Tuesday, 30 December 2025

Boodskap oor Dankbaarheid

Dankbaarheid is ’n posisie of postuur wat jy in neem.
Dankbaarheid is ’n keuse wat jy daagliks maak
Dankbaarheid is ’n ingesteldheid wat jy in-oefen en kultiveer.

Jesus verwag van ons om dankbaar te wees en dit is goed vir ons:

Dankbaarheid moet ’n leefwyse word.
Dankbaarheid moet ’n ritme in jou lewe word. 

Uit die Groot Karoo: Schalk se lewensnippers

Monday, 29 December 2025

Vandag se internetgebed vir jou: Wanneer ons bid

ELKE keer wanneer ons BID, is daar ‘n BEROERING in die HEMELE ... en op AARDE. Elke GEBED wat ons BID, sneller ‘n Goddelike REAKSIE in die GEES-DIMENSIE. Die ALLERHOOGSTE GOD mis nie een gebed nie. Elke gebed wat ons BID, het bonatuurlike MOMENTUM en KRAG. Gebed verander nie net OMSTANDIGHEDE vir ons nie. Dit verander ook ONS vir die omstandighede. Soms bid ons vir die BERG om te skuif ... maar dikwels skuif die HERE ons. Soms gee die HERE nie vir ons wat ons gevra het nie, want Hy het iets BETERS in gedagte. Solank ons net glo en verstaan: HY weet altyd die BESTE vir ons. Daarom het HY die LAASTE SÊ! GEBED is altyd ‘n teken van ons KINDERLIKE geloof in die Lewende GOD. Dankie VADER dat U altyd na ons GEBEDE LUISTER! Amen.

Sunday, 28 December 2025

Oomblik van stilte: Jesaja 45:3

En Ek sal jou die skatte gee wat in die donkerheid is en die verborge rykdomme, sodat jy kan weet dat Ek die HERE is wat jou by jou naam roep ...


Selfs in die donkerste en moeilikste tye het die Here iets vir jou.
Wanneer ons deur moeilike tye gaan verwag ons nie ons iets spesiaal te vind nie.
Ten midde van dit alles kan die Here sy skatte en rykdomme aan ons ontbloot.
Hy roep jou by jou naam en Hy het skatte vir jou.
Gaan hierdie nuwe jaar in met die vaste wete dat die Here jou by jou naam geroep het, dat jy saakmaak en dat Hy 2026 saam met jou gaan stap as jy Hom toelaat.

Gebed: Vader, dankie dat U my by my naam roep. U sal my nooit verlaat om vernietig te word nie U sal altyd dinge vir my ten goede laat uitwerk. Amen.

Saturday, 27 December 2025

Saterdaglagmedisyne - vinnige denke


* Die baie jolige snaar word voorgekeer en kry 'n kaartjie vir bestuur onder die invloed.
"Jy," sê die jolige snaar, "sal agterkom dat jy dit nie aan my kan doen nie. My pa noem die Staatspresident neef, my ma noem die Eerste Minister op die voornaam en my vrou soengroet minstens drie ministersvroue."
Die verkeerskonstabel neem die kaartjie, skeur dit op en kanselleer die teenblad.
Toe skryf hy 'n nuwe kaartjie uit - vir bestuur onder die invloed van invloed.

* Gehoor van die blommeverkoper wat 'n man op straat voorgekeer het met die voorstel om 'n bos blomme vir sy meisie te koop?
"Ek het nie 'n meisie nie," is sy reaksie.
"Maar koop dan 'n bos blomme vir jou vrou," antwoord die blommeverkoper.
"Ek het nie 'n vrou nie," is sy antwoord.
"Nou koop dan twee bosse blomme vir jou geluk."

* 'n Taxibestuurder vervoer eendag 'n jong man, die seun van 'n baie bekende ryk man. Die jong man gee hom 'n goeie fooitjie toe hy afklim.
'n Week later vervoer die taxibestuurder die jong man se pa, maar dié gee hom geen fooitjie nie. Die taxibestuurder het dadelik sy ontevredenheid laat blyk.
"Jou seun het my dan so 'n goeie fooitjie gegee," kla hy.
"Ja, maar hy het 'n ryk pa," antwoord die ryk man.

Friday, 26 December 2025

Vrydag-flits: Vertrou op God

Neem die Woord ...
Lees dit deur ...
Bid dit in ...
Leef dit uit ...
Stuur dit aan ... 

Thursday, 25 December 2025

Gebed vir Kersfees

Ek bid dat God jou dra, oor paaie van gevaar,
Sy lig laat skyn oor al jou kommer en vrae.
Ek bid dat hierdie Kersfees jy geen twyfel in jou hart sal dra,
maar dat glimlagte en goeie dae, 
hierdie Kersfees genoeg blydskap sal bring om vir ewig rond te dra.

Ek bid dat God jou geliefdes, al is van hulle dalk ver,
saam jou gebede en toekoms hoop,
sal toevou in Sy liefde, en hulle almal goed bewaar.
Mag hierdie goeie tyd net meer liefde in jou hart wakker maak
om ‘n ander se hand te vat, al het hulle harte liefde vergeet.

Maar bo dit alles hierdie Kersfees, mag jy God se liefde ervaar,
mag jy Sy teenwoordigheid in alles om jou gewaar.
Ek bid dat God jou optel en by Sy Vader voete laat rus
sodat wanneer hierdie feestyd se dae, al minder raak,
Hy jou in sy krag, die nuwe jaar, verder en hoër sal laat vaar.

Wednesday, 24 December 2025

Hartsake oor 'n koppie tee: Vergelyking tussen twee "Generasies"

'n Jong man het vir sy pa gevra: "Hoe het julle mense voorheen geleef met ...
* geen lugversorgde voertuie nie?
* geen WiFi nie?
* geen internet nie?
* geen rekenaars nie?
* geen aanlyn-inkopies nie?
* geen TV's nie?
* geen lugversorging nie?
* geen selfone nie?
* geen winkelsentrum nie?
* geen multiplekse?"

Sy pa het geantwoord:
"Net soos hoe jou generasie vandag leef met ...
* geen gebede nie.
* geen deernis nie.
* geen eer nie.
* geen respek nie.
* geen karakter nie.
* geen skaamte.
* geen beskeidenheid nie.
* geen tydsbeplanning nie.
* geen sport nie.
* geen lees nie."

"Ons, die mense wat tussen 1940-1980 gebore is, is die geseëndes. Ons lewe is 'n lewende bewys:
👉 Terwyl ons speel en fietsry, het ons nooit helms gedra nie.
👉 Na skool het ons tot skemer gespeel. Ons het nooit TV gekyk nie.
👉 Ons het met regte vriende gespeel, nie internetvriende nie.
👉 As ons ooit dors gevoel het, het ons kraanwater gedrink en nie gebottelde water nie.
👉 Ons het nooit siek geword nie, alhoewel ons dieselfde glas sap met vier vriende gedeel het.
👉 Ons het nooit gewig opgetel nie, alhoewel ons elke dag baie rys geëet het.
👉 Niks het met ons voete gebeur nie ten spyte van kaalvoet rondswerf.
👉 Ons ma en pa het nooit enige aanvullings gebruik om ons gesond te hou nie.
👉 Ons het vroeër ons eie speelgoed geskep en daarmee gespeel.
👉 Ons ouers was nie ryk nie. Hulle het ons liefde gegee, nie wêreldse materiaal nie.
👉 Ons het nooit selfone, DVD's, speelstasies, XBox, videospeletjies, persoonlike rekenaars, internetklets gehad nie - maar ons het regte vriende gehad.
👉 Ons het ons vriende se huise ongenooid besoek en saam met hulle kos geniet.
👉 Anders as jou wêreld, het ons familie gehad wat naby gebly het, so familietyd en bande is saam geniet.
👉 Ons was dalk in swart en wit foto's maar jy sal kleurvolle herinneringe in daardie foto's kry.
👉 Ons is 'n unieke en, die mees begripvolle generasie, want ons is die laaste generasie wat na hul ouers geluister het. Ook die eerstes wat na hul kinders moes luister.
👉Ons is dié wat nog slimmer is en jou nou help om die tegnologie te gebruik wat nooit bestaan ​​het toe ons jou ouderdom was nie!!!

