Sunday, 31 August 2025

Oomblik van stilte: Luk: 8:50

Maar toe Jesus dit hoor, antwoord Hy hom en sê: Moenie vrees nie. Glo net, en sy sal gered word.

Ons "sien is ons glo;" dit is egter nie geloof nie. 
Heb. 11:1 Die geloof dan is 'n VASTE VERTROUE op die dinge wat ons hoop, 'n BEWYS van die dinge wat ons nie sien nie.
Heb. 11:8. Deur die geloof dan het Abraham, toe hy geroep is weggetrek ... sonder om te weet waar hy sou kom.

Here, laat ek vandag my mate van geloof opvul deur U te vertrou, vir die toekoms en al my planne. Ek wil opkyk na U en nie na my verwoestende omstandighede nie. Ek gee aan U al die eer en heerlikheid, met die wete dat U altyd getrou bly aan u woord. U is die waarmaker van u woord. Prys U grote Naam. Amen. 

[Aangestuur deur Pieter Swanepoel]

Friday, 29 August 2025

Gedig: Jy kan ...

Jy kan trane uitstort dat sy weg is,
of jy kan glimlag omdat sy geleef het.
Jy kan jou oë toemaak en bid dat sy terug sal kom,
of jy kan jou oë oopmaak en sien wat sy oor is.
Jou hart kan leeg wees omdat jy haar nie kan sien nie,
of jy kan vol wees van die liefde wat jy gedeel het.
Jy kan môre jou rug draai en leef gister,
of jy kan gister môre gelukkig wees.
Jy kan haar net onthou dat sy weg is,
of jy kan haar geheue koester en laat lewe.
Jy kan huil en dink,
wees leeg en draai jou rug.
Of jy kan doen wat sy wil hê:
glimlag, maak jou oë oop, hou lief en gaan voort.

[David Harkins , Britse kunstenaar, 1958-]

Thursday, 28 August 2025

Ouma se wenke: Olie en vetkolle

* Gooi babapoeier op vetkolle in kledingstukke voordat jy dit was.

* Indien daar olie op die plaveisel of motorhuisvloer gedrup het, kan dit skoongemaak word deur gewone sement op die olie te gooi. Die sement sal die olie absorbeer en kan na 'n dag of wat met 'n besem weggevee word.

* Oliebottels kan maklik skoongemaak word deur 'n bietjie koffiemoer in die bottels te gooi en goed te skud. Was daarna uit met skoon water.

* Om kerswas van materiaal te verwyder, plaas 'n stuk koerantpapier bo-oor die materiaal en stryk met 'n lou yster. Die was sal dan in die papier intrek en die materiaal sal weer skoon wees.

* Om vetkolle van klere te verwyder gooi 'n blikkie Coke op die kolle. Was dan die klere soos normaal. Die Coke sal help om die vetkolle op te breek en te verwyder.

* Om vetkolle van klere te verwyder, spuit gewone Doom op die kol, vryf die kol en spoel uit.

* Vryf olie- en vetvlekke op klere met bensien. Was dan soos gewoonlik en hang op om droog te word.

* Vlugsout haal vetvlekke uit.

Wednesday, 27 August 2025

Hartsake oor 'n koppie tee: Skud dit af en trap daarop!

'n Boer se ou donkie het eendag in die put ingeval. Die ou dier het ure lank gebalk, terwyl die boer probeer het om 'n plan te maak. Uiteindelik besluit hy toe dat die ou dier reeds te oud is, en die put het in elk geval nie meer water in nie en moet dus maar toegegooi word. Toe nooi hy al sy bure om hom te help om die put op te vul. Elkeen het 'n graaf gebring en begin om grond in te gooi. Die ou dier besef wat aangaan, en protesteer luidkeels. 

Maar, tot almal se verbasing, word dit skielik stil. 'n Rukkie later loer die boer oor die kant van die put en sien wat gebeur. Die donkie skud elke graafvol grond wat op sy rug val, af en trap dit vas. Terwyl die span manne die grond ingooi om die put op te vul, skud hy die grond af en klim elke keer 'n tree hoër.

Uiteindelik tree die donkie oor die kant van die put en draf weg! As die lewe jou probeer onderkry deur alles wat op jou val, moenie moedeloos word nie. Skud dit af en gebruik dit vir 'n trappie boontoe. Moet net nie opgee nie. Skud dit af en trap daarop!

Monday, 25 August 2025

Vandag se internetgebed vir jou: Seën hierdie week

Ons dank U Here Jesus, vir die seëninge op ons pad ... U beskerming, leiding, krag, vrede, liefde en troos het ons gedra om ons beste te lewer in alles wat ons moes doen.
Gaan ons asseblief vooruit vandag en die res van die week, verhoor asseblief ons gebede, skenk ons wysheid om deur probleme of besluite te kom wat ons moontlik in die gesig mag staar en altyd liefde en respek te toon aan almal in ons lewens.
Ons loof en prys U Heilige Naam.
Amen

Sunday, 24 August 2025

Oomblik van stilte: Rom. 15:13

En mag die God van die hoop julle vervul met alle blydskap en vrede deur die geloof, dat julle oorvloedig kan wees in die hoop deur die krag van die Heilige Gees!

