Wednesday, 29 June 2022

'n Mens word oud as ...

Mens word oud as jy nie meer praat van jou linker- of regterknie nie, maar van die goeie en slegte knie.
Mens word oud as jy eenkeer per dag sê “in my dae”
Mens word oud as jy na ander van jou ouderdom kyk en dink ... "Genugtig, ek lyk seker nie so nie."
Mens word oud as hulle praat van die jongklomp en die meeste is nou jou kleinkinders.
Mens word oud as jy ekstra brille in die huis los.
Mens word oud as jou bure nie eers weet daar was ‘n "hengse" partytjie by jou huis nie.
Mens word oud as die dokter maak asof hy verstaan en nuttelose goed voorskryf.
Mens word oud as ‘n dokter jou nie meer vat vir ‘n scan nie ... hy hou jou net teen die lig ...
Mens word oud as jy met enigiemand kan gesels wat “hi” sê ...
Want jy is nie seker waar jy hulle vandaan ken nie ... of eenvoudig hul name vergeet.
Mens word oud as jy jou linkerbeen te vinnig beweeg en jou rug haak uit.
Mens word oud as jy nie seker is of jy so pas ingekom het vir iets ... of op pad uit is nie.
Mens word oud as jy oefening doen om jou lewe te red, nie om maer te word nie.
Mens word oud as jy baie kere “nou waar is my ... o hier’s dit” sê.
Mens word oud as jy wakker word en voel soos ‘n tjek wat gehop het in plaas van ‘n million bucks.
Mens word oud as iemand sê “tien jaar gelede” en jy dink nie 2018 nie, maar 80’s.
Mens word oud as jou brein sê: “Moet liewer dit nie sê nie” en jou mond ignoreer dit.
Mens word oud as jy baie “dinges” sê want jy kan nie onthou wat die dinges genoem word nie.
Mens word oud as “happy hour” beteken dis slaaptyd.
Mens word oud as versoekings nie meer na jou kant toe kom nie.
Mens word oud as jy vinnig opstaan en jy is net so dronk in die kop soos met ‘n shot tequila.
Mens word oud as jy besef oudword is maklik, wysraak is moeilik.
Dalk is daar iemand wat die sentiment deel en verstaan van oud word.

[Dankie, Valerie, dat jy so gereeld aan ons dink en gedagtes vir ons stuur.]

Woensdag-wysheid

Daar word nie aan ons 'n goeie of 'n slegte lewe gegee nie.
'n Lewe word aan ons gegee en of dit goed of sleg gaan wees, hang van ons af.

Thursday, 23 June 2022

Die afgelope twee jaar ...

Iewers, êrens, Here, het die lewe elkeen van ons hierdie afgelope 2 jaar onderstebo gestamp. Ons masker kom nie net meer tot by ons mond nie, Here. Dit maak party dae sommer ons hele gesig toe. En ons hart. Want, ons harte het seergekry in hierdie tyd. Elkeen van ons se seerkry het 'n ander naam. Maar, ons trane, ons bang en ons onsekerwees is dieselfde.

Iewers, êrens was elkeen van ons deur die laaste tyd die slagoffer van iets wat so baie "unfair" was. 'n Werk wat weg is, siekte, goed agterlos en trek, plaasaanvalle, die dood van 'n geliefde ... En in ons harte skreeu dit uit dat alles so verskriklik "unfair" is, Here. In ons harte wonder ons of ons ooit oor hierdie berg gaan kom, die berg wat so swaar diep hier binne ons gaan lê het. Ja, Here. Die seerkry van hierdie lewe het ons hard getref!

En soos wat die tyd aanstap, begin ons die stukkies weer optel. En iewers langs die alleenpad verander ons in oorlewendes. Ek hou niks van die woord "oorlewende" nie, Here. Dit klink so effentjies. So al asof mens in 'n stormpyp beland het en die lewe jou iewers op 'n sypaadjie uitgespoeg het ... En daar oorleef jy maar.

In U oë verander hartseer en pyn U kinders in "Warriors". 'n "Warrior" is 'n vegter, 'n soldaat, iemand wat langs die pad geleer het hoe om op te staan, aan te gaan en weer te leef. Iemand wat die vaardighede aangeleer het om terug te baklei in die lewe se "unfair" oomblikke.