Ons is 'n BEPERKTE uitgawe!

Geniet ons.
Leer by ons.
Koester ons.
Voordat ons van die aarde en jou lewens verdwyn."

[Dankie, Chrisna, vir die aanstuur van hierdie ongelooflike vergelyking.]

Monday, 22 December 2025

Vandag se internetgebed vir jou: Gebed vir kalmte

God, Skenk my die kalmte,
Om te aanvaar wat ek nie kan verander nie,
Moed om te verander wat ek kan,
En die wysheid om te weet wat die onderskeid is.
Om te lewe een dag op `n slag
Oomblik na oomblik te geniet
Swaarkry te aanvaar as die pad na Vrede
Soos Hy, hierdie sondige wêreld te aanvaar
soos dit is, en nie soos ek dit wil hê
Om te vertrou dat Hy alle dinge reg sal maak
as ek my wil aan Syne oorgee
Dat ek redelik gelukkig in hierdie lewe sal wees
en sal jubel van geluk saam met Hom
vir ewig in die volgende Lewe
Amen

(Vrye vertaling – oorspronlik in Engels geskryf deur Reinhold Niebuhr)

Sunday, 21 December 2025

Geseënde Kersfees

Hierdie Kersfeesboodskap is spesiaal vir al die inwoners wie se kinders en kleinkinders in Engeland of êrens anders oorsee woon. Grootouers wat verlang, veral oor Kersfees, maak kennis met ds. André. Gaan kuier HIER by die SA Gemeente en kyk gerus na al die aktiwiteite wat aan die anderkant van die wêreld plaasvind.  

Daar is drie groepe mense wat die boodskap ontvang het van Jesus se geboorte en aan Hom hulde gebring het in die stal. Eerstens is dit gebring aan die godsdienstiges in die tempel. Die priester Sagaria hoor by die engel dat Hy 'n seun sal hê: Johannes, die Doper, wat die pad vir Jesus moes voorberei. Tweedens is dit aan herders, gewone mense gebring wat dit aan die hele volk verkondig. Derdens was daar wyse manne uit die Ooste, sterrekundiges uit Babilonië - dus mense wat God nie geken het nie en gesien was as heidene.

Christus het gekom vir elkeen in wie Hy 'n welbehae het! Tydens Sy lewe en deur Sy hele bediening getuig Hy aan alle mense - God het jou, hulle en almal lief! Hy preek vir, en red mense uit alle oorde en vlakke van die samelewing: die skelm tollenaars, die teoloog Nikodemus, die ryk jong man, die Samaritaanse vrou en hulle wat buite God se verbond staan, sowel as die moordenaar aan die kruis.

Jesus het elkeen wat in Hom glo, kom red. Hy is die enigste Here en Verlosser. God is die enigste Almagtige wat heers oor alles en almal, en Sy Gees is met jou vandag.

Ons staan vandag weer in die stal. Die Boodskap van Jesus Christus is vir jou bedoel, ongeag vanwaar jy kom en waarheen jy op pad was en is. Kom ons gaan uit en deel Sy Liefde aan elkeen in wie Hy 'n welbehae het!

Mag jy en jou geliefdes voorwaar 'n Geseënde Kersfees hê, en God se Liefde leef!

Gebed:
"Ere aan God in die hoogste hemele, en vrede op aarde vir die mense in wie Hy 'n welbehae het."

