Hy was besig om sy tweede koppie koffie te drink.
Dit was ’n Saterdagoggend. Sy gunstelingtyd. Hoekom sou dit so wees, het hy gewonder, dat hy so besonder baie van hierdie stukkie tyd hou?
Uiteindelik het hy besluit dat daar ’n klompie redes is. Dis die stilte, want die res van sy gesin slaap nog en daar heers ’n kalm vrede in die huis. Hy geniet ook die luukse daarvan om rustig sy koerant te lees, sonder ’n horlosie wat hom werk toe jaag. En dan ook die opwinding van die dag wat voorlê – dalk hou dit ’n heerlike verassing in!
Toe maak hy die som. Iemand wat 75 jaar lank leef, het 3 900 Saterdagoggende. Heerlik! Maar toe besef hy dat hy reeds 55 is en moontlik net 1 000 Saterdagoggende oorhet. In plaas van om hartseer te wees oor die tyd wat verby is, wou hy seker maak dat hy dít wat oor is, geniet. En so is “’n Duisend albasters tyd” gebore.
Die man het ’n groot deurskynende bak gaan koop en dit met een duisend albasters volgemaak. Dit was sommer ’n hele klomp! Daarna het hy elke Saterdagoggend een albaster uit die bak gehaal. So kon hy sien hoe die tyd verbygaan, maar ook hoeveel tyd nog oor is. Kosbare, heerlike Saterdagoggende. Elke albaster wat hy uitgehaal het, was ’n geskenk. Daarom het hy dit ten volle geniet – van sy eerste koppie koffie af totdat die son sak. Dit het hom ook gehelp om te fokus op dinge wat vir hom regtig belangrik is. Soos familie en vriende, want tyd saam met die mense vir wie jy lief is, raak stadigaan minder. Soms verdwyn dit sommer opeens, lank voordat die albasters in jou bak op is. Elke oomblik is kosbaar.
Teen die tyd wat hy die laaste albaster uitgehaal het, het hy besef sy oorblywende Saterdagoggende raak nou regtig min. En dat elkeen wat gaan volg, selfs nóg meer besonders is. Nog ’n kans om die wonder van die lewe te geniet. En hy het.