Moenie toelaat dat jou blydskap en vrede gesteel word hetsy deur omstandighede en of mense nie.

Laat die geskenk van die Vader, die Heilige Gees, julle vul en oorvloedig laat vrug dra in die bevryding in Christus Jesus. 
Wees oorvloedig in die hoop deur die krag van die Heilige Gees!

Here, dankie vir die Skrifte en lering van tevore, sodat ek deur lydsaamheid  en bemoediging van die Skrifte hoop kan hê. Help ons mekaar nie te veroordeel nie, maar in eensgesindheid mekaar aan te neem ooreenstemmig die wil van Christus  Jesus, net soos wat U ons ook aangeneem het. Amen.

[Aangestuur deur Pieter Swanepoel]

Saturday, 23 August 2025

Saterdaglagmedisyne - allerlei


* 'n Ou vabond van sestig jaar oud word tot twintig jaar tronkstraf gevonnis.
"Baie dankie, edelagbare," sê hy aan die regter, "ek het nie geweet ek het nog só lank om te lewe nie." 

* Hendrik klim doodmoeg op die stampvol bus en kom te staan langs 'n man met 'n tas op die sitplek langs hom sit.
"Sal u asseblief so vriendelik wees om die tas te verwyder sodat ek kan sit?" vra Hendrik vriendelik. Maar hy kry geen antwoord nie.
"Wat is jou plan met die tas?" vra Hendrik na 'n wyle ergerlik.
Toe hy weer g'n antwoord kry nie, gryp Hendrik die tas en smyt dit by die venster uit. "En wat sê jy nou?" vra hy dreigend.
"Niks nie," kom die antwoord, "dis nie my tas nie."

* Jou geheue onthou goed wat 
jy graag wil weet,
maar kom iets in die lewe
wat jou vul met leed,
vind jy op jou oudag jy kan
dit nie vergeet,
jou gewete het jou geheue
knaend beet.
[ABC Kroonstad]

Thursday, 21 August 2025

Ouma se wenke: Aanpaksels

* Ketel: Aanpaksels aan 'n ketel se element kan verwyder word deur te kook met asyn

* As jy aangebrande kos vinnig uit 'n kastrol wil verwyder, kan jy dit vul met kookwater waarby twee eetlepels koeksoda of sout gevoeg is.

* Citrus Soda en suurlemoen of asyn maak 'n aangebrande pot sommer vinnig skoon.

* Plaas ketel in vrieskas totdat kante gevries is, sodra dit ontdooi kom die aanpaksel af.
 
* Voordat 'n nuwe pan gebruik word, kook 'n bietjie skoon asyn vir 'n paar minute daarin. Sal ook voorkom dat dit vasbrand.
 
* Voorkom aanpaksel deur 'n glas albaster permanent in die ketel te gooi.

Wednesday, 20 August 2025

Hartsake oor 'n koppie tee: Sinlose lewe

Vir baie lyk dit asof die lewe geen sin en betekenis het nie.
Oor die verlede voel hulle net selfverwyt.
In die hede bind hulle geen lewensblyheid nie,
en oor die toekoms is hulle onseker en angstig.
Dag na dag,
maand na maand,
jaar na jaar
is die lewe vir hulle 'n eentonige trapmeul
van opstaan, gaan werk en slaap.
Selfs 'n rustige tydjie
verbreek nie hierdie kleurlose roetine nie,
want wanneer hulle nie slaap of werk nie,
het hulle niks positiefs of opwindends om die tyd mee te vul nie.
Die waarheid is dat hierdie tragiese toestand
absolute onnodig en afbrekend is.
Nogtans laat mense hulle lewe ten prooi val
deur hierdie onverskillige en nutelose benadering tot hulle bestaan.
Hulle weier om 'n koersaanpassing te maak
wat aanleiding sal gee tot 'n konstruktiewe lewenstyl.
Wie jy ook al is en wat jy ook al doen,
as jy wil lewe en nie net bestaan nie,
is dit noodsaaklik dat jy geloof sal hê in Jesus Christus.
Dit is nodig dat jy 'n intieme en persoonlike verhouding met Hom sal ontwikkel.
Hy is immers die bron van alle lewens.
In alles wat jy doen of onderneem,
moet jy seker maak dat jy binne die wil van God handel.
Gee jou lewe onvoorwaardelik oor aan Hom.
Laat Sy Heilige Gees toe om jou te inspireer
tot 'n nuwe, produktiewe lewe.
Deel met Hom jou vreugde en jou droefheid,
jou ideale en frustrasies.
Praat gereeld met Jesus
en vra Hom om jou Leidsman
en Begeleier te wees deur elke dag.
Hemelse Vader, dankie dat Ek U belofte het dat U met my sal wees, dat ek in U kan leef met alles en elke oomblik wat U my gun. Vader, dat ek dan sal weet dat my lewe nie meet 'n doodloopstraat sal wees nie, maar 'n triomftog tot eer van U wat aan my die lewe in oorvloed gee. Amen.

