Monday, 23 March 2026

Vandag se internetgebed vir jou: Help ons om te besef dat ons na u beeld geskep is

Skeppergod, U skep die aarde en alles daarop.
U skep alles in verhouding tot mekaar en U skep alles goed.
U skep man en vrou na u beeld en seën beide.
Help ons om u beeld te sien in hulle wat ly as slagoffers van geweld.
Help ons om die gesig van geweld te herken in ons midde veral as dit ’n gewoon-alledaagse masker dra.
Help ons om geweld teen te staan
en om slagoffers van geweld met menswaardigheid te hanteer.
Help ons om te besef dat ons na u beeld geskep is.
Help ons om in Jesus se voorbeeld te volg en om telkens te soek vir lewegewende alternatiewe tot geweld.
Help ons om geweld te beveg in die MIV en vigs-era
omdat dit voorkoming belemmer en effektiewe behandeling teenstaan.
Ons bid dit met vrymoedigheid in die naam van Jesus Christus.
Amen.

(Charlene vd Walt opgeneem in Woord & Fees 2013-2014, uitgegee deur BM)

Sunday, 22 March 2026

Oomblik van stilte: Ps. 63:3-5

So het ek U in u heiligdom aanskou, om u sterkte en u heerlikheid aan te sien.
Want u goedertierenheid is beter as die lewe; my lippe moet U prys.
So sal ek U prys my hele lewe lank, in u Naam my hande ophef.

Ps. 68:6 'n Vader van die wese en 'n regter  van die weduwees is God in sy heilige woning. 

Die Here wil jou seën in hierdie week.
Jy sal die goedheid van God aanskou. 
Hy wat omsien na die wese is ook jou Vader en sal jou versorg.
Plaas jou vrese by die voete van Jesus en rig jou versoeke aan Hom
Hy sal vir jou voorsien.
Prys die Here vanoggend, en wees bly!

Here, my gebed rig ek tot U, want U sal vir my voorsien; ek kom klop aan u deur en U sal vir my oopmaak. U het belowe dat, elkeen wat bid ontvang; en hy wat soek, vind; en vir hom wat klop, sal oopgemaak word (Matt. 7:7&8). Ps. 67:8 God sal (my) seën, en al die eindes van die aarde sal Hom vrees. Ek loof U vanoggend met oorvloedige blydskap in my hart. Amen.

[Aangestuur deur Pieter Swanepoel]

Saturday, 21 March 2026

Saterdaglagmedisyne - Allerlei

* Kennisgewing op Kimberley klub se deur: Moenie drink en bestuur nie. Jy tref dalk 'n gat in die pad en mors alles uit!"

* 'n Politikus wat sy kiesers baie jare terug in Kimberley toegespreek het, word in die rede geval deur 'n harde stem van agter uit die saal: "Ek sou nie vir jou gestem het nie, al was jy die Engel Gabriël."
Politikus: "As ek die Engel Gabriël was, sou jy nie in my kiesafdeling gewees het nie."

* 'n Jongman sit in die trein na Kaapstad en kou aanhoudend kougom. Oorkant hom sit 'n ou tannie. Nadat sy hom 'n rukkie dopgehou het, sê sy: "Dit help nie jy praat met my nie, jongman. Ek is absoluut stokdoof." 

Friday, 20 March 2026

Gedig: Die Vlakte ('n Uittreksel van die gedig)

Strofe 1
Ek slaap in die rus van die eeue gesus,
ongesien, ongehoord,
en dof en loom in my sonnedroom,
ongewek, ongestoord.
Tot die yl-bloue bande van die ver-verre rande
skuif my breedte uit,
wyd-kringend aan die puur al-omwelwend asuur,
wat my swyend omsluit.

Strofe 4
Soos ‘n vlokkie skuim uit die sfere se ruim
kom ‘n wolkie aangesweef,
maar hy groei in die blou tot ‘n stapelbou
van marmer wat krul en leef -
kolossaal monument op sy swart fondament,
waar die bliksem in brul en beef.
En o, met my is die windjies bly:
hul spring uit die stof orent
en wals en draai in dwarrelswaai
oor my vloer, van ent tot ent;
die gras skud hul wakker om same te jakker
tot hy opspring uit sy kooi
en soos mane en sterde van jaende perde
sy stingels golf en gooi.
Met dof-sware plof, soos koeëls in die stof,
kom die eerste druppels neer,
tot dit ruis alom so deur die gebrom
en gekraak van die donderweer.
Met kloue vooruit om te gryp en buit
jaag ‘n haelwolk langs verby,
soos ‘n perde-kommande wat dreun oor die lande
vertrap en gésel hy -
en sy lyke kleed sien ek ver en breed
in die awendson gesprei.

