Thursday, 31 July 2025

Ouma se wenke: Tandepasta doen meer as net om jou mond skoon te maak - deel 2

* Verwyder kryt van die mure: As jou kinders op die mure in die huis begin teken het, druk slegs ’n bietjie tandepasta op die muur uit en begin skrop. Spoel af wanneer jy klaar is. Die matige skuurmiddel in tandepasta sal die kryt verwyder.

* Net die ding vir ink of lipstiffie: Moenie jou opstres as ’n pen se ink in jou hemp uitgeloop het nie. Probeer dit verwyder deur gewone tandepasta aan die inkvlek te smeer en dit goed in te vryf. Spoel af met water. Herhaal die proses totdat al die ink verwyder is. Dieselfde proses werk vir lipstiffievlekke.

* Maak jou strykyster skoon: Die matige skuurmiddel in gewone tandepasta is net die ding om die aanpaksel op jou strykyster mee af te haal. Wend die tandepasta aan die strykyster wanneer dit koud is; vee af met ’n lap en spoel die tandepasta hierna af.

* Dit kan ook wondere verrig met wit vlekke op houtmeubels. Smeer eenvoudig net ’n bietjie tandepasta (nie die gelsoort nie) met ’n sagte lappie aan die vlek. Vee dit dan af met ’n klam lap en laat dit droog word voordat jy meubelpolitoer aanwend. Vir ’n selfs sterker skoonmaakmengsel, meng gelyke hoeveelhede tandepasta en koeksoda en smeer die pasta parallel met die houtvlam. Vee dit af en politoer dan met lemoenolie.

Wednesday, 30 July 2025

Hartsake oor 'n koppie tee: Oordeel

Mense sê soms hulle is bly die Here oordeel nie die uiterlike nie, maar wat in die hart aangaan.
Dit is die meeste van die tyd 'n erger maatstaf.
Hy sien wat niemand anders sien nie en toets wat in jou gedagtes en emosies aangaan.
Daardie rou, rowwe jy wat nêrens kan wegkruip nie. 
Die mens wat tantrums gooi; 
wat in sy hart moord pleeg, 
wat oordeel, 
wat haat, 
wat vloek 
en skree
wanneer geen mens in die omtrek is nie.
Soms is die uiterlike mooier
en meer aanneemlik
met al sy valsheid
as die waarheid
wat in jou hart heers.

Monday, 28 July 2025

Vandag se internetgebed vir jou: Bewaar my kinders en kleinkinders

Here, vandag bring ek al my kinders, kleinkinders, skoonkinders en agterkleinkinders na U toe. Hulle moet hul weg baan in 'n ongemaklike samelewing. Hulle moet besluite neem, verantwoordelikheid aanvaar vir hul onderskeie dagtake en die aanslae van 'n wrede wêreld die hoof bied.

Here, vir elke besluit wat hulle moet neem, herinner hulle dan asseblief daaraan dat dit so maklik is om die regte besluit te neem as hulle net vinnig oogkontak met U maak en vra wat U sou sê.

Bewaar hulle asseblief teen die aanslae van die bose, Heer. Alles rondom hulle is so aanloklik. Hulle sal u krag in alles só nodig hê, Heer, en ek kom vra, bou U vir hulle 'n weerstand op teen die versoekings rondom hulle.

Heer, wat 'n wonderlike voorreg dat ek hulle aan U kan oorgee. Leer hulle dat "snoei" 'n pynlike proses is, maar dat U die salf aan die seerplekke smeer.

Ons Vader, ek kom vra dit alles vir U in Jesus se naam. Laat U wil nogtans in alles vir hulle geskied, Heer.

Heer, wanneer ek die dag nie meer vir hulle kan bid nie, hou dan asseblief hierdie gebed van my vir hulle vir ‘keeps’!

Amen

Sunday, 27 July 2025

Gedig: Ek is nog by julle ...

Aan almal wat my liefhet,
Ek weet dat julle my liefhet 
Ek het julle ook lief
Julle mag my miskien nie meer sien nie,
maar ek lewe nog, in julle harte
in julle gedagtes en in julle laggies.
So moet asseblief nie ophou
saam met my lag nie.
Ek wil hê julle moet gelukkig wees.
Moenie ophou aan my dink nie,
want ek dink aan julle.
Ek wil hê julle moet weet, ek is gelukkig.
Ek het geen pyn en geen trane nie,
waar ek is, is net vrede.
Eendag sal ons weer ontmoet,
tot dan, weet net, ek is met julle, in julle harte. 

Saturday, 26 July 2025

Saterdaglagmedisyne - dit laat 'n mens dink


* 'n Leser het 'n klein koffiebeker in Windhoek gekoop. Daar was 'n groot verskeidenheid bekers om van te kies, maar die volgende uitdrukkings het my bygebly. 

# Elke outjie maak 'n foutjie.
# Wat nie doodmaak nie, maak vet.
# Om van ou dinge ontslae te raak ... verf hulle nuut.
# Ek is so ontsteld, 'n slang kan my vang.

* "Seun, ek en jou ma is nie baie tevrede met die meisie wat jy het nie."
"Jammer, Pa. Dis die enigste meisie wat ek kon kry met die motor wat Pa ry."

Friday, 25 July 2025

Wie is ek?

Ná Aftrede: Wanneer die speletjie verby is ...

Ek het onlangs 'n stuk gelees wat my diep getref het - en ek wil dit graag met julle deel. Dit laat mens besin oor wat oorbly wanneer ons titels, rolle en statusse vervaag. Ekself het my loopbaan in die motorbedryf met trots en passie uitgeleef. Daar was hoogtepunte, prestasies en baie ure van harde werk. Maar nou, ná aftrede, vra ek myself af: Wat beteken dit alles vandag? Wie is ek nou?

Die storie wat tot my gespreek het:

’n Senior uitvoerende bestuurder het afgetree en uit sy luukse amptelike woning na 'n gewone woonstel verhuis. In sy nuwe omgewing het hy homself steeds as belangrik gesien en hom van ander gedistansieer. Tot op 'n dag toe 'n ander ouer man met hom begin gesels het. Hierdie nuwe vriend het geduldig geluister terwyl die afgetrede bestuurder herhaaldelik vertel het van sy belangrike posisie en hoë status.

Eendag sê die ander man sagkens: “Na aftrede is ons almal soos gebruikte gloeilampe. Dit maak nie saak watter watt jy was, hoe helder jy geskyn het, of watter tipe lamp jy was nie - LED, halogeen, fluoresserend - as jy klaar is, is jy klaar. Nou is ons almal net gloeilampe wat nie meer brand nie.”

Hy het verder gesê: “Daardie man oorkant was ‘n majoor-generaal in die weermag. Daar sit ‘n professor. Ekself was vir twee termyne ‘n parlementslid. Maar niemand praat daaroor nie, want ons weet: wie ons was, is nie meer wie ons is nie. Wat nou saak maak, is wie jy is in die nou.”

Daardie eenvoudige gesprek bevat ’n waarheid:
👉 Ons waarde lê nie in die titels wat ons dra of die poste wat ons beklee het nie.
👉 Ons moet leer om innerlike vrede te vind, om eenvoudig net mens te wees.
👉 Ons moet ophou bestaan en begin leef - met vreugde, met nederigheid, en met omgee vir ander.

'n Bybelvers wat my daaraan herinner, is Prediker 3:1–2:
    “Vir alles is daar 'n bepaalde tyd, 'n tyd vir elke saak onder die hemel: 'n tyd om gebore te word en 'n tyd om te sterwe; 'n tyd om te plant en 'n tyd om uit te trek wat geplant is …”
En ook Miga 6:8:
    “Hy het jou bekend gemaak, o mens, wat goed is: en wat vra die Here van jou anders as om reg te doen, liefde en trou te bewys, en nederig saam met jou God te wandel?”

Laaste gedagtes vir my medereisigers in Die Lewe:
    ☀️Wanneer jy die son sien opkom, onthou dat beide die opkomende en ondergaande son mooi is - maar net een word geprys.
   🙌 Wanneer jy na die maan kyk, sien jy God se skoonheid.
    🙌Wanneer jy in die spieël kyk, sien jy Sy beste skepping: JY.

