Tuesday, 29 April 2025

Hartsake oor 'n koppie tee: Verjaardae is herinneringskatte

Aan die afdraandkant van ons lewe, is maak ons verjaardagskatte bymekaar:

Tel jou verjaardae deur herinnerings
Aan die jare reeds verby,
Jare vol van goeie vriendskap;
Elke seën reeds verkry.
Tel jou verjaardae deur vreugdes
In die lewe reeds geniet,
Deur geluk en al die blydskap
Wat jy andere kan bied.
Tel jou verjaardae deur skatte
Wat jy vrylik kon vergaar,
En dan kan jy jou verlustig
Telkens wanneer jy verjaar!

[Majorie Whitney Lowell]

Monday, 28 April 2025

Vandag se gebed vir jou: Selfs in swaarkry, sal ek jubel

Hemelse Vader, ek weet dat u liefde vir my onverganklik is en dat niks my ooit daarvan kan skei nie. Selfs in die swaarkry tye sal ek jubel. Here, ons bid vir elkeen wat skade gekry het met die vloedwaters, maar in dieselfde asem bid ons vir hulle wat nie meer planne met die droogte het nie. In U groot almag kan U uitkoms gee na gelang van elke een se behoefte. Daarvoor dank ons U opreg. Amen

Sunday, 27 April 2025

Oomblik van stilte: Hos. 12:7

En jy, tot jou God moet jy terugkeer, beoefen liefde en reg, en hoop gedurigdeur op jou God.

Op wie sal jy hoop plaas vanoggend? 
God wil jou wys Hy gee om vir jou en wil jou hoop vervul, sodat sy grote Naam verheerlik kan word.
Hos. 13:14a Uit die mag van die doderyk sal ek julle loskoop......
God sal vandag aan jou sy liefde toon want Hy het Homself reeds tot jou gekeer.

Dankie my liefdevolle Vader, dat U reeds 2000 jaar terug tot my gekeer het en my gereinig het, om in u teenwoordigheid te mag staan vanoggend. Ek sien kans vir hierdie dag wat U gemaak het. U my God, is steeds in beheer en u barmhartigheid omvou my en beskerm my. Jesus is my Verlosser en Voorsiener, en ek loof en prys u grote Naam. Ek keer terug na U en sal liefde en reg betoon. Op U hoop ek. Amen. 

Saturday, 26 April 2025

Saterdaglagmedisyne - kleinkinders se siening


* Seuntjie: "Mammie, waar gaan die sterre heen as dit dag is?"
Mammie: "Hulle gaan in die lug en jy kan hulle nie sien nie."
Seuntjie: "Dan is hulle soos oupa se tande; gaan uit in die aand en kom terug in die môre."

* "Wat maak jy Jowell?"
"Ek skryf vir my ouma 'n brief."
"Maar hoekom sit jy 'n uitroepteken aan die einde van elke sin?"
"My ouma is doof."

* 'n Ou oom van die Noord-Kaap koop op sestig vir die eerste keer 'n motor. Sy kleinkinders kom kuier en hy wil gaan spog met die ryding. Hulle klim almal in en ry weg. So vyf minute later sê klein Jannie: "Oupa kan nie so lank in eerste rat ry nie."
Oupa: "Dit is nou net soos deesdae se kinders is. Julle wil alles deurtrek. Ons vat nie aan die tweede rat voor hierdie een nie opgebruik is nie."

* "Ek is bly om te sien dat die buid en bruidegom nie gewag het totdat hulle in die metaalstadium is voordag hulle getrou het nie."
"Metaalstadium?"
"O, 'n vriend van my is in sy metaalstadium getroud: silwer in die hare, goud in die tande en lood in die voete."

Thursday, 24 April 2025

Ouma se wenke: Hier is ‘n paar handige wenke wat werk!

* Ghriesmerke: Om motorolie, diesel, parafien of ghriesvlekke of -kolle (enige oliekolle of vetkolle) sonder veel moeite uit kledingstukke te kry, week dit in gewone Dettol vir so ‘n halfuur en was daarna met die hand en Sunlight-seep. Jy hoef nie eens baie te vryf nie. Die laat jou wit klere mooi wit en gekleurde items se kleure sal nie verdof of uitbleik nie. Dit beskadig ook nie die materiaal nie en jou klere ruik daarna ook vars en skoon.