* Jan F. Celliers

[Ons kuier by die ouer digters, want dit is die gedigte wat vasgelê is in ons inwoners se geheue. Lees Die Vlakte proe-proe en kyk hoe beskryf dit die storm.]

Thursday, 19 March 2026

Die 8-5-engel van kamer 57 het Dinsdag, 17 Maart 2026, gegroet ...

Marie Moses se pad het vir 'n wyle met dié van Ons Huis gekruis toe sy meer as die ekstra myl geloop het. Lees gerus die artikel HIER wat op 21 Maart 2019 geskryf is.   

Marie was 'n stabiele en gerekende pilaar in die gemeenskap. Sy was iemand wat gesag uitgestraal het. Haar ingebore statigheid het onwillekeurig respek van haar medemens afgedwing. Sy was 'n voorbeeld vir diegene wat haar pad gekruis het. Op haar stil manier kon sy jou aan die dink sit. Wysheid en logiese insig was deel van haar samestelling.

Sy het altyd gesê dat 'n mens nooit moet gaan stilsit nie ... dan gaan 'n mens gou dood. 'n Mens moet besig bly en op hierdie manier het sy ook gegroet.

Ons eer haar nagedagtenis - mag sy nog lank lewe in die harte van hulle met wie haar lewenspad gekruis het. 

Foto's: Linda Moses

Ouma se wenke: Eet versigtig

* Beperk kitskos, koekies, sjokolade, skyfies, vetterige en verwerkte vleis, lekkers en gebakte produkte.

* Vermy soet drankies. Dit versadig nie, maar kan gewigstoename veroorsaak.

* Kies minder souterige voedsel en gebruik minder sout by die huis ten einde hoë bloeddruk te verhoed.

* Vrugte en groente is gesonder opsies. 

[Alles wat lekker is, is nie altyd gesond nie! Lekker eet!]

Terugflits: Noem hom op sy naam

'n Heerlike leesstukkie wat vra om 'n tweede keer gelees te word. Proe die woordspeling op die tong. 

Dit was liefde met die eerste oogopslag vir Daniël van Daniëlskuil en Mary van Marydale toe hulle albei toevallig koffie op Koffiefontein bestel het. 

Hy was 'n fiksheidsintrukteur van Ficksburg en sy was 'n jong weduwee van Richmond. Hoewel albei in hul dertigs was, wou Daniël graag op die tradisionele manier ouers vra op Askham.

Hy was angstig dat hulle dalk stry sou kry op Strydenburg, hy hulle dalk sou moes soebat op Soebatsfontein of hulle hom dalk verkeerd sou verstaan op Verkeerdevlei, maar haar ouers het naby Vrede geboer en minder as 'n maand later het hulle die knoop in Welkom deurgehak.

Dit was die troue van die jaar waar geen uitgawe ontsien is nie. Net die beste was goed genoeg vir sy Mary. Rose uit Rosendal, die res van die blomme uit Bloemfontein, hoenderpastei uit Hennenman en springbokpatee uit Springbok.

Die hele familie het die uitnodigings aanvaar. Die Van Wyks van Van Wyksvlei, die Rouxs van Rouxville, die Jacobse van Jacobsdal, die Viljoens van Viljoenskroon, die Groblers van Groblershoop en die Van Zyl's van Van Zylsrus.

Die Wesselse van Wesselsbron het ongelukkig 'n groot krisis gehad en moes die uitnodiging gedweë van die hand wys.

Ds. Boshof van Boshof het die egpaar in die huwelik bevestig. Daar is tot laatnag in die groot saal gekuier en gelangarm. Daniël en Mary was albei stralend gelukkig.

Die meeste gaste het eers in Odendaalsrus en Steynsrus oornag voordat hulle die lang pad terug huis toe aangedurf het.

