‘n Sendingpaartjie het besoek afgelê by 'n weeshuis, en voor al die geskenkies uitgedeel is, het die sendeling se vrou die kinders bymekaar geroep, en sy het vir hulle die Kersverhaal vertel. Hulle het gehoor van Josef en Maria wat in Bethlehem aangekom het, en dat daar nie vir hulle plek was nie en hulle toe in die stal beland het.
Daar is Jesus toe gebore en in die krip geplaas. Dwarsdeur die verhaal het die kinders vasgenael gesit en luister. ‘n Paar se mondjies het oopgehang en hulle het nie beweeg nie.
Vir die meeste van hierdie kinders was dit die eerste keer dat hulle die Kersverhaal gehoor het.
Na die verhaal het die sendingpaartjie toe stukke karton uitgedeel en hulle almal geleer hoe om ‘n krip te maak uit die karton. Toe die krip klaar was, kon hulle grassies buite gaan haal om in die krip te sit, en ‘n ou stuk lap is opgesny en uitgedeel om as 'n kombers te dien, en uit viltmateriaal is daar vir hulle gewys hoe om ‘n figuurtjie uit te sny wat sou dien as die Baba.
Terwyl hierdie weeskinders druk besig was om die verhaal wat hulle nou net gehoor het uit te beeld het die sendeling se vrou tussen hulle deurgestap om te sien hoe hulle vorder. Alles het mooi gelyk en toe kom sy by die tafeltjie waar klein Mike besig was om te werk. Mike was 5 jaar oud, en toe sy nader stap, sien sy tot haar verbasing dat daar in sy krip, nie net een baba is nie, maar twee.
Sy het gedink miskien het Mike die verhaal verkeerd verstaan en hom gevra om vir haar die verhaal te vertel soos hy dit verstaan het. Alles was doodreg en hy het die verhaal pragtig vertel, tot by die gedeelte waar Josef en Maria die Baba in die krip neergelê het. Toe staan hy regop, en ewe kordaat vertel hy toe die volgende weergawe: Sy weergawe ...
Hy vertel vir die sendeling se vrou: “En ek was ook daar daardie aand, toe Jesus gebore is. En toe kyk Jesus reguit vir my en Hy vra toe vir my, Mike het jy ‘n plekkie om te bly ... En toe sê ek vir Hom, nee, Jesus, ek het nie ‘n mamma en ‘n pappa nie, en ek het ook nie ‘n huis om in te bly nie. Ek is maar net ‘n weeskind wat nêrens behoort nie.
En toe sê Jesus vir my ek kan maar by Hom kom bly. Toe dink ek so bietjie en toe sê ek vir Jesus maar ek het nie ‘n geskenkie om vir Hom te gee soos die wyse manne nie. Maar toe vra ek Hom of dit reg is dat ek by Hom in die krip kan kom lê, dan sal ek Hom lekker warm hou, en dis mos ook ‘n geskenk.
Toe kyk Jesus vir my en Hy sê, as jy my warm hou, dan sal dit die grootste geskenk ooit wees. En toe klim ek in die krip by Hom, en toe sê Jesus vir my, Mike, jy kan maar vir altyd en altyd by my kom bly!”
Met trane wat oor die wangetjies loop het Mike opgekyk na die Sendeling se vrou en gesê: “Nou het ek ook Iemand aan wie ek behoort. Iemand wat my nooit sal wegstoot oor ek ‘n weeskind is nie, en Iemand by wie ek altyd kan bly”.
Soms voel ons ook so verlate en uitgestoot soos Mike. Ons voel so asof ons nêrens tuis is nie, en of ons maar net ‘n Geestelike weeskind is. Maar dan kyk ons in Jesus se oë en sien die liefde en warmte, en weet Hy sal ons altyd liefhê. Hy sal altyd vir ons plek maak, Hy sal ons nooit begewe of verlaat nie.
Geseënde Kersfees almal.
Geskryf deur Georgie
Geseënde Kersfees almal.
Geskryf deur Georgie
[Klik HIER vir nog stories]
No comments:
Post a Comment