Thursday, 29 April 2021

Die ouderdom bekruip jou ... stilletjies

Die ouderdom is 'n blikslater ...

Hy bekruip jou. Soos droogte in die Boesmanland. Stadig. Maar seker.

Hy maak jou krom. Hy maak jou stom. Hy maak jou vergeet. Hy knibbel stomptand aan eergister se onthou. Hy stroop die bas van jou onthouboom. Hy los jou alleen. Met net gedagtes. Ver gedagtes. Wat jou terugvat na jou jonkweesdae. Jou eerste Daan Desimaal-jare. Springbokradio-dae. Pip Freedman en Four Jacks and a Jill-jare. Charles Jacoby- en Jim Reeves-jare.

Draadloosjare met oom Jan Cronjé en tannie Esmé Euvrard. "So maak mens!" Middagstories soos  Geluksdal, Dans van die Flamink, Wolwedans in die Skemer, As die Naguil roep en Patrollie 33 Charlie en aandstories soos Die Du Toit`s van Soetmelksvlei

Maar die ouderdom maak jou ook astrant. Soms neuk hy stroom-op met jou. Na daar waar jy weet jy nie eintlik moet gaan krap nie. Want dis die plek van die Groot Nostalgie. Wanneer jy sonder dat jy wou, skielik daai ou droë Heimweeboom begin klim. Ja, hoog in die takke is jy. Jy raak dik gedrink. Van die verlange se waters. Jy boor diep. Slukkie vir slukkie drink jy uit blou jare terug se vars boorgate. Jou kinderjare. Skoolgaanjare. Vingerbordjare. Bok-bok-staan-styf jare. Jonk-verlief-wees jare ...

Soms praat jy met jouself. Saggies. Of so dink jy. Want jou ore hoor nie meer soos destyds nie. Al is hulle nou groter ... Ja, jou gesig krimp, maar jou neus en ore word groter. Jou tande raak stomp. Jy word lomp.

Ouderdom is soos 'n steeks donkie. Hy briek jou. Jý wil, maar jou bene steek vas. Viervoet vat hy jou vloer toe. Loopraam toe. Soos 'n kind. Só stroop hy jou selfvertroue. Gister se bravade maak plek vir vandag se bang.

Ouderdom steel. Jou onafhanklikheid. Jou karsleutels. Jou lisensie ... Hy lewer jou oor. Aan ander se genade. Hy maak jou sag. Weerloos. En eensaam. Hy laat jou huil. Sommer oor niks. Sommer oor alles.

Die ouderdom is 'n wetter. Met 'n hoofletter!

Hy ruk jou uit jou huis uit.  Ontvoer jou. Teen jou wil. Huis Herfsblaar toe. Waar Matrone jou baas is. Huisreëls jou bind. Styf. Vas. Met oumenstoue. Waarvoor jy 'n helse prys betaal. Letterlik. Terwyl jy Genadebrood moet eet ... En perdesalf op ou spiere se seer smeer.

Ouderdom druk jou smaakkliere toe. Jy verloor jou proe. Hy vat jou eetlus weg. Jou energie. Hy breek jou spoed.

Maar ouderdom leer jou ook geduld, want die kinders kom kuier op húlle tyd.

Ouderdom laat jou spog. Te veel. Oor die kleinkinders. Wat jou siel lawe!

Saam met die jare se grysheid, kom daar darem ook `n bietjie wysheid. En diepe dankbaarheid. Vir gespaarde jare uit Sy hand uit.

Maar dan. Later. Raak jý stadig maar seker weer kind. Moet jy gewoond raak aan die alewige verkleinwoordjies ... En om na jou kinders te luister!

Geskryf deur Barney Louw

[Dankie, Valerie Kilian, wat hierdie waarhede met ons deel.]

1 comment:

  1. Dit is so waar en so oulik verwoord. Dankie vir die deel.

    ReplyDelete