Daniël het vir Mary 'n spoghuis op Hobhouse gekoop, maar toe Mary hul eerste kleinding verwag, het hulle tweeling toe verhuis.

Albei was verras oor hoe ongelooflik hul lewens verander het. En dit alles het begin met net een koppie koffie op Koffiefontein.  

[Karin Muller: Noordkaap 2014-04-22. Besoek gerus die Noordkaap Bulletin en lees hulle weeklikse rubrieke - daar is baie pitkos in hierdie rubrieke.]

Wednesday, 18 March 2026

Hartsake oor 'n koppie tee: My hande

Vandag kyk ek na my hande en ek besef ek is lief vir my hande ...
👏 My hande het my trane afgevee as ek gehuil het.
👏 My hande het my deur my skoolloopbaan geneem.
👏 My hande het my kinders vertroos en met liefde vasgehou. 
👏 My hande het hard gewerk om my gesin te voed en te sorg vir 'n skoon huis en klere.
👏 My hande hou my Bybel vas terwyl ek daagliks pitkos daaruit kry.
👏 Nou sit ek my hande saam en bid dat die Here my en almal vir wie ek omgee sal vashou en beskerm...
👏Eendag gaan ek my hande in die Here se hand sit wanneer Hy my na die Ewige Woning neem.
👏 Here, dankie vir my twee hande!!!

Tuesday, 17 March 2026

Dankie vir 300 000 e-besoeke - ons waardeer elkeen van julle!


'n Opregte DANKIE, liewe e-vriende en e-lesers vir julle volgehoue e-besoeke. Vrydag, 13 Maart, het ons 294 000 trefslae gehad en vier dae later staan ons op 300 000 trefslae.

Dankie vir elke dag se saamlees hier, terugvoer, die deel van stories en bydraes.

Ons waardeer elkeen van julle. Hierdie blad sal nie dieselfde sonder julle wees nie. Geniet die dag en lekker lees!

Uit die Groot Karoo: Schalk se lewensnippers

Sunday, 15 March 2026

Oomblik van stilte: 2 Kron. 19:9

En Hy het hulle bevel gegee en gesê: So moet julle handel in die vrees van die Here, met getrouheid en met 'n volkome hart.

Koning Jehosafat het die hele land deurgegaan en aan almal gesê hoe hulle God moes dien. Hy het 'n besluit geneem om almal se harte reg te kry en God eerste gestel.
Neem vandag 'n belangrike besluit in jou lewe; laat jou hart God behaag en stel Hom eerste.
Laat God toe om jou lewe te te verryk met sy Heilige Gees en sy ewige lewe in sy koninkryk. 

Dankie, Jesus, U het my kom haal toe my hart nog sleg was, in donkerte gehul en U het my geheel en al belig met u goedheid en guns. U weet ek was ontrou en net U bly getrou. Laat u Heilige Gees my U, met getrouheid dien en met 'n rein hart; 'n hart wat U gereinig en geheilig het met u bloed. Ek wil U loof en prys, u Naam verhoog. Amen.

[Aangestuur deur Pieter Swanepoel]

Saturday, 14 March 2026

Saterdaglagmedisyne: Allerlei

Dokter aan pasiėnt wat baie slegte rokershoes het en ooglopende tekens van te veel drank toon: "Hoeveel sigarette rook jy per dag?"
Pasient: "So 40 dokter."
Dokter: "Dink jy jy sal dit kan opstoot na 80 per dag?"
Pasiënt (wat gemeen het hy gaan aangespreek word oor sy 40): "Seker, dokter, maar hoe dan so?" Dokter: "Miskien val een van jou longe plat en dan is daar meer plek vir jou lewer!"

oooOOooo

Spreuk 204 van Langenhoven: Ry liewer die klip mis as om die man te dagvaar wat hom in die pad ingerol het. 'n Ou as is beter as 'n nuwe eis.
oooOOooo

Nasa het bevind met alle ondersoeke dat uit die ruimte net drie dinge op die aarde duidelik sigbaar is:
1. Grand Canyon
2. Muur in China
3. Gate in die Suid-Afrikaanse paaie

Friday, 13 March 2026

Dankie vir 294 000 e-besoeke - ons waardeer elkeen van julle!


Vanaf Woensdag tot vandag het Ons Huis se blog 3000 trefslae bygekry! 
Dankie vir al ons lojale ondersteuning!
Elke e-leser is vir ons belangrik!

