‘n Jong vrou wat met kanker gediagnoseer is, is aangeraai om haar “dinge in orde te kry” aangesien sy net drie maande oorgehad het. Sy laat kom toe haar predikant om haar wense met hom te bespreek. Sy het gesê watter liede sy gesing wou hê, watter teksvers hy vir sy preek moes gebruik, ens.
Alles is noukeurig neergeskryf, maar net toe die predikant wou loop, sê sy: “Daar is net nog een ding. Dis baie belangrik. Ek moet begrawe word met ‘n vurk in my regterhand.”
Die predikant het nie mooi geweet wat om te sê nie en toe sê die vrou: “Verbaas dit u?”
“Wel, ja” het die predikant geantwoord, “ek verstaan nie mooi nie.”
Die vrou sê toe haar ouma het altyd ‘n verhaal vertel wat sy gebruik het om mense te bemoedig. Sy is dikwels na sosiale geleenthede en na belangrike etes genooi. Wanneer die eetgerei van die tafels verwyder is, was daar gereeld iemand wat gesê het: “Hou jou vurk; die beste kom nog.” Dit was wonderlik!
“As ek daar in my kis met die vurk in my hand lê, moet die mense wonder en dan moet u vir hulle sê die beste kom nog.”
Trane het in die predikant se oë gekom, want hy het geweet die vrou het ‘n beter begrip van wat op haar wag as die meeste ander mense.
Dit het toe presies so gebeur. Almal het gewonder wat die vurk in haar hand doen.
In sy boodskap kon die predikant sy gesprek met die vrou en wat die vurk vir haar beteken het, met die aanwesiges deel en afgesluit met die woorde: “Hou jou vurk; die beste kom nog!”
No comments:
Post a Comment