Seënwense
Andrè

[Bron: Lees gerus HIER]

Saturday, 20 December 2025

Saterdaglagmedisyne - Hoe om te weet of jy ouer word

* Alles pyn, en wat nie pyn nie, werk nie.
* Die glinstering in jou oog kom van die son wat op jou bifokalelense skyn.
* Jy voel soos die nag vantevore en jy was nêrens nie.
* Jou adresboekie bevat net name wat op MD eindig.
* Jy word uitasem van skaak speel.
* Jou kinders begin middeljarig lyk.
* Jy sluit by 'n gesondheidsklub aan en gaan nie daarheen nie.
* Jy begin om entoesiasme te oorleef.
* Jou verstand maak kontakte wat jou liggaam nie kan ontmoet nie.
* Jy ken al die antwoorde, maar niemand vra jou die vrae nie.
* Jy sien uit na 'n vervelige aand.
* Jou geliefkoosde deel van die koerant is: "Vandag 25 jaar gelede."
* Jou knieë swig en jou lyfband wil nie vasmaak nie.
* Jy is 17 om jou nek en 42 om die middel.
* Jy sien nie meer uit na jou volgende verjaardag nie.
* Dit put jou uit om langafstandoproepe te maak.
* Jou rug glip meer gereeld as jy uit.
* 'n Fortuinverteller bied aan om jou gesig te lees.
* Jy skakel die lig af om ekonomiese redes liewer as romantiese redes.
* Jy onthou vandag dat dit gister jou huweliksherdenking was.
* Jy skrik wanneer jy die eerste keer as Ou Toppie aangespreek word.
* Jy verrig middernagtelike arbeid na 9:00 in die aand.
* Jy slaan jou tande in 'n biefstuk en hulle bly daar.
* Jou pasaangeër laat die motorhuisdeur oopgaan wanneer jy 'n mooi meisie sien verbystap.
* Jy doen oefening deur as lykdraer op te tree vir jou vriende wat geoefen het.
* Jy het te veel plek in die huis en te min plek in die medisynekassie.
* Die beste deel van jou dag is verby wanneer die wekker afgaan. 

[Anoniem]

Friday, 19 December 2025

Thursday, 18 December 2025

Ouma se wenke: Koperware

Hier is 'n paar moontlikhede wat ek vir julle opgesom het: 
* Vryf koper blink met stukke suurlemoen wat in sout gedoop is.

* Om koperware maklik skoon te maak, voeg net een teelepel wynsteensuur by ‘n emmer water en week die ornamente daarin.

* Poets koper mooi blink met sout en asyn.

* Gooi’n pakkie wynsteensuur en Sunlight-skottelgoedseep in ‘n emmer met warm water. Week die koper daarin vir `n paar uur. Haal uit en vryf droog. Die oplossing dring in al die hoekies en gleufies in en laat die koper pragtig nuut lyk!

Meng:
💪1 liter warm water
💪3 eetlepels Sunlight Liquid
💪2 eetlepels Wynsteensuur (Tartaric Acid)
💪Was artikels daarin, spoel af met skoon warm water en vryf op - dit maak die ware pragtig skoon en bly lank blink.
OF

💪Meng 5 ml sout met ‘n koppie asyn en roer dan meel by tot dit ‘n pasta vorm. Smeer die pasta aan die koper en laat vir 15 minute staan. Spoel af met warm water en vryf droog.

Dis goud wat blink maar koper wat stink.

Wednesday, 17 December 2025

Hartsake oor 'n koppie tee: Oud is goed

• Oud is gemaklik.
• Oud is veilig.
• Oud is goed.
• Oud is bekend: * ou liedjies
               * ou flieks
               * en die beste van alles 
                 - ou vriende!

Ou vriend, kyk na jouself, wees goed vir jouself en 
waardeer al die ou bekende goed wat jou omring!

Monday, 15 December 2025

Vandag se internetgebed vir jou: Dankie vir vandag

Dankie, God, vir nog 'n dag,
'n geleentheid om na U wil te leef,
om weer die vreugde van die lewe te voel,
en die blydskap te ervaar van gawes aan ander.
Dankie vir vriende wat verstaan
En die Vrede wat vloei uit U liefdevolle hand.
Help my om wakker te word met die oggendson
Met die gebed vir vandag - ‘U wil geskied ...’
Want met U hulp, sal ek die reguit pad loop
Dankie weer, o God, vir vandag ...
Anoniem

Sunday, 14 December 2025

Oomblik van stilte: Matt. 6:12

Vergeef ons ons oortredings soos ons ook dié vergewe wat teen ons oortree.


