Friday, 31 January 2025

Dink 'n bietjie hieroor ...

Deesdae lewer almal kritiek op almal wat iets doen, iets probeer doen en ook op diegene wat nie iets doen nie. Die kritici weet altyd beter en die voor die hand liggende oplossings word met smaak in die naaste oor uitgestort. Dis net só jammer dat dié mense wat met soveel insig toebedeel is, nie 'n daadwerklike poging tot die verbetering van die onmiddellike omgewing aanwend nie. Raad(t) en advies is beslaan reeds bladsye vol. Sosiale media wemel daarvan, maar diegene wat die daad by die woord voeg, is dun gesaai.

Die volgende raakleesstukkie kan 'n mens tot nadenke stem:

* Het die doeners nie minder geword as gevolg van al die kritiek nie?

* Misien het die mense wat altyd die ekstra myl geloop het, ongeag die omstandighede, besluit het om halt te roep, omdat die versperrings in hulle pad al meer geword het.

* Miskien moet 'n mens, voordat jy iemand kritiseer of fout vind met hulle werkswyse, eers komplimenteer - sien die goeie raak - alles kan nie net verkeerd wees nie.   

*  Moenie dadelik deel word van die uitsaaistasie wat 'n sappige storie versprei nie - laat enige storie by jou stop.

* Tel elke dag jou seëninge en kyk met genade-oë na hulle wat jou pad kruis.

* Kweek doelbewus ʼn positiewe lewenshouding aan. Dit is nooit te laat nie.

* Bid eerder in plaas van kritiseer.

[Dankie, Danelia, vir die deel hiervan.]   

Thursday, 30 January 2025

Ouma se wenke: Asyn, jou beste vriend in die kombuis

* Kook eiers: Wanneer eiers gekraak het, terwyl dit kook, gooi ’n klein bietjie asyn in die water om te verhoed dat die wit van die eier uitloop.

* Hou rou aartappels wit: Indien jy die aartappels klaar geskil het en in 'n skottel met water sit, gooi so twee teelepels asyn by die water. Dit sal verhoed dat die aartappels verkleur.

*  Hou aartappels wit: ’n Teelepel wit asyn in water terwyl aartappels kook, sal dit mooi wit hou.

* Groente: Sit groente wat effens verlep het, in asyn en koue water om dit weer 'n kraakvars voorkoms te gee.

* Vis: Week vis vir 'n  sagter en beter vorm in asyn en water voordat jy dit gaarmaak. Indien jy vis kook, kan ’n bietjie asyn in die water. verhoed dat dit te vinnig verkrummel.

(Word vervolg)

Monday, 27 January 2025

Vandag se internetgebed vir jou: Loop die pad saam met my ...

Hemelse Vader, U wat my so goed ken,
weet presies hoeveel emosiesdaar binne-in my stoei.
U ken my verlede en hede
en U weet reeds wat al my môres inhou.
Help my om my lewe onvoorwaardelik
in U hande te plaas
en U dan volkome daarmee te vertrou.
Wees asseblief my Padwyser as ek verdwaal,
my Leidsman wanneer ek antwoorde soek,
my Trooster as my hart wil breek,
my Hemelse Geneesheer in tye van siekte,
my Krag as ek steiltes moet klim,
my Moed as ek hoop begin verloor,
my Lig as dinge donker om my raak,
en my Vreugde as ongeluk my wil oorweldig.
Sluit U groot hand van genade en seën saggies om my
brose menswees en loop asseblief die pad saam met my,
tree vir tree ...
Amen

Sunday, 26 January 2025

Oomblik van stilte: Heb. 11:1

Deur die geloof is Henog weggeneem om die dood nie te sien nie; en hy is nie gevind nie, omdat God hom weggeneem het; want voor sy wegneming het hy getuienis ontvang dat hy God behaag het.

