Wednesday 7 December 2022

WATERDRUPPEL vir die WEEK = Gert en die Kêrelkind van God

Dit was een middag laat êrens in die diep Kalahari. Daar waar vergete beleggingsplase lê en waar voertuie en mense nie sommer op windverwaaide sandduine spore trap nie. Gert Bantam en sy sekelstert windhond woon hier .. hier in die Kalahari se alleenheid en oorverdowende stilte.

Die ontmoeting was maar styf en die formaliteite van voorstel moeilik. Gert se oë soekend na die bakkie, want gewoonlik kom daar ietsie te eet saam. Dalk ʼn ou broodjie, blikkie vis of selfs ʼn pakkie broodmeel om ronde roosterkoeke te maak. Dit sal tog al te heerlik wees saam met die dag voor eergister se stukkie vleis wat die sekelstert windhond gevang het. Die kuier is maar vas en los - dit handel oor die weer, die reën en selfs die vet hamels wat laas week al met die skaaplorrie moes ry, maar nooit gelaai is nie.

“Gert, is jy ʼn kerkmens?” vra ek hom so half onverwags. Hy kry daardie tipiese “vêr in die ou Kalahari” uitdrukking in sy oog en antwoord skaam-skaam dat hy nie meer gereeld by die kerk kom nie. Die verantwoordelikheid om in die alleenheid etlike duisende hektaar plaas op te pas, help ook nie regtig nie.
“Dan meneer, is my se kerkboekie ook leeg, want die loon is maar min en my meneer se nuwe Cruiser loop maar nie te gereeld hierna toe nie,” sê hy so saggies agter die beskerming van sy hand.
“Maar Gert, glo jy in die Kêrelkind van God?”
Amper te vinnig knik hy sy kop op en af: “Ja meneer, ek glo in Hom.”
“Is jy ʼn hemelkandidaat Gert, daar waar vir ewig gelewe gaan word?”
Hy laat sak sy kop in sy bruin eelterige hande en sê half onhoorbaar: “Nee meneer, die twak, die dop en die meisiegoed maak my se voete sommer die verkeerde pad kies.” Ek is so half stom verslae.
“Maar Gert, jy glo dan in die Kêrelkind van God?”
“Ja meneer, ek glo, maar die verkeerde goed!”

Op my versoek gaan haal Gert sy Bybel en begin die boek Johannes soek. Hy begin by Genesis en blaai dan bladsy vir bladsy terwyl sy oë heen en weer oor die geskrewe bladsye dartel. Êrens tussen Psalms en Hooglied wonder Gert of Johannes nie dalk verby gespring het soos ʼn baldadige vetstert hamel nie. Hy blaai so ʼn bietjie terug, maar gaan dan moedig voort. Tyd in die Kalahari is in oorvloed en ek wag maar geduldig. Ek weet dat Gert se oog Johannes sal vind, al vat dit so ʼn rukkie langer as normaalweg. Eers ontmoet Gert vir Mattheus, vir Markus net daarna en toe vir. Hard weerklink ʼn diep sug van verligting toe Johannes sy opwagting maak.

Op my versoek, maak hy keel skoon en begin die 16de vers van die derde hoofstuk stadig in sy beste graad vyf Afrikaans te lees. Sy vinger met die swart nael waar die knyptang hom gevang het lei woord vir woord en dit gaan maar so hakkel-hakkel. Veral met die langer moeiliker woorde. Hy lees die versie klaar en ’n sagte sproeireën van verligting oortrek sy dor sonverbrande bruin gesig.
“Wat nou?” vra hy woordeloos.
“Gert, kan ek maar die versie vir jou sê?” antwoord ek hom met ʼn teenvraag en begin sommer.
Gert luister aandagtig en dan spring sy oog na die Bybel om te volg wat ek aanhaal. Hy probeer volg maar ek is klaar voordat hy die sestiende vers kon kry.
“Gert, ek wil weer vir jou die versie sê, maar hierdie keer gaan ek van die woorde verander.”
Die verwardheid staan soos ʼn geelslang in hom op want hy het homself nou in ʼn onbekende terrein begewe. Hy wil iets sê maar besluit daarteen en ek begin: “Want so lief het God vir Gert gehad dat Hy sy eniggebore Seun Jesus gestuur het sodat Gert, wat in Jesus glo, nie verlore kan gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.”
Sy mond val halfpad oop en sy amper swart oë is stil gefokus op my gesig. “Pastoor,” smeek hy saggies “sê tog weer asseblief.”
Ek begin met: “Want so lief het God die wêreld gehad” toe Gert my met ʼn krakende stem in die rede val.
“Nee Pastoor, sê hom . . . sê hom met my naam.”

Op daardie oomblik begin die Veilige Gees Gert se gemoed los torring en ek sê die versie met sy naam daarin. Trane wel in sy oë op en hy snik saggies. Versigtig sit hy sy hand oor sy mond en buig sy kop stadig vooroor tot teen my bors. Met my arms om hom gevou vloei die trane vrylik oor sy wange waarna hulle met ʼn hoorbare plof in die rooibruin Kalahari stof val.
“Pastoor,” kom dit so tussen die snikke uit, “dit beteken dat ek hemel toe kan gaan al pla die twak, die dop en die meisiegoed, want ek glo in Jesus, die enigste Kêrelkind van God!”

Joh 3 vers 16 (Afr 2020) = “Want so lief het God die wêreld gehad dat Hy sy unieke Seun gegee het, sodat elkeen wat in hom glo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê.”

Sandkorrel baie seëninge.

Divine Life Bediening (HJ & Dalene Cronjé)
Selnr: 082 772 2192 WhatsApp: 081 568 7549

[Dankie, Valerie, vir jou voetspore wat jy hier los!]

1 comment: