dankie vir die kruis, Here.  Wanneer ek vanaand stil my vingers oor die skerwe-hout laat gly, sê ek dankie dat daardie kruis vir my kom sê dat God se arms nooit ooit vir my sal toegaan nie. Maar dat dit sag om my vou en Paasfees vir my kom sê: “Jy is Myne. Ek het jou duur gekoop. Ek het jou lief met ‘n liefde wat weggekyk het van My eie Seun, sodat ek jou weer binne die geborgenheid van My liefde kan tel.”

Dankie, Here. Die verlatenheid wat Jesus daar aan die kruis gevoel het, die seer en die stukkend en die uitgestoot wees, kan nie toegedraai word in blink papier nie.  Dit kan nooit mooi gemaak word met paashase en sjokolade nie.  

Dis amper Paasfees, Here.  Ek wil stil voor die kruis kom kniel, en dankie sê.  Dankie dat Jesus my teruggetel het in die geborgenheid van my Hemelse Vader se liefde. In hierdie liefde is ek veilig. Vir altyd. 

Amen.

(Katrienkie@2023) 

[Dankie, Rosetta Venter, dat jy hierdie gebed met die lesers gedeel het.] 

Vandag se internetgebed vir jou: ‘n Goeie Vrydag Gebed

Jesus, my hart is seer dat die marteling en hartseer
wat U aan die kruis moes verduur,
nodig was om die mensdom te red.
U wou nie hê dat ons slawe van vrees, angs of sonde moes wees nie -
daarom het U Uself opgeoffer sodat die liefde kon oorwin.

Dis liefde wat aan die kruis gehang het
en alles prysgegee het om ons te red.
“Dit is volbring” was ‘n oorwinningskreet,
want U het alles verslaan wat ons in ballingskap gehou het.

Te danke U opoffering,
kan ek vir altyd ‘n hegte verhouding met U ervaar.
Dankie!
Wys my hoe om u liefde vandag en elke dag bekend te maak.
Gebruik my om die wêreld te bereik
vir wie U gesterf het sodat ons verlos kan word.

Amen