Jou geloof is gebou op dinge wat jy nie kan sien nie. Ons weet ook dat die wêreld deur God toeberei is deur sy woord, nie dinge wat ons kan sien nie, maar sy woord (vers 3) Ongelowiges en ateïste sal hieroor stry, maar geloof stry nie. Dis 'n vaste vertroue op die dinge wat ons hoop, 'n bewys van die dinge wat ons nie sien nie (vers 1).
Jesus het keer op keer verwys na geloof, geloof wat red, of geloof wat te kort kom.
Menige gelowiges is gedood oor hul geloof in Christus, sommige omdat hulle Jesus gesien het, met 'n verwagting op die ewige lewe en vergifnis van sonde. Ander omdat hulle glo wat hulle nie gesien het nie, maar met dieselfde verwagting en hoop.

Dankie Here vir die mate van geloof waarmee U my geseën het. Ek glo U is die Almagtige, alwetende God. Ek glo U woord het die skeppingswerk gedoen en U onderhou dit. Ek glo U Seun het vir my sondes met sy bloed betaal. Ek glo Jesus is die woord van God, wat by God is en in God is en lewendig geword en by ons kom woon het. Met my hart glo ek en met my mond bely en getuig ek, dat Christus die Here is en dat die bloed van die lam my oorwinning is. Mag ek U behaag deur die krag van Jesus. Amen.

[Aangestuur deur Pieter Swanepoel]

Saturday, 25 January 2025

Saterdaglagmedisyne - dokter


Die dokter het 'n loodgieter dringend twee-uur in die oggendure nodig. Hy bel die loodgieter en sê hy vermoed die probleem lê by die spoelbak.
Loodgieter: "Dokter, dit is twee-uur in die oggend."
Dokter: "Ek is terdeë bewus daarvan. Jy het my ook al hierdie tyd van die nag uitgeroep."
Loodgieter: "Goed, ek is nou daar."
Toe hy by die dokter se huis kom, lig hy die spoelbak se deksel op, haal twee disprins uit sy sak en gooi dit in die bak en sê: "As dinge môre nie beter lyk nie, bel my weer." 

ooOOoo   

Piet gaan die dokter sien. Hy slaap nie meer in die aand soos hy moet nie. 
Piet: "Dokter, elke nag, sodra ek aan die slaap raak, hoor ek hierdie snaakse geluide in my kop."
"Daar is iewers 'n skroef los!" 

Thursday, 23 January 2025

Ouma se wenke: Vlekke

* Asblik: Gooi kalk en/of ammoniak onder op die bodem van asblik.

* Bad: Ouer baddens is dikwels vol geel vlekke. As jy geel vlekke uit 'n bad wil verwyder, moet jy 'n suurlemoen halveer, sout daaroor strooi en die vlekke daarmee vryf'.

* Bad: My ouma het 2 eetlepels kalk gemeng, 2 eetlepels sout en ‘n halwe bottel parafien om die ou huis se bad mee skoon te maak.

* Beet: Beet kook altyd oor. Om te verhoed dat beet oorkook, voeg 'n mespunt botter en 'n eetlepel asyn by die water van die beet. Jou beet sal ook gouer sag kook.

* As daar beetvlekke op 'n kledingstuk/tafeldoek is, gooi 'n bietjie melk op die vlek en laat week in koue soutwater. Was dan in warm seepwater.

[* Hierdie is wenke wat vir my gewerk het, dit is egter ook moontlik dat jy nie dieselfde resultate sal kry nie. Gebruik maar na goeddunke.] 

Monday, 20 January 2025

Statistiek: 142 000 welkome e-besoeke

1483 e-lesers op 17 Januarie 2025


'n Hoogtepunt in die leserstal was 17 Januarie 2025. 'n Hele 1483 e-besoeke is by Ons Huis se blog geregistreer. Ons waardeer julle belangstelling. Lekker lees! 

Vandag se internetgebed vir jou: Gebede is soos die klanke van musiek ...

Gebede is soos die klanke van musiek ... dit sal jou in beweging bring. Dit verkwik jou siel en dit skep vreugde!!