Gedig: Vertrou op die Here

Vertrou op die Here
met al jou probleme.
Vertrou op die Vader
Hy help jou op die daad.

Dink nie aan môre
gee Hom al jou sorge.
Vertrou op die Here
gee Hom al jou probleme.

Jesus weet alles
gee Hom jou pak.
Vertrou op die Here
met al jou probleme.

Jesus maak dit beter
dis nie vergete.
Vertrou op die Here
met al jou probleme.

[Bron: Here, mag ek? Kosmos-gedigte Ina de Beer]

Thursday, 12 March 2026

Ouma se wenke: Geniet jou kos, maar probeer om 'n bietjie minder te eet

Ek gaan vandag 'n netelige onderwerp aanroer. Die enigste rede is omdat ek onlangs daarmee gekonfronteer is. Ek gaan dit oor die volgende paar weke versprei.

* Eet gaan daaroor om ervarings en goeie kos te deel.

* Te veel eet kan tot gewigstoename, diabetes en hartsiekte lei.

* Verminder die porsiegrootte van vetterige, styselagtige en soet voedsel as jy oorgewig is.

* Mik vir 'n gebalanseerde bord: 'n kwart proteïne, 'n kwart stysel en die helfte groente en vrugte.  

Wednesday, 11 March 2026

Dankie vir 291 000 e-besoeke - julle is vir ons belangrik!

Ons waardeer elkeen wat daagliks by ons inloer!
Geniet die leeservaring!

Ongelukkig of dankbaar?

Dit is my verjaardag vandag! 
En ek kan nie besluit of ek ongelukkig of dankbaar moet wees nie!!

Besef julle die enigste tyd in ons lewens wanneer jy wil ouer wees is wanneer ons kinders is?
Jonger as tien, is jy so verskriklik opgewonde oor ouer word jy dink sommer in desimale.
"Hoe oud is jy?" 
"Ek's vier en 'n half."
Jy's nooit 36 en 'n half nie, jy's vier en 'n half, amper vyf.
Dis die geheim.
Nou's jy 'n tiener, niemand kan jou keer nie, jy spring sommer na die volgende syfer toe.
"Hoe oud is jy?" 
"Ek gaan 16 wees."
Jy kan nou 12 wees, maar uiteindelik gaan jy 16 wees.
Dan kom die groot dag, jy word 21.
Selfs die woord klink soos 'n seremonie.
Ja ... jy WORD 21!!!
Dan raak jy 30. 
Wat's besig om te gebeur?
Genugtig, jy klink soos suur melk.
Jy't geRAAK, wat het verander ?
Jy WORD 21, jy RAAK 30.
Dan NADER jy 40 ... nee, bly daar!
En jy BEREIK 50.
Jy WORD 21, jy RAAK 30, jy NADER 40,
Jy BEREIK 50, en dan MAAK jy dit tot by 60.
"Krisis! Ek't nie gedink ek gaan dit maak nie."
Jy WORD 21, jy RAAK 30, jy NADER 40,
Jy BEREIK 50, en dan MAAK jy dit tot by 60.
Teen daai tyd het jy al so baie momentum opgebou, jy TREF 70.
Daarna is dit 'n dag tot dag ding.
Jy TREF Woensdag ...
In jou 80's: jy TREF middagete, jy TREF slaaptyd.
Jy's nie seker of jy gaan wakker word nie.
Jy koop nie meer beleggings nie.
Goeiste, jy koop nie eers groen piesangs nie.
Dis nog nie die einde nie.
In jou 90's gaan jy weer agteruit."Ek was NOU NET 92."
As jy 100 sien, gebeur daar 'n vreemde ding.
Jy raak weer soos 'n kind
"Ek's 100 en 'n half"

[Aangestuur: Klik HIER]

Monday, 9 March 2026

Vandag se internetgebed vir jou: Stap saam met my deur hierdie dag.