Saturday, 16 August 2025

Saterdaglagmedisyne -


* Ek het my suster gevra of sy 'n koerant gesien het. Sy antwoord dat koerante outyds is en gee my haar iPad. Daardie vlieg het nie 'n kans gestaan nie ...

* Onderwyser: "Word wakker, Pule! Jy kan nie in die klas slaap nie!"
Pule: "Ek kon, Juffrou, maar toe word ek wakker, want Juffrou praat so hard."

* 'n Joernalis voer 'n onderhoud met die dorp se oudste inwoner, wat 103 jaar oud is. Die oom is maar taamlik sieklik.
"Dit kan nie te lekker wees om só oud te word nie," sê hy vir die oom.
"Jy weet nie waarvan jy praat nie, seun. As ek nie só oud geword het nie, was ek nou al dood!"

* Hoe weet jy wanneer 'n man oud is?
Wanneer hy meer aandag aan die kos gee as aan die kelnerin. 

Friday, 15 August 2025

Onthou julle nog? Een van die lesers het die volgende aangestuur:

Onthou julle daardie tyd toe die meisies nog minirokkies met sulke oppof-moue gedra het? Daardie crimplenerokke wat saam met hoë-polfy skoene gedra is en die meisies wat na oliekolonie geruik het? Die klein katoen-sakdoekie met pienk geborduurde blommetjies in die hoek, het ook na parfuum geruik. Daardie einste sakdoekie was onder die dun bandjie van 'n ewe klein petite Lanco- of Rotary-polshorlosietjie ingeskuif.  

Daardie tyd toe 'n man nog sy meisie inry toe kon vat in 'n 1963 Ford Barracuda of in oorle Oupa se Ford Fairlane ... met een lang sitbank voor. (Daai karre se gear-lever was langs die stuurwiel gemonteer en been- en beweegruimte was onbeperk!)

Die tyd toe jongmanne nog kortbroek safaripakke gedra het met hul hare vol Brylcreem gesmeer. Die swart plastiekkammetjie was netjies by die regterbeen se kous ingesteek. Iewers in jou broeksak het jy pienk of swart liquorice droplekkertjies versteek. Soms was die drops vervang met 'n pakkie peach beechies Dit alles in 'n poging om die skelm rookasem so af en toe te verfris. Toe jy nog vir haar 'n Groovy kon koop - daardie jare se blikkie koeldrank. 

Daardie einste meisie het jou withemp se rugkant bewonder, want jy het 'n foto van Roger Moore uit die Huisgenoot geskeur en met 'n kole-strykyster op jou hemp afgestryk ... 

Toe die enigste Bollie in die land nog in die binneblaaie van Huisgenoot te vinde was.

Toe jong seun kon dagdroom oor Tessa en Suster Saal in destyds se slapbandboekies ... my eie Sus was stilletjies verlief op Kid, die swerwer en het Rocco, die grensvegter ... nie te onaardig gevind nie.

Toe winkels nog toonbankdiens gehad het en jy net vir aardigheid met 'n tiekie 'n Dirkie kon koop - 'n buis vol kondensmelk. Toe die Joodse winkelier jou 10c-veelkleurige boodskaplekkers, in blaaie uit die Landbouweekblad geskeur en in 'n cone-vorm toegedraai, verkoop het. Nadat jy die lekkers verslind het, het jy die advertensies, of as jy gelukkig was, die kapperjolle van TO Hannibol se Oom Kaspaas  op daai einste bladsy rustig sit en lees.

Ek mis daai opgewonde gevoel van afwagting as pa uit die dorp teruggekom het en uit die kombuis roep: "Boeta, hier's 'n pienk koevert briefie vir jou!!" Dit, terwyl hy sy koffie rustig sit en slurp het en na jou kant toe geknipoog het. Meestal het jou ma dan half vererg laat hoor: "Ghmf!! Hy sal hom wat verbeel ... pienk briefie nogal!!" 

My gunsteling leesplek was onder een spesifieke navel-boom in die lemoenboord wat langs ons huis aangelê was. Die mistiek om daai brief oop te maak ... die reuk van parfuum wat so stadig uit haar briefie jou omswewe ... en haar rooi lippe se af-ets op die laaste blad!!  Dit was baie meer romanties as deesdae se emoji-goeterse. 

