Vergewe my, Here, dat ek sê dat ek U volg
en dat ek altyd in U teenwoordigheid is -
maar dan verwag ek U nie op onverwagte plekke nie!
O Here, ek verwag U spesifiek nie in armoedige omgewings nie -
nie in huisies waarvan die verf afskilfer en onkruid die tuintjies oorwoeke';
in kroeë, kronkelstraatjies, agterbuurtes en rooiligdistrikte nie.
Dit is omdat ek vergeet van die stal
en die Baba tussen die plaasdiere.
Dit het nooit regtig tot my deurgedring
dat die jong Prins van Vrede
grootgeword het in die stofstrate van 'n vaal plattelandse dorpie nie;
dat Hy sy mag sou beperk om mens tussen ons te word nie.
Here, as ek U nie raaksien op die alledaagse plekke
en in die doodgewone mense rondom my nie,
is dit omdat ek vergeet hoe anders as wat mense sou verwag
u Koningskap vertoon is ...
U is gekroon met dorings, het die kruis as troon aanvaar,
en die enigste swaard wat U opgeneem het, was dié van die Gees.
O Here, ek moet nog so baie leer!
Wys vandag die lig van die ster vir my
bokant die plakkershuise om my stad,
laat my die engellied hoor
in versoenende woorde tussen gewone mense.
Ek bring aan U die geskenk van my lewe.
[Arthur A Rouner]