Here, hierdie dag is nog onbevlek. Help my om dit so te kan hou. Help my om vriendelikheid en liefde uit te leef teenoor almal met wie ek in aanraking kom. Help my om uit te reik na ander in nood. Om blymoedig en sonder voorbehoud te gee. Al gee ek net 'n glimlag, of 'n brood, 'n sagte aanraking, 'n warm handdruk of 'n drukkie, of al gee ek net 'n luisterende oor, 'n oomblik se stilstaan by iemand wat dit nodig het, of net 'n glas water, laat dit met liefde en omgee geskied.
Here, Gee my krag, wysheid en liefde. Gee my 'n opregte en dankbare hart. Stap saam met my deur hierdie dag. Dan sal ek alles met U hulp kan vermag. Amen

Sunday, 8 March 2026

Oomblik van stilte: Sef. 3:5

Die Here het jou oordele opgehef, jou vyand weggeveeg; die koning van Israel, die Here is by jou, jy sal geen kwaad meer vrees nie.

Vrees niks meer nie en laat jou hande nie slap hang nie! (vers 16b)
Die Here jou God is by jou, 'n held wat verlossing skenk. Hy verheug Hom oor jou met blydskap; Hy swyg in sy liefde; Hy juig oor jou met gejubel. (vers 17)
Kyk in die tyd sal Ek met al jou verdrukkers handel; en die wat kreupel is, sal Ek red; en die wat verjaag is, versamel; en Ek sal hulle maak tot 'n lof en tot 'n roem wie se skande oor die hele aarde was.(vers 19)

Here, by U vertoef ek, by U alleen staan ek, want U bewaar my van die bose en U voorsien vir my, my daaglikse voedsel. U versamel my saam met die geseëndes onder die volke volgens die belofte aan u vriend Abraham. Amen. 

[Aangestuur deur Pieter Swanepoel]

Saturday, 7 March 2026

Saterdaglagmedisyne - Koos van der Merwe se beurt

Dankie vir al die Koos-grappe wat ingestuur is - geniet dit - dalk is daar 'n Koos ook in hierdie aftreeoord.

* Klein Kosie: "Meneer?"
"Ja, Kosie?"
"Wat het ek vandag by die skool geleer?"
"Hoekom vra jy só 'n dom vraag?"
"Wel, Meneer, dit is wat my pa my gaan vra as hy vanaand by die huis kom."

* Koos se vrou is moeg vir sy gedrinkery. Hulle het 'n hewige gesprek daaroor gehad en Koos het ter wille van die vrede in die huis tot 'n vergelyk gekom.
Stoffel sit reeds van vyfuur af en kuier in die kroeg. Hy merk dat Koos op sy hande by die deur inloop. Nie seker van sy eie toestand nie, sê-vra Stoffel vir Koos: "Bedrieg my oë my of is ek reg as ek sê dat jy op jou hande by die deur ingeloop het?"
"Nee, jy is reg. My vrou het my gisteraand belet om weer my voete in die kroeg te sit."

* 'n Motoris ry oor Koos se voet en Koos stel 'n yslike groot eis teen die man in.
Die man kom met Koos praat om te hoor of hulle nie buite die hof kan skik nie. "Dink jy ek is 'n miljoenêr?"
Koos nie op sy mond geval nie: "Dink jy ek is 'n duisendpoot?"

Friday, 6 March 2026

Gedig: In die Hoëveld

In die Hoëveld, waar dit oop is en die hemel wyd daarbo,
Waar kuddes waaigras huppel oor die veld,
Waar ’n mens nog vry kan asemhaal en aan ’n God kan glo,
Staan my huisie, wat ek moes verlaat vir geld.

En as ek in die gange van die myn hier sit en droom
Van die winde op die Hoëveld, ruim en vry,
Dan hoor ek die geklinkel van my spore, saal en toom,
Sawens as ek bees of skaap toe ry.

Op die Hoëveld, waar dit wyd is, waar jy baie ver kan sien,
(Die ylblou bring ’n knop dan in jou keel)
Staan my huisie nog en wag vir my, wag al ’n jaar of tien,
Waar die bokkies op die leigrafstene speel.

Maar as die tering kwaai word en ek hoor die laaste fluit,
Dan sweef ek na die Hoëveld op die wind
Ek soek dan in die maanlig al die mooiste plekkies uit
Waar ek kleiosse gemaak het as ’n kind.

* Toon van den Heever (1894-1956)

Thursday, 5 March 2026

Ouma se wenke: Vlekke (sweet)

Met die hitte wat daagliks elke druppel sweet uit ons pers, moet ons aandag gee aan die sweetvlekke. Dit is nie nodig om moedeloos te raak oor perspirasievlekke op kledingstukke nie. Hier is 'n paar moontlike oplossings.

* Gebruik sommer die wasbak en week die kledingstuk in vuurwarm water en 'n koppie wit asyn. Gebruik 'n houtlepel om dit nou en dan om te roer. Week dit vir 1 uur en was dan soos gewoonlik.

* Hardnekkige sweetvlekke op wit klere kan ook met aspirien verwyder word. Los twee aspirientablette op in warm water en week die vlek daarin vir 'n paar uur. Was dan soos normaal.

* 'n Alternatief is om bloot 'n koppie asyn by die spoelsiklus van jou wasgoed te gooi. Dit moet egter net by koue water gevoeg word. 

*Asyn is ook 'n goedkoop alternatief vir 'n versagmiddel.

* Nog raad vir vlekke op klere is om 'n pasta met bakpoeier en water te maak en dit op die vlek te los vir 1 uur. Was dan soos gewoonlik.

Gelukkig is dit nie nodig om in koue sweet uit te slaan oor die sweetvlekke nie!

Monday, 2 March 2026

Vandag se internetgebed vir jou: Leef vandag

Dankie Vader, dat U ons gemaak het om dag vir dag te leef en nie onnodig in die verlede en toekoms wat net in ons denke bestaan, hoef te leef nie. Help ons om elke oomblik van elke dag te geniet en saam met U te wandel. In Jesus Naam. Amen

Sunday, 1 March 2026

Maartmaand-hoogtepunte

Liewe Inwoners
Vandag kyk ons na Maart se pretdae en daar is werklik 'n paar wat die lagspiere gaan prikkel. Geniet die lysie en deel dit sommer met jou tafelgenote as hulle dit nog nie raakgelees het nie.  

1: Grondboontjiebotter-liefhebbersdag
2: Dr. Seuss se verjaardag
3: Wêreldnatuurlewedag
4: Doen Iets-vir-motiveringsdag
5: Wêreldboekedag
8: Internasionale Vrouedag
9: Barbiedag
13: Wêreldslaapdag
14: Pi-dag (Vier met 'n pastei - pie!)
17: St. Patrick's Dag
18: Wêreldwye Herwinningsdag
20: Internasionale Dag van Geluk
20: Wêreld Paddadag
21: Wêreldpoësiedag
21: Internasionale Dag van Woude
22: Wêreld Waterdag
23: Nasionale Klein Hondjiedag
26: Nasionale Spinasiedag
27: Wêreldteaterdag
26: Maak jou eie vakansiedag op vir maksimum pret en absurditeit.
28: Aarde-uur
29: Klavierdag
31: Nasionale Krytdag

Oomblik van stilte: Rom. 10:9&10

As jy met jou mond die Here Jesus bely en met hart glo dat God Hom uit die dode opgewek het sal jy gered word;
Want met die hart glo ons tot geregtigheid en met die mond bely ons tot redding.

Op. 12:11
En hulle het hom (satan) oorwin deur die bloed van die Lam en deur die woord van hul getuienis, en hulle het tot die dood toe hulle lewe nie liefgehad nie.

Oefen jou mond om oorwinnig in Christus uit te spreek.
Bely met jou mond dat Jesus die Here is tot jou redding.
Jou geloof in jou hart dat God Jesus uit die dode opgewek het, bring die geregtigheid, en die bloed van die Lam gee jou oorwinning.
Die Satan, die ou slang, word deur jou getuienis oorwin.

Dankie, Here, vir u woord in my en dit sal my mond bely dat U die Christus en my oorwinning is. Ek glo met my hart dat U die Seun van God is en dat God U uit die dode opgewek het. Ek sal getuig van die redding deur die bloed van die Lam. Ek weet in die geloof dat U my geregtigheid is. Amen.

[Aangestuur deur Pieter Swanepoel]

World Compliment Day


While there is still plenty to be outraged about, many policies to protest and a ton of things in our world that need changing, my heart craves a break from all the criticism and critiques, from the ugly words and angry hearts.

Let us make special use of compliment day.

Tell your caregiver, friends and family members who take over household duties, cook for you, take you to treatment and your medical team, nurses and staff that THEY ROCK!

It may be just the boost people need to continue in their work!!

Enjoy your World Compliment Day!