My gebed vandag vir jou is dat God se Oog op jou is, Sy Hand onder jou, Sy Gees en Vrede binne in jou en Sy engele rondom jou." 
Amen

Sunday, 19 January 2025

Oomblik van stilte: Op. 22:16b

Ek is die wortel en die geslag van Dawid, die blink môrester.

Wat 'n pragtige en belangrike woord gee God ons vandag. Jesus verduidelik aan Johannes wie Hy is. Dit verwys ook dan na vers 13, waar Hy sê dat Hy die Alfa en die Omega is, die begin en die einde, die eerste en die laaste. Jesus het sy engel gestuur om te betuig wat sal gebeur in die toekoms (vers 16a).
Hy is die Een wat elke mens sal vergeld hoe sy loon sal wees volgens sy werke (vers 12)
Hy sê ook dat die tyd vir hierdie profesieë om te gebeur, is naby (vers 10-11.
Johannes getuig ook dat die genade van Jesus Christus met ons almal is (vers 21)

Dankie Jesus, my Here en my God, dat U, u engele gestuur het, om aan ons, al hierdie profesieë voor die tyd te verduidelik. Ek hoor u woord en dors daarna en saam met u Gees roep ek uit: Kom! En ek kom vandag om van die water van die lewe te drink, verniet (vers 17). U is die blink môrester. Ek aanbid U God (vers 9). Amen.

[Aangestuur deur Pieter Swanepoel]

Week van gebed: Leef vir die Here

Lees gerus die volgende toepaslike skriflesings:
 
Sondagaand: Leef nederig (Matt. 18: 1-5)
Maandagaand: Werk in sy wingerd (Matt. 20: 1-16)
Dinsdagaand: Leef eg en suiwer (Jak. 1: 19-27)
Woensdag: Leef versigtig (Jak. 3: 1-12)
Donderdag: Leef voluit (Prediker 9: 7-10) en (Joh. 10:10)

Friday, 17 January 2025

Die 2025-reis: Alleen of saam met mense

As jy vanaand alleen in jou kamer sit, neem sommer vandag nog die besluit dat jou 2025-reis anders gaan wees - reik uit na jou buurman of buurvrou langs jou, jou tafelgenote, die een wat alleen sit en TV kyk in die ontspanningskamer, hulle wat saam met jou in die selgroepie is - ons het mekaar nodig vir die res van die jaar. 2025 sal makliker lyk en voel as reisgenote vir mekaar uitkyk en vir mekaar bid. 

Daar is ‘n bekende gesegde wat 'n mens dikwels by motiveringsprekers hoor: "As jy ver wil reis, moet jy mense saam met jou neem."

Is dit nie wat ons moet doen aan die begin van 2025 nie? As 'n mens in 'n ouetehuis of aftreeoord is, is jou opsies nie baie nie. En daarom daag hierdie spreuk ons uit om na te dink oor wie ons met ons saam wil neem.

Hoe kies en identifiseer ons ons reisgenote? Dink daaroor en deel jou opinie met die lesers.

Geseënde naweek!

Thursday, 16 January 2025

Ouma se wenke: Raad vir oupas en oumas

* Ondersteun jou kleinkinders en wees ‘n veilige hawe waar die kinders hulself kan uitdruk. Dis belangrik dat 'n kind voel hy word gehoor. As jy nie saamstem nie, los die teregwysing en "preek" tot later - bou eers aan daardie verhouding.

* Probeer die lewe van jou kleinkinders deur hulle oë sien, ervaar die wêreld op hul vlak, of dit ‘n jong kind is wat vra dat jul goggas in die tuin moet gaan soek, of ‘n tiener wat die nuutste modegier wil verduidelik.

* Luister na jou kleinkinders se ontevredenheid, se klagtes en ook hulle bekommernisse. Jy is dalk die enigste een wat die TYD het om daarna te luister. Vra gerus hulle voorstelle vir oplossings vir hul probleme. Op hierdie manier leer jy hul uitkyk op die lewe, hulle manier van dink en kan jy deur subtiele leiding hulle dalk beïnvloed om meer objektief na 'n probleem te kyk. 

