Wednesday 23 December 2020

Liewe Vader Krismis

Ek is bitter jammer my versoekie kom so laat.
Ek hoop nie dit skep vir jou groot logistieke probleme nie.
Ek was so besig om die naderende feestyd te probeer ignoreer, dat ek nie eerder daarby uitgekom het nie.
Op my lysie is net ‘n paar dingetjies.
Jy behoort geen moeite te ondervind om dit op die laaste nippertjie vir my bymekaar te skraap nie.
1.   Tevredenheid met wat ek het en is.
2.   Verdraagsaamheid teenoor diegene wat anders as ek is.
3.   Geduld met diegene wat stadiger as ek is.
4.   Energie om te doen wat ek moet doen.
5.   Die wysheid om af te skaal wanneer die energie ontbreek.
6.   Die vermoë om my geliefdes te aanvaar presies soos hulle is.
7.   ‘n Groot sak vol optimisme. Verbete optimisme, teen die realiteit in, as dit nodig is.
8.   ‘n Blywende geloof in die liefde in al sy vorme.
9.   Die gawe om nooit op te hou lag (en nonsens praat) nie.
10. En les bes: Die vermoë om op te hou eet solank dit nog lekker is.

Daarby dankbaarheid omdat ek in die posisie is om Nommer 10 nodig te hê. Terwyl jy nou besig is, sal ek dit waardeer as jy sommer hierdie paar dingetjies vir almal wat hier lees, ook sal aflaai!

No comments:

Post a Comment