Sunday 27 March 2022

WATERDRUPPEL vir die WEEK = Oorlewingswaarhede

Liewe Leser

Hierdie is 'n klein gedeeltetjie om te lees, aan te herkou, weer te lees, te oordink en die waarheid agter elke woord te ontdek! Besoek gerus die FB van hierdie gelowige woordkunstenaar.

Besoek Divine Life Bediening HIER

ooOOOoo

Groete en Vrede!!!

Somertyd hier in die vergeetkant van die land is waar die lang, warm sonskynure en kort sweterige nagte beskrywend van 'n tipiese dag is. Dis ook die enigste tyd wanneer die warmste hemellig van meet af aan alles wat leef en beef sonder ophou uitdaag. Heel vergete sal 'n paar maande gelede se ylerig wintersonnetjie en bibberende suidewindjie wees.

Somertyd in die Kalahari skep ook geleenthede om knus toegewikkel te wees in 'n atmosfeer van warmte en snoesigheid. 'n Atmosfeer waar ons as mensegoed kan wegraak in Sy warmte en Sy snoesigheid. Daar waar stilte en afhanklikheid nuwe betekenis kry. En sodra jy met die Skepper se onverklaarbare warm vrede toegevou word en jy jou afhanklikheid in stilte aan Hom kan verklaar, deel Hy graag kosbare oorlewingswaarhede en kleinnodes.

Waarhede en kleinnodes soos:

  • Mensegoed se harte is nes Kalahari-blomme - hulle verdor in 'n storm van veroordeling maar blom in die sagtheid van jou genade.
  • 'n Woestynlewe vereis dat jou integriteit altyd duideliker moet wees as jou buitekant beeld.
  • Met 'n binneste-binne vol vertroue en 'n hart vol geloof, sal alle sandpaaie na Soetwaterfontein lei - Sy Soetwaterfontein wat nooit opdroog nie.
  • Waarheid wat uit 'n opregte hart vol liefde stroom, proe soos soet reënwater uit 'n tenk.
  • Om goed te doen is altyd beter as om reg te wees.
  • Al is dit hoe edel om die seer in jou binneste-binne te ignoreer, sal jou beste probeer nooit die seer kan wegvat of verander nie.
  • Dit is slegs My liefde wat die son in jou gebroke hart laat opkom ... nie tyd nie.
  • Die eerste lesse om te leer in 'n alleenwees woestynlewe is die waarde van 'n hart wat verstaan en 'n hand om vas te hou.
  • Onder elke mens se harde en ongenaakbare droë woestynbeeld, skuil daar iemand wat na opregte waardering en ware liefde smag.
  • Mag daardie dwarsduin voor jou oë nooit die horison wat Ek vir jou getrek het buite sig plaas nie.
  • Elke mensegoed wat vensters van jou hart raaksien, verdien om met 'n opregte glimlag gegroet te word ... al verswelg menigte stofstorms jou.
  • Jou woestynlewe mag moeilik wees, maar saam met My is jy sterker.
  • Al wat Hy van jou vra is om jou winter aan Sy son te hang.

Nou ja, los tog maar asseblief mooi spore in ander se harte en onthou ... in Sy koeltewind vind dit wat jy soek en kry jy dit waarvoor jy vra.

Sandkorrel baie seëninge

[Dankie, Valeri Killian, dat jy ons lesers aan Divine Life Bediening bekend gestel het. Ek glo baie is nou gereelde besoekers en lesers van die WATERDRUPPEL vir die WEEK]

No comments:

Post a Comment