* Ondersteun jou kinders. Al sê hulle dit nie, het hulle soms nodig om by ma of pa af te pak (sonder om te hoor: ‘ek het jou mos gesê ...’).

* Hou die kommunikasiekanale vir albei geslagte oop. Onthou: Hulle moet te alle tye geliefd voel. En oupa en ouma, as julle bekommerd is en magteloos voel om te help, julle weet mos waar julle Bron van krag lê. Gebruik dit!

(Daar sal later weer na hierdie saak gekyk word.)

Wednesday, 15 January 2025

A PRAYER FOR LEARNERS AND STUDENTS

Lord, we ask that you surround students with peace as they begin a new year of classes. Give them a passion for learning new things and bless their hard work over the coming months. Surprise them with unexpected moments of joy. Amen

Woensdagwense: week 3

 

Tuesday, 14 January 2025

Statistiek: 139 000 welkome e-besoeke


14 Januarie 2025 het ons aantal e-besoeke op 139 000 gestaan. Dis so lekker om te weet daar is lesers wat in Ons Huis se wel en weë belangstel! 'n Groot Ons Huis-dankie vir elkeen wat die blog so gereeld besoek. Dankie vir al die bydraes wat so gereeld op ons tafel beland. Dankie vir al die positiewe kommentaar wat sommer so padlangs gestuur word, dis die brandstof vir al die werk wat gedoen word. 

'n GROOT DANKIE aan elke medewerker wat só gereeld bydraes stuur. Julle sterk ons hande!
  • Liz de Koker
  • Elmari Guy
  • Marguerite Pienaar
  • Rosetta Venter
  • Valerie Kilian
  • Millie Mouton (deel van die Saterdag-engele)
  • Pieter Swanepoel

Uit die Groot Karoo: Schalk se lewensnippers

Monday, 13 January 2025

Vandag se internetgebed vir jou: Oggendgebed

Here Jesus, laat ons saam met U reis.
Neem asseblief ons hand wanneer ons deur donker dieptes gaan of op smal paadjies teen hoë afgronde beweeg.
Wees ons Gids, Here, deur doolhowe en verby die lewenslagysters wat op ons pad wag.
Dankie, Here, dat U nie skaam is om as ons metgesel gesien te word nie.
Ons wil nooit weer U sy verlaat nie, lei ons dag vir dag, in U Heilige Naam.
Amen

Gebed

Gebed vir herlewing begin wanneer ons vir mekaar bid:

VJesus, leer ons om dit wat op ons hart is vir ander te bid! (Jak. 5:16 Die gebed van 'n gelowige het 'n kragtige uitwerking.)

VGod van troos, leer my om ander aan te spoor ... (Heb. 10:24 Laat ons ook na mekaar omsien deur mekaar aan te spoor tot liefde en goeie dade.)

VRegverdige Regter, leer my om nie te oordeel nie ... (Rom. 14:13 Laat ons mekaar nie meer oordeel nie, maar besluit dit liewer, om nie vir die broeder 'n hindernis of struikelblok in die weg te lê nie.)

VEl-Shaddai, algenoegsame God, leer my om nie afgunstig te wees nie ... (Gal. 5:15 Maar julle byt en verskeur mekaar, pas op dat julle mekaar nie later heeltemal verslind nie.)

VGod van waarheid, leer my om nie vir ander te lieg nie ... (Kol. 3:9 ... en moenie vir mekaar lieg nie. Julle het met die ou sondige mens en sy gewoontes gebreek.)

VDwelmverslaafdes ...
Bid tot God vir mense wat aan dwelms verslaaf is of van enige middels afhanklik is soos byvoorbeeld alkohol of slaappille. Bid dat elkeen 'n openbaring van die Here sal hê, dat hulle lewens in die lig van die Woord sal sien en 'n besluit sal neem om aan die liefde van God in Jesus Christus gehoor te gee.