Vervloë dae ... toe 'n boer nog ekstra trots was op sy vrou. Toe mans nog bereid was om letterlik en figuurlik hul hande deur te werk vir sy huis en haard. "Vrouvat is nie perde koop nie," het toe nog betekenis gehad. Die vergane era waar 'n jongman eers moes poog om die niggie se aandag te kry, as sy einde ten laaste van jou begin notisie neem ... dan is die volgende hekkie haar Pa by wie jy moes verby kom. 

Sommige boere-ooms was erg onmoontlik met hul "deurkyk" van potensiële vryersklonge. Die opsitkers was aspris middeldeur geknip, of die parrafienlampie net half-vol gemaak ... veral as jy hom nie aangestaan het nie. As vryersklong moes jy behoorlik eers 'n vuurdoop slaag voordat jy in haar pa se teenwoordigheid aan haar hand kon raak.

Die plaasboer was ook heilig op sy rygoed - mouterkar/bakkie/perde/muile/kapkarre en waens. Hy het ook niemand toegelaat om op sy plaas te laat slap-lê nie. Hy was heilig-trots op sy plaas en het nie toegelaat dat sy gereedskap en diere verwaarloos word nie. 

Ek onthou hoe baie van des jare se suipkrippe vir die vee se drinkwater, en netjies gebou van leiklip, skoner was as  deesdae se munisipaliteite ... om nie eens te praat van hul toeslykdamme en geroeste toevoerpype nie.

"Seun, moet nooit jou plaas verkoop nie ... as die boorgat droog word ... verskuif jy net jou windpomp ... maar moet nooit jou plaas verkoop of van jou vrou skei nie" 

Hierdie tipe raad was mildelik uitgedeel en ook as voorbeeld vir jong mense deur die ouer gardes uitgeleef. Daarom seker, dat boervrouens harte so groot soos hul instapspense gehad het. Daar was altyd 'n vetmaak-hoender op hok en gaste het nooit leë hande 'n plaasopstal verlaat nie. Etenstyd het die tafels gekreun van die owerdaad vleis, gebraaide aartappels en geelrys. Doekpoeding of tuisgemaakte vla met gekookte droëvrugte was meestal die nagereg.

Dié tyd toe jongmeisies se vlytige deugde besing was ... en as die niggie dan nog boonop mooi van aansien was ... "Dan, ou seun, het jy 'n pers veld-tulpie raakgeloop." Wyse en waar woorde van menigte grysaard.

Ek draai die volume se knop so effens harder. Die ou draaitafel se naald skuur oor die Springbok Radio Hits-langspeelplaat wat ek op 'n vlooimark raakgeloop het. Gelukkig ken ek en vroulief altwee die woorde van die Staccatos se 1969 liedjie: Cry to me ... ek neem haar in my arms en stuur haar in 'n stadige wals oor my men-cave se teëlvloer. Sy laat lê haar kop rustig op my bors ... daar waar sy hoort en veilig voel.

Ons albei beleef die goue middeljare van ons lewe en stap sonder huiwering die sonsak-fase hand aan hand tegemoet.  

"Jy sal altyd my jong steenbokooitjie bly," fluister ek in haar oor terwyl sy liefderyk in my oë opkyk.  

Onthou jy ook die Kalahari-son se fanta-skyn ... eens toe ons groene jonkheid vol-ini-blom gestaan het? 

Lemoenbloesel-groete
Leopoldt van Wyk

[Dankie, Valerie, vir hierdie stukkie nostalgie.]

Thursday, 14 August 2025

Ouma se wenke: Kry tamatiesous só uit klere ...

Ons almal ken daardie gevoel. Jy’s nog besig om aan jou kos te smul en gooi nog so bietjie tamatiesous oor - en oeps, daar beland dit op jou klere. Probeer die volgende wenke om dit uit jou klere te kry ...

* Verwyder soveel as moontlik van die oortollige tamatiesous van die kledingstuk. (Gebruik ’n lepel se agterkant of ’n bottermes).

* Laat kouewater so gou as moontlik deur die agterkant van die vlek loop. As jy dit van vooraf doen, sal die tamatiesous net dieper in die klere intrek.

* Vryf nou ’n vloeibare wasmiddel op die vlek. Werk sagkens in sirkelbewegings en begin aan die buitekant van die vlek en dan na binne.

* As die kledingstuk wit is of nie uitgaan nie, wend ’n bietjie bleikmiddel aan. Jy kan ook suurlemoensap op wit kledingstukke gebruik. Spoel goed uit.

* Herhaal nou weer met ’n wasmiddel gevolg deur die sagte bleikmiddel totdat die vlek nie meer wys nie. Lig die kledingstuk op teen die lig om seker te maak die vlek is heeltemal weg.

* Volgende kan jy ’n vlekverwyderaarstokkie, gel of sprei aanwend. Hou dit vir ten minste vyf minute aan.

* Was die kledingstuk hierna met wasmiddel. Maak egter weer seker die vlek is weg, want vlekke wat droog geword het, is dikwels permanent.

* As die vlek stééds daar is, vryf wasmiddel in die tamatiesousvlek. Week dit volgende in warm water vir 30 minute. Spoel goed uit.

Wednesday, 13 August 2025

Hartsake oor 'n koppie tee: Dit maak alles die moeite werd

Dis die DIEP WATERS
wat ons leer SWEM.
Dis die OPDRAENDES
wat ons FIKS maak!
Dis die VASKLOU
wat ons STERK maak!
Dis die UITHOU
wat ons WENNERS maak!
Dis ons GELOOF
in die Almagtige Wonderlik GOD
wat ALLES die moeite werd maak!!

Monday, 11 August 2025

Vandag se internetgebed vir jou: Jou GOD is GROTER as enige storm

Ons VADER, SEËN asseblief hierdie kosbare MENS wat nou saam met my BID. 
Alles sal vir jou TEN GOEDE UITWERK, sê die HERE. 
Selfs dinge in jou lewe wat jy nou dink NEGATIEF is, 
sal Ek gebruik om jou te BEVOORDEEL. 
Helde word nie in ‘n gemakstoel gebore nie, 
maar op die SLAGVELD. 
Na elke toets wat jy slaag, is daar vir jou BEVORDERING. 
Krisisse is bedoel om jou STERKER te maak. 
Nie te breek nie. 
Jou krisisse het jou nie verder van MY af gedryf nie, 
maar NADER. 
As dit nie vir krisisse was nie, 
sou jy nooit so ‘n GROOT GETUIENIS gehad het nie. 
Dis Ek wat elke VERLEENTHEID vir jou omskep in ‘n GODDELIKE GELEENTHEID. 
Jy kan alreeds getuig: Jou GOD is GROTER as enige storm. 
Ook nou terwyl jy hier lees, 
ervaar jy My asemrowende LIEFDE en KRAG wat deur jou spoel van kop tot tone. 
Dankie JESUS.
Amen.

[Skrywer onbekend]

Sunday, 10 August 2025

Oomblik van stilte: Lukas 10:36-37 NLV

Wie dan van hierdjie, dink jy, was die naaste aan hom wat onder die rowers verval het? En hy antwoord: Hy wat barmhartigheid aan hom bewys het. Toe sê Jesus vir hom: Gaan en doen jy net so.

God sal vandag en elke dag sy barmhartigheid aan jou bewys.
Bewys jy ook barmhartigheid aan ander, nie om deur goeie werke geregverdig te word nie, maar uit liefde vir jou naaste.
Omdat jy gered is deur die liefde van God,  tree jy in liefde op, om God deur jou werke te verheerlik en jou naaste na God toe te lei.

Dankie, Vader, vir u barmhartigheid teenoor my, dat ek toe ek nog verlore was, deur U gevind en gereinig was. U het my wonde verbind van die seer wat die wêreld my toegedien het. U het my na veiligheid gelei en nog steeds behou U my in veiligheid deur u genade elke dag. Ek bring aan U die lof en eer en dank in Jesus Naam. Amen.

[Aangestuur deur Pieter Swanepoel]

Saturday, 9 August 2025

Vrouedag en vrouemaand


Op Vrouedag hier by Ons Huis wil ons dankie sê vir elke vrou se onmisbare en noodsaaklike bydrae tydens haar aktiewe jare, tuis sowel as in die gemeenskap. Noudat hierdie vrouens hulle pas makeer het, wil ons graag elke vrou herinner aan die aktiewe en dinamies vrou wat sy was en steeds is, net in 'n ander rat.

Die lewe was en is vol moeilike uitdagings, sommige meer uitdagend as die ander. Onthou: Kyk die lewe vierkantig in die oë, terwyl jy jou oë opslaan na die berge waar ons hulp nog altyd vandaan kom. 

Mag jy deur jou vriendelikheid, bedagsaamheid en gebede 'n verskil maak in dié wêreld en dit 'n beter plek maak.

Gelukkige Vrouedag!

Saterdaglagmedisyne - allegaartjie


Dogter: "Ma, kan ek asseblief 'n kat of hond vir Kersfees kry?"
Ma: "Nee, Skat, jy kry kalkoen, soos elke Kersfees."

* Onderwyser: "Watter boek het jou al die meeste gehelp in jou lewe?
Kind: "My pa se tjekboek."

* My vriend sê hy het die lyf van 'n Griekse god. Ek moes vir hom verduidelik dat Boeddha nie Grieks is nie.

* 'n Eskimo bring sy vriend na sy huis toe om te kom kuier.
"Waar is jou igloe?" vra sy vriend uit die veld geslaan toe hulle daaraan kom.
"Ag nee, ek het seker die strykyster aan vergeet ..." 