Ons is almal pelgrims op reis - God is ons Reisagent. Hy het reeds ons roetes en bestemmings bepaal. Vertrou Hom en leef voluit.

Moenie vergeet nie:
👉 Besoek ‘n hospitaal - en jy sal besef niks is mooier as gesondheid nie.
👉 Gaan na ‘n tronk - en jy sal leer hoe kosbaar vryheid is.
👉 Besoek ‘n begraafplaas - en jy sal verstaan hoe tydelik die lewe is.

Laat ons leef met die vrees van God en respek vir mekaar.
Laat ons gee, selfs al is dit klein.
Laat ons onthou: Na die speletjie keer die koning en die pion terug na dieselfde kis.
Mag ons die lewe waardeer, saam lag, en vir mekaar sorg - met nederigheid en dankbaarheid.

[Aangestuur deur Babsie Swanepoel]

Thursday, 24 July 2025

Ouma se wenke: Tandepasta doen meer as net om jou mond skoon te maak - deel 1

As jy gedink het tandepasta is net daar om jou tande mooi wit en jou asem vars te hou, dink weer. Want tandepasta het vele ander nuttige gebruike, soos die volgende:

* Maak jou tekkies skoon: As jy die wit, rubberdeel van jou tekkies wil skoon en wit kry, trek gewone tandepasta (nié die geltipe) en ’n ou tandeborsel nader. Nadat jy die sole goed geskrop het, vee die tandepasta met ’n klam lap af.

* Maak bababottels skoon: Bababottels sal die een of ander tyd ’n suurmelkreuk optel. Tandepasta sal dit egter in ’n japtrap verwyder. Smeer slegs ’n bietjie tandepasta aan die bababottel en skrop dit. Spoel goed af.

* Die badkamerwasbak: Gewone tandepasta werk netso goed soos enige ander skoonmaakmiddel om die badkamerwasbak skoon te maak. Die tandepastabuisie is net daar, so jy kan netsowel ’n bietjie uitdruk, dit met ’n spons skrop en die wasbak uitspoel. Die bonus is natuurlik dat die tandepasta enige reuke wegvat.

Wednesday, 23 July 2025

Hartsake oor 'n koppie tee: Moenie oordeel nie

Moet my NIE oordeel
op die HOOFSTUK van my lewe 
waarop jy instap 
en my beter leer ken nie.
Hierdie is nie wie ek is nie,
want Jesus is nog nie
klaar met my NIE. 

Monday, 21 July 2025

Vandag se internetgebed vir jou: Bring vertroosting

Dankie onse Vader, dat U met my weë van wetteloosheid gehandel het en aan my vertroosting gebring het. U het my siel rustig gemaak en my skoongewas. Ek is U ewig dankbaar en kom nader na U, om u guns te ontvang wat ek nie verdien nie. U verryk my grootliks; U stroom o God, is vol water. U seën my, u uitspruitsel wat U natgemaak het. Amen.

Sunday, 20 July 2025

Die Julie-engele met 'n soetaktiwiteit


Die engele was Saterdag gewapen met versiersuiker en allerhande soetighede sodat die inwoners hul kolwyntjies na hartelus kon versier. Daarna is die tee nadergetrek en al geselsende is die kunstig versierde kolwyntjies aan die tong-tippie-toets onderwerp. 

Dankie, Ons Huis-engele, vir 'n lekker kuier rondom die teetafel, die heerlike geselsies en die liefde wat ons van julle ontvang. Ons waardeer julle uit ons hart en sien uit na 'n volgende kuier!  

Foto's: Millie Mouton

Oomblik van stilte: Deut. 32:3b-4

Gee grootheid aan ons God!
Die Rots ... volkome is sy werk; want al sy weë is strafgerigte; 'n God van trou en sonder onreg; regverdig is Hy.