* Grasmerke op klere: Gebruik enige insekdoder. Spuit op kolle, los dit vir ´n ruk en was soos gewoonlik.

* Groen merke: Indien die wit rugbybroekies groen merke op kry, spuit Windolene daarop en vryf die broekie. Was dan soos gewoonlik en die groen merke sal verdwyn.

* Glas: Gebruik asyn om glas mee skoon te maak. Om krapmerke op glas te verwyder, borsel dit met tandepasta.

Wednesday, 23 April 2025

Hartsake oor 'n koppie tee: Moenie opgee nie

Ek weet dat hierdie boodskap vandag vir iemand bedoel is. 

God is in beheer ... wanneer alles om jou donker lyk ... onthou net 3 woorde: moenie opgee nie! 

Is die tonnel donker? Moenie omdraai nie!
Is die pad lank? Moenie gaan sit nie!
Is die nag swart? Moenie tou opgooi nie!

God se oë is op jou ... wie weet dalk sê Hy op die oomblik vir n engel om jou klip weg te rol ... 
God is nog steeds die Een wat engele stuur. 
God is nog steeds die Een wat klippe wegrol ...
Hy is altyd dieselfde!
Die Begin en die Einde!
God verander nooit nie!
Hy wil vandag vir jou sê: Vertrou My, want My tydsberekening is perfek ... 
Hou net aan bid; Hy sal jou gebed beantwoord.
Weet verseker dat Jesus jou wat hier lees vreeslik baie lief het.
Vertou op Jesus, Hy ken jou hart vandag baie beter as wat jy dink.

[Dankie, Rosetta, dat jy hierdie gedagtes aangestuur het.]

Monday, 21 April 2025

Vandag se internetgebed vir jou: Ek wil U loof en prys

Here, my God, ek verlustig myself in u heerlikheid. Ek is 'n loot en moet vrug dra. Die wynstok dra nie vrugte nie, maar stuur krag na die lote wat vrugte moet dra. Dankie, Here, dat U my deel gemaak het van u koninkryk, al is ek swak en geneig tot kwaad, maar U sal my bo my skaamte verhef. Ek sê weer net dankie en met blydskap in my hart, wil ek U loof en prys. Amen.

Sunday, 20 April 2025

Oomblik van stilte: Rom. 5:7-8

Want nouliks sal iemand vir 'n regverdige sterwe ... vir 'n goeie mens sal iemand miskien nog die moed hê om te sterwe ...
maar God bewys sy groot liefde tot ons daarin dat Christus  vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was.

God het jou sondige lewe gereinig deur sy bloed.
Hy het nie gewag totdat jy regverdig was nie, want dan sou God niks gedoen het of kon doen nie.
Juis dit bewys hoe belangrik en geliefd jy vir God is. 

Here, ek gee U al die ere. U is my Verlosser  en Voorsiener.  U barmhartigheid en goedheid ken geen perke nie. U het my kom haal uit my sonde en skoongewas en gereing vir u koninkryk en tot U eer. In genade word ek wakker en staan ek vanoggend op en leef ek. U het vir my sonde geword sodat ek in hemelse plekke saam met U kan sit. Amen.

Saturday, 19 April 2025

Die woord Passie - “Passion” (Deel 2)

In die 12e eeu is die woord gebruik vir die lyding van Jesus aan die kruis. Dit het die betekenis van om te ly, om te verduur, gehad. (suffering, enduring).

Later is dit gebruik om die Christelike martelare se toewyding waarmee hulle hul vervolging en lyding verduur het, te beskryf.

Later het die betekenis oorgegaan na entoesiastiese toewyding. As ons vandag sê jy doen ʼn ding met passie, doen jy dit met entoesiasme, met oorgawe, met baie liefde en met jou hele hart.

Hoe gebruik ons die woord passie vandag?

* Ons praat van die Passie Spele, bedoelende die uitbeelding van Jesus se lydensgeskiedenis, sy gevangeneming, veroordeling en kruisiging.

* Dan gebruik ons dit vir besondere liefde en toewyding aan ʼn saak wat jou na aan die hart lê.

* Natuurlik ook vir klein of kort treetjies.