Friday, 8 August 2025

Verhaal: Skaduwees oor sy pad


Vir die eerste keer na 30 jaar kan hy oor sy lewe heen terugkyk sonder die ou bitter gevoel van verontregting. Die gevoel wat altyd 'n bitter smaak in sy mond gelaat het. Hy voel dankbaar teenoor almal wat vir hom lief en dierbaar is en wonder meteens waar hy sou gewees het as dit nie vir Sondag, 29 November 1959, was nie.  

Sy gedagtes is terug by sy kinderjare: kranige atleet, 'n baie goeie rugbyspeler, ja, hy was selfs rugbykaptein van die skool se eerste rugbyspan, maar sy akademie het ook nie agterweë gebly nie. Hy en Willem, sy grootste vriend, altyd om die eerste plek meegeding ... gesonde kompetisie, wat jou altyd op jou tone gehou het.

Na matriek is hy universiteit toe, waar hy hom as dokter sou bekwaam, 'n droom wat met keuring 'n werklikheid kon word. Tussen die ongelooflike volgepakte rooster, het hy nog tyd kon inruim om vir die universiteitspan uit te draf. Spoedig is hy vir die Springbokspan gekies. Dit was asof die dobbelsteen elke keer 'n 6 na sy kant toe gegooi het. Orals was hy suksesvol en toe die All Blacks in Suid-Afrika kom speel het, het hy die verrassende nuus van Springbokkaptein met sy ouers kon deel, minute voordat dit op die radio uitgesaai sou word.

Die nuusblaaie was vol foto's en berigte, maar spoedig het hierdie berigte en foto's van inhoud verander. Die dag voor die groot wedstryd was hy in 'n motorongeluk. Hy was bewusteloos. Hulle het hospitaal toe met hom gejaag, maar die publiek het geweet dat hy nie sy span op die veld sou kon lei nie. 

Almal het die nuusblaaie met valkoë dopgehou. Toe die skok ...!

Hy is verlam in sy onderlyf. Sy hele lewe is verwoes. Die toekoms was meteens oneindig donker en sy loopbaan as rugbyspeler vir altyd verby.

Hierdie donker skaduwees wat oor sy pad was, het al langer en donkerder geword. Hy kon nie sy graad aan die einde van daardie jaar kry nie. Sy dae in die hospitaal was baie meer as sy dae in die klas. Sy droomberoep moes hy laat vaar ... 'n dokter in 'n rystoel ... ondenkbaar.

Na vele oorwegings was selfmoord die enigste aanvaarbare uitweg, want hy kon geen toekoms vir hom sien nie.

Na 'n mislukte poging, het sy ouers hom nie vir 'n enkele minuut onder hulle oë laat uitgaan nie. Hulle was só bang ...

Toe gebeur dit! Sondag, 29 November ... Dit was sy ma se verjaardag, ook haar laaste verjaardag hier op aarde saam met hulle. Sy het hom gevra om saam met haar kerk toe te gaan. Hy wou eers nie, maar hy het tóg later, baie teen sy sin ingewillig, net vir sy ma se onthalwe.

Van die dominee se preek onthou hy nie veel nie, want die teksvers het soos 'n refrein deur sy gedagtes gemaal: "Vergeet dit wat agter jou is en strek jou uit na die dinge voor jou." Daardie woorde was die keerpunt in sy lewe.

Dit het die grondslag vir sy "nuwe lewe" gevorm, want hy het besef dat elke skaduwee op jou lewenspad van die Here af kom met 'n doel. 

Die nuwe hoofstuk in sy lewensboek het hy aan sy ma opgedra wat nie ophou glo het aan hom nie. Hy het besef dat hy nog steeds 'n bydrae in die mediese wêreld kan maak. Daar is só baie onbeantwoorde vrae oor die groot "K" - die onsigbare sluipende dief wat niemand ontsien nie. Daar is niks verkeerd met sy hande en sy verstand nie. En nou met sy hart op die regte golflengte ingestel, het hy skielik 'n toekoms. 

['n Graad 10-opstel in die sewentigerjare van een van die lesers.] 

Portia's Friday advice

Thursday, 7 August 2025

Ouma se wenke: Maak so jou televisie TV skoon

* Volg die maklike stappe om jou TV netjies en skoon te hou – met ’n water-en-asynoplossing: Sit die TV af sodat jy kan sien waar op die skerm daar vuilmerke en stowwerigheid is.

* Meng ’n oplossing van gelyke hoeveelhede water en asyn. Die asyn is ’n natuurlike reiniger. Dis ook ‘n veiliger en goedkoper manier om jou TV skoon te maak.

* Druk ’n microfiber-lap in die asynwater-oplossing en vee die skerm saggies af. Indien nodig, vryf bietjie harder om vuil plekkies skoon te kry.

* Gebruik ’n tweede lap om die skerm droog af te vee, aangesien die vloeistof merke op die skerm kan los.