King James 
Ascribe ye greatness unto our God.
He is the Rock, His Work is perfect: for all His Ways are judgement (or just): a God of Truth (faithfulness) and without iniquity (injustice), Just and Right is He (Righteous and Upright is He)

Die grote God, die Almagtige word hier deur Moses besing in sy lied. 5 keer word die woord Rots in hierdie lied van Moses genoem, om God te besing en te verheerlik. 
Begin ook om God te verheerlik vandag; besing God in sy almag en getrouheid, reg en geregtigheid.
Wees bly in die Here jou Rots, waarop jou voete nie sal wankel nie.

O Here, hoe groot is u Naam! Reg en geregtigheid is wie U is! U bly getrou en ek besing U gootheid en Almag, die een op wi ek vertrou. Ek gee al die grootheid aan U. U werke is perfek, u Woord het dit gespreek. Amen.

Saturday, 19 July 2025

Saterdaglagmedisyne - allerlei waarhede


* Watter soort groente is 'n moet in enige dieet?
Wortelkoek, mieliebrood en pampoentert.

* Hoe langer jy leef, hoe gouer gaan jy dood ...

* Iemand vra in die supermark vir my of ek dan nooit 'n koerant koop nie. Toe sê ek op die ingewing van die oomblik: "Nee, ek lees nie móre se ou nuus nie."

* Gister gehoor op RSG-boekvoorlesing met verwysing na polisievoertuie op 'n misdaadtoneel. "Dit lyk soos 'n kersboom op Ritalin"

Friday, 18 July 2025

Klassieke storie: Tong in die kies

Wouter Botes vertel: "Tant Sann de Lange (die aktrise) was verlangs familie en baie goeie vriende met my ouma Susan. My ouma het met beeste geboer naby Ellisras en Tant Sann het klokslag elke jaar vir twee weke by my ouma gaan kuier op die plaas. 

My ouma was 'n dame, maar tog 'n geharde boervrou, terwyl tant Sann uit Mellville meer die filmdiva was. Die kombinasie was soms skreeusnaaks. My ouma het altyd pofadders se koppe met 'n byltjie afgekap, wat in die pad gelê het. Sy het gesê hulle pik haar melkkoeie op die bene, dan lei sy baie skade. Tant Sann was een keer by toe dit gebeur en sy was so geskok dat sy nie uit die bakkie wou klim by die huis nie. Dit het baie oortuiging gekos om haar weer tot in die plaashuis te kry. Sy het vir die res van die vakansie meestal die plaas deur die huis se vensters bekyk. Die jaar daarna het sy met 'n blikkie Doom in haar handsak kom kuier."

[Dankie, Anoniem, vir die aanstuur van hierdie juweel.]

Thursday, 17 July 2025

Ouma se wenke: Wit kolle op hout kan verwyder word

* Huisvroue ken daardie “ag nee”-gevoel wanneer ’n gas of man of kind ’n glas water of koeldrank of ’n koppie koffie op jou houtkoffietafel neergesit het. Jy weet onmiddellik wat gaan volg – daardie onooglike, ronde, wit vlek wat jy net nie kan miskyk nie, al probeer jy.

Die volgende wenk kan dalk jou help om daarvan ontslae te raak:

* Koeksoda
Maak ’n pasta met een eetlepel koeksoda en een teelepel water. Vryf dit sagkens op die vlek in sirkelbewegings totdat die vlek verdwyn. Onthou om nie te veel water te gebruik wanneer jy hierdie koeksodamengsel aanmaak nie.

* Petroleumjellie (vaseline)
Jy kan dit aan die vlek aansmeer en dit oornag aanhou. Vee die watermerk die volgende oggend eenvoudig weg.

* Sout
Net soos die geval met koeksoda, kan jy ook ’n pasta met sout en water maak deur een teelepel sout met ’n paar druppels water te meng om ’n pasta te maak. Wend die pasta met ’n sagte lap of spons op die vlek aan en vryf totdat die vlek verdwyn. Herstel die voorkoms van die hout deur meubelpolitoer ook aan te wend.

* Asyn en olyfolie
Meng gelyke hoeveelhede asyn en olyfolie en wend dit met ’n sagte lappie aan. Beweeg saam met die houtvlam. Gebruik hierna ’n skoon, sagte lap en vryf blink. (Om wit watermerke van leermeubels af te kry, spons dit met suiwer witasyn.)