* Die Engelse gebruik dit ook nog in “passion fruit.” As die kelner vra: “Wat wil julle drink?” en jy sê, “Passion fruit,” kry jy ‘n grenadelladrankie.

[Chris Erasmus]

Saterdaglagmedisyne - Tong in die kies


* 'n Muskiet is net soos 'n stout kind.
Wanneer dit ophou raas, kan jy maar weet hy doen kwaad.

* "Wil Meneer iets vir die ouetehuis gee?"
"Sekerlik. Hier is my skoonma."

* Die ou tannie het 'n briefie van haar bankbestuurder gekry. Hy skryf dat haar rekening oortrokke is. Sy wou toe by hom weet of daar drie maand gelede nog genoeg geld in die rekening was. Hy sê ja, sy het toe genoeg gehad.
"Het ek toe vir jou 'n briefie geskryf?"

* Die prys op die effektemark het skielik drasties gedaal en die bankier sit radeloos in sy weelderige kantoor met sy kop in sy hande.
Skielik kom sy sekretaris die kantoor binne.
"Meneer, u vrou het gebel ..."
Bankier (ingedagte): "Verkoop dadelik; teen watter prys ookal."

Friday, 18 April 2025

'n Blom vir Paasfees: Christene vier hierdie naweek Paasfees (Deel 1)

Chris sê: "Ek vra een oggend vir iemand op straat wat Paasfees vir hom beteken. Hy sê hy weet Vrydag is ʼn vakansiedag en dis ʼn kerklike dag, maar hy weet nie eintlik wat dit beteken nie. Ons wat weet, moet vir hulle wat nie weet nie, vertel en verduidelik.

Maar hoe vertel mens kort en bondig die Paasverhaal?

Doen dit soos die Spaanse sendelinge dit al eeue gelede gedoen het.

Al wat jy nodig het is ‘n grenadellablom. Dis hoeka nou die tyd dat die grenadellas blom.

Spaanse sendelinge het dit jare gelede gebruik as hulpmiddel om die verhaal van Goeie Vrydag te vertel.

Die grenadella staan vandag bekend as “passion fruit”. Waar kom die “passion” in die grenadella vandaan? Woorde ondergaan met die jare verandering in betekenis. So is dit ook met die woord “passion” by die grenadella.

Kom ons gaan haal die storie heel aan die begin.

Laat in die 12e eeu het die Spaanse sendelinge in Suid-Amerika die wondermooi inheemse blom van die grenadella gesien. Hulle begin toe om die blom te gebruik om die verhaal van Jesus se lyding en kruisiging te vertel. Die lydensgeskiedenis van Jesus word in Engels die “Passion of Christ” genoem. As jy die lydensgeskiedenis, die “passion of Christ” en hierdie besondere blom by mekaar bring, kry jy “Passion Flower” en “Passion Fruit”.

Kyk mooi na die blom dan sien jy die verskillende elemente van Jesus se lydensverhaal in verskillende dele van die blom..

1. Die tien kroonblare verteenwoordig die 10 dissipels wat getrou was. (Petrus het sy Here verloën en Judas Iskariot het sy Here verraai. Daarom word hulle nie bygetel nie.)

2. Die helmdrade verteenwoordig die doringkroon wat Jesus gedra het.

3. Die vyf meeldrade herinner ons aan Christus se vyf wonde: twee spykerwonde in sy hande, twee in sy voete en die wond van die soldaat se spies in sy sy.

4. Die drie stempels verteenwoordig die drie spykers wat Jesus se liggaam aan die kruis gespyker het.

5. Die ranke het hulle laat dink aan die geseltoue (die geselsweep) waarmee Jesus geslaan was.

6. Die gelobde blare vertel die storie van die hande van die mense wat Jesus gevang en gefolter het.

7. Die pragtige blou en wit kleure verteenwoordig die Hemel en reinheid.

Hoekom het ons nie al lankal die grenadellablom die Paasblom genoem nie?

Paasfees is natuurlik meer as wat die grenadellablom ons vertel. Die Paasverhaal gaan verder as die doringkroon en die kruis. Dit gaan na die toe graf en dan na die oop graf - Jesus se opstanding uit die dood.

Mag jy 'n besondere geseënde Paasfees hê."