Wanneer ons so weerloos en magteloos op die lewe se sypaadjie lê, is dit U wat stil by ons kniel en ons ophelp. Dit is U wat ons vashou en troos, wanneer ons soos drenkelinge aan U vasklou. Dit is U wat dag na dag, oomblik vir oomblik, vir ons leer om weer die klein eenvoudige dingetjies te waardeer, om elke stukkie brood wat U vir ons neersit, raak te sien, en dankie te sê.

Here, dankie. Dankie vir U genade, want dit is vir my genoeg ...

Amen.
[Oorgeneem]

Wednesday, 22 June 2022

Woensdag-wysheid

"Moet nooit dat u emosies u intelligensie oorrompel nie." 
[Drake] 

Tuesday, 21 June 2022

Dinsdag-denke

Liewe Jy

Moenie tou opgooi nie! 
Wees sterk en vol moed. Jesus gaan ons deurdra ...
Hou styf vas aan julle lieflike pêrels,
sodat niemand dit sal steel nie!
JESUS weet wat jou probleme is ...
Hy toets ons soms om ons standvastigheid te bepaal.
Maar hy sal julle nooit verlaat nie ...
Hy het 'n kosbare prys vir jou en my betaal ...
Sy GENADE is vir ons almal,
Sy LIEFDE laat ons kans sien vir môre ...
Sy KRAG dra ons oor berge en dale ...
Sy HOOP gee ons nuwe visie ...
Sy BLOED bedek ons van alle kante!
Staan vas en neem julle grondgebied
wat God belowe het, in besit.
Stap oor die rivier en neem jou nuwe Jerusalem in besit!
Dis myne en dis joune
HALLELUJA!!!

[Onbekend - bid dit elke dag]

Saturday, 18 June 2022

Happy Father’s Day ...

"I dedicate to you all my successes
and all my smiles ...
I dedicate to you all my joys
and all my dreams ...
Happy Father’s Day to my loving dad."

Wednesday, 15 June 2022

WATERDRUPPEL vir die WEEK = Sawwe ore

Groete en Vrede!!! 

Swartkopdam se vroeg wintersonnetjie het al agter ‘n hogere sandduin slaapplek opgesoek toe ons by hul netjiese sinkhuisie aanklop. Amper so met die val van die laaste geklop word die deur oopgemaak en so word ons (dit is nou ek en die Mooiste Mooi) binnegenooi. Al is ons ietwat beskut teen die ergste koue, vryf ek nogtans my hande wriemelend oor mekaar om die ergste byt van die koue teen te werk. 

Ons was al vantevore hier. Hier by dieselfde mense, met dieselfde meublement in dieselfde huisie. Niks het verander nie. Alles is steeds dieselfde. Skielik wonder ek wat hierdie besoek alles gaan inhou en of die huismense weer (net soos die vorige keer) met sukkel en skaamte ons Skeppergod se teenwoordigheid gaan opsoek.  

‘n Rukkie later klop iemand saggies aan die sinkhuisie se enigste deur. Onmiddellik steek ons gesprek vas soos ‘n rooijakkals wat ‘n jaghond ruik. Touks staan stadig op en maak die deur versigtig oop om die ongenooide oorstaner ook in te nooi. Eddie – wat kort voor laaste week hier op Swartkopdam ingewaai het – se handdruk is ferm. Dit vertel van ‘n vol lewe. ‘n Lewe deurspek met kennis en ervaring. 

Amper half onverwags vra die Mooiste Mooi hom of hy meer as net ‘n kerkloper is. Sy wil weet of hy ‘n gelowige kerkloper is. Opeens sit Eddie so bietjie vorentoe, sy skouerknoppe is effens agteroor getrek en sy kop en nek staan penorent soos ’n regopstaan geelslang. Hierdie man is voorwaar lus vir baklei want hy bekyk elkeen van ons met swartbruin oë wat vuur spuug.  

Raak rustig, kyk hom vol in die oog. Hy gaan nou-nou sy hart uitpak en dan moet jy met sawwe ore luister. Onthou, om met sawwe ore te luister beteken veel meer as om komplimente vir ander te fluister” beduie die Veilige Gees saggies. Met hierdie woorde wat in my binneste-binne draal, besef ek dat Eddie – net soos alle ander mensegoed - bloot net sy vernielde en brose binnevoering beskerm. ‘n Klipkoue binnevoering wat onseremonieël verniel en gekneus is deur genadelose gelowiges en liefdelose kerklopers. 