VBoere ...
Bid vir boere, dat hulle die hoop van hulle toekoms in Christus sal vind en om sal aantoep in elke situasie. Vra dat die Heilige Gees Christen-boere sal bemoedig en dat hulle wyse besluite sal neem.

[Bron: Dagbreek-afkondigings 13-01-2013]

Sunday, 12 January 2025

Oomblik van stilte: Luk. 21:34

Maar pas op vir julleself, dat julle harte nie miskien beswaar word deur swelgery en dronkenskap en sorge van die lewe nie, en dié dag julle nie skielik oorval nie.


Die waarskuwings van die Here word op soveel kere aan ons gestel in die woord. Die Here het sy lewe vir ons gegee, maar as ons die waarskuwings in die wind slaan, sal hy soos 'n strik kom oor almal wat op die hele aarde woon (vers 35).
Beoefen jou in die woord en bid gereeld; die liefde en genade van God vir jou is so groot; laat jou liefde nie verflou nie, maar eet jou daaglikse brood wat God jou gee. Jy sal nie deur die wêreld geag word as jy die woord van God bring nie; Satan sal altyd in die harte van ongelowiges werk, (al is daar sommige wat na jou sal luister) om jou uit die weg te probeer ruim. Hou vas aan die geloof!

Jesus, U alleen is my krag. Help my om staande te bly te midde van 'n krom en verdraaide geslag. Ek het ook u krag nodig om nie te verval en te verswak in my geloof nie. Soos U vir ons elke dag bid, laat ek ook in die krag en wysheid van die Heilige Gees nie moeg word om te bly bid vir my broers nie. Laat ek ag gee op u woord en waarskuwings. Aan U al die eer en heerlikheid goeie Vader, in Jesus Naam. Amen.

[Aangestuur deur Pieter Swanepoel]

Thursday, 9 January 2025

Ouma se wenke: Raad vir oupas en oumas

* Ter wille van familievrede: Moet liefs nie by die ouers se opvoedings- en dissiplinestyl inmeng nie.

* Bied hulp aan aan jou kinders as jy sien dat hulle vasdraai, veral as julle in dieselfde dorp bly. Lê egter die voorstel in hulle midde en wag vir hulle reaksie.

* Gebruik die oupa- en oumakuiertyd om positief te wees en saamwees-aktiwiteite te doen. Moenie gedurig vir jou kleinkinders vertel hoe sleg, lui en disrespekvol die jeug is nie. Hierdie foutvinderige optrede gaan hulle eerder kopsku maak om weer te kom kuier.

* Wees deel van jou kleinkinders se lewe en geniet hul geselskap. Lees hulle lyftaal - soms wil hulle nie hul oupa en ouma by die sportdag hê nie - moenie dan daarop aandring nie.

*  En as oupa en ouma 'n uitnodiging kry, waardeer dit, probeer ten alle koste om dit by te woon - hulle word baie gou groot.

(Word vervolg)

Monday, 6 January 2025

Vandag se internetgebed vir jou: Hulp van die Here

Vader, U is beslis my Helper en die krag van my lewe. 
Ek sal met my hele hart op U vertrou, wetende dat U my Helper is en dat U hulp 'n belofte vir my is. In die Naam van Jesus. Amen.

Sunday, 5 January 2025

Oomblik van stilte: Sef. 3:5

Die Here is regverdig binne-in hom, Hy doen geen onreg nie; elke môre laat Hy sy reg aan die lig kom, dit ontbreek nooit nie; maar die kwaaddoener ken geen skaamte nie.

As die Gees van God wat Jesus uit die dode opgewek het in jou woon, sal jy vir ewig lewe. Deur sy genade gee Hy elke dag vir jou die krag en gesondheid om op te staan en jou werk te kan doen. Hy laat elke oggend sy reg soos lig die donker van die nag verdryf en ook skyn Hy in jou lewe en verdryf die onheil met sy reg; sy lig ontbreek nooit nie. Die kwaaddoeners ken nie die lig en genade van God nie. en is ook nie skaam oor hulle dade nie.