[Chris Erasmus]

Thursday, 17 April 2025

Ouma se wenke: Hier is ’n paar tips oor hoe om vars uit die vere en meer gefokus en produktief te wees:

* Lees ’n boek of tydskrif en raak rustig voor jy gaan slaap.

* Moenie eet of drink (veral nie alkohol) voor slaaptyd nie.

* Moenie jou foon of tablet op die bedkassie sit nie, aangesien die foon se liggie jou aandag kan aflei en jou slaap kan versteur.

* Plaas die alarm weg van jou bed, sodat jy sal moet opstaan en dit nie sommer net kan snooze nie.

* Drink ’n glas water, aangesien jy dalk gedurende die nag kan sweet.

* Eet ’n lekker, maar gesonde ontbyt om die nodige energie op te bou.

* Kry ’n bietjie oefening in, selfs net joga vir ’n paar minute, om jou aan die gang te kry.

* Probeer om uitmergelende take vir later soggens of voor die middag te beplan. 

Wednesday, 16 April 2025

Hartsake oor 'n koppie tee: Gedagtes rondom reën

Besef ons werklik wat reën is?

Na 'n lang dor en droë winter in die Noord-Kaap, pak die onweerswolke saam. Dan blits die eerste weerligstraal na benede ... soos 'n sweepslag, en 'n paar oomblikke later volg die rammel van die donder. Die eerste groot druppels plons op die dorre aarde, wat dit gulsig en haastig verswelg. Nog meer reën ... dit stort emmersgewyse na benede. Die aarde word nat en die grond is deurweek.

Dit kletter op die sinkdakke en verkondig so die blye tyding. Die geute sukkel om die stroom water weg te voer. Spoedig word die bruin malende massa water in die strate omskep in rivierstrome -  die dreineringskanale kan kwalik bybly ...

Die bome, struike, plante, ja, selfs die huise is skoon gewas. Die storm bedaar geleidelik en die vars prentjie is onbeskryflik mooi. Die wolke trek stadig weg en skaam-skaam loer die sonstrale deur die wolke.  

Dan verskyn die pragtige reënboog teen die horison. Onwillekeurig dink jy hoe oupa en ouma vir jou as klein dogtertjie vertel het, dat as jy die reënboog kan vind, jy al die geluk van die wêreld sal hê. Jy glo dit, totdat jy groter is en besef geluk word nie deur die reënboog bepaal nie, maar deur innerlike vrede. 

Die aarde is skoongewas deur die reën. Die voëls hef 'n danklied aan en met die getjirp van die mossies in my ore, voel ek lus om saam te sing:
Reën, reën, lieflike reën
Val op die aarde, val om ons heen.  

[Dankie, aan 'n inwoner vir die jeugherinneringe.]

Monday, 14 April 2025

Vandag se internetgebed vir jou: Kol.1

Dankie, Vader, dat U die Woord vir my ook gebring het en lewendig gemaak het om in my te kom woon. Ek het nou 'n dienaar geword van Christus in die bediening en lydsaamheid om die woord van God te vervul, naamlik die verborgenheid wat van die eeue en geslagte af verborge was, maar nou aan my en sy heiliges geopenbaar is. My hoop is nou op Christus, en in sy heerlikheid. Nou kan elke mens volmaak wees in Christus (sien Kol. 1:24-28). Amen.

Sunday, 13 April 2025

Oomblik van stilte: Jes. 46:4

en tot in die ouderdom toe is Ék dieselfde, ja, tot die grysheid toe sal Ek julle dra; Ek het dit gedoen,  en Ék sal julle opneem,  en Ék sal dra en red.

Niks is vir die Here te veel moeite nie, want alles is uit liefde gedoen.
Die Here wil jou optel en dra wanneer dit swaar gaan.
Die Here sal jou red wanneer die vyand jou aanval en oorrompel.
As jy oud raak en nie meer die krag van 'n jong mens het nie, sal die Here jou opneem en dra en uitred.

Dankie Here, U tel almal op en u redding is vir alle mense. U is nie 'n aannemer van die persoon nie. Ek verdien nie om met genade gered te word nie want my hele lewe het U nie altyd geëer nie. Wie kan ek U mee vergelyk? Daar is niemand met wie ek U kan gelykstel nie. U staan bo alles en almal uit, u koninkryk is 'n ewige koninkryk. U is die Almagtige God wat alles sien en u liefde het my gedra en gered. Amen.