Die lewe is so 'n wonderlike gáwe van GOD, ek wil nie één oomblik daarvan verlore laat gaan deur 'n wrok wat ek met my ronddra omdat ek níé kan vergewe nie.

En hóé vry voel ek, en hoe móói die dag, wanneer ek alles en almal, myself ingesluit, vólkome vergewe het. Die son skyn sommer helderder, die lied van die voëltjies klink sommer mooier, omdat ek vry is en deel kan wees van God se pragtige Skepping.

Die vergifnis wat my só vry maak, kom uit 'n hart vol liefde - die líéfde van Christus in my hart, wat geen plek het vir enigiets wat nie getuig van Sý liefde nie. In hierdie wonderliefde, lewe ek, dink ek en doen ek. Soos 'n nimmer-eindigende sirkel is dit om my gevou, en niemand met kwade bedoelings kan hierdie sirkel verbreek nie. Níémand kan my seermaak nie, want Jesus se liefde omvou my. Vry-en-bly kan ek saam met al my Jesus-vriende voortgaan op my pad van lig, vrý van die seer van die verlede en blý omdat ek só kan vergewe.

Gebed: In Gods genadige liefde vergewe ek myself en énigeen wat my te ná gekom het, omdat JÉSUS my vergewe het aan die ou ruwe houtkruis op Golgota.

[Aangestuur deur Pieter Swanepoel]

Friday, 12 December 2025

Vrydag-flits: Iets om aan te herkou

Vandag

Iewers, agter elkeen ...
lê 'n tyd ... 'n tyd wat
verby is, en al sou jy
terugreik, jy tas mis ...

God's Woord sê ...
reik uit na voor
as jy omdraai, is
Sy Koninkryk jou nie beskoor.

Wat verby is,
kan jy nie terughaal ...
Met daardie waters kan jou meule
nooit weer maal.

Kyk na vandag:
Sien dis 'n stukkie goud
Wat God aan jou gee ...
Wat doen jy daarmee??

Thursday, 11 December 2025

Ouma se wenke: Eierwenke - plaasvervanger vir eiers

In my jongdae was eiers altyd beskikbaar en beslis baie goedkoper as deesdae. Intussen het ek so in die wandelgange gehoor wat as plaasvervangers vir eiers gebruik kan word. Toets en besluit maar self watter een die beste vir jou werk.

Die volgende moontlikhede vervang een eier: (Geskik vir gebak, bv. koeke, skons, kolwyntjies ens.)
* Asyn (wit of appelasyn) en koeksoda: Een teelepel koeksoda saam met een eetlepel asyn, vervang een eier in gebak.
* 'n Halwe fyngedrukte piesang
* 'n Kwart koppie olie
* 'n Kwart koppie yogurt
* 2 eetlepels water gemeng met 1 eetlepel olie en 2 eetlepels bakpoeier. Meng goed saam voordat dit by die resep gevoeg word.
'n Halwe eier is altyd beter as 'n leë dop!

Wednesday, 10 December 2025

Hartsake oor 'n koppie tee: Op wie vertrou jy?

Vertrou op jouself,
dan is jy gedoem tot teleurstelling.
Vertrou op jou vriende,
en hulle sal jou laat sterwe.
Vertrou op jou geld en jy mag dit verloor.
Vertrou op jou reputasie
en 'n skindertong mag jou daarvan beroof.
Maar vertrou op God 
en jy sal nooit beskaam word in hierdie lewe 
of in ewigheid nie.

Lees Spr. 3:5

[Eerw. DL Moody]

Monday, 8 December 2025

Why worry when you can pray?

By choosing to pray instead of worry, we can:
* Release our burdens to a higher power
* Gain perspective and clarity
* Experience comfort and reassurance
* Develop a sense of trust and faith
* Find strength and resilience
Remember:
* prayer is not a way to avoid problems, 
* but to face them with courage, hope, and guidance.

