In die oggende is daar ’n hele ritueel wat gevolg word (hmmm, baie duidelik hou ek van ’n vaste roetine) - staan op, gee die kat kos, want hy kerm al van vroeg af dat sy bak leeg is, gaan skeer en borsel tande, trek aan en sluit die deure oop.
Wanneer ek die deur oopsluit wat naby die honde se hok is, dan is hulle soos blits daar, maak nie saak hoe warm, hoe koud, hoe donker of hoe lig dit is nie - hulle is altyd bly om jou te sien. Hulle blydskap om jou te sien is eintlik ongelooflik, mens sou dink hulle het jou weke laas gesien.
Dis nie ’n kwessie dat hulle sterte waai nie, ek dink eerder hul sterte swaai hul lyf rond.
So is dit oggend vir oggend, maak nie saak of jy bietjie vroeër of bietjie later oopmaak nie, die blydskap is oorweldigend.
En al wat hulle soek is ’n hallo’tjie en ’n klein vryfie op die rug en hulle is weer heel tevrede om terug te gaan hok toe en bietjie verder te lê.
Vanoggend toe hulle twee weer so vinnig uitkom om my te groet met die oorvloedige blydskap, kon ek nie help om te wonder nie ...
Ek is die hondjies se meester en hulle blydskap is elke oggend asof hulle my weer vir die eerste keer sien en hulle verlang net daarna dat ek ’n ou ietsie vir hulle sê en hulle net so bietjie aanraak - dit maak hulle dag.
Ons Meester wag ook elke oggend vir ons om so na Hom te kom, om net ’n bemoedigende woordjie aan ons mee te deel en om ons aan te raak vir die dag - maar hoe kom ons by Hom aan?
Kom ons ooit by Hom aan?
Ook so vol entoesiasme soos die twee klein Jack Russels of is ons te moeg om eers uit die hok te kom wanneer ons Sy voetstappe of Sy stem hoor?
Mat 4:4 Maar Hy antwoord en sê: Daar is geskrywe: Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord wat deur die mond van God uitgaan.
No comments:
Post a Comment