Ek kom vanoggend so 07:15 by die werk, sluit my werkswinkel
oop en dank my Hemelse Vader vir die werkswinkel, gesondheid en omdat ek SY
vrede en vreugde ervaar.
Die eerste kliënt kom vinnig nader en klim uit sy motor met
‘n Wimpy koffie in sy hand en kla dis nie meer die koffie van ouds nie. ‘n Ander
persoon wat ek ken kom van die slaghuis af opgestap met ‘n pakkie vleis en al kouende
aan sy biltong grom-groet hy, so asof dit ‘n stryd is om te lewe.
Ek besluit vandag wil ek luister en ek het goed geluister …
Dit is nou 18:00, en ek wil jou vertel wat ek vandag gesien
en ervaar het.
Ouens met baie geld kla oor pryse wat te hoog is. Die
biltong man sê daar Is amper geen vleis op die rakke nie. Die ander ou kla oor
ou brood en ‘n ander oor ‘n koue hamburger wat hy wil vat en in Steers se
manager se dinges wil opdruk. My suster kla oor haar CD-speler wat skoongemaak
moet word en dit kos R80,00 wat sy nie kan betaal nie, want sy het nie geld
nie.
Ek vertel jou kortliks wat ek vanoggend gesien en ervaar
het. Die mense kla en kla en ek wens hierdie klakouse met wie ek net vandag te
doen gehad het kon sien en ervaar wat ek vroegoggend gesien het – ek wonder
waaroor hulle dan sou kla. Terwyl die ou oor sy koue hamburger kla, vang my oog
‘n ou bruin man wat in die slaghuis se vullissakke krap. Die ou krap tussen die
sakke en ek hou hom dop. Hy krap iets uit, ruik daaraan, hap en sluk sonder om
te kou. Ek stap nader na hom.
“More”, groet ek. “Wat is jou naam?”
“My naam is Abraham, my Lanie” antwoord hy.
“Nou wat doen jy so vroeg hier tussen die ou vrot goed, ou
Abraham?”
“Ek is honger my Lanie.”
“Maar ou Abraham, die goed is vrot.”
“Ek weet, my Lanie, maar die Jere het nog nie vandag vir my
‘n ietsie afgegooi nie, maskien Hy is kwaad vir my.”
“Ou Abraham, hoekom vra jy nie vir geld as jy iets wil koop
om te eet nie?”
“Ek het, my Lanie, maar daardie man” (en hy wys na die
biltongeter) “hy het my amper netnou gaslaan, hy sê ek moet voetsek!”
“Hoe oud is jy Abraham?”
“78, my Lanie.”
“Waar bly jy Abraham?”
“Daar bo teen die berg” (Dis 8 km).
“En jou mense, ou Abraham?”
“Net my vrou bly by my, mar sy bene kan nie meer werk nie
nou kan sy nie uit die huis kom nie”.
“Kry jy oumens pension, Abraham?”
“Nee my Lanie, nog nie, maar Mandela sal nog plan maak, so
ek wag maar!”
Abraham se broek is nie meer ‘n broek nie – sy skoene het
nie sole nie en daar is iets aan sylyf wat dalk lank terug ‘n hemp kon gewees het.
Ek vra in my binneste ‘Here, wat nou?’ maar ek kry geen
antwoord nie, ek hoor niks.
“Ou Abraham, ek dink regtig nie die Here het van jou vergeet
nie.”
“Ja, my Lanie.”
Die ou oë is glasig en dof, sy kop hang al vooroor soos hy
jare lank al probeer om naby hom te sien. Die vullis wa trek in om die vullis
te verwyder, en die manne verskreeu ou Abraham.
“Waarnatoe gaan jy nou, ou Abraham?”
“Ek gaan brood soek om huis toe te vat, my Lanie – ek het
klaar ‘n kannetjie vir die water.”
Ou Abraham het ‘n glimlag om sy geplooide mond. “As my lanie
wil kan ek ‘n besem bestuur en die plek mooi skoon vee vir ‘n stukkie brood.”
Ek dink by myself: ‘Is dit nou U HERE wat deur Abraham
praat?’
“Ou Abraham, is jy seker jy het ‘n liksens om die besem te
bestuur?”
“Ja, my Lanie, my vrou het dit vir my gagee toe sy bene siek
geword het.”
“Dis goed so Abraham, die mense jaag jou oral maar vandag
het die HERE jou ‘n groot werk gegee – jy is van vandag af die ‘General Manager’ van die
besems; jy is die Baas van die besems; hierdie besems gaan vir jou koffie gee in die plek
van water. ‘n Manager moet ook mooi skoon aantrek en ‘n geldjie hê vir die ou vrou by die
huis. Ek sien jy is ‘n man wat vir ons nog baie in die toekoms gaan leer oor die lewe, ou
Abraham”
“Kan ek elke dag inkom, my Lanie?”
“Ja Abraham, want Vrydae kry die Besem Managers ‘n lekker
Wimpy-ontbyt en Besem Managers werk net van 8 – 11, want Besem Managers het tyd
nodig vir hulle siek vrouens.”
“Is reg so, my Lanie, ek sien nou die Jere het ‘n ander plan
gahad vadag en ampor dink ek Hy het my en die ou vrou gavageet. Jammer, Jere, omdat ou Abraham
nie reg vastaan het nie.”
Ek is die Here my God vandag so dankbaar vir iemand wat nie
oor biltong kla nie, iemand wat nie oor leë rakke in die vleismark kla nie,
iemand wat nie oor koue hamburgers en koffie kla nie. Ek is my Vader so
dankbaar dat Hy ou Abraham nie vergeet het nie. Doen my, jouself en ander ‘n
guns – en probeer net een dag niks kla nie, want ou Abraham was vandag vir my
so ‘n groot inspirasie. ‘n 78-jarige half-blinde man met toiings aan sy lyf wat
nog steeds glimlag!!!!!!!!!!
En ek sê met trots – vandag het ek ‘n waardige, my beste
ooit, besembestuurder gekry!
Die Here is vir ons so goed en as ek voel dit druk, kyk ek
na my besembestuurder en ek weet – ek het mos niks om oor te kla nie …