Saturday, 6 December 2025

Saterdaglagmedisyne - Koos van der Merwe se beurt


Dankie vir al die Koos-grappe wat ingestuur is - geniet dit - dalk is daar 'n Koos ook in hierdie aftreeoord.

* Koos sukkel met sy oë. Party dae brand hulle só en ander dae jeuk sy oë. Hy gaan die oogarts sien.
Die oogarts sê dat Koos allergies is vir die stof in die lug en gee vir hom oogdruppels om drie keer 'n dag te gebruik.
Koos: "Dankie, dokter. Moet ek vóór of ná ete gebruik?"

* Koos en Piet sit op die bankie voor die ouetehuis en gesels oor hoe dinge so vinnig in 'n mens se lewe verander.
Koos: "Weet jy, Piet, my oë is deesdae so sleg, ek moet olifante tel in plaas van skape om aan die slaap te raak."

* Klein Kosie: "Pa, Meneer sê dat ons voorouers almal ape was."
"Jóú voorouers mag dalk ape gewees het, maar myne was beslis nie," sê Koos baie verontwaardig. 

Friday, 5 December 2025

Gedig: Die hardloper

Met wilde maar met suiwer hart
het hy die woeste wedren fel begin,
en elke myl met rappe voet getart,
hy sou die vlugste lopers nog oorwin.

Sy hart het hoog geklop, sy bloed was heet,
die winde het sy haregolf gelig;
met snelle draf het hy die baan gemeet,
die vreug van spierkrag was op sy gesig.

Hy het geloop met stormdrang in sy bloed,
sy ademstoot 'n hete windgejaag,
die see se branding in sy strenge moed,
toe hoor hy reeds die donker, bitter vraag:

Wie is die ongesiene makker in die loop,
van wie die voet langs syne en die wind
van asem agter hom, van wie die hoop
dat nog 'n bors die dun wit lint mag vind?

Dié vreemde spanmaat het hy nie geken,
nooit hardloop hy weer sonder pyn of vrees;
hy weet al het hy nou die loop gewen,
die ander man sal eendag eerste wees.

[Ernst van Heerden]

Thursday, 4 December 2025

Ouma se wenke: Eierslim

* Hoe weet jy of 'n eier vars is of nie?
👉 ‘n Vars eier sal op sy sy lê op die bodem van ‘n kastrol met water, terwyl ‘n slegte eier bo sal dryf.

* Hoe tel jy 'n gebreekte eier van die vloer af op?
👉Sprinkel sout oor die eier. Los dit vir ongeveer 20 minute. Dit sal maklik opvee.

* Hoe kan daar onderskei word tussen ’n hardgekookte en ’n rou eier?
👉 Spin die eiers op ’n gladde oppervlakte. Die hardgekookte eier sal vinnig ronddraai terwyl die rou eier nie wil roer nie.
👉 Die eiers kan ook versigtig oor 'n tafeloppervlakte gerol word. Die gekookte eiers sal goed rol, terwyl die ongekookte eiers rukkerig sal rol.
Dis maklik gesê, maar die eend lê die eier.

Wednesday, 3 December 2025

Hartsake oor 'n koppie tee: Vir elke dag ...

Praat die kleinmoediges moed in.
Help die swakkes en
wees geduldig met elkeen wat jou pad kruis. 

Monday, 1 December 2025

Vandag se internetgebed vir jou: Ek bid vir jou ...

- wat hartseer of stukkend is
- wat siek of bekommerd is
- wat jou werk verloor het
- wat finansieel sukkel 
- wat 'n geliefde mis
- wat eensaam is
- wat Jesus nog nie ken nie
ek bid vir jou!

Onthou: 
* God is jou Anker en vaste Hoop 
* Hy seën jou met Sy guns en genade!

Desember-verjaardae


6 - Mev. E Volschenk

8 - Mev. C Steenkamp

21 - Mev. L Steyn

25 - Mnr. C Volschenk