* Was die raam van die skerm. ’n Harde plastiekraam benodig bietjie meer aandag, so dip handdoekpapier in die asynplossing en vryf dit skoon. Gebruik ’n tweede stuk om dit droog te vryf.

* Moenie die asyn-oplossing direk op die skerm gooi of spuit nie. Dit kan die skerm beskadig. Jy kan ook ’n skoonmaakmiddel vir TVs by enige rekenaarwinkel koop.

* Moenie skoonmaakmiddels koop wat ammoniak, alkohol, asetoon of chloried bevat nie.

Wednesday, 6 August 2025

Hartsake oor 'n koppie tee: Goddelike Rykdom

• Jesus het aan die kruis vir ons arm geword, sodat ons deur sy armoede ryk kan word. Hy is verneder, op Hom is gespoeg, die Romeinse soldate het selfs gedobbel vir sy klere.
• Jesus, die Een wat meer as 5000 mense gevoed het, vissers se nette amper laat skeur het van die groot vrag vis.
• Die Een wat goud, diamante en robyne in die aarde geskep het, het jou plek van armoede aan die kruis geneem, sodat jy Sy plek van oorvloed kan neem.
• 'n Goddelike ruil het plaasgevind op Golgota - jou sonde vir Sy geregtigheid en jou armoede vir Sy voorsiening.

Gebed: Ek is geseën met die volheid van die seëninge van die evangelie van Christus. Ek is geseënd in die stad en in die veld; geseënd in my uitgaan en binnekom. Op my pad is lewe en vrede; heerlikheid, oorvloed en ewigdurende vreugde; nou en vir altyd, in Jesus se Naam. Amen.

Monday, 4 August 2025

Vandag se internetgebed vir jou: Hantamgebed

Maak my kalm, Here
Laat my benoude hartklop tog bedaar
Kalmeer my gemoed
Vertraag die dolle pas van my lewe -
My lewe, so 'n klein ratjie in die magtige gang van die tyd.
U sien die spanning wat ek vir niemand anders wil wys nie,
Die bekommernis oor - waaroor tog alles!
Maak dit stil in my, sodat my siel die musiek van die natuur kan hoor
En die skoonheid daarvan vrede binne-in my kan bring
Dat my bewende hande kan saamvou,
Dat my gespanne spiere kan ontspan.
Help my dat ek weer diep en onbesorg kan slaap,
Met die wete en die kinderlike geloof dat U sal sorg.
Leer my die kuns om kort-kort tot rus te kom
Miskien om 'n beddinkie blomme te bewonder,
Om 'n hond te streel, lekker te sit en lees
En te lag en te speel met die wat ek liefhet!
Maak my kalm, Here
Dat ek nie in my so belangrike program
die rêrig waardevolle dinge verbyjaag nie.
Laat my opkyk,
dat die besef van U grootse Ewigheid my kan oorweldig
My tot 'n stadiger pas kan bring
En my U Vrede kan gee
AMEN

[Geleen: Klik HIER

Sunday, 3 August 2025

Oomblik van stilte: Dan. 3:28

Daarop het Nebukadnésar gespreek en gesê: Geloofd sy die God van Sadrag, Mesag en Abednego, wat sy engel gestuur en sy knegte verlos het wat hulle op Hom verlaat het en die bevel van die koning oortree het, en wat hulle liggame oorgegee het om geen ander god te dien of te aanbid nie, behalwe hulle God.

Sal ons op ons God so vertrou? Dit kan net gebeur as ons in alle nederigheid mekaar dien in geloof aan God. Elkeen probeer hom/haarself verlos, maak nie saak hoe nie.
God word nie meer in huise gedien nie; kinders leer nie meer by hul ouers van God nie.
Ouers laai kinders by Sondagskole af en kom nie eers meer kerk toe nie, maar by die huis word die wêreld gedien en vereer.
"Moenie my vertel hoe ek moet leef nie",
Almal glo in God solank God net nie vir hulle vertel wat en hoe om te leef nie.
"Ek lees die Bybel anders". Allerhande verskonings om net nie "te kerklik" te raak nie.
Alles met 'n "te" aan is verkeerd. Kan ons regtig "te" veel bid, "te" veel Bybel lees, "te" veel glo in God?
Hy loop met die Bybel onder die arm rond.
Wat is onder jou arm? 
Wie is jou God? 
Sal jy bereid wees om jou liggaam oor te gee vir God?
God is 'n God van liefde en sal nooit dit van my verwag nie?? 
Het jy al ooit gedink wat verwag God van jou, nadat Hy sy Seun vir jou opgeoffer het.

Here, help my om nederig te bly; help my om ander op te bou en te help in hulle nood. Ek is so geseënd met u genade en voorsiening. Ek weet ekself is nie altyd die voorbeeld wat ek moet wees nie; ek dra nie altyd die vrug van bekering nie. Heilige Gees, lei my en leer my om meer te wees soos Jesus; om my naaste lief te hê soos wat U my liefgehad het en U te dien met alles wat in my is (verg. Joh. 13:34). Amen.