Sekondes voel lateraan soos ure en amper half onverwags begin Eddie vertel van ‘n binnevoering deurtrek met teleurstelling, haat en verwyt. Hoe langer hy praat, hoe harder en driftiger weerklink sy stem. Hierdie uitbarsting het die huismense soos ‘n uitbreekskaap heel onkant gevang. Hulle sit witoog terwyl verdwasing en verbasing duidelik op hulle gesigte blink. Kort na Eddie sy derde salvo afgevuur het, begin die huismense ook stadigaan hart uitpak. Hulle vertel van die behendigheid waarmee kerklopers en gelowiges lieg, bedrieg en selfs hoe hul vlymskerp tonge iemand se toekoms en saligheid bepaal. 

Heelwat later, nadat hulle  binnevoerings leeg gepraat is, sit Eddie en die huismense terug in hulle stoele. Dit is stil in die sinkhuisie. Goddelik stil ... heilig stil. Selfs die murgsuig-windjie wat vroegaand gewaai het, het sy asem opgehou. Eddie het lateraan gegroet met “Ek gaan nou lê” en my hand saggies gedruk. “Dankie, dat pastoorgoed en mevrou met sawwe ore geluister het.” 

Met ons vingers inmekaar gevleg en diep in my baadjiesak weggesteek, stap ek en die Mooiste Mooi daardie donkernag na die Genadewa toe. Ons moet spore maak huis se kant toe. Eddie se groetwoorde eggo steeds tussen my ore en ek hoor weer die Veilige Gees se vroegaand woorde. En ek weet. Ek weet ek wil met sawwe ore na ander se binnevoerings luister, want sawwe ore is ‘n Jesuslig in ander se duister. 

Job 11 vers 17 (Afr 83) = "Jou lewe sal meer lig hê as die helder middag, jou donker sal lig word soos die môre.” 

Sandkorrel baie seëninge. 

Los jou 👣 as jy wil by: 
Divine Life Bediening (HJ & Dalene Cronjé)
Selnr: 082 772 2192
WhatsApp: 081 568 7549 

[Dankie, Valerie, dat jy altyd aan ons dink en hierdie waarheid met ons deel. Ons het almal nodig om met sawwe ore te luister. Besoek gerus Divine Life Bediening]  

Woensdag-wysheid

"Moed is vrees wat gebede gedoen het." - Dorothy Bernard
 

Monday, 13 June 2022

Vandag se internetgebed vir jou

Vader, sterke Raadsman, wat my lei
Dankie dat U my rots is wanneer my voet gly
Dankie dat U voorsien in al my behoeftes, keer op keer
Vir al die onverdiende genade, sê ek dankie, Heer
Ek stuur 'n gebed na Jesus net vir jou 
dat Hy jou styf sal vashou 
en met Sy liefde omvou.
Amen

[Geleen]

Sunday, 12 June 2022

Klippekind

Ek is vanaand U Jakob-kind, Here.
U klippekind.
U deurmekaar-onseker- weghol-kind.
Jakob, daar in Genesis het mos geweet van klippaaie en klipplekke:
Die klippad van ‘n deurmekaar gesinslewe.
Die klippad van verkeerde keuses.
Die klippad van weghardloop ...

Ons, hier aan die anderkant van Genesis,
ken ook van klippaadjies, Here.
Verhoudings wat nie wil werk nie,
en waar ons die een klip na die ander gooi.
Die klippe van depressie, wat soos berge in ons pad kom lê.
Die harde, koue marmerseer wat die dood bring.
Die klippe van alleenwees en eensaam wees.

Die harde klippe van selfverwyt.
Klippe van verlang wat soms in rotse verander. 
Klippe van hospitale wat oorvol is,
‘n virus wat ons onderstebo hardloop ...
en besighede en dorpe wat stukkend gegooi word 
met klippe van politiek en geweld. 
Ons ken van klippe, Here.