Wednesday, 16 July 2025

Hartsake oor 'n koppie tee: Negatiewe nuus ...

Negatiewe berigte
is indringerbosse
wat welig groei
om die Wegwyser
te verdring.

Monday, 14 July 2025

Vandag se internetgebed vir jou: Stroop ons van die eie ek ...

Aan die begin van hierdie nuwe week is dit ons gebed, Here, dat ons U nie sal faal nie, dat ander mense nie as gevolg van ons eie onvolmaaktheid sal seerkry en gekwes deur hierdie lewe moet gaan nie. Ons pleit by U Hemelse Vader in die Naam van Jesus Christus om ons te stroop van ons eie ek en ons in te stel om o Heilige Gees se influistering in ons lewens te hoor en ons waardige verteenwoordigers van U op aarde te maak. Ons loof en prys U!

Sunday, 13 July 2025

Oomblik van stilte: Gen. 15:9-10 en 17-18a

en Hy antwoord hom: Neem vir My 'n driejaaroud vers en 'n driejaaroud bokooi en 'n driejaaroud ram en 'n tortelduif en 'n jong duif. 
En hy het dit vir Hom gebring en dit middeldeur gedeel en die helfes teenoor mekaar gelê; maar die voëls het hy nie verdeel nie.
En ná sononder, toe dit heeltemal donker was, gaan daar 'n rokende oond en vurige fakkel tussen dié stukke vleis deur.
Op die dag het die Here met Abham 'n verbond gesluit.

So is verbonde gesluit in die Ou Testament.
Abraham moes saam met God geloop het vir die daarstelling van 'n verbond tussen hom en God.
Maar God het alleen deurgegaan sodat, sou Abraham die verbond breek moet God alles betaal.
So het God dan vir Jesus op die end vir alles; ons sondes en verbreking van die verbond betaal.

Dankie Here, in u wysheid ken U die swakheid van die mens, en het U vir my die verbond gemaak. Toe ek dit nie kon hou nie het U dit alles betaal. U is my altyd een voor en het my bevry van my skuld in U verbond met my. Dankie Here vir u genade en liefde ook vir vandag. Amen.

Saturday, 12 July 2025

Saterdaglagmedisyne - Dieregeite


 ** Die rol van 'n voorsitter van 'n maatskappy is soms maar 'n lastige een, maar veral in die oë van die bestuur.
Soos Koos gevind het toe hy 'n troeteldierwinkel besoek het.
Daar sit drie papegaaie op 'n ry.
Aan die eerste een se poot hang daar 'n prys van R5 000.
"Hoekom is hy so duur?" wil Koos weet.
"Hy kan drie tale vlot praat: Afrikaans, Engels en Xhosa. Dit is 'n voël vir die Nuwe Suid-Afrika."
"En hierdie middelste papegaai? Hy kos R10 000. Wat kan hy doen?"
"Hy kan Afrikaans, Engels, Zulu en Xhosa praat. Boonop kan hy skryf ook. Dit is werklik 'n wonderlike papegaai."
"As hy R10 000 kos, moet die derde papegaai seker enig in sy soort in die wêreld wees. Ek sien hy kos R30 000. Wat kan hy doen?"
"Ek weet nie eintlik nie," sê die eienaar. "Maar die ander twee noem hom 'Meneer, die voorsitter"."

** Leeujag, sê hulle, onderskei die manne van die seuns. Dit is glo onlangs weer bewys toe twee manne in leeuwêreld op die spoor van 'n leeumannetjie afkom. Toestande het 'n bietjie gevaarlik begin lyk toe dit blyk dit moet 'n yslike leeu wees.
Dit is toe dat die bangste van die jagters met raad vorendag kom: "Volg jy om te sien waar hy heen is. Ek sal gou op die spoor terugstap om te sien waar hy vandaan kom.

Friday, 11 July 2025

PSALM 23: A Japanese Version

The Lord is my Pace-setter, I shall not rush;

He makes me stop and rest for quiet intervals.

He provides me with images of stillness, which restore my serenity;
He leads me in ways of efficiency through calmness of mind, and His guidance is peace.