Thursday, 10 April 2025

Ouma se wenke: Verminder risiko van aanlyn-identiteitdiefstal

* Skep verskillende wagwoorde vir verskillende rekeninge. Op dié manier sal dit vir ’n dief moeilik wees om uit ander rekeninge te steel as hulle reeds tot een toegang verkry het.

* Moenie voor die hand liggende wagwoorde kies nie. Die eerste wagwoorde wat diewe sal probeer, is dié soos 1234567890 of iets soortgelyks.

* Wees lukraak. Moenie jou naam gebruik nie en probeer dit vermy om regte woorde te gebruik.

* Spel woorde verkeerd. As jou password “ek haat geel” is, vervang sommige letters deur syfers en simbole soos “3k haa7 g331”.

* Hou dit lank. Hoe langer die wagwoord, hoe moeiliker is dit om te ontsyfer.

* Gebruik ’n geheuerympie. Dink ’n sin uit soos “My gunstelingdier is ’n kat” en gebruik die eerste letter van elke woord as jou wagwoord. (“mgdink” in die voorbeeld.) 

* Gebruik altyd sterk wagwoorde.

Wednesday, 9 April 2025

Hartsake oor 'n koppie tee: Lesers

Het jy geweet?

* Wanneer jy 'n romanse lees, veroorsaak dit 'n chemiese reaksie in jou brein wat jou goed laat voel.

*  Dit verlig stres op 'n natuurlike manier.

* Jy ervaar 'n gevoel van emosionele versorging omdat die held die heldin se diepste behoeftes verstaan.

* Lesers voel dat dit hulle insig in hulle eie verhoudingsprobleme gee.

* Dit dra by tot vroue se bemagtigingsproses omdat die heldin 'n vrou in eie reg is.

* Die jongste lesers is tieners en die oudste lesers is in hul 90's.

* Die romanseleser is dié mees belese leser in die wêreld. Hulle is sterk, intelligente en kreatiewe vroue wat presies weet wat hulle wil hê.

* Sielkundiges stem saam dat die romanseleser warm, vriendelik en sensueel is.

* Daar is omtrent 2% mans wat romanses lees - op olietenkskepe, in kompongs of in die tronk. Die res lees dit omdat hulle graag wil weet hoe vroue voel en dink.
Slim mans!

[Romanza - LAPA Uitgewers]

Monday, 7 April 2025

Vandag se internetgebed vir jou: Redding van ons siele

Dankie, hemelse Vader vir die redding van ons siele wat deur U bevestig is. Jesus het vir ons die weg berei en het vir ons 'n woonplek gaan berei volgens sy belofte. Aan ons is die Heilige Gees is as pand gegee, met die belofte van Jesus, wat weer sal terugkeer en sy bruid kom haal. Dankie, Vader, dat U my uitverkies het. Aan U kom toe al die lof en eer en aanbidding, in Jesus Naam. Amen.

Sunday, 6 April 2025

Oomblik van stilte: Hand. 2:24

Hom het God opgewek, nadat Hy die smarte van die dood ontbind het, omdat dit onmoontlik was dat Hy daardeur vasgehou sou word.

Jesus leef, Hy het opgestaan, Hy lê nie meer in die graf nie, die graf is leeg.
Daarna het Hy die hekke van die hel uitgeruk en die smarte van die dood ontbind.
Niks kan die Seun van God bind en vashou nie.
Nou het Christus, die opgestane Heer, vir jou dieselfde opstandingskrag gegee, deur sy genade en krag van geregtigheid.

Dankie Here, U het vir my na die hel neergedaal en die dood oorwin met u opstandingskrag in die Heilige Gees. U Gees wat Jesus uit die dode opgewek het woon in my. My oorwinning is in Christus wat in my is, die hoop op heerlikheid. En Dawid sê: U sal My vervul met vreugde by u aangesig. 'n Voorspelling van Christus wat uit die lendene van Dawid sou voortspring. Hy het ook voorspel dat Jesus se vlees nie verderwing sou sien nie. U het die Heilige Gees ook op my uitgestort, wat U van die Vader ontvang het. Amen.