Jakob het hulle ook geken.
En een nag, toe hy so met die klip onder sy kop lê en slaap,
het U stil by hom kom staan en sag vir hom gesê: 
"Ek is by jou, Jakob. Ek gaan jou nie in die steek laat nie."
Sommer net so.
U het geweet U klippekind kry swaar.
En dit was vir U so belangrik dat U kind moet weet dat U daar is.
Dat U nie weg is nie.
Nooit weggaan nie.

En toe Jakob wakker word, Here, het hy stom gefluister: 
"Die Here is op hierdie plek, en ek het dit nie besef nie ..." 
En toe het hy sy klip gevat, dit neergesit
en dit 'Bet-El' genoem - die plek waar God is.

Ons gaan so baie kere soos Jakob deur die lewe, Here.
So effentjies-effentjies probeer ons elke dag oorleef 
en dit maak tot by die volgende dag -
die klippe in ons pad steek ons voete stukkend
en maak ons harte huil.
En dan vergeet ons soms dat U,
aan wie die heelal behoort,
altyd by ons is.
Langs ons is.
Onder ons is.
Dat U ons toevou en omvou met U liefde.
Dat U elke klip op ons pad ken,
ook die klippe wat ons in ons harte gaan wegbêre.
Ons vergeet dat U ons oor ons klippepad dra.

Help my, Here ...
help my om my "kommerklippe" uit te haal
en dit neer te sit by U voete.
Help my om U stem te hoor,
U stem wat stil ook vir my kom sê:
“Ek is hier ... Ek is ook hier op jou klippepad.”

U gaan nie weg nie, Here.
U is altyd hier ... hier by my.
En omdat U hier by my is,
kan ek soos ‘n ribbok kaalvoet oor die klippe dans.
Ek dien U nie omdat ek wil hê U moet die klippe wegvat
en my pad mooi en gelyk maak nie.
Néé, ek dien U, want U langs-my-wees,
U hier-wees op my klippepad,
dit vir my genoeg, Here.
U vashou dra my wanneer die klippe te veel word.
U liefde help my om anderkant die klippe te kyk,
verder te kyk as dit wat hier voor my voete lê ...
want daar anderkant die klippepad,
sien ek hoe U opgewonde-bly vir my inwag.
Daar by die Plek waar daar nie klippe is nie, Here.
Daar waar ons altyd se altyd gaan bly wees.

Tot dan, Here ... help my asseblief om my klippe in die oë te kyk,
sonder om bang te wees of weg te hardloop.
Help my om by elke klip ‘n kruis te plant ...
‘n kruis wat my herinner dat U, Here, ook by hierdie klip is.
Dat U nooit sal weggaan of my alleen by die klip op my pad sal los nie.

Asseblief, Here ...

U Klippekind.

[Dankie, Anoniem, vir die treffende gebed wat jy met ons deel. 
Klik HIER vir die bron.]

Wednesday, 8 June 2022

Woensdag-wysheid

“Oorkom die idee dat u perfek moet wees. Dit beroof u van die kans om buitengewoon te wees.” - Uta Hagen
 

Tuesday, 7 June 2022

Dinsdag-denke: Ek wens jou genoeg ...

Onlangs hoor ek ’n moeder en haar dogter in hul laaste afskeidsoomblik by die lughawe. 

Die aankondiging dat die passasiers aan boord moet gaan het reeds plaasgevind. Hulle staan by die sekuriteitshek, omhels mekaar en die moeder sê: “Ek is lief vir jou en wens jou genoeg”. Die dogter antwoord: “Mamma, ons lewe saam was meer as genoeg. Jou liefde was al wat ek nodig gehad het. Ek wens jou ook genoeg toe, Mamma”. Hulle soen mekaar en die dogter vertrek. 

Die moeder stap na die venster wat uitkyk op die aanloopbane waar ek sit. Terwyl sy daar staan, kon ek sien sy wou en het nodig gehad om te huil. Ek wou nie inmeng in haar privaatheid nie, maar sy verwelkom my deur te vra: “Het jy al vir iemand tot siens gesê met die wete dat dit vir altyd is?”
“Ja, ek het” antwoord ek. “Verskoon my dat ek vra, maar hoekom is dit ’n tot siens vir ewig?”
Sy sê: “Ek is oud en sy bly so ver. Ek het uitdagings wat voorlê en die realiteit is – haar volgende vlug hierheen sal vir my begrafnis wees”

“Toe julle tot siens gesê het, het ek gehoor jy sê vir jou dogter: “... wens jou genoeg”. Mag ek vra wat dit beteken?” Sy begin te glimlag. “Dit is ’n wens wat oorgedra is van een generasie na die ander. My ouers het dit vir almal gesê”. Sy aarsel ’n oomblik en kyk in die lug asof sy dit in detail wil onthou en sy glimlag steeds breër. “Toe ons gesê het, ‘Ek wens jou genoeg’, wens ons die ander persoon ’n lewe toe gevul met net genoeg goeie dinge om hulle te dra.” 

