"Vrede laat Ek julle na; My vrede wat Ek vir julle gee, is nie die soort wat die wêreld gee nie. Julle moet nie ontsteld wees nie, en julle moet nie bang wees nie." (Joh. 14:27)
Ek lees die teks en dit voel soos gister ...
Ek sou myself as 'n Christen kon beskryf 'n jaar gelede. 'n Christen wat bid, kerk toe gaan en my tiende gee, maar nie die soort Christen wat in 'n tyd van nood of vreugde teksverse uit my kop kon opsê nie. My man beland skielik in die hospitaal. Dis chaos. Selfoon hou nie op met lui nie. Ek probeer my bes om antwoorde te hê en kalm te lyk as my kinders met trane na my kyk. Ontmoet dokter nommer drie en kan nie een se naam of titel onthou nie. Wag, die een is 'n o...loog en die ander 'n ietsie-ietsie ook met 'n loog of so iets. Teater toe. Dis half drie in die môre. Daar is niemand saam met my in die gang nie. Ek sit op 'n bank. Moeg, maar niks binne my gemoed wil tot rus kom nie. Ek berei my voor vir die ergste, hoe sal ek die situasie hanteer. Ek werk uit wat ek op die plaas moet doen: wanneer moet ek lone betaal, watter kampe het nou weer die lammerooie in, hoe lank dink ek (met my mediese kennis) sal hy in die hospitaal wees. Moenie huil nie ... ek voel deurmekaar. Die kinders ... Here! Ek begin met die tweehonderd en eerste gebed.
Skielik hoor ek 'n stem binne my. "Wees stil en weet, Ek is die Heer ..." Dis asof alles binne my se handrem opgetrek raak en tot 'n stilstand kom. Dit was duidelik, baie duidelik. Die gang is stil ... my gemoed is stil. Ek is amper te bang om asem te haal. Het ek reg gehoor? "Here, sê asseblief net nog een sin," vra ek. Stilte. Vrede. 'n Vrede wat nie van die wêreld af kom nie. Vir die volgende paar weke ervaar ek die nabyheid van Hom asof ek my hand kan uitsteek en aan Hom kan vat. Ek leef asof ek toegevou is in Sy hande. Die dokters bring goeie en slegte tyding - ek hoor dit, voel dit, en weet dadelik met vrede hoe om elke situasie te hanteer.
Dis 'n jaar later en ek staan op my knieë met Bybelstudie voor ek gaan slaap. My teksvers: Joh. 14:27. Ek voel 'n warmte oor my. Ek weet hoe daardie vrede voel. Die soort vrede wat nie van die wêreld kom nie. Moet erken; ek kan nog nie baie teksverse uit my kop aanhaal nie, maar Hy is so naby dat Hy dit in my oor kon fluister.
My bede vir almal is vrede wat jou verstand te bowe gaan. Hande wat jou toevou wanneer jy dit die nodigste het, en die wete dat Hy in jou oor fluister. Jy moet net luister.
[Die Pienk boekie, Vrouelidmate - NG Kerk in Noordkaap, Nuusbriefnr. 93]