Here my God, dankie vir u geregtigheid oor my vanoggend. Dit wat ek nie verdien nie, maar wat U deur genade aan my gee. Vanoggend ervaar ek weer u goedheid en trou oor my. U is elke dag getrou aan u woord en beloftes oor my, al is ek ontrou. Ek loof en prys U Heilige Naam. Ook bid ek vir dié wat U nie ken nie dat u Gees aan hulle die goedheid en deernis van die Vader kan openbaar; dat hulle tot bekering sal kom en ook u Naam sal loof elke oggend, elke dag! Amen.

[Aangestuur deur Pieter Swanepoel]

Friday, 3 January 2025

LOL: For the older generation!

1. When one door closes and another door opens, you are probably in prison.
2. To me, "drink responsibly" means don't spill it.
3. Age 60 might be the new 40, but 21:00 is the new midnight.
4. It's the start of a brand new day, and I'm off like a herd of turtles.
5. The older I get, the earlier it gets late.
6. When I say, "The other day," I could be referring to any time between yesterday and 15 years ago.
7. I remember being able to get up without making sound effects.
8. I had my patience tested. I'm negative.
9. Remember, if you lose a sock in the dryer, it comes back as a Tupperware lid that doesn't fit any of your containers.
10. If you're sitting in public and a stranger takes the seat next to you, just stare straight ahead and say, "Did you bring the money?"
11. When you ask me what I am doing today, and I say "nothing," it does not mean I am free. It means I am doing nothing.
12. I finally got eight hours of sleep. It took me three days, but whatever.
13. I run like the winded.
14. I hate when a couple argues in public, and I missed the beginning and don't know whose side I'm on.
15. When someone asks what I did over the weekend, I squint and ask, "Why, what did you hear?"
16. When you do squats, are your knees supposed to sound like a goat chewing on an aluminum can stuffed with celery?
17. I don't mean to interrupt people. I just randomly remember things and get really excited.
18. When I ask for directions, please don't use words like "east."
19. Don't bother walking a mile in my shoes. That would be boring. Spend 30 seconds in my head. That'll freak you right out.
20. Sometimes, someone unexpected comes into your life out of nowhere, makes your heart race, and changes you forever. We call those people cops.
21. My luck is like a bald guy who just won a comb."

Credits goes to the respective author

[Thank you, Marguerite!] 

Thursday, 2 January 2025

Ouma se wenke: Algemene kombuiswenke

* Koek sonder krake
Voeg 'n ekstra teelepel margarien by jou kooksjokolade as jy 'n koek versier. Dit sal voorkom dat die sjokoladelaag kraak wanneer jy die koek sny. 

* Kikker jou gewone rys op met kleur en geur deur 2 teelepels kerriepoeier by die kookwater te voeg. Dit lyk en smaak heerlik anders.

* Maak 2 piesangs fyn in 'n voedselverwerker saam met melk en voeg dan vanielje-roomys by vir 'n heerlik melkskommel.

* Tee- en koffievlekke kan maklik van koppies en bekers verwyder word deur die merke met tandepasta te vryf en dan deeglik uit te spoel.

* Om ontslae te raak van 'n visreuk aan skottelgoed, voeg 'n halwe teelepel mosterd by jou skottelgoedwater.

Wednesday, 1 January 2025

'n Geseënde 2025 vir elke inwoner

Oor alle eeue staan Sy Woord as waarheid vas! Mag die Woord ook in 2025 vir jou die Woord van lewe, hoop, krag en inspirasie wees. 

Mag die Woord dag vir dag die rigtingwyser vir jou lewe wees. En mag jy, wanneer jy die Woord lees of hoor, die Here self ontmoet, miskien nie vir die eerste keer nie, maar by herhaling. Hy wat in en deur sy Woord aan die woord is. 

Seën vir 2025!

Januarie-verjaardae


08 – Mev. MA Botha

11 – Mev. A van der Westhuizen

18 – Mev G Buchler

Woensdagwense: week 1