Even though I have a great many things to accomplish each day,
I will not fret, for His presence is here.

His timelessness, His all-importance, will keep me in balance.

He prepares refreshment and renewal in the midst of my activity,
anointing my mind with His oils of tranquility.

My cup of joyous energy overflows.

Surely harmony and effectivenss shall be the fruits of my hours,
For I shall walk in the pace of my Lord, and dwell in His house forever.

Thursday, 10 July 2025

Ouma se wenke: Skoolskoene skoonmaak

Het jy vergeet om jou skoolskoene mooi blink te poets? Hier is ‘n baie maklike manier om jou skoene in ‘n japtrap ‘n blink baadjie aan te trek.
WAT JY GAAN BENODIG:
* skoenborsel
* skoenpolitoer
* stuk lap om jou skoene mee te vryf
* ‘n ou tandeborsel (om die hoekies en draaitjies mee skoon te maak)
* ‘n ou T-hemp
* 'n huishoudelike skoonmaakmiddel en lap
* 'n ou koerant
MAAK SO JOU SKOENE SKOON:
* Gebruik die ou koerant om op te werk.
* Verwyder die skoenveters. 
* Vryf die huishoudelike skoonmaakmiddel op die skoene om van al die vuil en taai merke ontslae te raak.
* Vat die ou T-hemp en draai dit om jou wys- en middelvinger om die politoer mee op te vryf. 
* Gebruik die tandeborsel om die moeilike plekkies by te kom.
* Los dit vir 15 minute aan om droog te word.
* Gebruik lang hale om die skoene met die skoenborsel te poets.
* Gebruik daarna die lap vir die finale blink in jou skoen.

Wednesday, 9 July 2025

Hartsake oor 'n koppie tee: Pensioentyd

Jou lewensdoel wanneer jy oud is,

is om vrug te dra,
nie om uit te rus nie.
Later sal daar genoeg tyd wees vir rus.
- Dr JH Gunning J Hz (1858 – 1940)  

Monday, 7 July 2025

Vandag se internetgebed vir jou: Gevul met die Heilige Gees

O Here, en my God, U alleen moet in my tempel bly. Ek wil nie ander Gode in my tempel hê nie. Ek wil niks onheiligs dra deur my tempel nie. U alleen wil ek aanbid  en my tempel moet met die Heilige Gees gevul wees, 'n aangename geur vir die Vader. Amen.

Sunday, 6 July 2025

Internasionale soendag

Glo dit of jy wil of nie, daar is selfs 'n Internasionale Soendag! 

Vandag is die dag waarop jy jou geliefdes met 'n soen moet groet. Of dit nou ’n piksoentjie is, of één wat jou tone laat omkrul van lekkerkry, vandag is die dag daarvoor.

Wêreldsoendag is die eerste keer deur die Britte geïnisieer en in 1991 word dit deur die Verenigde Nasies erken. Die gewildste aktiwiteit op hierdie dag is die verskeie soenkompetisies wat in baie stede regoor die wêreld gehou word en in dieselfde asem samel sommige instansies sommer geld vir liefdadigheid in. Twee vlieë met een klap of is dit nou twee soene ...?

Selfs die soen het 'n geskiedenis. Klik gerus HIER om jou van die feite te vergewis.

Oomblik van stilte: 2 Sam. 2:2+3b

Niemand is heilg soos die Here nie ja, daar is niemamd buiten U, en daar is geen rots soos onse God nie
want die is 'n God van diepe kennis, en deur Hom word die dade beproef

Vir baie jare het Hanna gebid vir 'n kind.
Haar gebede is verhoor en haar hartseer genees.
Sy het 'n seun gebaar en hom Samuel genoem, want sy het hom van die Here gebid.
En sy het hom ook afgestaan, sodat hy die gedien het al die dae van sy lewe.
So wil die Here ook vir jou vandag gee wat jy van Hom bid.