Saturday, 5 April 2025

Saterdaglagmedisyne - Blondinegrappe


Aan die eertydse blondines in Ons Huis wat nou almal getooi is met grysheid en gepaardgaande wysheid: geniet hierdie grappies ...

* Het julle geweet daar is 'n vereniging vir blondines gestig?
Hulle noem dit die Ama-dom-dom.

*    Die blondine kuier vir die eerste keer op die plaas.
"Ek kan nie verstaan waarom die melk vanoggend so waterig lyk nie," sê die boervrou.
"Seker omdat die koeie die hele nag in die reën gestaan het," antwoord die blondine. 

*  "Kyk net, daai vrou het groen hare!" sê die een blondine aan die ander.
"Ek wonder hoe kry sy dit so?"
"Sy is seker 'n vegetariër."

* Hoekom dink julle neem dit 'n blondine so lank om 'n soutpotjie vol te maak?
Sy sukkel om die sout deur die gaatjies te kry.

[Word vervolg!]

Wednesday, 2 April 2025

Hartsake oor 'n koppie tee: Vrede

'n Vrouelidmaat van Philipstown skrywe ...

"Vrede laat Ek julle na; My vrede wat Ek vir julle gee, is nie die soort wat die wêreld gee nie. Julle moet nie ontsteld wees nie, en julle moet nie bang wees nie." (Joh. 14:27) 

Ek lees die teks en dit voel soos gister ...

Ek sou myself as 'n Christen kon beskryf 'n jaar gelede. 'n Christen wat bid, kerk toe gaan en my tiende gee, maar nie die soort Christen wat in 'n tyd van nood of vreugde teksverse uit my kop kon opsê nie. My man beland skielik in die hospitaal. Dis chaos. Selfoon hou nie op met lui nie. Ek probeer my bes om antwoorde te hê en kalm te lyk as my kinders met trane na my kyk. Ontmoet dokter nommer drie en kan nie een se naam of titel onthou nie. Wag, die een is 'n o...loog en die ander 'n ietsie-ietsie ook met 'n loog of so iets. Teater toe. Dis half drie in die môre. Daar is niemand saam met my in die gang nie. Ek sit op 'n bank. Moeg, maar niks binne my gemoed wil tot rus kom nie. Ek berei my voor vir die ergste, hoe sal ek die situasie hanteer. Ek werk uit wat ek op die plaas moet doen: wanneer moet ek lone betaal, watter kampe het nou weer die lammerooie in, hoe lank dink ek (met my mediese kennis) sal hy in die hospitaal wees. Moenie huil nie ... ek voel deurmekaar. Die kinders ... Here! Ek begin met die tweehonderd en eerste gebed.

Skielik hoor ek 'n stem binne my. "Wees stil en weet, Ek is die Heer ..." Dis asof alles binne my se handrem opgetrek raak en tot 'n stilstand kom. Dit was duidelik, baie duidelik. Die gang is stil ... my gemoed is stil. Ek is amper te bang om asem te haal. Het ek reg gehoor? "Here, sê asseblief net nog een sin," vra ek. Stilte. Vrede. 'n Vrede wat nie van die wêreld af kom nie. Vir die volgende paar weke ervaar ek die nabyheid van Hom asof ek my hand kan uitsteek en aan Hom kan vat. Ek leef asof ek toegevou is in Sy hande. Die dokters bring goeie en slegte tyding - ek hoor dit, voel dit, en weet dadelik met vrede hoe om elke situasie te hanteer.

Dis 'n jaar later en ek staan op my knieë met Bybelstudie voor ek gaan slaap. My teksvers: Joh. 14:27. Ek voel 'n warmte oor my. Ek weet hoe daardie vrede voel. Die soort vrede wat nie van die wêreld kom nie. Moet erken; ek kan nog nie baie teksverse uit my kop aanhaal nie, maar Hy is so naby dat Hy dit in my oor kon fluister.

My bede vir almal is vrede wat jou verstand te bowe gaan. Hande wat jou toevou wanneer jy dit die nodigste het, en die wete dat Hy in jou oor fluister. Jy moet net luister.  

[Die Pienk boekie, Vrouelidmate - NG Kerk in Noordkaap, Nuusbriefnr. 93]