[Aangestuur deur Pieter Swanepoel]

Saturday, 2 August 2025

Saterdaglagmedisyne - Koos van der Merwe se beurt


Dankie vir al die Koos-grappe wat ingestuur is - geniet dit - dalk is daar 'n Koos ook in hierdie aftreeoord.  

* Koos verkoop elke maand horlosies op die vlooimark. Dis egter Made in China-horlosies en die mense is nie baie gretig om sake met Koos te doen nie.
Klant: "Is hier horlosie waterdig?"
Koos: "Maar natuurlik. Eenhonderd present. As die water eers in is, kom dit nooit weer uit nie."

* Koos voel dat hy na al die jare se vlooimarkstalletjies genoeg besigheidsvernuf opgedoen het om sy eie besigheid te begin.
Koos: "Ek gaan volgende week my eie besigheid begin."
Koos se vrou: "Wonderlik. Ek is só bly. Ek sal jou eerste kliënt wees."
Koos bekommerd: "Ek hoop regtig nie so nie."
Koos se vrou: "En hoekom nie?"
Koos: "Dis 'n begrafnisonderneming."

Koos se vrou besluit om vir Koos by sy nuwe onderneming te gaan help. Sy bied aan om die telefoon te antwoord, terwyl hy die mense te woord staan.
Die foon lui en sy vrou praat 'n rukkie, luister en skryf iets neer.
Koos: "Is dit 'n bestelling vir 'n nuwe grafsteen?" vra Koos.
"Ja," antwoord sy vrou.
Koos: "Wat moet daarop staan?"
"Hier rus ons broer, vader en eggenoot."
"Genuttig." brom Koos. "Dis nou wat ek suinig noem. Drie mense in een graf!"

Friday, 1 August 2025

Poem: Memories

It may be a while since you followed the light
But I often feel your presence, not always at night!

I miss your warmth and loving touch
The fun and laughter we shared, so much
The caring, and repartee
Knowing my words, before set free.

The memories are fresh of our time together
They'll never fade, no, not ever.

I know I'll follow the light one day
In the meantime, I often pray
That when my time comes, you'll be in the light
To welcome my spirit, and hold me tight.

[ Poet: Merril Wilson - Prince Albert Friend August 2024]

Augustus-verjaardae


11 - Mev. M Koch

19 - Mev. SO Moetsi

My plekkie in Sy hemelhuis

Om ouer te word is nie maklik nie. 

Jy is soveel meer broos en kwesbaar as jonger mense. Jy mis familie en vriende wat nie meer daar is nie, sommige in ouetehuise en ander reeds na die Vaderhuis. Daar is so baie wat jy nog wou doen, maar die krag, energie en tyd ontbreek - want jy word al meer bewus dat jou jare vorentoe nie meer so baie is soos “agtertoe” in die verlede nie. 

Jou liggaam raak broser en jou hart kwesbaarder. 

Talle goedjies begin pla, soos jou balans wat nie meer is soos wat dit behoort te wees nie. Jou visie en gehoor wat al hoe meer en meer verswak. Al hoe meer medisyne kom by jou medisynelysie en jou eersehulptassie word vol goedjies wat belowe om jou energie te gee. Jy raak meer bewus van jou alleenheid - en vir sommige mense van hul eensaamheid. Jy word nie meer na plekke saamgenooi nie en jy vra ook nie self nie, omdat jy dalk al een of twee keer afgejak is. 

Dis nie meer vir jou so lekker om in jonger groepe geselskappe te wees nie, want jy word al meer bewus dat mense in die geselskap verby jou of bo-oor jou kyk - jy is maar net daar, maar nie deel van die geselskap nie. Daar word vir iemand anders in die geselskap gevra hoe dit met jou gaan, in plaas daarvan om direk die vraag aan jou te vra. Wanneer jy by ‘n geselligheid is, kry almal soms geskenkies - maar die jonger garde vergeet of dink nie dis nodig dat jy ook enetjie kry nie. 

Trane vloei soveel makliker - trane van vreugde, verlange of hartseer, maar sakdoekies daarvoor is nie nodig nie, want die Heer vee dit self af  - wanneer Hy afbuk na jou en sy arms om jou vou en in die mooiste woorde verseker van Sy Ewige Liefde vir jou. En wanneer Hy saggies uit Sy Woord met jou praat en jou vertel dat Hy 'n plekkie gereed kry vir jou in Sy Hemelhuis, weet jy dat jy niks meer nodig het as hierdie Vader van jou nie! 

En nuwe lewensenergie soos ‘n vars waterval bruis skielik in jou en jy weet jy móét vir ander híérdie storie van jou en jou Hemelvader vertel! 

[Dankie, Valerie!]