O Here, ek wil soos Hanna met 'n liefdeslied aan U Here, die dag begin. Sy het haar eersgeborene aan die Here teruggegee, om die Here te behaag. Ek wil ook aan U teruggee wat U aan my gegee het. Al my aardse dinge beteken niks teenoor u seëninge waarvoor ek gebid het nie. U het my op 'n vaste Rots geplaas sodat ek vandag stewig kan staan. Daar is niemand soos U nie, en geen rots soos U nie. U Naam is heilig bo alle name. Amen.

Saturday, 5 July 2025

Saterdaglagmedisyne - Blondinegrappe


Aan die eertydse blondines in Ons Huis wat nou almal getooi is met grysheid en gepaardgaande wysheid: geniet hierdie grappies ...

* Hoe ken 'n mens 'n blondine uit by 'n begrafnis?
Sy is die een wat die ruiker probeer vang.

* Die blondine besluit op die ingewing van die oomblik dat sy in die tuin wil gaan slaap.
Sy wou soos 'n klip slaap.

* Een blou Maandag sien 'n brunet dat haar blonde buurvrou kort-kort na haar posbus toe trippel en dan met 'n frons op haar voorkop die huis instap.
"Verwag jy 'n belangrike brief?" vra die brunet.
"Nee," sê die blondine, "Maar my rekenaar hou aan sê ek het pos."

* Een van die blondines in die ouetehuis (wat nog nie grys geword het nie) staan en spring op en af in haar kamer.
Suster aan diens: "Het jy enige probleme?"
Blondine: "Nee, Suster, ek het vergeet om die bottel te skud, voordat ek die twee lepels medisyne gedrink het."    

[Saam met die blondine-grappies het daar ook heelwat Koos van der Merwe-grappe op die tafel beland. Een leser reken dat Koos nou al 'n hele klompie jaar in die ouetehuis is en dat die nuwe geslag nie meer vir Koos sal ken nie. Nog een rondte blondine-grappies, dan kry Koos 'n beurt!]  

Friday, 4 July 2025

'n Karoogedig: Skadu's in die nag - 'n Awendslied

Daar is skadu's in die nag
in 'n helder maanlig se gewag
soos donker spoke
wil hul kort-kort vir my lag
in hierdie nagtelike uur
gloei die ligglans
van die paraffienlamp 
se liggie en vuur
sy stille vrede
wil teen my woordkuns
kom skuur
ou Karoonag
ek moet luister
hoe fluister
jou nagwind
se awendslied
jou karooveld
kliprant en klipbank
so hard gebak
wil in maanlig se skadu
my vrede kom bind
Daar was skadu's in die nag
in 'n helder maanlig se gewag
in 'n kliprant se ver
skitter 'n oggendster
In die verte van my oë
strek 'n Groot Karoo
'n Karoodag se nuut
word gebore
uit jou awendslied.

[Digter: Petrus JS Vermaak uit Prince Albert Friend August 2024]

Portia's Friday advice

Thursday, 3 July 2025

Ouma se wenke: Vlekke

* Strykyster: Verwyder stysel wat vasgebrand het aan 'n yster deur tafelsout op bruinpapier te gooi en die yster daaroor te vryf. Vryf 'n halwe suurlemoen gedoop in sout oor die strykyster se boom.

* Koffie en tee: Verwyder koffie- en teevlekke op plastiekware deur dit met koeksoda te skuur.

* Pampoen: Om te verhoed dat die hande vlekke wanneer pampoen geskil word, smeer die hande vooraf met bietjie botter of vet. Suurlemoensap sal hande wat deur groente gevlek is, weer mooi wit maak.

* Wyn: Gooi dadelik sout op die vlek of gooi witwyn oor die vlek. Sodawater of wit asyn haal gewoonlik hardnekkig vlekke soos rooiwyn uit matte uit.

Wednesday, 2 July 2025

Hartsake oor 'n koppie tee: Die hart is veiliger as 'n kluis

Ons het u naam in die sand geskryf, 
maar die golwe het dit weggespoel. 
Toe skryf ons dit in die lug, 
maar die wind het dit weggewaai. 
Ons het dit dus in ons harte geskryf
en dit sal altyd daar bly.
Bêre dit wat belangrik is,
in die veiligste plek waaraan jy kan dink - jou hart!