(Ek deel graag 'n klein stukkie van die onderhoud wat Esmé Brink met Tannie Rina Lloyd gevoer het. Sy is 'n inwoner van Huis Aristea in Durbanville). Gaan lees gerus die volledige onderhoud hier.
Ek waag om te vra wat die minder lekker deel van oud word
is. “Mens verswak, en jy voel jy bly agter, want almal rondom jou gaan dood.
Dis dan wanneer jy besef jou wêreld raak al hoe kleiner, want daar is nie meer
iemand oor wat jy goed ken, vir wie jy iets kan vertel nie. Daarom moet jy
besef, al is jy oud is jy nie sinneloos nie”. Vir haar is dit belangrik om
betrokke te bly by kerklike aktiwiteite en sosiale aangeleenthede. “Mense moet
nie alle ouer mense oor dieselfde kam skeer nie, ons sit nie net en wag vir die
dood nie”.
Toe ek haar vra hoe die gemeenskap kan betrokke raak by ouer
mense in tehuise is die versoek eenvoudig. “Gee ons weer onafhanklikheid. Hier
is mense wat niemand het nie, niemand wat hulle kan dokter, apteek of
biblioteek toe neem nie. Of bring vir ons boeke om te lees. Ai, ek geniet die
kleintjies so as hulle kom kuier en staan verstom oor hul woordeskat en wat
hulle alles weet”.
Sy bly ‘n oomblik stil.
“Maar weet jy, ek weet hoe besig die lewens van almal in die stad is en
alles kos geld, mens kan nie van mense verwag om alles te los om jou te kom
help nie”.
Ek moet groet, en sy staan op om saam met my te stap na die
voorportaal. “Al wat ons vra is waardigheid en respek. Kom kuier vir my dan wys
jy my hoe lyk jou kinders”.
Dit val my by hoe hierdie mense ten spyte van armoede in hulle kinderdae, ’n
toestand wat hulle tot vandag nog bybly, in staat was om deur middel van harde
werk beroepe te kon bekleë en kinders te kon grootmaak wat almal vandag
suksesvol is.
Hoe baie het ons juis nie te leer uit hulle voorbeeld nie?
No comments:
Post a Comment