Sy draai na my, en deel die volgende asof sy dit voordra uit geheue.
  • Ek wens jou genoeg sonskyn toe sodat jou lewensuitkyk helder sal wees, maak nie saak hoe donker die dag mag lyk nie. 
  • Ek wens jou genoeg reën om die sonskyn steeds meer te waardeer. 
  • Ek wens jou genoeg blydskap om jou siel lewendig en ewigdurend te hou.
  • Ek wens jou genoeg pyn sodat selfs die kleinste vreugde in jou lewe groot sal lyk.
  • Ek wens jou genoeg gewin om jou behoefte te bevredig.
  • Ek wens jou genoeg verlies om dit wat jy het te waardeer.
  • Ek wens jou genoeg hallo's om jou deur die finale tot siens te dra.

Sy begin te huil en stap weg. Hulle sê dit neem ’n minuut om ’n spesiale persoon te vind, ’n uur om hulle te waardeer, ’n dag om hulle lief te kry en ’n hele leeftyd om hulle te vergeet.

Thursday, 2 June 2022

Erfgoed


Wat het ek geërf? Het ek enigiets geërf? Ek wonder!

My ma is oorlede toe ek net twee jaar oud was. Ek onthou niks, niks van haar nie. Ek is nou al baie ouer as wat sy was toe sy op 34 dood is.

O, ek hoor baie storietjies oor haar – my tannie Marie vertel hoe kwaai sy was as ‘n mens op ‘n bed sit: ‘n bed was glo vir slaap, en nie vir sit nie. Wel, dáárdie geit het ek darem nie geërf nie, maar ‘n algemene kwaaierigheid … ja, dalk!

My ousus vertel hoe opgewonde sy was oor die laatlammetjie (dis nou ek) en hoe sy opgedres het tydens haar swangerskap. Ek onthou hoe ek voor die groot spieel in my destydse spaarkamer gestaan het sodat die lig my van agter kan vang, en my rug hol gemaak het in my eerste “maternity” rok van Indiese sy, desperaat-haastig om swanger te lyk sodat ek kan opdres …

Ek hoor hoe sy ‘n stomp kombuismes aangebied het vir my twee bakleiende sussies, met die voorstel dat hulle, as hulle dan nou glad nie oor die weg kan kom nie, mekaar dan maar moet keelaf-sny. Dan onthou ek hoe ek mý twee stryende dogtertjies met hulle ruggies na mekaar toe in die bad laat sit het met ‘n kwaai verbod: “As julle nie mooi met mekaar kan praat nie, moet dan nie eens vir mekaar kyk nie!”

Die toon langs my kleintoontjie is gruwelik krom – gee my altyd moeilikheid as ek wil skoene koop. My oudste het dieselfde toonmoeilikheid. My pa se tone was reguit. So ek wonder …

My prominente of adellike (eintlik maar net groot!) neus kom van my pa af. Die vierkantige bruin geboortevlekkie op my bobeen ook, en ek blameer hom partykeer vir my ongeduldigheid. Maar ek glo my ma het ook vir my ietsie nagelaat – sy was ook lief vir lees en musiek, sê hulle.

Soos Prinses Diana en Marilyn Monroe bly sy altyd jonk en pragtig op die swart-en-wit foto’s wat ek van haar het. Ek dink … nee, ek sien beslis iets van haar in my én in my meisiekinders. Sy sou ‘n trotse ouma gewees het!

[Dankie, Hester vir die deel van hierdie kosbaarheid.]

Gaan lees meer van hierdie onthoustories HIER.

Wednesday, 1 June 2022

Bring you own sunshine ...

Wherever you go,
no matter what the weather,
always bring your own sunshine.